15
May
10

Kruispaaie en skryf

Lesers vra my dikwels wanneer ek besef het ek wil stories skryf.  Ek het eers op relatiewe laat ouderdom in alle erns begin skryf, maar soos meeste skrywers was die drang daar vandat ek kan onthou.  Ek het nou nog… ʼn oefeningboek waarin ek in standerd 2 (graad 4) van my eerste stories neergeskryf het.

Alhoewel ek my hele lewe lank al wou skryf, het ek in my jonger jare nooit die moed van my oortuiging gehad om ʼn boek aan te pak nie.  Nadat ʼn kindersprokie wat ek op 16 geskryf het op die radio voorgelees is en ʼn kortverhaal wat ek in my matriekjaar geskryf het in die Huisgenoot verskyn het, het ek vir 20 jaar ʼn redelik interessante maar skryf-arm lewe gelei. 

Dis nou totdat ek op ’n snikhete Desemberaand in 1994 met ’n glas wyn in die hand in die swembad gestaan en muskiete wegklap het. 

Ek en my gewese man, Jack, het die vorige dag na die Hartbeespoortdam-omgewing anderkant Pretoria verhuis.  ’n Ongelukkige tyd het agter ons gelê.  Ons is binne die bestek van een jaar twee keer verlos van ’n baie groot deel van die inhoud van ons huis in Kemptonpark, my motor is gebuit deur iemand wat gedink het ek kan daarsonder klaarkom en ek moes my klerefabriek, waarin ek my vir jare lank hart en siel gewerp het, om ’n verskeidenheid redes sluit. Finansieel was ons op ’n afgrond en ons veertienjarige huwelikskuitjie was in stormwaters.

Nog moeg van die trekkery en uitpak, en so met die gezoem van muskiete om ons ore, vra Jack my toe ewe terloops wat ek beplan om met die res van my lewe aan te vang.

“Ek gaan weer begin skryf,”  het die antwoord uit die niet gekom en vir my nog amper meer verras as my baie skeptiese man.  My laaste en enigste suksesvolle poging het immers twee dekades in die verlede gelê.  Maar toe die woorde uit is, het daar ’n groot vrede oor my gekom. 

Kort voor lank het ek ’n tweedehandse rekenaar aangeskaf, met hake en stote op die rype ouderdom van 38 geleer hoe om Windows te bemeester en in die loop van 1995 begin skryf. 

Daar was by my geen twyfel oor wat ek wou skryf nie.  Ek wou my deurmekaar lewe regskryf en as ’n mens ’n aartsromantikus is, kan ’n mens dit net in ’n liefdesverhaal doen.

Láter, het ek geglo, kan ek begin dink aan die Groot Afrikaanse Roman en die Hertzogprys, láter kan ek erns maak met my skryfwerk.  Maar in daardie stadium wou ek net ontvlug van die nare werklikheid.

Ek het toe nooit die Groot Afrikaanse Roman geskryf nie en het ook geen begeerte om dit te doen nie.  Ek het ook vrede met die Hertzogprys.  Maar ek het wel erns gemaak met my skryfwerk. 

Ek het, soos Ian Rankin, geleidelik besef daardie iets wat jou dryf om te skryf, daardie iets wat ʼn mens as skrywer aan die wêreld wil oordra, daardie iets wat jy voel jy vir die mensdom te sê het … dit kan jy in enige genre verwoord.  En jy kan dit net in jou eie, aangebore stem doen, anders is jy vals teenoor jouself en jy gaan in elk geval nie die leser gekul kry nie – hulle is heeltemal te slim daarvoor.

Maar hierdie insigte het eers later gekom.  Daardie eerste boek, het ek aangepak met ʼn magdom vrese en angste.  My selfbeeld en my geloof in die mensdom was aan flarde.  Op emosionele vlak was ek ʼn wrak.  Ek het geen geloof in my skryf- of enige ander vermoëns gehad nie.  Die toekoms was op alle vlakke vir my duister.

Eienaardig genoeg is dit in sulke omstandighede, wanneer jy op jou kwesbaarste is, wanneer jy op jou swakste voel, dat ʼn mens uitvind hoe sterk jy kan wees.  En later besef hoe jy gelei is om presies die regte ding te doen juis wanneer alles verkeerd voel.

Nes ek in 1994, bevind die vroulike hoofkarakters in elkeen van die Gys- boeke hulle by ʼn kruispad in die lewe.  En noudat ek daaraan dink, het Gys ook ʼn kruispad bereik toe hy in Springgety vir die eerste keer in dekades weer teruggetrek het na Niemandsdorp toe, waar hy grootgeword het.

In elkeen van die verhale is dit kruispaaie wat hemelsbreed van myne verskil, maar as ek nie self ʼn paar klippe in my lewe moes kou nie, sou ek nooit ʼn stem kon gee aan hulle emosies nie.

In die verloop van die verhale vind elkeen van hierdie hoofkarakters tot mindere of meerdere mate hul ware self.  Daarop kan ek my helaas nog nie heeltemal beroem nie, maar ek weet darem al heelwat meer van myself en die lewe as op daardie oomblik in die swembad toe ek besluit het om ʼn boek aan te pak. 

Ironies genoeg weet ek nie of ek myself tot ʼn mate kon vind omdat ek begin skryf het en of ek kon begin skryf het juis omdat ek, daar onder die sterrehemel met die gezoem van muskiete in my ore, myself begin vind het nie.

Naskrif:

Ek en Jack is uiteindelik na 22 jaar van getroude lewe geskei. Die egskeiding was een van die moeilikste dinge wat ek in my hele lewe gedoen het, maar ook dit het van my ʼn ryper mens en skrywer gemaak. Vandag is ek en Jack goeie vriende en ek sal hom altyd dankbaar wees dat hy my destyds die ruimte en geleentheid gegun het om te begin skryf al kon hy nie my skryfdrang verstaan nie.


2 Responses to “Kruispaaie en skryf”


  1. 1 Tarina Jordaan
    Junie 23, 2010 om 12:07 nm

    Eerlikheid en introspeksie – wat ‘n goeie manier om ander mense se innerlike te raak.

  2. Junie 23, 2010 om 12:30 nm

    Welkom, Tarina! In een van my ander posts sal jy sien dat ek onwrikbaar in eerlikheid glo. As ‘n mens ‘n storie skryf, lieg jy natuurlik dat dit kraak, maar selfs daar glo ek moet die onderbou op eerlikheid gebaseer wees.
    Mense vind eerlikheid soms ontstellend, maar eintlik is dit geweldig bevrydend. By ‘n byeenkoms van ‘n verskeidenheid leeskringe verlede jaar, het ek byvoorbeeld ruiterlik erken dat ek ondanks ‘n graad in Letterkunde, kommersiële fiksie bo literêre fiksie verkies. Na die tyd het ‘n hele handvol van die lede kom bieg dat hulle ook so voel, maar te skaam is om dit te erken! Ek verstaan dat van die leeskringe wat daar teenwoordig was, nou ook kommersiële fiksie op hulle leeslyste insluit.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: