10
May
10

Van liefde na moord

Lesers vra dikwels waarom ek oorgeslaan het van romanses na spanningsverhale. Party van my aanhangers mis my romanses, ander is weer bly ek het die spanningsgenre aangedurf. Sommige lesers laat weet hulle is nie romanse-lesers nie, maar geniet die Gys-boeke terdeë. Ek gee ‘n bietjie agtergrond, ook oor die soort spanningsroman wat ek nou skryf en hoe dit verskil van ander misdaadfiksie. Ek hoor graag wat jy dink. 
 Voor ek met die Gys-boeke begin het, het ek bekend geword as romanse-skrywer en is opgesaal met die etiket van Hygromanskrywer. Dis ʼn term waaraan romanseskrywers in die algemeen, en ek spesifiek, ʼn kleintjie dood het. Hierdie renons gaan nie net oor die neerhalende aard van die term nie, maar ook benoem dit nie wat ons skryf nie.  Dit sou moontlik ʼn uitstekende benaming gewees het vir erotiese fiksie, maar die romanse het net mooi niks met erotika uit te waai nie.  Die romanse gaan oor romantiese liefde en die emosionele belewing daarvan, hoegenaamd nie oor seks of ʼn gehyg nie.

Benewens romanses, het my skryfpaadjie vanuit die staanspoor egter ook  ʼn paar draaie deur ander genres geloop terwyl ek my skryfvlerkies getoets het. Daar was Vlerkaf (1998) en Leila word lig (2005) wat niks met romanse uit te waai gehad het nie en onder die vaandel vrouefiksie of middelmoot literatuur geklassifiseer kan word.  Dan was daar ook Wip van die droomvanger wat ʼn soort voorloper was vir my Gys-boeke, maar eerder ʼn sielkundige roman is wat  ʼn goeie klap van die esoteriese weg het.  Elkeen van hierdie boeke het my nader gebring aan wat ek so graag wou skryf, naamlik suspense romans.

Ek gebruik die Engelse woord suspense omdat dit ʼn baie spesifieke soort spanningsverhaal is waarvoor daar nog nie ʼn lekker beskrywende woord in Afrikaans is nie.  Spanningsroman is te algemeen en sluit omtrent enige soort boek in waarin daar ʼn misdaad gepleeg word, en raaiselroman rook vir my ook nie heeltemal  die pyp nie.

Die suspense roman verskil in heelwat opsigte van speur- en ander misdaadromans. Dit leen by sowel misdaadfiksie as liefdesromans en versmelt tot iets wat onder albei genres kan ressorteer.  Internasionaal is dit ʼn baie gewilde genre, maar in Afrikaans blyk dit ʼn nuutjie te wees.

Die grootste verskille:

  • Die speurverhaal wentel tipies om ʼn professionele speurpersoon wat in beheer is van die misdaadondersoek en op intellektuele vlak, gepaardgaande met baie aksie en dikwels geweld, ʼn misdaad oplos. Daarenteen is die hoofkarakter(s) in die suspense roman nie professionele speurpersone nie.  Die hoofkarakter is gewoonlik ʼn vrou wat onverhoeds in ʼn situasie beland waar sy deur ʼn moord of ander misdaad geraak word en ook self later in gevaar verkeer.  Sy moet dan agterkom wie die misdaad gepleeg het, maar is nie vir die taak toegerus nie.
  • Die suspense roman is karaktergedrewe eerder as aksie-gedrewe en die bevrediging van die leser lê hoofsaaklik op emosionele vlak. Daar is baie intrige, maar nie  noodwendig aksiebelaaide jaagtogte of eksplisiete geweld nie. My speurder, Gys Niemand, word dan ook meer as mens uitgebeeld, eerder as speurder en is ʼn sekondêre karakter in elkeen van die boeke.
  • Die suspense roman sluit gewoonlik romantiese liefde in terwyl die speurroman gewoonlik nie oor die liefde gaan nie, al kan dit sekstonele bevat. Die romantiese verhouding in die suspense roman gaan egter veel dieper as wat die geval in ʼn romanse is.  Dis baie meer verwikkeld en spreek die werklikheid baie sterker aan alhoewel dit steeds ʼn feel good boek bly.
  • Ek dink dit was Trisa Hugo van Boekemakranka wat begin praat het van estrogeen- pleks van testosteroon-gedrewe boeke.

 Omdat ek ʼn bietjie van ʼn idealis, ʼn bangbroek en ʼn sissie is, en regtig nie van bloed hou nie, wou ek nie bloeddorstige gruwelstories skryf nie.  En tog fassineer moorde en moordenaars my al vandat ek kan onthou. Vir my is die redes agter die moord, die psigologiese agtergrond, die gevolge daarvan en die effek op die mense wat geraak word deur die misdaad, baie boeiender as die daad self. Gevolglik is my stories relatief bloedloos.

In my Gys-boeke boeke  is daar moorde, daar is speurders en die moorde word opgelos, maar die boeke gaan oor veel meer as die misdade of oor wie die moordenaar is.  Dit gaan veral oor die invloed wat die misdaad op die sekondêre slagoffers het.  Dit gaan ook by uitstek oor ʼn romantiese verhouding wat ontstaan tussen die hoofkarakters en hoe die verhouding beïnvloed word deur die misdaad en die speurproses.  Agterdog speel ʼn groot rol, maar ook gevaarsituasies en albei skep natuurlik ʼn prutpot van emosies wat dreig om oor te kook.

Die Gys-boeke is meer op die vroueleser gemik, maar ek het gou agtergekom dat mans ook die boeke geniet. Een manlike leser het laat weet hy het onherroeplik verlief geraak op Lily Reynecke, die hoofkarakter in Springgety, ander geniet weer vir veral vir Gys.

Ek hoor graag wat jy dink.


30 Responses to “Van liefde na moord”


  1. Mei 11, 2010 om 9:21 vm

    Aag maar dis nou sommer grand. Ek is ‘n verslaafde Deon Meyer fan, maar die man skryf te stadig om my tevrede te hou (sorry Deon, maar ek sien jou as ‘n uiters talentvolle storieman/storiefabriek😆 )

    Nou het jy my nuuskierig om ook vir Gys nader te trek, solank ek net nie moet slaap met die kamerlig aan nie. Ek vrek vir suspense flieks, en ‘n goeie suspense boek is dalk net die ding om die adrenalienvlakke op te druk noudat die koue die Kaap getref het!

    Welkom op WordPress Chanette! ‘and thankyou for not choosing Litnet’! 😆 😆

  2. 5 Lelani
    Mei 12, 2010 om 12:14 nm

    Hi Chanette,

    Ek het nou die dag jou boek (Fortuin) in die hande gekry en ek moet sê ek is nou amptelik ‘n aanhanger!

    Ek is mal oor die feit dat dit nie net 158 bladsye het soos die ander ligte afrikaanse boeke nie😉 en jy het die twists en turns van die plot meesterlik saam gestel! Daar is net soveel mense wat die moord kon pleeg en tog het jy my aan die raai gehou tot op die einde!

    Ek sal beslis uitkyk vir jou volgende boeke. En dan wil ek net dankie sê, want te danke aan skrywers soos jy en Deon Meyer, sal ons taal beslis nooit kan doodloop nie!

    Lelani

    • Mei 12, 2010 om 12:30 nm

      Welkom Lelani,
      Dis vir my altyd ‘n wow-oomblik as my boeke in dieselfde asem as Deon s’n genoem word. Veral omdat ons boeke so verskillend is.

      Springgety was die eerste in die Gys-reeks, daarna Fortuin en die derde is Boheem. Jy het dus in die middel weggespring, maar dit maak nie saak nie. Ek probeer die boeke so skryf dat elkeen op sy eie bene staan.

      Ek is baie bly jy hou van die dikker boeke – ek word nogal daaroor geterg! Die een wat in Oktober uitkom is nog dikker as die ander – tot my uitgewer se groot frustrasie.

      Solank daar Afrikaanse lesers en skrywers is, glo ek ons taal is veilig. En deesdae is daar juis so ‘n lekker oplewing in Afrikaanse ontspanningsfiksie.

      • 7 lfourie
        Mei 12, 2010 om 12:44 nm

        Is dit nie die waarheid nie! Elke keer as jy op Kalahari of Loot gaan loer is daar nog meer en soveel nuwe skrywers se boeke op die rakke!

        Ek verkies dikker boeke – Gewoonlik is daar soooveeeel meer aan die storie en karakters – vandaar my liefde vir dikke boeke.Ek het die liefde vir dikke boeke aangekweek deur al die engelse boeke wat ek lees.

        Ek weet ek het in die middel begin😦 maar nou ja. Gelukkig, soos jy sê, is dit gekryf om alleenstaande gelees te kan word.

        Ek kyk uit vir jou volgende boek…sterkte met die skryfwerk.!Ek stem saam met die dat hulle sê dit is seker die hardste werk wat jy kan doen. Jy kan nou iets skryf en voel dis goed en sodra jy dit more lees wil jy dit in die vuur gooi! LOL

  3. Mei 13, 2010 om 11:13 nm

    Ek voel die harde werk juis op die oomblik aan my lyf, dié dat ek nie so gou kon antwoord nie. Ek is besig met die laaste doodsnikke van Meetsnoer (die titel is nou vas) nadat my uitgewer deur die laaste weergawe is. Dis toevallig vandag presies een jaar sedert ek aan die manuskrip begin skryf het.

    • 9 Lelani
      Mei 14, 2010 om 8:18 vm

      Ek dink nie ‘n mens besef altyd die harde werk wat in ‘n MS ingaan nie. Hoe lank is jou nuwe MS ongeveer?

      Ek het nog ‘n paar vrae – as jy die agie binne my sal verskoon! :-))
      Skryf jy voltyds? Wat is jou target getal woorde op ‘n dag? Het jy dit al oorweeg en sal jy of het jy al ‘n slypskool aangebied?

      Skies vir die baie vrae. Ek wonder maar net altyd oor alles en nog wat!

      • Mei 14, 2010 om 8:56 vm

        Ek is juis besig om te probeer sny aan die woordtelling. Op die oomblik is dit oor die 185 000 woorde. Ek wil probeer om 10 000 woorde te sny.

        Natuurlik mag jy vra! Ek skryf semi-voltyds. Ek doen manuskripontwikkeling vir Lapa Uitgewers wat gemiddeld so 1-2 weke per maand van my skryftyd steel, maar ek is baie dankbaar daarvoor want dit beteken ek nie net afhanklik is van my tantieme om te oorleef nie.

        Wanneer ek skryf, skryf ek hard. Ek sit so 10-12 ure per dag voor die rekenaar. Dit sluit natuurlik navorsing en allerhande ander dinge in – onder meer staar. Maar eintlik ‘skryf’ mens 24/7 want jou kop bly maar voortdurend by die storie. Ek het nou die dag saam met Blom, die geduldige man in my lewe, gaan rugby kyk by ons plaaslike pub. Toe ek weer sien, kyk almal om my na my pleks van die skerm. Blom sê ek het met my hand op my knie geslaan en gesê ‘yes! ek het hom’. Dit was op die oomblik toe iets oor een van die hoofkaraktes van Dryfhout (dis nou Gys no. 5) vir my duidelik geword het – terwyl die Stormers die een fout na die ander gemaak het.

        Ek stel vir my losweg ‘n target van 12 000 woorde per week vir my skryfweke. Meestal doen ek so 2 000- 3 000 woorde per dag. Soms is die 50 woorde, en soms as ek op ‘n roll is tot 7 000. My rekord was oor die 8 000 woorde op een dag, maar dis die stukke wat altyd baie redigering nodig het.

        Ek het al slypskole aangebied, maar die voorbereiding daarvoor was te tydrowend. Ek is egter wel meeste jare by die ATKV Lenteskryfskool betrokke. Hierdie jaar weer. Dis altyd ‘n lekkerte.

  4. Mei 14, 2010 om 8:15 vm

    Wel, as jy moeg is, is hierdie defnitief ‘n verjaardag wat jy moet vier… EK kan nie wag vir daardie Meetsnoer om in lieflike plekke te val nie…

    • Mei 14, 2010 om 8:59 vm

      Glo my, ek gaan dit vier, maar eers as ek die manuskrip se laaste tweaks en squeeks deurworstel het! Ek is altyd benoud wanneer ek weet, dis nou jou laaste kans om reg te maak en goed te maak. O, daardie skeidingsangs!

  5. 13 Lelani
    Mei 14, 2010 om 8:24 vm

    Ek stem saam met Maankind. Diè is beslis ‘n dag om te vier!

  6. 14 Lelani
    Mei 14, 2010 om 9:49 vm

    Wow! 185 000 woorde! Ek kan niks meer daaromtrent sê nie – buiten dat ek sopas geWOW is!

    Wat is manuskrip ontwikkeling? Ek het ‘n idee na aanleiding van die ‘ontwikkel’ – maar is nie seker nie.

    Ek het laasjaar Prof Hans du Plessis se slypskool wat deur die BSV aangebied was bygewoon en dit was buiten vir die feit dat dit verskriklik lekker was, en leersaam was dit beslis ‘n ervaring om te luister na iemand ‘that’s been there’! Die jaar se slypskool word deur PG du Plessis aangebied en ek kan eerlikwaar nie wag nie! Volgende jaar wil ek die ATKV slypskole beproef…

    Ek hoop regtig jy gaan jou boek darem hier in Bloemfontein ook kom vrystel😉 ek weet van heelwat mense wat dit graag sal wil bywoon!🙂

  7. Mei 14, 2010 om 2:58 nm

    Manuskripontwikkeling is soos ‘n keuring, maar net baie meer uitgebreid. Ek kan nie net sê die manuskrip werk nie, maar moet sê wat verkeerd is en redelik gedetailleerde voorstelle maak om die skrywer te help om dit publiseerbaar te kry. Ek gee ook baie skryftegniese inligting aan skrywers wat nog nie heeltemal bedrewe is nie. Ongelukkig het ek deesdae nie meer genoeg tyd om privaat manuskripte ook te doen nie. Ek werk net deur Lapa.

    As dit van my afgehang het, het ek reg oor die land bekendstellings gedoen, maar alles hang af van die uitgewers. Dis ‘n duur spulletjie, dus moet hulle plekke kies waar daar die grootste potensiële opkoms is. Ek sal egter hier op die blog laat weet wanneer en waar daar bekendstellings is, indien daar gaan wees. Onthou, nie alle boeke word noodwendig amptelik bekendgestel nie. Soms kry nuwe(r) skrywers se boeke voorkeur. Dit staan egter boekwinkels en ander instansies vry om ‘n skrywer te nooi as hulle bereid is om die onkostes te dra.

    • 16 Lelani
      September 10, 2010 om 8:33 vm

      Hi Chanette.
      Ek sit en wonder nou al die hele tyd hieroor – Hoe lyk/ wat behels jou verslag wat jy gee as jy manuskripontwikkeling doen? Ek het gister ‘n engelse een in die hande gekry wat Larry Brooks op sy blog Storyfix gesit het. Dis toe nou dat ek wonder hoe vergelyk jou verslae met die een wat hy gedoen het?

      • September 10, 2010 om 9:21 vm

        Lelani, ek het net vlugtig na die verslag op Storyfix gaan kyk en dis ‘n baie goeie en behulpsame verslag. Myne is so ‘n bietjie meer op die punt af. Ek verwys nie so baie na my eie ervaring en werk nie. Afhangende van die soort manuskrip waarmee ek werk, kan dit 3-30 bladsye lank wees.
        Ek het ‘n dokument saamgestel wat spesifiek oor die riglyne vir romanses gaan, maar ook baie skryftegniese inligting bevat. In die geval van romanses ek stuur die dokument saam met my verslag om herhaling te voorkom.
        As dit ‘n ander soort boek is, gee ek toepaslike skryftegniese inligting in die verslag en/of heg artikels daaroor aan en/of verwys die skrywer na toepaslike boeke. Ek hanteer die kritiek effens anders. Ek gee my algemene gevoel en algemene kritiek eerste. Daarna werk ek bladsy-spesifiek. Met ander woorde, ek verwys na ‘n spesifieke probleem op ‘n spesifieke bladsy. Ek lees altyd die manuskrip in uitgedrukte vorm en maak aantekeninge in die kantlyn. Hierdie aantekeninge verwerk ek dan in die verslag. Die skrywer kry dan die uitdrukstuk terug saam met die aantekeninge.
        In sommige gevalle sal ek ook voorstelle maak om storiegoed reg te maak.
        Elke manuskripontwikkelaar het sy of haar eie manier, maar ek kom agter ons sê maar almal min of meer dieselfde. Goed soos perspektief en struktuur byvoorbeeld, is oneindig belangrik in enige geskrewe storie en dis onder meer twee van die goed waarmee aspirant skrywers die meeste kleitrap. Manuskripte verskil egter van mekaar en daarom sal een verslag meer klem lê op sekere goed as ander.
        Ek glo dis belangrik dat ‘n goeie manuskripontwikkelaar eerlik met die skrywer is sonder om sy of haar moed te breek. Dis nogal ‘n fyn balans om te handhaaf omdat die skrywers se geaardhede en dus reaksies verskil. Sommiges word kwaad, ander gaan sit in sak en as terwyl ander waardeer wat jy probeer doen.

  8. 18 Lelani
    Mei 14, 2010 om 3:48 nm

    Goeie Griet. Is jy seker jou spreekwoordelike hooivurk is vol genoeg? Dankie vir die verduideliking! Ek het iets in daardie lyn gedink – alhoewel dit nie 100% was nie. Ek kan indink dat jy ook net deur Lapa werk, want as elke ongepubliseerde skrywer jou in persoonlike hoedanigheid moes nader, gaan jy mos nooit by jou eie skryfwerk uitkom nie! En dan is daar mos so baie mense wat nie die kritiek en hulp kan of wil aanvaar nie!

    Jy weet daar is iets wat ek gewonder het…net vir interresantheids onthalwe – hoeveel manuskripte word maandeliks deur uitgewers soos Lapa ontvang? Ek het al probeer skat – maar ek kan eerlikwaar nie besluit op ‘n getal nie.

    Jy moet ‘n heerlike naweek hê. Sterkte met die laaste tweaks en squeeks -soos jy dit stel!

  9. Mei 15, 2010 om 7:18 vm

    Ek is nie seker hoeveel mse kom in nie, maar ek hanteer so 4-9 per maand, gewoonlik 5 of 6 afhangende van die lengte. Partykeer keer kry ek ‘n hele hoop op ‘n slag en dan moet ek hulle oor ‘n paar maande spasieer. Laasjaar het ek een keer 27 in een maand gekry, wat oukei is as mens dit oor 4 maande kan versprei, maar dan kom daar elke maand nog meer mse by. Van die skrywers moes baie lank wag vir terugvoer. Dit was gelukkig die uitsondering, ek weet mos self hoe aaklig daardie wagperiode is.

  10. Mei 18, 2010 om 10:26 vm

    Maankind, ek het gaan lees, baie dankie vir die links. Ek loop steeds by jou site rond, maar meestal met my selfoon, en kommentaar lewer is beperk (en beperkend).

    Groete van die kant van die berge!

  11. 21 Rene vd Merwe
    Mei 24, 2010 om 1:45 nm

    Ekt nou so lekker gelees aan die inskrywings hierbo!! Chanette ekt reeds baie respek vir jou gehad maar die barometer vir respek het sopas ontplof toe ek besef hoe briljant toegewyd en meesterlik jy is!!
    Wat n voorreg vir n leek soos ek om hier met jou te kan kommunikeer – dankie vir die voorreg om vir jou te se hoe baaaaaaaie ek jou spanningsverhale geniet!! Ekt nog altyd die ‘gawe’ gehad om in meeste TV of Film Rillers die moordenaar vroeg vroeg uit te ken maar dit is wat my tone so laat omkrul van jou ‘Gys’ boeke……… jy hou my aan die raai tot die einde!! Net wanneer ek ABSOLUUT SEKER is ek weet nou wat die kinkel in die kabel is – gooi jy die hele appelkar om…… Love it Love it Love it!!!!
    Soos jy het ek ook n groot liefde vir ‘kattebolle’ – so ek leef my dus in die ‘kat teenwoordigheid’ van jou boeke in!! Kan nie WAG vir MEETSNOER nie!!

  12. Mei 24, 2010 om 2:00 nm

    Dankie vir al die mooi dinge wat jy kwytraak, Rene. Dis veral lekker om te hoor jy bly aan die raai tot die einde toe. Een van die grootste uitdagings in die skryf van ‘n spanningsroman is juis slim lesers.
    Ja, my katliefde slaan maar oral deur. Dis soos sproete, mens kan dit nooit heeltemal wegsteek nie.

  13. 23 Isabel Le Roux
    Augustus 18, 2010 om 4:05 nm

    Hi Chanette,

    Ek het net weer besef na ek een van jou ouer boeke: Eiland van Begeerte gelees het dat jy die lekkerste leesstyl het. Kan nie wag vir jou nuwe boek nie, want ek dink die res het ek nou al almal gelees.

    Isabel

  14. Augustus 19, 2010 om 9:33 vm

    Ag, dis lekker om te hoor dat my ouer boeke ook nog geniet word. Eiland… was my vierde boek en ek onthou nog goed hoe ek geniet het om dit te skryf. Dit was suiwer wensdenkery nadat ek ‘n week op St. Marie deurgebring het.
    Ek sal kyk of ek ‘n lys van my boeke bymekaar kan kry, dan pos ek dit op die blog sodat jy kan sien of jy by almal uitgekom het. Dis wonderlik om te dink dat daar lesers is wat elkeen van hulle gelees het!

  15. Augustus 19, 2010 om 9:57 vm

    Toe kom ek af op die lys wat ek ‘n rukkie gelede gemaak het. Ek het dit gou opgedateer en daar’s hy. Dankie vir die idee, Isabel

    • 27 Isabel Le Roux
      Augustus 23, 2010 om 4:11 nm

      Ek na die lys gekyk, dankie.En toe is daar nog boeke van jou wat ek nie gelees het nie. Sal saamvat Waverley toe as weer gaan en kyk wat hulle het.

  16. Augustus 23, 2010 om 5:17 nm

    Hoop jy kom reg, Isabel. Groete aan Sam as jy hom sien!

  17. Augustus 23, 2010 om 5:58 nm

    Chanette, hier is ‘n veer vir jou hoed. Ek moes onlangs vir ‘n biblioteek ‘n lys maak van ‘nuwerige’ boeke wat hulle kan aankoop, en van die hele lys, het hulle net Boheem alreeds in die biblioteek gehad. (Sien lys hier): http://www.facebook.com/note.php?note_id=420379269817

  18. Augustus 23, 2010 om 6:06 nm

    Sjoe, dis sommer ‘n pouveer! Dankie, Trisa. Lekker lys wat jy daar het.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: