Aanvanklik het ek die blog begin om oor my Gys Niemand-reeks te gesels terwyl ek besig was om aan die reeks te skryf. Intussen is die Davel-reeks ook herdruk en het ek ook daaroor op die blog geskryf.
Lees gerus ouer inskrywings waarin ek skinder oor die karakters en agtergrond gee oor hulle doen en late. Ek het ook van die skryfproses vertel en die vordering wat ek maak, en geklets oor funksies en geleenthede wat ek bygewoon het.
Van nou af sal ek die blog gebruik om julle op datum te hou met nuwe verwikkelinge. Hou ook die blog dop vir uitnodigings na bekendstellings en ander geleenthede. En gesels gerus saam! Dis heerlik om terugvoer te kry.
Volgende in die pyplyn is die Maanschijnbaai-tweeluik:
Jo & Sue en Nan & Jeannie
Indien jy belangstel om my (min of meer) maandelikse NUUSBRIEF per e-pos te ontvang, laat weet my by




O, dis ‘n lekker gogga hierdie! Baie welkom!
Die blogs het so ongemerk ‘n verrassende verskuiwing vir my bewerkstellig, wat ek eers na ‘n paar maande agtergekom het. Dit het my ander woordverwante dinge gegee om mee besig te wees wanneer ek nie letterlik aan die skryf is nie. Die resultaat is dat dit meer voel soos ‘n regte, egte werk, waar ‘n mens allerhande verskillende goed doen, maar alles met dieselfde uiteindelike mikpunt in die oog. En as dit so voel, tree ‘n mens natuurlik ook maklik op asof jy glo dis ‘n egte regte werk, wat sal neerslag vind in jou skryfwerk …
Dankie Marile! As skrywer wil ‘n mens so graag met lesers praat oor jou boeke. Ek dink ‘n blog is net reg daarvoor omdat skrywers eintlik andersins baie min in aanraking kom met lesers. En natuurlik is dit regte egte werk. Sonder ons wonderlike lesers beteken al die geskryf in die wêreld net mooi niks nie.
Ek’s ook in vir die gesels… Dit mis ek vir niks
Laat hoor gerus as daar iets spesifieks is waaroor jy wil gesels, Anzel.
Welkom, hier op die ‘net saam met ons ander b(l)oggers. en baie geluk met jou eie kletskamer. Dit lyk gladnie na ‘n gebogger nie, hoor! Sal gereëld inloer en saamklets. Baie geluk met jou Gys-reeks, daardie bakstene beïndruk my verskriklik. As ek eendag groot is …
Dankie, Madelie. Daai bakstene! Ek wens ek kon dunner boeke skryf, maar vandat Gys in my lewe gekom het, kry ek dit net nie reg nie.
Dit is nou uitstekende idee jou blog. Sal gereeld kom loer en sien baie uit na Meetsnoer, ek het aldrie die ander reeds gelees.
Isabel, lekker om jou hier te sien. Die goeie nuus is dat Meetsnoer se titel nou vas is en dat ek nog so ‘n week se werk oor het voor dit in produksie gaan. Die skedule is dus nog op koers vir publikasie in Oktober. Soos ek vir Lelani ook gesê het, is dit vandag presies ‘n jaar sedert ek aan Meetsnoer begin skryf het. Dis nooit lekker om van karakters afskeid te neem nie, maar ek dink ek is uiteindelik reg om hulle nou in julle hande oor te laat.
Hi Chanette!!
Dis lekker om te sien almal kan saam chat. Ek wou vra wat die vorige lese gevra het – Meetsnoer, is dit die 4de een van die Gys boeke? Ek kan nie wag nie, ai tog, Oktober is nog sooooo ver!!!!
Dankie vir die lekker boeke!!!
Groete
Ancolet
Welkom Ancolet! Ja, Meetsnoer is no 4. Ek hoop om oor ‘n week of wat volstoom aan die 5e en laaste Gys-boek te begin skryf. Die werkstitel is Dryfhout, maar dit sal seker minstens nog ‘n jaar neem om dit klaar te skryf.
Hi Chanette
Dankie vir die ‘terugskryf’ in my inbox! Hierdie is die eerste Blog waaraan ek deelneem – hoop maar wat ek skryf ‘verskyn’ – ek kon nie glo toe ek lees Gys en sy avonture is ons nogsteeds beskore nie!! My hart jubel!!
Nie n minuut later as Oktober nie hoor!!… hahaha
NS Sjoe die vergrote foto van die meisie op Springgety se omslag het my sommer koue rillings gegee….. jinne!! ek leef my hopeloos te veel in jou stories in!! Kan jy dink watter ‘Stunning Movies’ dit sal maak….
Welkom, Rene! Dis ‘n wonderlike kompliment dat jy jou so in die stories inleef. Ai, en sou dit nie lekker gewees het as mens die storie in fiek-vorm kon sien nie. Maar alhoewel ek baie lief is vir flieks, glo ek tog dit kan nooit die boek vervang nie.
Die omslag van Springgety (en ook die ander twee) is deur Douw van Heerden gedoen. Hy is ‘n wonderlike kunstenaar.
Ek is ook nie ‘n vreeslike Blog-fundi nie en leer ook maar so algaande. Na so ‘n paar keer, raak dit darem makliker en is mens nie so versigtig daarvoor nie. As dit soms ‘n rukkie neem vir jou boodskap om te verskyn, beteken dit net dat ek nie by my rekenaar was om jou boodskap goed te keur nie.
Sjoe! Ek voel sommer in my skik met myself. Net so ‘n hand vol jare terug, het ek nog gedink ek is hiper-modern toe ek met my skrywery oorskakel van die “manual typewriter” na die elektriese een. Nou skryf ek darem al op ‘n rekenaar (het maar lank gevat om die affere te vertrou, as die hoop volgetikte papiere nie sigbaar kan ophoop nie?)En – vandag – me eerste interaksie met ‘n BLOG! Dit kan net die begin van mooi en groot dinge wees! Chanette – lekker skryf aan “Dryfhout” en baie geluk met jou sukses as skrywer – en ook jou verryking van ons as lesers en as medeskrywers – se lewens en se gedagtewerelde. Jy is kosbaar!
Baie dankie, Theresa! Julle is weer vir my baie kosbaar.
Dis wonderlik hoe aanpasbaar mens is. Ek het self nog met ‘n gewone tikmasjien begin en eers op die rype ouderdom van 38 met Windows kennis gemaak. En wat ‘n gesukkel was dit nie.
Net nou die dag nog het ek my nog dood gesukkel om my op die Romanza Lesersblog te registreer maar ‘n paar maande later was ek dapper genoeg om hierdie Blog aan te pak.Algaande leert men, soos my Hollandse oupa altyd gesê het.
Al weer ek, Chanette. Ek loop kort-kort LAPA se Romankompetisie raak – nou het ek weereens jou raad nodig. Daardie boek waaraan ek so heerlik skryf – dink jy ek moet hom gewoonweg instuur vir keuring by Lapa, of dink ek moet met hom die kompetisie aandurf? ** O , ek moet met jou deel – sy titel is gebore!**
Sal jy laat weet?
Jy’t my nou nuuskierig oor daardie titel! Wat die kompetisie betref, niks verhoed jou om jou manuskrip in te skryf nie en daardie prysgeldjie laat ons almal swymel. Die enigste nadeel is moontlik dat daar so baie inskrywings sal wees dat jy, indien jy nie wen nie, baie lank sal moet wag om te hoor of dit vir publikasie oorweeg word en die ms miskien ook nie die aandag sal kry wat dit gewoonlik sal kry nie omdat daar deur soveel inskrywings gewerk sal moet word. Ek wil jou egter nie beinvloed nie. As jy wil inskryf, go for it.
Dankie, Chanette! Sien, ek het geweet jy sal goeie raad gee. Hierdie boek verdien spesiale aandag, want dis my “comeback” boek. Sy titel? Ek dink dis mooi en net reg . . . “‘n Ander ek, ‘n ander jy.”
Jy sal hom waarskynlik onder oe kry, want ek gaan hom LAPA toe stuur – is net nie heeltemal seker of dit by Romanza of by die boekklub boeke inpas nie.
Bye! Dankie vir jou.
‘n Lekker titel. Ek hoop regtig dit beland op my lessenaar, Theresa. Terloops, Romanza is nou die enigste klub, die ander het verval. Lekker skryf!
Ek het so pas Springety klaar gelees en nie eers geweet dit is die eerste in ‘n reeks nie. Ek het baie lekker gelees en is so bly daar is reeds drie ander op die rak wat ek kan lees en ‘n vierde een is oppad. Dit gaan baie lekker wees om met jou te kan gesels wanneer ek hulle lees. Jy moet nou nie dink ek is simpel nie, maar my gunsteling karakters in Springety was nie een van die hoofkarakters nie, maar die twee in die restourantjie. Ek sal graag baie meer van hulle wil hoor.
@ ekisanna. Ek kry nou rilling op rilling.Jung het dit sinchronositeit genoem, die man in my lewe noem dit sakkie-bene. Sedert Springgety het ek drie boeke geskryf waarin daar nooit weer na Robert of Louis (van die restaurantjie) verwys word nie. Ek is tans besig met Gys no. 5 – die laaste in die reeks – en raai wie feature heelwat? Robert en Louis.
Ek dink glad nie jy is simpel nie. Dis vir my altyd wonderlik as lesers van die newekaraktes hou en hulle onthou.
Een van my sogenaamde fans (dis nog vir my vreemd en ‘n bietjie aanmatigend om te praat van fans dis hoekom ek maar altyd verwys na lesers) was weer mal oor ou San. Sy speel ‘n redelike klein rolletjie in Boheem en raai wat, sy het ook weer uitgedop in Dryfhout (dis nou no. 5 waaraan ek skryf). Nog ‘n leser was weer gaande oor die skeerbek Rose-Anne Lockwood ook van Boheem. Rose-Anne was toevallig ook een van my groot gunstelinge. Sy kon ‘n ding so sê. Ongelukkig kon ek haar nie weer laat herleef nie omdat sy een van die slagoffers was.
Ek was egter verstom toe ek, met die bekendstelling(s) van Boheem en drie aande na mekaar boeke geteken het,mense wat al drie boeke gelees het gevra het wie hulle gunsteling karakter is. Ek het gedink dit sal een van die hoofkarakters of heel moontlik Gys wees, ook gedink elkeen sal ‘n ander gunsteling hê, maar sonder uitsondering het hulle gesê: Gertjie. Dit was vir my baie insiggewend.
Vir my gee newekarakters diepte aan mens se storie al dra die hoofkarakters die hoof storielyn.
Ek is bly jy het Springgety geniet en hoop die res stel jou ook nie teleur nie. Ek hoor baie graag wat jy van die ander dink.
@ almal: Net vir die van julle wat nie die reeks tot dusver gevolg het nie, die volgorde van die Gys Niemand-reeks is:
Springgety
Fortuin
Boheem
Meetsnoer (kom in Oktober 2010 uit)
Dryfhout (word tans geskryf en behoort in 2011 te verskyn)
Ek probeer die boeke so skryf dat dit nie ‘n treinsmash is as jy nie die boeke in volgorde gelees kry nie. Die eerste vier sal dus oukei wees buite volgorde, maar ek dink nie dit gaan so lekker werk as mens met Dryfhout, die laaste een, begin nie juis omdat daar heelwat van die karakters uit die vorige boeke daarin voorkom en dit dalk jou pret kan bederf as jy goed uitvind wat deel is van die spanningslyn in die ander vier nie.
Hi Chanette…
Sjoe, maar ek het nou lekker gelees aan Boheem!(toe nooit vir Springety in die hande gekry nie).
Ek wil net sê ek het dit regtig baie geniet. Natuurlik nie geweet tot op die einde toe wie die bad guy is nie
, alhoewel ek met Gys se ondersoek in Wildfontein nogal ‘n goeie raaiskoot gewaag het! LOL.
Ek is mal oor jou karakters veral San!En jou woordgebruik maak die storie sommer ekstra lewendig. Dit voel of jy alles net daar en dan saam met die karakters beleef.
)
Maar wag…ek moet nou dalk begin werk (gelukkig is my baas nie op kantoor nie!
Dankie weereens vir ‘n uitstekende leesgenot!
Ek is so bly jy het Boheem geniet! San was ook een van my gunsteling karakters. Die goeie nuus is dat sy weer ‘n draai maak in Dryfhout waaraan ek tans skryf. Ek het haar nie daar beplan nie, maar toe ek weer sien, daag sy op.
hi chanette,
ek het fortuin eerste gekoop,nie geweet daar is ‘n reeks gys boeke nie.ek het die boek so geniet dat ek gaan google het vir nog van jou boeke.ek het die hele reeks,het juis vanoggend meetsnoer klaar gelees en dit was fantasties.dis hartseer om te dink daar is net een boek oor.kan nou nie wag vir dryfhout nie.ek het van jou gewone liefdesverhale ook gelees maar is absoluut mal daaroor.hoop daar gaan ‘n ander reeks wees na die gys boeke.
Hallo Marie! Jammer ek antwoord nou eers, maar ek het die rekenaar vir twee weke afgeskakel om bietjie asem te skep na die besige 2010.
