My laptop is soos Rut. Waar ek gaan, gaan sy saam. Soms vlug ons doelbewus hand aan hand om aan ʼn storie te gaan werk en vergeet vir ʼn rukkie van die res van die wêreld.
Dis op so ʼn vlugtog dat ek en Rut toe vir twee weke op McGregor by Temenos beland. Van dagbesoeke af, het ek reeds geweet dis ʼn magiese plek. Om soggens deur die poue wakkergeroep te word, tussen die skrywery deur in die tuine te stap, saans by The Well te gaan sit en my weergawe van ʼn meditasie te pleeg, plaas alles egter in ʼn heel ander dimensie. 
Die Temenos tuine is ʼn spirituele belewenis. Daar word geen onderskeid tussen godsdienste gemaak nie. Van ʼn Hindo-tempeltjie tot ʼn vredeskruis, van ʼn Boeddha tot ʼn klipsirkel met rune-simboliek. Alles het sy plek en sy bestaansreg. ʼn Engel vir verlore kinders, staan nie te ver van ʼn moskee in die kleine nie, die menora in ʼn nissie bo ʼn watertjie wat loop, is ʼn klipgooi van die kerkie met ʼn houtkruis in die venster.
Ek het nie net met my Rut se magie aansienlik voller terug gekom nie, maar ook met ʼn ryker gees, ʼn groter innerlike rustigheid.
En ʼn vraag: Hoekom kan die res van die wêreld nie soos Temenos wees nie? Verdraagsaam en eerbiedig. Spiritueel in die wydste moontlike sin. Sonder oordeel of vooroordeel.
ʼn Mens moet daar wees, daar rondloop en werklik inneem, om dit ten volle te kan waardeer, maar stap saam met my deur die tuine van Temenos en verbeel jou die tuin waarin ons elkeen sou kon woon as ons almal werklik respek vir mekaar het.
(Meeste van die foto’s kom van die webblad http://www.temenos.org.za/ , ander het ek self geneem).













Hi chanette
Ek is n groot bewonderaar van jou boeke. Ek besit amper elke liewe boek wat jy al geskryf het! Mag ek vra wanneer ons jou volgende boek op die rak kan verwag? Jy moet vinnig skryf jong!
Temenos lyk omtrent na n salige belewenis. Mag dit ons almal beskore wees.
Sterkte met jou volgende boek. Ek is seker dit gaan uitstekend wees. Ek kan nie wag nie.
Groete,
Karen pretorius
Groete,
Karen
Dis heerlik om te hoor jy geniet my boeke, Karen! Ek probeer vinnig skryf, jong, maar hierdie jaar was ‘n malletjie. Met die herdrukke van die Daveltjies en die afsluiting van die Gys-reeks het ek maar laag gevlieg. Was in hierdie jaar meer uithuisig as in die vorige 3 jaar alles tesame!
Maar die goeie nuus is, die skryfwerk het darem nie heeltemal agterweë gebly nie. So om en by Aug/Sept behoort daar ‘n tweeluik te verskyn, dalk bietjie vroeër as alles goed gaan. Ons wik en weeg nog oor die titels.
Dis heeltemal anders as die Daveltjies of die Gyse. Eintlik heeltemal anders as enige van my vorige boeke.
Dit gaan oor vier bloedverwante vroue, elkeen met ‘n Verlede (ja, met ‘n hoofletter). Hulle beland op Maanschijnbaai en daar staan hulle gou bekend as die Calitz-slette. Ek dink die twee boeke gaan uiteindelik oor hoe maklik mense oordeel en veroordeel sonder dat hulle die kennis (of die reg) het om dit te doen.
Chanette ek sien uit om die nuwe demensie in jou skryfwerk te lees!! Lief jou boeke en kon my nog altyd vereenselwig met jou karakters sedenkpatrone!! Altyd ‘n nuwe ervaring…..