11
Jan
12

Fleur – ʼn tweede afskeid

Ek onthou nog baie goed die dag toe ek die rekenaar se stuur-knoppie gedruk het en so vir Fleur die wye wêreld ingestuur het. Dit was einde September 2006. Ek was flou. Ek het die ses Daveltjies wat op Tamara gevolg het in elf maande klaargeskryf (hoe, weet ek nou nog nie) en tussen in nog manuskripontwikkeling en ʼn hele paar ander dinge ook gedoen.

Ek het by my venster uitgekyk, oor die prieel oortrek van pienk bougainvilleas, na die Kleinerivier wat onder my erf verbyvloei. En in trane uitgebars. My laaste Daveltjies het ʼn man gevind wat haar waardig is en is vort na die land van vir-altyd-en-ewig-gelukkig. Dit het gevoel asof ek wees agtergelaat is. In daardie jaar het ek immers Daveltjies geëet, gedrink, geslaap, ge-alles. Hulle was my girls. Op ʼn manier my prosteses om enigiets van ʼn taalstryder tot ʼn argeoloog tot ʼn skilder te word.

In daardie stadium het twee dinge voorgelê: In die onmiddellike toekoms was my 50e verjaarsdag in Oktober. Dis nogal iets wat mens oor jou mortaliteit laat nadink. Wat jou laat wonder: hoeveel stories sal ek nog ingepas kry? En dan was daar angswekkende vooruitsig dat ek nie meer kon uitstel om aan daardie storie wat so lank al aan my deur klop aandag te gee nie. Lily Reynecke se getorring aan my kom toe al van ʼn jaar of twee vantevore af.

Gelukkig het ek nie geweet van die enorme leerkurwe wat voorlê met die verandering van genre nie. Gelukkig het ek nie geweet nog ʼn reeks lê in my onmiddellike toekoms nie. Of dat Gys Niemand hom toe al reggemaak het om my grys hare te vermenigvuldig nie.

Ook nie dat ek vier jaar later, in November 2010, sou hoor die Daveltjies gaan herleef nie.

Dis nog ʼn dag wat ek onthou. Ek was ek in die sewende hemel. Sedert die Daveltjies uit druk geraak het, het ek amper weekliks briewe gekry waarin lesers my gevra het waar hulle beskikbaar is. Aanvanklik kon ek help, daarna was daar net mooi nie een Daveltjie meer beskikbaar nie.

Dit was dus met groot vreugde en opwinding dat ek hier kon aankondig dat die Daveltjies herdruk word. Die reaksie was oorweldigend. My beker het oorgeloop.

Dis nou voor die benoudheid my geslaan het. My uitgewers het ʼn enorme mosie van vertroue in my meisiekinders gestel om al sewe boeke te herdruk en het groot onkoste aangegaan om dit in ʼn nuwe formaat met nuwe omslae te doen. Sê nou hulle verkoop nie?

Selfs in my benoudheid het ek nie besef hoeveel harde werk voorgelê het nie en ek het ook nie kon raai dat my stoutste verwagtinge vir die omslae so ver oortref sou word nie.

Die Daveltjies in nuwe gedaante slaan my asem nou nog weg. Ek pak hulle elke maand wanneer ek die nuutste een kry in ʼn ry langs mekaar uit en verwonder my aan hulle. Elkeen is spesiaal. Elkeen net reg. En saam is hulle vir my ʼn eenheid, ʼn familietjie so pragtig soos die meisiekinders self.

Al die harde werk was die moeite werd. Sover ek weet was elkeen van hulle tot dusver ten minste een keer op Graffiti se Topverkoper lys. Die reaksie van lesers was wonderlik. Per e-pos, op die blog, op Facebook, handgeskrewe briewe wat aan Lapa gepos of gefaks is. Sommige lesers het selfs laat weet dat hulle die ou reeks het, maar die nuwe een ook koop. Omdat hulle so mooi is en omdat hulle herhaaldelik gelees word. En dis lesers van alle ouderdomme. Van skoolmeisiekinders op Facebook tot ʼn bejaarde man wat die allermooiste briefie vir my gestuur het.

En nou is Fleur op die rak. Ek moet weer afskeid neem. Ek is weer eens half bewoë. Maar ek is ook trots op my meisiekinders. Hulle het mooi gemaak.

Dankie, Tamara, dat jy vir my die derde keer gewals het. Geleer het van oorlog en vrede, van die mense agter die sepia foto’s.

Dankie, Willemien, dat ek deur jou oë die Tweede Taalstryd beter kon leer begryp en in Ierland ʼn draai kon maak.

Dankie, Annabella dat ek kon leer tjello speel en saam stry vir vrouestemreg.

Wildewragtig Deborah, dankie veral vir jou. Deur jou kon ek die argeoloog word wat ek nog altyd wou wees.

 

 

 

Isabelle, dankie dat ek Pierneef van nader kon leer ken en jou hande kon gebruik om die skilderye wat ek graag sou wou maak, te skilder.

Maryntjie, ek is ʼn vrot kok, maar dankie dat jy my die geleentheid gegun het om desondanks wonderlike dinge met lemoene en laventel aan te vang.

En Fleur, danksy jou verstaan ek wyn en die fluisteringe in die vat soveel beter. Dankie.

En dankie aan julle, die lesers, wat dit vir my moontlik maak om te skryf.

Loer gerus hier vir ʼn proestukkie van Fleur:

http://romanzalesers.wordpress.com/2012/01/10/proestukkie-chanette-paul-fleur/

Fleur is onder meer beskikbaar by:

Fleur by graffitiboeke

Fleur by Lapa

Sien ook:

http://lapa.bookslive.co.za/blog/2012/01/10/heruitgawe-van-fleur-die-laaste-boek-in-chanette-paul-se-reeks-oor-die-davel-vroue/


2 Responses to “Fleur – ʼn tweede afskeid”


  1. Januarie 11, 2012 at 1:03 nm

    ek is mal oor jou metafoor van die ‘prostese’. Dalk is dit die geval met ander kunsvorme ook. My pogings tot kuns laat my selfs by tye voel ek kan die buitenste uithoeke van die heelal ‘self’ besoek…

    • Januarie 11, 2012 at 1:16 nm

      Dit is vir my een van die lekkerste aspekte van skryf – om iemand te word wat ek nie kan wees of ‘n loopbaan te volg wat my nie beskore is nie of goed te doen waarvoor ek te veel van ‘n sissie is. Ek kan my indink dat jy dieselfde plesier put uit jou spaced out sketse! Ek het ‘n groot voorliefde vir fantasie-kuns. Dit neem mens na plekke in iemand anders se verbeelding. Dis so ‘n voorreg.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 44 other followers

 

Januarie 2012
M T W T F S S
« Dec    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Top Posts


    Follow

    Get every new post delivered to your Inbox.

    Join 44 other followers