Ag, dis heerlik om te hoor jy het die Gys-boeke en ook die ander so geniet. Ek begin juis vandag vir die laaste keer deur Dryfhout gaan voor ek die manuskrip finaal indien. Dit beteken dat ek voor die einde van die week van Gys sal moet afskeid neem. My hart is skoon seer.
Gelukkig is ek ook opgewonde om weer iets nuuts aan te pak. Ek weet nog nie presies hoe dit daar gaan uitsien nie, maar daar sal weer ‘n reeks wees, die keer sonder ‘n speurder. Ek kan Gys darem nie net so sito-sito vervang nie!
Ek hou julle op hoogte wanneer ek weer koers kry.
Mooi bly en ‘n wonderlike 2011 vir jou
Hi Chanette.
Ek nou net Meetsnoer klaar gelees, kon net nie die boek neer sit nie!!!!! Ek werk weg van die huis af en my vrou koop vir my David Baldacci se boeke. Meetsnoer was tussen hulle, seker vir haar?
In my gejaag om gepak te kry, kry ek toe die boek in my hand en nou probeer ek Meetsnoer in Engels lees (die voorblad hahahah). Ek kon nie op daardie staduim uitmaak wat dit beteken in Eng. nie, maar wat ek vat dit saam Nigeria toe.
Begin toe die boek lees Dinsdag aand. Ek het seker vyf Afrikaanse boeke op skool gelees en dit was dit, maar na Meetsnoer sal ek a punt maak om die res van jou boeke te kry. Hierdie was n great storie in Afrikaans!!! so Dryfhout is op my lys van “I must have”
Dankie
Hallo Dolf
Ek is baie bly jy het Meetsnoer so geniet. Dis die vierde boek in die Gys Niemand-reeks en Dryfhout is die vyfde. Miskien sien jy kans vir die eerste drie Gyse ook. Hoe ook al, ek hoop jy geniet Dryfhout netso baie.
Dankie vir jou lekker briefie. Ek het heerlik gelag vir die Engelse lees van Meetsnoer! Jou vrou kort ‘n medalje omdat sy jou sowaar weer sover gekry het om Afrikaans te lees – dalk nie heeltemal so per ongeluk nie?
Mooi bly en lekker lees!
Ek weet nie of ek nou tannie moet se of nie maar ja ek is 15 jaar oud en is wat ‘n mens ‘n boekwurm noem ek is mal oor tannie se uitmuntende gys reeks lees ‘n boek ‘n aand deur as ek eers begin kan ek nie ophou nie het so pas dryfhout klaar gelees van Aengelique de A’vignon en gys en sy ou gertjie het amper die hele reeks al gelees maar springety en meetsnoer staan nog en wag vir my …die boeke is onglooflik en uit ‘n uitmuntende gehalte…Isa Konrad se boeke is net so goed veral die soenoffer-baie hartseer verhaal-ek hoop net daar kom nooit ‘n einde aan die Gys Niemand en ou san se reeks hou nooit op nie en ek wil baie graag weer van Kayla Cilliers hoor lees nou en dan nog ‘n bietjie van haar ….xoxoxo hoop om weer eendag met tannie te praat wie weet dalk word ek ook eendag ‘n skrywer dan skryf ons saam ‘n boek lekker aand verder
Hallo Zonica
Nee wat jy hoef nie vir my tannie te sê nie, maar jy mag as jy wil. Ek is baie bly om te hoor jy het Dryfhout en Boheem so geniet en hoop jy geniet die ander twee ook. Ongelukkig kom daar nie nog boeke in die Gys-reeks nie, maar as jy dalk nog nie die reeks oor die Davel-vroue gelees het nie, wag daar darem sewe boeke vir jou om te lees. Onthou net om by Tamara te begin en maak seker jy lees Fleur laaste.
Ek stem saam oor Isa Konrad, sy is ‘n wonderlike skrywer en ek geniet ook haar boeke baie.
Dis heerlik om te hoor daar is nog boekwurms op skool. Geniet die lesery! En as jy dalk eendag ‘n skrywer word, hoop ek lees ek een van jou boeke.
Mooi bly!
Hi Chanette, is mal oor jou boeke. Het toe vir my 40 ste verjaardag by my man ‘n e- reader gekry en sien toe dat jou boeke nie in e-boek formaat is nie. Ek was skoon ontsteld! Kyk ek mis of is dit so?
Hi Lilla, lekker om te hoor jy geniet my boeke! Nog net ‘n klein bietjie geduld. My boeke is in die proses om in e-formaat afgelaai te word. Dit behoort baie binnekort beskikbaar te wees. Lekker lees!