21
May
10

Hou jy van reekse?

My spanningsromans was nooit veronderstel om ʼn reeks te word nie. Ek het Springgety geskryf as ʼn boek op sy eie. Soos ek voorheen genoem het, het Gys dit egter in sy kop gekry dat hy in Fortuin ook ʼn eier kan lê.  Dis eers daarna dat ek besef het hier is ʼn reeks in wording.  En dit terwyl ek dit wou vermy na die Davel-reeks.

Ek het baie lekker geskryf aan die Daveltjies, maar om ʼn reeks te skryf het sy voordele en sy nadele.  Dis moeilik om die agtergrond waarteen die boeke afspeel – insluitende omgewing, karakters en gebeure – in elke boek van nuuts af te weergee. As mens te veel daarop hamer raak dit vervelig vir die leser wat die vorige boeke al gelees het. As mens te min inligting gee oor wat in vorige boeke duidelik geword het, verwar mens die leser wat vir die eerste keer een van die boeke lees of dit nie in volgorde lees nie. En in die spanningsroman spesifiek, kan mens ook nie so ʼn leser se leesplesier ontneem deur te laat blyk wie die moordenaar in ʼn vorige boek was nie!

Die voordeel is natuurlik dat mens met deurlopende karakters werk wat jy later so goed soos vriende, selfs familie, leer ken. En dis nie net die skrywer wat dit ervaar nie. Een leser het my onlangs laat weet sy kan nou nie meer wag vir Meetsnoer nie – sy mis haar familie! Die deurlopende karakters bind dus die boeke saam tot eenheid en skep ʼn gevoel van vertroudheid.

Wanneer mens ʼn reeks skep vorm daar later ʼn patroon.  Dis nie doelbewus nie – ek het nou onlangs eers besef die Gys-boeke kom op minstens vyf vlakke met mekaar ooreen.

Omgewingsvlak: Die omgewing speel ʼn onderliggende en tog ʼn betekenisvolle rol in die Gys-boeke.  Daar is die groter Niemandsdorp-omgewing, maar elke boek speel binne ʼn nuwe mikrokosmos binne die groter geheel af. Elkeen van hierdie ruimtes, het sterk ’n invloed op die mense wat daar woon, maar die karakters het ook ’n groot invloed op die omgewing. Daar is dikwels ʼn wisselwerking tussen die ou inwoners en die karakter(s) wat pas daar aankom en dus ʼn vars blik op die bestaande gemeenskappie het.

Karaktervlak: Die verhale is almal karakter-gedrewe. Die intrige behels moorde wat gepleeg word, maar die klem val nie op die gruwelikheid van die moorde nie. Die karakters en die invloed wat die moorde op hulle en hulle verhoudings met mekaar het, is veel belangriker. Die vroulike hoofkarakter kom gewoonlik by ʼn kruispad in haar lewe te staan en die keuses wat sy uitoefen bepaal die verloop van haar lewe en laat haar as mens en vrou groei. En dié groei word weer geaffekteer deur die moorde wat plaasvind en natuurlik ook deur die man wat sy in hierdie omstandighede ontmoet.

Speurvlak: Uiteraard speel die speurproses ʼn belangrike rol, maar dis nie net die speurders wat probeer agterkom wie die moordenaar of moordenaars is nie.  Ander karakters vind byvoorbeeld goed uit wat Gys en Fortuintjie nie weet nie.  Dis egter die leser wat uiteindelik die belangrikste speurder is omdat hy/sy meer weet as elkeen van die karakters. Die speurproses is ook ondergeskik aan wie en wat Gys Niemand, en tot ʼn minderde mate Faantjie Fortuin, is. Veral Gys is meer mens as speurder.

Liefdesvlak: Elke boek het nuwe hoofkarakters terwyl Gys en Fortuintjie sekondêre rolle speel.  Liefdesgevoelens tussen hierdie hoofkarakters ontwikkel ondanks al die drama en trauma. Die stories gaan dan ook in ʼn groot mate oor hoe hierdie groeiende liefdesgevoelens beïnvloed word deur die misdaad, die gevaar waarin een of albei hoofkarakters verkeer en die speurproses. En dan is daar natuurlik Gys en Gertjie wat mekaar al van kindsbeen af liefhet, maar net nie by mekaar kan uitkom nie. Dis hierdie verhaallyn wat eintlik van die boeke ʼn reeks maak en dit word versterk deur Gys se groei as karakter.  Hy sal dus in Dryfhout, die laaste boek, nie dieselfde man wees wat hy in Springgety was nie.

Die meermin-legende: Iets wat ook so half en half per ongeluk gebeur het, is dat daar in elkeen van vyf verhale ’n legende ter sprake kom.  Dis die legende van die visvrou, oftewel meermin, van Kruisbaai. Hierdie meermin-legende maak nie van die Gys-boeke ʼn reeks soos die verhouding tussen Gys en Gertjie nie, maar dit bind hulle tog saam tot ʼn eenheid.

 Ek glo die Gys-boeke kan buite volgorde gelees word sonder groot verlies.  Ek dink egter dat die leser wat by die volgorde hou, ʼn dieper aanklank by Gys en sy Gertjie sal vind. En ek dink ook dat dit lesers se pret sal bederf as hulle die laaste boek in die reeks, Dryfhout – wat ek tans besig is om te skryf – eerste sou lees.


33 Responses to “Hou jy van reekse?”


  1. 1 Lelani
    Mei 21, 2010 om 1:22 nm

    Ek hou van reekse, veral as die skrywer so ‘n wonderlike wereld geskep het, wat jou telkemale wil laat terug keer soontoe of sommer lus voel om alles hier te los en pens en pootjie binne in die bladsye in te kruip!

    Patricia Briggs het ook so ‘n wonderlike wereld geskep met haar Mercy Thompson en Alpha & Omega reekse. Regtig uitstekend!

    Afrikaans gewys (buiten vir jou reeks) is daar ‘n speurreeks wat deur Alex Muller (pennaam van n bestaande skrywer- ek kan nie nou onthou wie dit is nie!) geskryf word wat begin met die boek ‘Vyf susters’. Dit was nogal baie goed gedoen en ook baie twists en turns, met partykeer meer vrae as antwoorde oor die moordenaar! Die enigste probleem hier is dat die boeke so dik is soos ‘n standaard liefdesverhaal!158 bl’e!

  2. Mei 21, 2010 om 1:42 nm

    Meer as een leser het my gevra of daar nie dalk regtig ‘n plek soos Paradyskloof (in Fortuin) bestaan nie. Hulle wil ook die sewe genesende tuine besoek! Dis altyd ‘n groot kompliment vir my as skrywer as ‘n plek wat deur mens verbeel is, ander aangryp.

    Alex Muller was een van Eleanor Baker se skrywersname. Ek het baie hoë agting vir haar. Sy was haar tyd vooruit. In ‘n tyd toe toeganklike boeke afgemaak is as minderwaardig, het sy haar hand aan vele genres gewaag. Jy weet miskien dat sy ook romantiese fiksie onder die skrywersnaam Christine le Roux geskryf het.

    • 3 Lelani
      Mei 21, 2010 om 2:52 nm

      Ek het dit nie geweet nie! En hulle het ek ook nagal geniet!😆
      😦 Nou het ek ook sopas iets geleer wat slegte nuus is. Ek was nie bewus dat Eleanor Baker oorlede is nie. DIS nou n jammerte dat daar nie nog speurverhale uit haar pen gaan verskyn nie. Hulle was regtig goed gewees!

  3. 5 Marile Cloete
    Mei 21, 2010 om 2:37 nm

    Iets geleer – glad nie geweet van Alex Muller nie! Mal oor Eleanor Baker – haar vroee dood was ‘n groot verlies vir Afrikaans.
    Dankie vir jou uiteensetting oor die reeks, Chanette. Ekself vrek oor reekse en kan identifiseer met alles wat jy se.

    • Mei 21, 2010 om 2:52 nm

      Het jy Eleanor se boek Verbeelde Werklikheid gelees? Dit illustreer (onder meer) uitstekend hoe romantiese fiksie van die werklikheid (en ook van meer literêre romans) verskil. Ek het my daarin verkneukel.
      Ek stem saam, haar dood is ‘n groot verlies. Dis so jammer dat sy nie na behore waardeer is deur die literêres nie, maar sy het ‘n geweldige lesersaanhang gehad – en het dit nou nog. Dit sê genoeg.

      • 7 Marile Cloete
        Mei 22, 2010 om 12:39 nm

        Verbeelde werklikheid is een van die boeke wat ek elke paar jaar weer lees. Maar die toppunt bly maar Weerkaatsings. Soooo mooi …

  4. 8 Lelani
    Mei 21, 2010 om 3:14 nm

    Soms dink ek is ‘n storie, net ‘n storie…en dit is gecreate vir ons om te geniet. En dis Jan publiek wat jou boeke koop en geniet…nie die literêres nie.

  5. 10 Jolandé
    Mei 26, 2010 om 10:09 vm

    Ek vrek oor reekse maar dan moet elke boek op sy eie staan en klaar maak. Dis sooo frustrerend as ek nie die ander boeke in ‘n reeks kan opspoor nie! Gelukkig het ek al die Davel boeke gekoop soos hulle uitgekom het🙂 Ek het ook gewens Paradyskloof bestaan regtig – dit het so idilies en besonders geklink!

    Eleanor Baker is ‘n pynlike gemis in my lewe! Sy het gemaak dat ek weer begin Afr lees want ek het net medieval romance gelees in die 90s. Groot duiwels dood is ook die enigste oorlog boek wat ek gelees het. Ek het al ophou tel hoeveel keer ek Weerkaatsings gelees het! Nou sal ek moet begin soek vir Alex Muller se boeke! Het 1 maar nie geweet van die 5 susters nie.

    Ek hou van ‘n lekker dik boek, nog ‘n rede hoekom ek jou Gys boeke so geniet, Chanette. Dan bly ek soveel langer deel van hulle wêreld!

  6. Mei 26, 2010 om 10:27 vm

    Dis vir my baie belangrik dat elke boek op sy eie bene staan. Ek het my byvoorbeeld verskriklik vir Wibur Smith vererg omdat hy nie sy stories klaargemaak het nie – al asof hy wil sorg dat mens sy volgende boek ook koop. Ek het verneuk gevoel en toe opgehou om sy boeke te lees.

  7. 12 Lelani
    Mei 26, 2010 om 10:31 vm

    @Jolande

    Daar is omtrent 5 boeke ( dink ek) wat sy onder daardie naam (Alex Muller) geskryf het. ek dink as ek reg onthou is hulle titels: Vyf susters; Drie misdade in ‘n knoop; Bloedbande; Hotel Bergsig en dan is daar nog een wat ek nie nou kan onthou nie! Hulle verloop redelik in volgorde, want soos elke boek vorder, groei die hoofkarakter saam.

    As daar meer is, van hulle – het ek hulle nie gesien nie!

  8. Mei 26, 2010 om 10:36 vm

    Was die 5e een nie dalk Die Rooi Angelier nie?

    • 14 Jolande
      Mei 30, 2010 om 9:37 nm

      Dankie Lelani! Ek sien nou net ek het die 5 susters, maar ek het dit nog nooit gelees nie.

      Chanette, ek het gesien die Rooi Angelier is beskikbaar op Kalahari.net.

      Om terug te kom na jou boeke toe Chanette, beplan jy nog ‘n reeks na die Gys-boeke? Of is dit nog biki ver in die toekoms? Persoonlik dink ek jy skryf reekse baie suksesvol. Ek het met die Gys boeke en met die Davel reeks gevoel dat elke boek op sy eie staan en net plain lekker gekry omdat ek vir langer in hulle wereld kon bly🙂 Speaking of which…ek het 2 kopiee van Fleur, so as jy weet van iemand wat een soek kan sy net haar adres vir my stuur. Ek dink ek het nog ‘n kopie van Annabella ook maar ek sien hom nie nou nie, laat ek net seker maak.

  9. Mei 31, 2010 om 7:52 vm

    Ek sal in my volgende nuusbrief laat weet weet van die Fleur. Dankie dat jy laat weet het, Lelani. Ek weet daar is baie Davel-fans wat sukkel om hulle reekse vol te maak. Laat weet ook gerus as jy Annabella opgespoor het. Mag ek jou e-pos adres in die nuusbrief plaas? Dan kan belangstellendes self met jou onderhandel.

    Ek het ‘n hele paar idees oor wat na die Gys-boeke kom, maar het nog nie vas besluit watter een kom eerste nie. As ek egter weer ‘n reeks aanpak (ek het so vae idee oor een) sal dit waarskynlik ‘n drieluik wees. Ek stap aan in jare en om nog vyf jaar af te staan aan een reeks beteken dat party van die stories wat lê en broei te lank sal moet wag om geskryf te kom. Ek sal my laat lei deur reaksie van lesers as die Gys-reeks eers afgehandel is. Maar ek vermoed ek sal eers ‘n enkelstaande boek wat nou al ‘n ruk by my aanklop aanpak voor ek weer ‘n reeks begin.

  10. 16 Jolandé
    Mei 31, 2010 om 3:48 nm

    Oeee….ek sien sommer byvoorbaat uit na die boeke wat nog gaan kom!🙂

    Ja dis als reg, jy kan my epos adres in die nuusbrief sit. Ek sal laat weet van Annabella.

  11. Mei 31, 2010 om 3:56 nm

    Dankie, Lelani, ek maak dan so. Iemand gaan baie bly wees!
    So hartseer as wat ek gaan wees wanneer ek van Gys moet afskeid neem, sien ek ook uit na ‘n nuwe uitdaging. Maar nou moet ek eers net daarop konsentreer om hom ‘n waardige afskeidstorie te gee, voor ek te ver vorentoe dink.

  12. 18 Jolandé
    Mei 31, 2010 om 4:10 nm

    Ek is seker jy sal baie goed slaag!

    Het jy my gmail adres of moet ek hom hier post?

  13. Mei 31, 2010 om 4:15 nm

    Ek het ‘n gmail- en ‘n sabc-adres vir jou. Moet liefs nie hier pos nie, sê maar net watter een jy verkies.

  14. Mei 31, 2010 om 4:38 nm

    Dankie, Jolandé! Skuus oor ek jou naam hierbo verkeerd gekry het – soos Liewe Heksie biekie deurmekaar geraak.

    • 22 Jolandé
      Junie 1, 2010 om 9:21 vm

      Als reg, dit gebeur gereeld met my ook!

      Dit het nou niks meer met reekse te doen nie, maar net ‘n vinnige taal vragie. Waar plaas mens die klem in kontak? Op die 1e of 2e lettergreep?

  15. Junie 1, 2010 om 9:39 vm

    Klem op die tweede lettergreep is sover ek weet die korrekte uitspraak, maar ek dink in spreektaal volg ons al hoe meer die Engelse voorbeeld van klem op die eerste lettergreep.

  16. 24 Jolande
    Junie 9, 2010 om 6:50 nm

    Jammer om jou blog nou so te gebruik vir Eleanor Baker/Alex Muller se boeke….Dag ek se net daar is 5 boeke onder die Alex Muller naam:
    1) Die 5 susters
    2) Die Rooi Angelier
    3) Drie Misdade in ‘n Knoop
    4) Bloedbande
    5) Hotel Bergsig

    Snaaks genoeg kon ek die eerste 2 kry, maar nog nie die ander 3 nie.

    • 25 Lelani
      Junie 10, 2010 om 9:34 vm

      @ Yolande

      Ek het hulle al 5 by die bib gekry – ek weet deesdae is die biblioteek nie meer so nice nie – en as jy soos ek is, wat daarvan hou om my collection op te bou – dan is dit aaklig om daar uit te neem!

      @ Chanette
      Ek sien julle praat so van n tweede reeks – die Davel boeke – Kan jy asb vir my so bietjie meer info gee daaroor? Of ek sal seker die info op jou webwerf kry?

  17. Junie 10, 2010 om 8:01 vm

    Ai, dis nie lekker as mens nie’n hele reeks kan kry nie. Daar is ‘n hele klomp van my lesers wat baie sukkel om al die boeke in my Davel-reeks in die hande te kry noudat dit uit druk is. Gelukkig lyk dit asof daar hoop op herdrukke is. Miskien gebeur dieselfde met die Alex Muller-boeke. En ek is bly jy het hulle vir ons so in volgorde gesit. Nou weet ons.

    • 27 Jolandé
      Junie 10, 2010 om 10:07 vm

      @ Lelani
      Ek het vir Chanette gesê ek het ‘n ekstra kopie van Fleur en dalk van Annabella, ek moet net nog soek vir hom. Ons meenthuis is te klein vir al my boeke! Watter kort jy? Chanette sal dit ook in haar nuusbrief sit. Ek sal Saterdag biki bib toe gaan, dalk verras hulle my🙂

      @ Chanette
      Is dit nie baie frustrerend as die uitgewer jou boeke uit druk uit laat gaan nie? En hoekom doen hulle dit as die boeke duidelik nog verkoop? Ek onthou ek het amper nie Willemien gekry nie, maar darem toe wel erens in ‘n CNA.

      • 28 Lelani
        Junie 23, 2010 om 5:25 nm

        Ek sal beslis uitkyk vir die Davel reeks.

        @Chanette – ek behoort darem uiteindelik Saterdag Springgety in die hande te kan kry – Dan het ek darem nou al die eerste twee boeke van jou Gys-reeks gelees. ek kan nie wag nie! Die naweek sien die wereld my met gin oog nie!!

  18. Junie 10, 2010 om 10:00 vm

    Die Daveltjies is ‘n reeks van sewe boeke en ‘n soort historiese familiesage wat half per ongeluk gebeur het. Dit gaan oor sewe Davel-vroue en speel af tussen 1899-1938. Die Daveltjies is baie lesers se gunstelinge en was veral ook my ma s’n. Ek het nou die dag ‘n e-brief van ‘n jong leser gekry wat gesê het sy het elkeen van die Davel-boeke al minstens vyftien keer gelees. My ma het ook gereeld (omtrent een keer per jaar) die hele reeks, een na die ander herlees.
    Die titels in volgorde is:
    Tamara
    Willemien
    Annabella
    Deborah
    Isabelle
    Maryn
    Fleur
    Daar is heelwat oor hulle op my webwerf te lees(http://www.chanettepaul.co.za/). Gaan kyk onder ‘Boeke’. Daar is onder meer ‘n stuk waarin ek skryf hoe die Davels gebeur het en ook ‘n uittreksel uit ‘n brief van die taalversorger wat daarmee gewerk het.

  19. Junie 10, 2010 om 10:30 vm

    Dit is frustrerend, Jolandé, maar ook begryplik. Onthou, dis nie vir die uitgewery lonend om minder as 1000 kopieë van elkeen te laat herdruk nie omdat herdrukkoste hoog is en hulle bemarkingsafdeling moet bepaal of daar ‘n goeie kans is dat daardie duisend van elk (7 000 dus as al 7 titels herdruk word)sal verkoop.
    In die Davels se geval is dit egter ‘n bietjie anders. My uitgewer wil die reeks nie net laat herdruk nie maar her-uitgee. Dit wil sê ‘n hele nuwe baadjie aantrek, in nuwe formaat uitgee en as enkeltitel-reeks bemark pleks van as deel van die Romanza Imprint. Om dit te kan doen moet hulle redelik seker wees dat drieduisend van elkeen sal verkoop. Dit beteken 21 000 boeke – wat verskriklik baie is vir Afrikaanse boeke en hulle natuurlik ‘n verskriklik hoop geld uit die sak sal jaag. Dis waarom hulle eerder ‘n rukkie wil wag en seker maak die mark is reg.

    Terloops, daardie nuusbrief waarin ek jou Fleur sal noem, is ‘n bietjie vertraag omdat ek wag totdat my webwerf klaar opdateer is sodat ek dit in die nuusbrief kan aankondig. Hopelik binne die volgende week of so.

  20. 31 Jolande
    Junie 10, 2010 om 6:42 nm

    Goeie ouers! Dit is vrek baie boeke…Ek verstaan nou biki beter. So dis maar ‘n gamble…Maar soos mens seker bekender word hoe meer boeke druk hulle vir jou? Van Meetsnoer gaan hulle seker heelwat meer druk as jou 1e boek bv? 7 boeke is seker ook te veel om in ‘n omnibus uit te gee…Ek sal bv so iets koop as versamerlaarsitem maar nie noodwendig die 7 boeke apart weer nie. Dit is inderdaad ‘n tricky storie. Ek dink tog dit sal verkoop, want dis goeie boeke en jy het baie navrae al gekry oor die boeke…But then again ek is nie ‘n bemarker of besigheidsmens nie, net vreeslik lief vir stories!

    Dis doodreg oor die nuusbrief, dit gee my kans om die Annabelle boek te soek. Moet net ‘n knoop in my nek maak!

  21. Junie 11, 2010 om 8:04 vm

    Ja, omnibusse is ook ‘n probleem. Omdat die Davels feitlik dubbel so lank as die gewone romanse is sal hulle hoogstens twee in ‘n band kan uitgee, maar nou is daar ‘n onewe getal!En ja, die Gys-boeke se drukoplae styg geleidelik met elke boek.

  22. Junie 23, 2010 om 5:34 nm

    @ Lelani. Ek hoop jy geniet Springgety. Lekker lees!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: