11
May
10

Waar kom stories (en Gys Niemand) vandaan?

Chanette Paul (2)

ʼn Onmoontlike, selfs skrikwekkende vraag wat gereeld aan skrywers gevra word, is: waar kom jou stories vandaan?

Daar is baie maniere om die vraag te beantwoord, maar daar is net een antwoord wat die waarheid is.  Ons weet nie.

Nes ons nie weet waarom ons skryf nie.  Of waarom ons die behoefte het om ons te verloor in, soos Eleanor Baker dit so raak benoem het, ʼn verbeelde werklikheid nie.

Miskien omdat ons van nature leuenaars is?

All writers are liars, sê Nina Bawden.  They twist events to suit themselves.  They make use of their own tragedies to make a better story.  They batten on their relationships.  They are terrible people … Writers are not to be trusted.  Except in one thing.  Most of us try to do our best for the sake of the story. 

Ek is bevrees dit is so.  Skrywers is leuenaars.  Sommige erger as ander – veral skrywers van ontspanningsfiksie.  Maar nie alle leuenaars skryf stories nie.

Hoewel Nina Bawden se bekentenis dat ons liegbekke is en by almal steel, heeltemal in die kol is, kan ek my meer vereenselwig met wat John Irving gesê het:  A writer is a vehicle.  I feel the story existed before I existed; I’m just the slob who finds it, and rather clumsily tries to do it, and the characters, justice.

Ek voel soos Irving ook soos ʼn voertuig vir iets wat reeds ‘daar’ is – waar daar ook al is – en soos die slob wat die stories bloot na die beste van my vermoë probeer vertel, maar vir my is dit soms die storie wat my vind en nie ek wat die storie vind nie, alhoewel dit waarskynlik ʼn wisselwerking tussen die twee is.

As ek egter deur die KGB ondervra sou word en die dood in die oë staar as ek nie ʼn meer betekenisvolle antwoord verskaf nie, sou ek sê my stories kom van onder meer drie oorde af.  My karakters, die ruimte waarin hulle hul bevind en die vraag:  What if?

Die KGB moet my net liefs nie vra waar my karakters vandaan kom nie.  Dié kan ek waaragtig nie verklaar nie.  Hulle daag by my op, soms sku en skigtig, en soms infiltreer hulle net my storie en kaap dit voor ek die slaap my oë kan uitvee.  Soos my speurder, Gys Niemand, gedoen het.

Gys was veronderstel om ʼn vae polisieteenwoordigheid in my eerste spanningsroman Springgety te wees.  En hy moes vaag bly met goeie rede.  Ek was heeltemal te lui om te probeer uitvind hoe polisieprosedures werk.  En buitendien het ek ʼn skaam aan my.  En as ek oor ʼn polisieman wou skryf, het ek geweet sou ek by polisiemense moet gaan kers opsteek.  Na ʼn polisiestasie moes gaan om te sien hoe dinge werk.

Oor my dooie liggaam!

Maar Gys had geen simpatie met my luiheid of my skaam nie.  Nog minder met my dooie liggaam.

Soos dit ʼn speurder van formaat betaam, het hy beheer oor die situasie, dis nou my storie, geneem en hom ewe ongenooid tussen my ander karakters kom neerplak.  Ek het nie die stryd maklik gewonne gegee nie.

Het ek maar.

Nee, ek het die boek probeer klaarskryf met hom in die agtergrond.  Wel, min of meer in die agtergrond – so ver terug as wat ek hom kon druk.  Vir die eerste keer sedert ek begin skryf het, het ek ʼn manuskrip na my uitgewer gestuur terwyl ek geweet het daar is groot fout.  Dit het haar en ʼn keurder nie lank geneem om te identifiseer wat die fout is nie:

Jy het net die hoofkarakter, Lily Reynecke, se perspektief  gebruik en dit terwyl jy so ʼn wonderlike karakter in Gys Niemand geskep het. 

Geskep? wou ek vra.  Die ellendeling het homself geskep!

Die uiteinde van die saak was dat ek die hele boek moes oorskryf, die keer vanuit Lily én Gys se onderskeidelike perspektiewe.

Maar moenie glo dit was die einde van Gys nie.  Toe ek aan Fortuin begin skryf het, raai wie daag op vir roll call?  Einste.  Gys Niemand.  Dis toe dat ek besef het Gys is daar om te bly totdat hy besluit sy storie is klaar vertel.

Ons het uiteindelik ʼn kompromie aangegaan en besluit vyf boeke sal genoeg wees. Dit het ver die toekoms in geklink, maar nou sit ek sowaar al en beplan (en skryf) aan die vyfde en laaste boek. Ek kan my amper nie meer ‘n lewe indink sonder Gys nie. As daar nou een karakter is van wie ek bitter swaar gaan afskeid neem, is dit die nimlike, minlike Gys Niemand.

Ek hoor baie graag wat jy van Gys Niemand dink – as speurder en as mens.


6 Responses to “Waar kom stories (en Gys Niemand) vandaan?”


  1. 1 Anzel Gerber
    Mei 12, 2010 om 2:43 nm

    Hi, Chanette. Ek het n bietjie gaan dink waaroor ek met jou wil gesels. Waar begin n mens met ‘n suspense romance novel? Ek meen, dit kort ongelooflike beplanning en navorsing… Ek sal graag wil probeer om so iets te doen, maar is nie so seker of ek nou te veel hooi op my vurk haal of die spit te groot afbyt nie. Ek kan altyd probeer en dit as ‘n uitdaging beskou, maar ek is nie so seker waar om te begin nie. Ek meen, om dit te skryf en n romanza te skryf, is twee verskillende goeters. En ek kan al dink dat jy vir my kan sê dat ek eers moet probeer om die meer eenvoudige goed onder die knie te kry, soos onder andere die Romanza’s, maar ek wil ook op die sideline iets opwindends soos hierdie aanpak – al vat dit my ook vyf jaar. My baas sê ek is “mentally hyperactive”. Nie dat ek presies verstaan hoekom hy so sê nie. Ek kan maar net dink dat ek sal floreer op n uitdaging soos hierdie. Wat is jou mening? Enige raad?

  2. Mei 12, 2010 om 3:02 nm

    Die suspense roman verskil inderdaad baie van die romanse.Die beste plek om te begin is maar altyd by lees. Lees, lees en nogmaals lees en wel in die genre wat jy wil skryf. Ek sal enigeen ten sterkste afraai om te probeer skryf in ‘n genre wat nie hulle voorkeur lees-genre is nie. Soos Nora Roberts sê: Write what you love and love what you write. Maak dus eers seker jy het werklik ‘n passie vir die soort boek wat jy wil skryf.

    In Afrikaans het ons nog nie eintlik romantiese suspense boeke nie. Ek is klaarblyklik die eerste wat daarmee begin het. Daar het egter wel onlangs ‘n romantiese speurverhaal uitgekom, naamlik Isa Konrad se Die ondenkbare – ‘n baie lekker boek. In Engels is ‘n goeie skrywer om mee te begin Sandra Brown, maar daar is baie soos onder meer Karen Rose, Lisa Gardner,Suzanne Brockman, Mary Stewart (die moeder van die genre),Tami Hoag en ‘n wavrag ander.

    Terloops, ‘n romanse is nie eenvoudig of maklik om te skryf nie. Dit verg onder meer geweldig baie dissipline van ‘n skrywer. Dit lyk makliker as wat dit is! Leslie Wainger sê: It’s like catching lightning in a bottle.

    • 3 Anzel Gerber
      Mei 12, 2010 om 5:58 nm

      Ek moet erken, die romanza’s waarmee ek nou besig is, is alles behalwe maklik. Ek sukkel ook maar, veral omdat ek nog nuut in die skryfmark is en nie presies weet waarna uitgewers soek nie. Ek stem egter met jou wat die lees betref. Dit is baie belangrik. Daarom lees ek veral Romanza’s en jou reeks. Ek het hulle al n paar keer gelees en elke keer leer ek iets nuut. Ek sal ook bietjie gaan kyk na die skrywers wat jy hierbo genoem het. Dit behoort heel interresant te wees. Ek sal jou woorde gaan oordink… Dankie vir die raad.🙂

      • Mei 13, 2010 om 11:35 nm

        Geniet dit , Anzel. Skrywers kan sonder skroom sê stories lees is deel van hulle werk. Ek kan nie dink aan ‘n beter byvoordeel vir enige werk nie!

  3. Mei 13, 2010 om 9:07 vm

    Anzel, luister gerus maar na Chanette, hoor. Kry eers een genre behoorlik onder die knie voordat jy aanbeweeg. Met elkeen wat jy skryf, leer jy iets by. Die romanse is ‘n baie goeie leerskool vir ‘n beginner, juis omdat dit so ‘n streng dissipline is. Nes jy dink nou weet jy hoe, kom jy agter daar is nog iets om by te leer!

    Chanette, ek het jou vertelling hier bo ontsettend geniet, want dis dikwels ook presies hoe my karakters met my maak. Hulle neem behoorlik hul intrek in my huis en dwing my om voor my rekenaar te bly sit totdat ek gedoen het wat hulle wil hê ek moet. Baie geluk met jou mooi blog.

    • Mei 13, 2010 om 11:22 nm

      Ek is bly jy hou van die blog, Madelie. Ek verwonder my altyd aan skrywers wat karakters kan uitdink. Ek dink soms dis die karakters wat my uitdink! Darem nie heelteml so erg nie, maar om weer by Irving aan te sluit, ek dink ek is maar die slob wat deur die karakters uitverkies word om hulle stories te vertel. Ek bly hulle innig dankbaar, maar soms kan hulle dit darem wraggies ‘n bietjie makliker vir ‘n mens maak.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: