14
Aug
10

Woorde open Wêrelde: Vrouedag 2010.

Ons spring agtuur die oggend weg in Stanford. Dis nou ek en my sjouffer, Ernie Blommaert, beter bekend as Blom. Dis Augustus-koud met misreën en wind. Anderkant die berg sal dit opklaar, belowe Blom my. Blom ken die Kaap. Gebore en getoë in Stellenbosch, maar die keer is hy verkeerd. Dis nie meer so nat nie, maar steeds koud en grys ook ander kant die berg.

Na minimale gesoek en ʼn kwartier voor die tyd, hou ons voor Ida’s Vallei Primêre Skool se ingang stil. Daar is nie ʼn siel nie. Marieta Nel van Lapa se Kaapse kantoor het die vorige aand gebel en gevra of ons weet waar dit is. Ons het. Wel, ons het gedink ons weet.

Lang storie kort gemaak, ons kry uiteindelik St. Ida’s Laerskool se saal, ʼn goeie tien minute laat. Fiona en Chireen van WOW (Woorde open Wêrelde) heet ons gul welkom. Prof. Dorothea van Zyl kom groet en Melt Myburgh ook. Ek ontmoet Marieta Nel en ek en Kristel Loots groet asof mekaar jare laas gesien het pleks van verlede maand toe ons in Pretoria by Graffiti se Boek & Koek was.

Alhoewel ons mekaar redelik goed ken en reeds erken het ons laaik mekaar, is die innige groetery deels benoudheid. “Elias Nel is ook hier,” fluister sy vir my, loer onderlangs na Dorothea, en erken sulke hogeres maak haar doodsbenoud. Ek sê liefs nie vir haar dat al wat leef en beef my benoud maak nie, hogeres of nie.

Daar is ʼn gesegde dat skrywers liefs nie moet praat nie. John Barth reken:  You shouldn’t pay very much attention to anything writers say.  They don’t know why they do what they do.  They’re … full of nonsense, pompous and embarrassing, or merely mistaken, when they open their mouths.

Benjamin Disraeli reken ons moet veral nie oor ons eie boeke praat nie:  An author who speaks  about his own books is almost as bad as a mother who talks about her own children.

Hulle het dalk ʼn punt beet, maar nou word ons dan en wan gevra en die verleiding om oor mens se boeke te praat, is te groot om te weier. Dis egter nie te sê dit kom maklik nie. Vir iemand wat die grootste deel van elke dag voor die rekenaar deurbring met net jou karakters as geselskap, is dit skrikwekkend om voor ʼn gehoor te praat, veral van ʼn verhoog af.

Binne word ons na ons tafel gewys en getrakteer op koffie en eetgoed. Aan ons tafel sit ook twee susters, Alna en Debbie, twee selfverklaarde fans van die Gys-boeke, wat baie moeite gedoen het om daar te kan wees. Ek is ongelukkig nie goeie geselskap nie. Die laatkommery en benoudheid oor die verdwaal-slag, het sy tol geëis. Kristel aan die oorkant is ook maar blekerig en stil.

Uiteindelik kan die verrigtinge begin . En stadig aan begin ek ontspan. Nou eers kan ek ʼn bietjie rondkyk en die omgewing inneem. Die saal is spoggerig. Daar is ʼn vlakte tafels agter ons met vroue en kinders van alle ouderdomme, sowat 90 mense, hoor ek later.

Heeltemal te gou word ek en Kristel aan die woord gestel. Die angs is terug. Teen styl trappies suiker ons die verhoog op en kry elkeen ʼn mikrofoon. Kristel begin vertel van vroue en haar boeke. Ons skaterlag. Ek het altyd geweet Kristel het vlymskerp humor, maar sy oortref haarself. En dan is sy klaar. Ek sit nog en lag oor haar laaste sprak toe ek besef dis nou my sprook. Grawe die papiere uit, vee die laaste lagtrane uit my oë en sit my bril op. Met al die oë op my wil-wil ek verbouereerd raak. Ek is nie so ʼn humoristiese spreker soos Kristel nie, dink ek vir oulaas benoud, maar begin dan praat oor die vroue in die Gys-boeke, oor Lily en Xanthe en Kayla, oor Gertjie en ook oor Gys. Ja, ek praat oor my ‘kinders’ en dink heimlik: bogger Disraeli.

Met ons beurt agter die rug, kan ek en Kristel ontspan. ʼn Paneel kinders van verskillende ouderdomme kom aan die beurt en vertel van die boeke wat hulle vir die projek gelees het, twee oulike seuns trakteer ons op hulle musiek. Diana Ferrus bring trane na my oë met die passievolle voordrag van haar gedigte oor Afrikaans en Saartjie Baardman. Elias Nel kry weer die lagspiere aan die gang met sy stories en dan word aangekondig dis tyd vir sop en broodjies.

Ek moet eers ʼn draai loop en op pad terug keer twee meisiekinders my voor. “Het antie Tamara geskryf,” vra die een. Ek pleit skuldig en hulle begin entoesiasties gesels oor die Davel-reeks, vertel my van Maryn en Annabella en die res asof hulle vriendinne is met hierdie karakters. Een meisiekindjie hou ʼn servet uit, die ander die agterkant van ʼn program, sal ek asseblief my handtekening vir hulle gee. Ek voel soos Angelina Jolie toe ek teken, maar my vol hart dreig om by my oë uit te tap.

My woorde het êrens ʼn wêreld oopgemaak vir die twee, besef ek, maar dis hulle wat op Vrouedag 2010 vir my ʼn wêreld oopgemaak het. “Antie,” sê die een, “antie moet asseblief nie ophou skryf nie.” En ek dink: met lesers soos julle? Nee, antie sal nie my liefkind. Antie sal nie.

Die WOW-projek is ‘n taalbemagtigingsprojek van die US Woordfees, met leerders uit hoofsaaklik voorheen benadeelde gemeenskappe as teikengroep. Hierdie jaarprojek word reeds vanaf 2003 suksesvol bedryf.


9 Responses to “Woorde open Wêrelde: Vrouedag 2010.”


  1. Augustus 16, 2010 om 10:02 vm

    Hi Chanette

    Jy is doodreg as jy se dat jou woorde letterlik ander werelde vir ons as lesers oopmaak.
    Dit was vir baie van die mense wat daar was die eerste keer wat hulle ‘n vlees en bloed skrywer gesien het en dus was dit vir hulle ek dink ‘n groter belewenis.
    Weereens se ek dankie dat jy so ver gereis het om die dag met ons mee te maak, ons het dit
    regtig waardeer.
    Ons sien uit na die koms van Meetsnoer en kan nie wag nie.
    Ek is seker soos die ander boeke, sal die een ook ‘n reuse sukses wees.

  2. Augustus 16, 2010 om 10:09 vm

    Dit was vir my ‘n enorme voorreg om daar te wees, Shireen. Weer eens ook baie dankie aan julle, ons is behoorlik bederf!

  3. Augustus 16, 2010 om 10:35 vm

    Hallo Chanette,

    Vir ons is die skrywers die ‘hogeres’, want julle loop voor met julle boeke wat wonderwêrelde van die woord oopmaak vir ander, soos vir die entoesiastiese leerders, onderwysers en ma’s wat by die US Woordfees & WOW onlangse Vrouedag was. Oor skrywers se boeke het Booth gesê: “The critic always limps behind” – en so voel ek ook. Baie dankie vir wat julle skrywers doen om Afrikaans dinamies en sterk te hou. Ek hoop ons (die skrywers, die lesers en die Woordfees & WOW-organiseerders) sal nog baie saamkuier by die Woordfees!

    Mooi skryfdag!

    Dorothea

  4. Augustus 16, 2010 om 10:44 vm

    Beste Chanette

    Dit was vir die Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek, ‘n besondere eer en voorreg om sulke hogere skrywers in ons midde te hê! Ek stem 100% saam, ons kan nie op só ‘n dag luister na Disraeli nie, wat sou ons nie alles gemis het nie?? Vir jou aandeel in dié dag en in die lewens van ons kinders, hul ma’s en hul onderwysers, kan ‘n mens nooit genoeg dankie sê nie. Dat woorde wêrelde oopmaak, het jy en Kristel duidelik vir ons almal laat besef en die wonderlike wêrelde wat nog wag om ontsluit te word deur woorde, is ‘n lekker lus om boeke te gryp, al is dit baksteenhoogte! Dankie vir jou belofte aan die kinders, maar groter die waardering dat hulle nou eintlik met die skrywer van Tamara kan gesels, en so ons laat besef dat daar nog baie kinders is wat wel lees, danksy lekker boeke!

    Alle voorspoed met jou toekomsplanne, ons kyk uit na die boek met die mooi omslag!(Meetsnoer)

  5. Augustus 16, 2010 om 10:47 vm

    Dis vir my wonderlik dat die Woordfees ook ontspanningsfiksie ag. Met mense soos julle saam in die tuig, sleep ons Afrikaans saam deur die drif en ‘n opwindende toekoms binne! Ek sien uit na nog baie woordkuiers, Dorothea.

  6. Augustus 16, 2010 om 10:51 vm

    @ Fiona. Solank ons kinders lees, is die Kaap … um … Afrikaans!

  7. Augustus 16, 2010 om 1:42 nm

    ‘n Ware WOW!-dag! Dankie daarvoor.

  8. 8 Jolandé
    Augustus 16, 2010 om 3:45 nm

    Ek is baie bly die antie gaan nooit ophou skryf nie! ;-)

    Word Meetsnoer begin of einde Okt vrygestel?

  9. Augustus 17, 2010 om 7:45 vm

    @Kristel Jy het die dag vir my soveel makliker en lekkerder gemaak, ons kan maar gerus weer so saam-saam kuier!
    @Jolandé Sal seker so middel Oktober wees.

    Baie dankie vir julle almal wat my soveel goeie wense met Meetsnoer toewens. Mens is maar altyd benouderig oor hoe ‘n boek ontvang gaan word.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 113 other followers

Augustus 2010
M D W D V S S
« Jul   Sep »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 113 other followers

%d bloggers like this: