14
May
10

Beloftes van bliksemstrale

My heel eerste romanse het in 1996 verskyn.  Toe ek daardie boekie in my hande gehou het, het iets wonderliks met my gebeur. Ek het besef ek is nou regtig ‘n skrywer.  Dit het my ook benoud gemaak. In ‘n skets vir die Sarie het ek die botsende gevoelens probeer verwoord en toe sommer ook ‘n geheim uitgelap: ek kon mos nooit ‘n ou op skool kry nie…

Uit: Sarie, 24 September 1997

 Ek sit met hom, nee, met haar in my hande. Die held op die voorblad lyk anders as die een wat vir weke voor my geestesoog was. Die heldin ook  Hulle lyk so jonk. Ek vryf oor die letters wat my naam spel. Ek het dit gedoen? My liefdesverhaal is gepubliseer – ‘n kontemporêre, ietwat warmer ekwivalent van die Ena Murrays en Ela Spence’e van my prille jeug. ‘n Hygroman as die term dan moet. En dan slaan dit my  Die verantwoordelikheid daarvan!

 

Sien, ek kon nooit een kry op skool nie. ‘n Ou, bedoel ek – ‘n kys. Iemand wat vir jou briefies skryf en jou hand skelm vashou.  Iemand wat vir jou op Valentynsdag ‘n kaartjie stuur of ‘n beertjie of ‘n hartjie gee. Iemand wat langs jou in die fliek sit. 

En as daar een enkele kolossale faktor was wat my kanse op jeugliefde geheel en al opgefoeter het, dan was dit die liefdesverhale wat ek vakansies ses op ‘n slag by die biblioteek uitgeneem en binne die bestek van ‘n dag of twee verslind het.

Dis nie dat ek nie probeer het nie. Inteendeel, ek het verskeie taktieke uit daardie boeke aangeleer en probeer om iemand, ja, enigiemand, se aandag te trek. Die rissiepit-roetine was ‘n gunsteling in standerd agt. Ek was goed daarmee. Die seuns in die klas was, agterna beskou, bra kleinburgerlik, en skerp opmerkings en antwoorde het heel gemaklik oor my lippe gevloei.

Die effek was onbegryplik. In plaas daarvan dat hulle oor my pittigheid aan die swymel geraak het, of ewe skerpsinnig daarop geantwoord het, het hulle verdwyn om met ander meisies geselsies aan te knoop. Meisies wat saam met hulle gelag en geginnegaap het en hul wimpers gefladder het.

Teen die tyd dat ek besef het die rissiepit-roeline werk nie, was dit te laat. Die seuns het draaie om my geloop.

En toe ontdek ek, voor die spieël na ure se oefen, die perfekte hartseertrekkie om die oë, en pas die hartseertrekkie om die mond daarby aan. Blou poele vir oë sou ek helaas nooit hê nie, maar hartseer was hulle hartseer.

Nodeloos om te sê ek was op universiteit en goed op pad na negentien toe ek vir die eerste keer ‘n man se aandag getrek het. Ek weet nie wat ek reg gedoen het nie; die hartseertrekkie was toe reeds vergete, maar op ‘n aand was daar ook vir my voordeur.

Die soet skok van my naam oor die interkom, die romantiese verwagtinge wat onmiddellik in my opgestaan het! Die opwinding fladderend in die omgewing van die naeltjie, die afwagting op die groot oomblik wanneer twee sielsgenote voor mekaar te staan gaan kom, al is dit nou in die onpersoonlike voorportaal van die koshuis…

My droom was besig om uiteindelik waar te word. Hy was net so lank soos ek, pynlik skraal en onnoemlik skaam. Die geselsery was maar hinkepink terwyl ons oor die kampus gestap het, maar ek het ‘n sleep vir die aand gehad en ek het dapper bly glo dat die bliksemstraal tog nog sal slaan, dat my gesél se magnetiese persoonlikheid hom nog sal openbaar.

Maar toe hy my hand op die tweede aand in syne neem en daar dartel geen rilling teen my ruggraat af nie, het die bose vermoede by my posgevat – dat Die Liefde my dalk nie waardig gaan vind nie.

‘n Paar aande later het dit gebeur. Die Eerste Soen. Daardie soen wat my na ‘n ander sterrestelsel moes wegvoer in ‘n kaleidoskoop van emosie.  Wat my moes kwetsbaar laat voor die ontketening van my sleep se magnetiese aantrekkingskrag.

Dit was vir my reeds onverklaarbaar dat my hart halsstarrig geweier het om op galop te gaan toe hy my in sy effens benerige arms neem en sagkens nader trek Maar die ontnugtering toe ons lippe uiteindelik ontmoet …

In plaas daarvan dat ek ‘n beswyming tegemoet duisel, blyk die hele spulletjie toe ‘n onsekere, natterige en enigsins grillerige affêre te wees met neuse in die pad en tonge ietwat verward oor wie wie se soet domein ontdek.

Mens sou dink dat dit my genees het.  Dit het nie. Noem my desperaat, maar daardie naam wat klokslag sewe-uur saans in die koshuisgange gegalm het, was verslawend. En buitendien, die skryfsters het belowe. Vier maande lank het ek bly wag op die bliksemstraal.  Ek het baie van hom gehou, ons het goed klaargekom en die soene het lekker geraak, maar bliksemstraal? Aikona. In elk geval nie toe nie.  En nie met hom nie.

En dis alles hulle skuld. Dis die skryfsters van daardie liefdesverhale wat by my die verwagting van die bliksemstraal geskep het.  Die verwagting van onmiddellike idille. Ek plaas die blaam vir my ontgogeling vierkantig op hul skouers. Nie net omdat ek gekondisioneer was om die bliksemstraal pleks van’ n groeiende vriendskap te verwag nie.  Nee, boonop het hulle my toe in elk geval nie voorberei op wanneer die bliksemstraal uiteindelik sou slaan of op die aard van die bliksemstraal nie.

Het Wille Martin my maar gewaarsku dat die soen nie die punt is waarop hormoonaangedrewe studentemans halt roep nie. Het Susanna M Lingua my maar daarop voorberei daarop dat ‘n meisie kennis moet hê in die oplegging van beperkings wanneer die hande begin dwaal. Nee, hulle helde se hande het mos nie by die heldin se T-hemp probeer invroetel nie, en daarom het hulle jou ook nie daarop bedag gemaak dat dit lékker is as ʼn man aan jou borste vat nie en dat dit móéilik is om nie in die kooi te beland nie.

Tussen hulle en my ma se alle-sonde-omvattende “My kind die wêreld is boos” was ek klaaglik aan my lot oorgelaat.

En hier sit ek nou, ʼn magdom mane later met ʼn ‘hygroman’ wat my naam dra, in my hande.  En ek wonder of ek ook eendag verwyt gaan word – oor wat vertel is en oor wat verswyg is.

Ons neem dinge nou ‘n stappie of wat verder as die allesoorweldigende soen van ʼn dekade of twee gelede, maar dit bly dieselfde idille met net ʼn ander sousie.  Daarom sê ek byvoorbaat:  die storie gaan voort ná die eerste gekraak van die katel en ná die gebengel van die huweliksklokke.  En ek waarsku: heldinne word eendag vyftig, tel gewig op en kry spatare.  Die helde raak bles en kry ʼn boep; sommiges verneuk en ander skeep af.

En tog, al hou die bliksemstraal dalk nie vir ewig nie en al is die ontgogeling miskien onvermydelik, kan ons ten spyte daarvan – en juis dan – daardie liefdesverhaal nader sleep, by die opwasblad oopspalk en lees terwyl ons aartappels skil.

Nota:

In 1996 het ek by ‘n spoggeleentheid die Perskor-prys vir die beste romantiese fiksie vir Maalstroom ontvang.  Die prys is oorhandig deur Alex, die held op die omslag.  ʼn Blote handskud was natuurlik buite die kwessie.

Maalstoorn van Ekstase (Perskor – 1996) is sopas heruitgegee in die duet Onder seespieël wat ook  Leerskool van liefde insluit.

Dit was ook opgeneem in  Chanette Paul Omnibus 1(Tafelberg – 2002)


8 Responses to “Beloftes van bliksemstrale”


  1. 1 Marile Cloete
    September 16, 2011 om 10:23 vm

    Ag, hoe lekker lag ek nou by die herlees hiervan!

  2. September 16, 2011 om 11:34 vm

    Ai, nou onthou ek sooo baie dinge!! Dankie, Chanette!

    • September 16, 2011 om 4:49 nm

      Ek ook, Madelie. Dis nie dat mens blasé raak nie. Elke nuwe boek is steeds die opwindendste ding wat in my lewe gebeur, maar daardie eerste een… O gits, ek neem aan jy praat van die boek en nie die soen nie?😉

  3. September 16, 2011 om 4:35 nm

    My soen gaan Maandagaand beslis beter wees! (ook darem nie die eerste een nie, maar as mens tegnies begin raak oor ‘n soen, raak dit minder aantreklik. ‘n Glasie wyn of twee voor die eerste een met ‘n spesiale iemand sal maar net die truuk moet doen!) Dankie Chanette, ek identifiseer een honderd persent met die eerste-boek-in-die-hand gevoel🙂

  4. 7 Marietjie Welgens
    September 18, 2011 om 11:57 vm

    Die outjie wat my teen die buitemuur van ons huis vasgedruk en gesoen het (Hy was saam met my in die katkisasieklas)… hy was net so onbeholpe as wat ek was, Maar ai, watter wonderlike herinnering is dit nou na al die jare. Geen vonke op daardie stadium nie, maar ten minste het ek darem ook ’n boyfriend gehad!

    • September 18, 2011 om 12:09 nm

      Ek het net heeltemal te veel verwag na aanleiding van my leesstof, miskien ook omdat ek toe al ver oor die agtien was. Maar dan was hy natuurlik ook nie die regte een nie. Ag, maar hy was baie sweet. Ons was nog so jonk!😉


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: