25
May
10

Oor ‘regte’ boeke

Soms spring daar iets in ʼn storie uit wat meer van mens self verklap as wat mens graag sou wou.  Verstaan my mooi, ek en Lily Reynecke van Springgety het weinig in gemeen – allermins  haar sexy lyf en naeltjie-ring – maar een ding is daar wel.

Lily dink terug aan die dae toe sy met haar eks-man, Fritz, getroud was:

Vir ʼn hele ruk het sy wel aan ʼn leeskring behoort, maar op ʼn dag besluit sy het deur genoeg hoë letterkunde gewroeg en voldoende vertaalde boeke gelees wat min aansluiting by haar eie werklikheid gehad het.  Te veel kere probeer sin maak van dun boekies met kriptiese frases, klaarblyklik met geweldige diep filosofiese onderbou.  Lily het bedank en vir weke lank daarna, het sy haar vergryp aan die whodunits, liefdesromans en ander boeke wat as ongewens afgemaak is deur die orde van intellektuele godinne van suburbia.

Ek het nou nie aan daardie leeskring van haar behoort nie, maar ek het simpatie met haar.

Gesofistikeerde lesers – waaronder akademici wat weet ek het ook ʼn bietjie in Akademia rondgetoer – het my al by meer as een geleentheid gevra waarom ek nie ‘regte’ boeke skryf nie.  Met ‘regte’ boeke lei ek af hulle bedoel literêre boeke.

Begrippe waaraan ek noodwendig dink wanneer dit by die sogenaamde Hoër Letterkunde kom, is:  Wroeging. Skuld, angs, die niksheid van dinge.  Vervreemdheid.  Seks pleks van opregte liefde.  Die nare werklikheid.  Veredeling van sinisme. 

Klaarblyklik is vreugde, lewensblyheid, opregtheid nie in pas met intellektualiteit nie.  Geloof, hoop en liefde ook nie.  Wat ʼn mens natuurlik laat wonder of I Korinthiërs 13 dan nou minder literêre waarde het as Openbaring.

Verstaan my mooi, ek het dit glad nie teen Hoë Letterkunde nie.  Daarsonder sou die mensdom veel armer gewees het. Selfs ek geniet dit om soms ʼn ernstiger boek te lees en ek behoort aan ʼn boekklub waar ons oor ʼn baie wye spektrum heen lees.  

Waarteen ek dit wel het, is dat Hoë Letterkunde aangebied word as die enigste waardevolle soort skryfwerk wat daar is.  Voorgehou word as die maatstaf waaraan alle tekste gemeet moet word.  Dat dit al is wat ‘goed’ is en enigiets wat nie literêr is nie, enigiets wat nie deurweek is van neerslagtigheid en sinisme nie, enigiets wat toeganklik geskryf is, noodwendig ‘swak’ of selfs ‘twak’ is. 

Ek is daarteen dat sinisme en wroeging by implikasie verhef word tot intellektualiteit.  As mens nie sinies na die lewe kan kyk nie, is jou IK noodwendig ietwat gestrem.  As jy nie kan insien dat die lewe boos en aaklig is nie, is jy nie op dieselfde intellektuele vlak nie.  Is jy inderwaarheid ʼn pleb.

Wat ʼn spul snert. 

’n Toeganklike, ‘feel good’ boek, kan net so ’n lewensverrykende ervaring wees as gestroopte, donker boek.   ʼn Toeganklike boek kan goed of swak wees, nes ʼn literêre boek goed of swak kan wees. 

Ursula Le Guin skryf wetenskapfiksie en fantasie, genres wat nie normaalweg as literêre genres beskou word nie en tog was drie van haar werke al finaliste vir die Pullitzer.  Sy het die volgende te sê:

The trouble is that we have a bad habit, encouraged by pedants and sophisticates, of considering happiness as something rather stupid. Only pain is intellectual, only evil interesting.

This is the treason of the artist: a refusal to admit the banality of evil and the terrible boredom of pain.

If you can’t lick ’em, join ’em. If it hurts, repeat it.

But to praise despair is to condemn delight, to embrace violence is to lose hold of everything else.

We have almost lost hold, we can no longer describe a happy man, nor make any celebration of joy.

Ek hou van toeganklike boeke en ek verkies boeke wat my laat beter voel oor die lewe en my medemens.  As dit van my ʼn pleb maak, dan is dit nou maar so.

Daar is heeltemal te min tyd in my lewe oor om boeke wat my beswaard maak te lees, laat staan te skryf en dit net om ‘in’ te wees of om ‘slim’, liefs ‘diep’ voor te kom. 

Dis nie makliker om ʼn toeganklike, ‘feel good’ boek te skryf nie.  Inteendeel.  Dit was nog altyd makliker om mense moedeloos te maak as om hulle op te beur.  Nes dit makliker is om te haat as om te vergewe.  Om neerslagtig te wees, as om lewensbly te wees.  Om nie lief te hê nie as om lief te hê. 

Ek skryf toeganklike, ‘feel good’ boeke omdat ek en my lesers se siele nodig het om asem te skep.


15 Responses to “Oor ‘regte’ boeke”


  1. 1 Lelani
    Mei 25, 2010 om 8:04 vm

    Ek dink dit was Deon Meyer wat in ‘n onderhoud met Litnet gesê het, dat ‘n storie net ‘n storie is, en dis mos daar om te vermaak. Ek stem 500% saam met wat jy hier sê (en daardie stelling…) Ek lees ook veel eerder ‘n boek wat my goed laat voel of ten minste geboei hou vir daardie paar uur as wat ek myself in so ‘n sieldonkerte inlees dat ek voel ek gaan verstik van die depressie!

    Ek dink as jy ook gaan kyk na die boeke wat op die topverkoper lyste is – is dit gewoonlik lekker lees whodunnits en liefdesverhale!

  2. Mei 25, 2010 om 8:44 vm

    Liefdesverhale is inderdaad die beste verkopers van alle boeke die wêreld oor.
    Deon en ook Marita van der Vyfer sê albei hulle skryf die soort boeke wat hulle graag lees. Ek dink dis ‘n baie belangrike punt. Ek sal wil byvoeg dat ‘n skrywer sy/haar eie stem moet behou anders pleeg jy nie net verraad teenoor jouself nie, maar ook teenoor jou leser. Ernstige skrywers sal byvoorbeeld nie suksesvolle romantiese fiksie kan skryf nie nes die wat ‘n klap weg van die romantiek nie oortuigend sal kan wroeg nie. Dis ‘n sweeping statement en natuurlik is daar altyd uitsonderings, maar in die geheel gesien glo ek tog dat elke voëtjie maar sing soos hy gebek is. Wat my pla is dat daar ‘n waardeoordeel oor die gebektheid van die voël uitgespreek word. ‘n Uil is immers nie ‘n ‘beter’ voël as ‘n paradysvlieëvanger nie.

  3. 3 Jolandé
    Mei 26, 2010 om 9:47 vm

    Hoor, hoor! Ek kan nie meer met julle saamstem nie! Ek lees spesifiek nie donker boeke nie want dis te veel soos die realiteit en die leef ek tog, hoekom moet ek nog daaroor lees. Vir my gaan dit eerder of ‘n boek goed geskryf is, maak nie saak in watter genre nie. Ek sal ‘n soppy love story lees en geniet as dit goed geskryf is, maar besluit baie gou om dit te los as dit te oppervlakkig is en my glad nie boei nie. ‘n Goeie boek soos joune Chanette, doen vir my baie meer as enige literêre werk! As dit my ‘n pleb maak, so be it! Ek leer ook baie uit jou boeke omdat ek oor allerhande dinge na die tyd oplees op die internet. Ek dink ook die boeke wat ek lees verryk my as mens maar literêre werke doen dit nie. So Chanette moet asb nooit voel jy moet jou styl of genre verander nie, ek geniet die spanningsnovelle vreeslik!

  4. 4 Lelani
    Mei 26, 2010 om 10:19 vm

    Is dit nie die waarheid nie – wat julle altwee gesê het nie! Mens lees omdat jy wil ontsnap uit die realiteit en om vermaak te word.
    😆 Viva PLEBBE!

  5. Mei 26, 2010 om 10:24 vm

    Ag, jy doen my hart goed, Jolandé! Ek was baie verras toe ek die eerste keer hoor lesers gaan lees op oor goed wat in my boeke voorkom, maar ‘n hele paar het dit nou al vir my gesê. Omdat my boeke so dik is, is daar altyd ‘n bietjie te kort aan spasie vir ‘n volledige bronnelys, maar ek probeer die belangrikstes agter in die boek noem. Dis net altyd onmoontlik om by te hou met die webwerwe wat mens besoek. Navorsing is altyd ‘n baie belangrike deel van my skryfproses – miskien gebruik ek dit as verskoning omdat ek so nuuskierig is!

  6. Junie 3, 2010 om 4:37 nm

    Die intellektuele godinne en gode bly juis nie in suburbia nie…

  7. Junie 4, 2010 om 7:07 vm

    Welkom, Rosalind!
    Dis debateerbaar afhangende van mens se definisie van beide, maar binne die konteks dink ek praat Lily veral van mense wat voorgee dat hulle intellektueel is en/of voorhou dat net dit wat intellektueel is, van waarde is. Hulle kry jy oral, nes jy mense wat werklik en van nature intellektueel is oral – en soms juis op onverwagte plekke – kry.

  8. 9 Jolandé
    Augustus 6, 2010 om 10:10 vm

    Siende dat ek so lief vir lees is, sluit ek toe laas maand by ‘n boekklub aan nadat ek baie lank na een gesoek het. Groot is my teleurstelling egter want al is almal so Afrikaans soos more heeldag, lees hulle omtrent net Engels. Hulle het selfs Deon Meyer se 13 uur in Eng gaan koop!! En hulle lees nie eintlik romanse of liefdesverhale nie, in fact, die een vrou hou nie van boeke met gelukkige eindes nie want dis te onwerklik! Ek het dan seker die kat aan die stert beet want ek lees net boeke met gelukkige eindes of wat darem goed uitwerk. Is die hele idee met ‘n lekker boek nie om te ontsnap van die werklikheid nie?

    So nou het ek gewonder of daar nie erens ‘n aanlyn boekklub is nie vir spesifiek romanse nie? Ek sien Lapa se forum is nog nie aan die gang nie. Daar moet seker erens ‘n chat room wees waar mens kan inskakel en boeke kan bespreek?

    Ek weier om dom en stupid te voel omdat ek ‘n goeie liefdesverhaal of spanningsroman geniet! Smaak verskil mos maar en soos ek al gesê het, ek het al baie geleer in hierdie boeke!

  9. Augustus 6, 2010 om 10:49 vm

    Ai, wat ‘n teleurstelling! Het jy al die Romanza Lesersblog probeer? Hulle adres is http://romanzalesers.wordpress.com
    Daar kan jy sommer met die skrywers ook gesels.
    Liefdesverhale, in watter gedaante ook al, word gelees deur van die slimste mense op aarde. By Boheem se bekendstelling (saam met Sophia Kapp se Die Tuiskoms)op Potchefstroom moes ekstra stoele ingedra word en glo my, dit was die ene doktors en professors. Een van die dekane het ook gevra dat ek vir hom ‘n kopie teken. Ek vra toe of hy bewus is daarvan daar is heelwat romantiese liefde in die boek en of hy seker is hy wil dit lees. Hy kyk my toe so en vra of ek dink dekane wil nie ook soms ontspan nie.
    By een romanseskrywersindaba het dit uitgekom dat daar onder die skrywers ‘n hele magdom grade betrokke was. Twee met doktorsgrade, ‘n hele paar met Meesters- en ander grade.
    Nou vra ek my af wie die dommes is? Mense wat lees waarvan hulle hou en lekker ontspan, of die wat nie glo in gelukkige eindes nie?

    • 13 Jolandé
      Augustus 6, 2010 om 11:41 vm

      Ag lekker kry ek nou!🙂 Ek het ook nogal gedink jy, Sophia en die ander sal mos nie pryse wen as ander intellektuele mense nie ook soos ek dink dis baie goeie boeke nie!

      Ek gaan vir jou styf duim vashou vir d veertjie vir Boheem! Baie geluk met die nominasie!

      Sal beslis by Romanza lesersblog gaan inloer. Ek glo ek sal beslis meer vreugde daaruit kry.

      My boekklub mense is nie slegte mense nie, hulle smaak verskil bloot. Ek sal dalk nog 1 of 2 keer gaan, maar ek glo ek gaan beslis meer tuis voel op die lesersblog.

      • Augustus 6, 2010 om 11:55 vm

        Dankie vir die gelukwensing en veral die duimvashou, Jolandé. Dis al vir my ‘n groot voorreg om net ‘n finalis te wees. Ek was baie verras dat ‘n storie met romantiese liefde genomineer word in die spanningsafdeling. Ek voel asof daar ‘n lansie gebreek is.
        Natuurlik mag smaak verskil – dit moet, anders was die lewe darem baie vervelig. Ek het net ‘n kleintjie dood aan mense wat dink hulle smaak is die enigste en beste.
        Hoop jy geniet die Romanza Lesersblog.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: