08
Aug
12

Fases van vreugdes en vrese

Gisteraand so halfses se kant het ek Labirint se finale manuskrip na my uitgewer gestuur. Nou volg taalversorging en dan kry ek dit weer terug om die bladproewe te lees. Daarna gaan dit drukkers toe en in Oktober, as alles goedgaan, kom die boek op die rak.

In effek beteken dit ek het nadese bitter min insette om te lewer. My werk is klaar. Die verligting is groot, maar gemeng met ʼn bietjie hartseer omdat ek van my karakters moet afskeid neem. Dit voel ook ‘n bietjie asof ek dalk by tye te naby aan die son gevlieg en net-net aan Icarus se lot ontkom het.

Met ʼn glas appelkoospienk vonkelwyn sit ek toe gisteraand voor die kaggel en dink aan die koue greep waarin die land verkeer. Aan sneeu wat feitlik dwarsoor ʼn land val wat bekend is vir relatief sneeulose weer. Maar ek dink ook aan my karakters en aan die skryfproses.

Omdat ek gewoond is om gedagtes op papier te sit, krabbel ek toe ʼn paar neer en dié ontaard toe in ʼn lys van emosies waardeur ek gedurende die skryf van Labirint en ook meeste van my vorige boeke gegaan het. En dit laat my toe weer dink aan waar hierdie storie wat ek nou in die hande van ander oorgegee het, eintlik begin het.

30 Maart 2012 het ek amptelik aan die manuskrip begin skryf. Nie-amptelik was daar reeds so 15 000 woorde wat al in 2000 geskryf is. Ek sou ʼn verhaal getitel Labirint skryf vir my MA in Skeppende Skryfwerk. My navorsing was reeds gedoen, maar dit en hierdie 15 000 woorde het gesneuwel toe ek op pad van die noorde af na my studieleier, prof. Etienne van Heerden van UK, by Nieu-Bethesda aangedoen en deur Helen Martins se kuns oorrompel is. Ek het uiteindelik Leila word lig vir my M gedoen wat gedeeltelik in Nieu-Bethesda afspeel.

Vir baie jare het Labirint aan my bly knaag, maar ek het nooit weer gereed gevoel daarvoor nie. Na die Maanschijnbaai-reeks, het dit egter weer aan my deur begin klop. 

Toe ek weer die ou manuskrip oprakel en deur die navorsing gaan – destyds nog fotokopieë uit ʼn magdom bronne omdat ek nog nie die Internet se weë verstaan het nie – kon ek nie anders as om te wonder watse soort storie hier sou uitgebroei het as ek nie destyds aan Leila se storie voorkeur gegee het nie.

Ek kon nog die karakters onthou, maar wat die storie self was, is nou nog vir my duister. Bitter min van daardie aanvanklik 15 000 woorde het oorleef in my huidige storie. Sommige van die karakters het heeltemal ʼn ander geaardheid begin aanneem as wat ek oorspronklik bedoel het. Name het verander en die lokaliteit ook.

Dis die eerste keer dat ek met iets gewerk het wat so lank terug begin is. Die fases wat gevolg het, is egter baie soos dit meeste van my boeke die geval is:

Dit gaan die beste storie wees wat ek nog ooit geskryf het.

Ek kan nie wag om meer oor my karakters uit te vind nie / Ek kan nie wag om te sien wat gaan gebeur nie. / Oeeee! Dis lekker om te skryf! / Loooove my job!

Oeps, waar neuk hierdie karakter nou heen? / Hei, jy is veronderstel om die girl op die einde te kry, jy kan nie so maak nie! / Nee, hel, jy is Vasti nie waardig nie.

Huh? Nou waar peul jy uit Vis? En Vis? Wat virre naam is dit? O, oukei.

O, bogger, hier kom ʼn gemors. / Ooooo, bogger-bogger-bogger, die hele storie is ʼn gemors. / Grootste klomp robbies wat ek nog geskryf het. / Arrrgh! / Aaaaarrrrgh!

Kalmeer, red wat te redde is.

Gaan nooit hierdie leidrade aanmekaar geknoop kry nie. / Twee derdes deur die manuskrip: Uitgewer, Help asb! / Uitgewer: Skryf eers klaar. / Grrrrr.

Herskryf, herskryf, herskryf. / Bietjie beter. / Lees storie van vooraf deur en redigeer. / Skryf eerste draft van manuskrip klaar.

Herskryf. / Druk uit en redigeer op harde kopie. / Voer veranderings op rekenaar in. / Lees hele manuskrip vir oulaas deur.

Klik op stuur. / Een sekonde daarna: onmiddellike paniek. Hy gaan die haat! / ANGS.

ʼn Week of twee later: Sjoe, phhht, hy laaik dit behalwe vir…. / Herskryf, herskryf, herskryf. / Harde kopie. / Veranderings op rekenaar. / Lees weer deur.

Keurder toe. / Hy gaan raaksien wat uitgewer misgekyk het! / ANGS

Twee tot drie weke later: Phhht, oukei. Nie te erg nie. Can fix. / Herskryf, herskryf, herskryf en stappe wat daarmee saamgaan.

Klik op stuur. Dank die gode! / Hoop die lesers hou daarvan. O genade, sê nou hulle haat dit? / ANGS.

Kalmeer. / Kan nou niks meer daaraan doen nie.

Wat kom volgende: Idee a, b, c, d of dalk…

Labirint is ʼn spanningsverhaal. Binne weke vandat die skilder Vasti de Leeuw ná twee en twintig jaar weer na haar geboortedorp, Leeuwendrift, trek, word daar sewe moorde gepleeg. Twee daarvan lyk soos ongelukke, nog twee word toegeskryf aan natuurlike oorsake en twee kan onmiddellik verklaar word. Maar Vasti se eksman is onteenseglik vermoor en sy het die beste motief, asook die geleentheid gehad.

Labirint is nie deel van ʼn reeks soos die vyf Gys Niemand-boeke nie en ook in so ʼn bietjie van ʼn ander trant geskryf. Ek hoop julle geniet dit.

Verwagte publikasiedatum: Oktober 2012

Uitgewery: Queillerie


7 Responses to “Fases van vreugdes en vrese”


  1. Augustus 9, 2012 om 10:09 vm

    Sjoe! Nou maak jy my lus vir die boek! Sterkte!! :)

  2. 3 Bets Smith
    Augustus 9, 2012 om 4:56 nm

    Ai die proses klink bekend, hoewel ek selde kom by die deel van ‘dit gaan my beste een wees’. Maar dit klink na ‘n lekker leeservaring. Sterkte!

  3. 5 Theresa Feierabend
    Augustus 21, 2012 om 12:29 nm

    Baie geluk met die finale voltooiing van jou nuutste boek, Labirint, Chanette. Ek is trots op jou.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 113 other followers

Augustus 2012
M D W D V S S
« Jul   Sep »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 113 other followers

%d bloggers like this: