29
May
10

Waar de hel is Niemandsdorp?

bphoto1

Ek op Dreunkrans by Hermanus wat as inspirasie vir Springklip in Springgety gedien het.

Een of ander skrywer het gesê toe hy ʼn seuntjie was het mense hom ʼn klein liegbek genoem, noudat hy man is, noem hulle hom  ʼn skrywer.

Die van julle wat die Davel-reeks gelees het, sal dalk onthou dat veral Joshua Davel baie erg gesteld is op eerlikheid en die Davel-meisiekinders deeglik op hulle baadjie gee as hulle die waarheid durf verdraai. Hy het daardie karaktertrek van my gekry. Ek verstaan dat ordentlikheid en sosiale omstandighede mens soms noop om die waarheid skuins te hou, maar ek hou nie daarvan nie.  Eerlikheid, opregtheid en integriteit staan heel eerste op my lys van lewenswaardes.

Maar as ek voor die rekenaar gaan sit, begin ek lieg. Lieg is een van die hoofvereistes van die skrywer se werksomskrywing. Selfs wanneer ʼn mens oor iets skryf wat regtig gebeur het of werklik is, lieg jy deur hoe jy dit verwoord, hoe jy dit struktureer en deur dit ʼn sekere betekenis binne ʼn spesifieke konteks gee.

In Leila word lig praat Jerome van die ‘lieg van verhaalmaak’ en wanneer Leila probeer om die geheim agter Jerome se beeldetuin te ontrafel, sê sy: (Ons moet) “Anders kyk. Onderstebo kyk, soos Jerome gemaak het. Na die onmeetlikheid van die lieg en nie die meetlikheid van die waarheid nie.”

Maar voor ek so op die koue herfsoggend in Stanford te filosofies raak… Niemandsdorp en sy uitgetrekte  – soms eienaardige en geografies onhaalbare – distrik, bestaan net tussen die blaaie van my boeke.

As liegbek skrywer het ek in my Gys-boeke ʼn hele distrik by die Overberg by gelieg en in die kuslyn ingepas.  Dis natuurlik nie maklik om ʼn kontinent te verander nie, maar dit het half vanself gekom toe ek Springgety begin skryf het en toe ek my weer kom kry, het ek ʼn ruimtelike stramien geskep vir die Gys-boeke.

Mense vra my hoe ek tred hou met hierdie enorme verbeelde ruimte.  Die antwoord is redelik eenvoudig.  Dit het vir my werklikheid geword.  Ek is nie seker of dit vir my werklikheid geword het omdat ek die hele plek met verdrag geteken het nie en of ek dit kon teken omdat dit reeds vir my werklikheid geword het nie.

Nou kyk, ek kan ʼn sin redelik goed aanmekaar gesit kry, maar sit ʼn potlood in my hand en sê ek moet iets teken, dan weet ek nie wat om daarmee aan te vang nie.  Maar as jy ʼn skrywer wil wees, moet jy dapper wees.

Met Springgety al het ek besef dat ek die noodlot tart as ek nie presies weet hoe die dorp uitgelê is nie.  Dis darem redelik maklik het ek gedink.  Blokkies vir huise, parallelle strepe vir strate, ʼn paar kronkels vir die kuslyn.  Easy as pie?  Huh-uh.  Moenie glo nie.  Ek gaan nie op die detail ingaan nie, maar glo my ek het nuwe respek vir stads- en dorpsbeplanners gekry.  En toe ek die uitleg van die Visvrou en Ben se glashuis moes skets om seker te maak die karakters se bewegings stem in verskillende tonele ooreen, het ek groot ontsag vir argitekte gekry.

Ek reken die Niemandsdorp-distrik is so ent duskant – of dalk anderkant – Waenhuiskrans ingelieg.  Ek is self nie doodseker nie.  ʼn Leuen word meesal nie as ʼn beplande afgeronde entiteit gebore nie.  Leuens het altyd rafels en hoe meer jy die leuen probeer geloofwaardig lieg, hoe meer rafels kom los. Maar my lieg sluit so min of meer  ʼn kusstrook in van so om en by 120km en strek dan binneland toe tot by die N2.  So twintig kilometer ondertoe van die N2 af is die distrik se hoofdorp, Niemandsdorp.

12394014_158228761209406_1779523477_n

Dreunkrans by Hermanus. Springklip is natuurlik baie hoër :) 

Sestig kilometer seekant toe van Niemandsdorp, lê Kruisbaai.  Dis ʼn geïsoleerde dorpie vanweë die slegte pad wat oor berge en deur valleie heen kronkel.  Oor Kruisbaai troon ʼn hoë krans oor die see uit.  Springklip.  En op Springklip staan daar vier kruise.  ʼn Kruis vir elkeen van vier mense wat daar hulle dood daar ontmoet het. Dis in die skadu van hierdie krans waar ʼn unieke fynboslelietjie groei wat die geliegde mense in my geliegde storie Annie-se-trane noem.  Springgety se storie kon om verskeie redes nêrens anders afspeel nie, maar dis ook so dat die ruimte self die storie help ontwikkel het.  Dis die wisselwerking tussen karakters en die ruimte wat die storie maak wat dit is.

ʼn Ent binneland toe van Kruisbaai af, die berge in, is daar ʼn landgoed aan die rand van ʼn meer.  Die landgoed is so afgeleë dat ʼn mens dit net met ʼn vliegtuig of helikopter kan bereik.  Die landgoed se naam is Paradyskloof en op Paradyskloof is daar sewe tuine van genesing met ʼn agste in die middel wat die Heilige Tuin heet.  ʼn Entjie daarvandaan is ʼn labirinttuin aangelê.  In Fortuin vind daar hekserige dinge op hierdie landgoed plaas en dit kan net daar plaasvind danksy die afgesonderdheid en die uitleg daarvan.

Tussen die berge, in ʼn vallei aan die anderkant van Niemandsdorp, is daar ʼn Morawiese sendingstasie wat deur ʼn wêreldberoemde skrywer gekoop en omskep is in ʼn kunstenaarskolonie.  Sy noem hierdie plek waar sy ʼn klomp baie disfunksionele mense om haar vergader het, Bohemia.  Dis hierheen dat ʼn aspirant skrywertjie met ʼn donker verlede kom in Boheem.  Dis in Boheem se geval net ʼn kunstenaarskolonie wat hom kon leen tot die karakters en die storie rondom hulle.

In die Niemandsdorp-distrik is daar ook ʼn bos.  Eintlik is daar twee bosse, vind ek nou so jaar of wat gelede uit toe ek aan Meetsnoer begin skryf het.  Een hoër op is ʼn denneplantasie met die naam van Houthaalbos.  In ʼn valleitjie skuins onder Houthaalbos is ʼn klein stukkie oerbos oor en dié heet Fluisterbos. Op Fluisterdorp groei ʼn vreemde varingagtige boom tussen meerminbeelde en verskaf skuiling aan slange. Dié wat daarvan weet, noem hierdie boom Annie-se-lot. Op Houthaalbos wag die mense van die Meetsnoer Tempel die einde van die aarde af onder leiding  van profeet Sias en profeet Sias weet dat die apokalips net kan begin as…

Onlangs het ek aan Gys nommer 5 begin skryf. Hierdie keer gaan ek dit vir my maklik maak, het ek besluit. Dit maak immers sin dat die reeks op Kruisbaai afsluit – daar waar alles begin het.

Ek hoef my nie ʼn nuwe plek te verbeel nie, die kaart van die dorp is geteken, ek ken Springklip se paadjie so goed soos Stanford se wandelpad. Ek hoef nie weer te gaan sukkel met waar is wat en hoe kom iemand êrens uit nie.  Dis daar, dit maak sin, gebruik dit.

Moenie glo nie. Ek kon dit net eenvoudig nie regkry om Kruisbaai weer te gebruik as die plek waar die nuwe gebeure plaasvind nie. Hoekom nie? Ek weet nie.  Miskien omdat die karakters van Springgety Kruisbaai hulle eie gemaak het en te jaloers was om dit met nuwe karakters te deel. Miskien omdat my nuwe karakters inderdaad nie daar inpas nie. Miskien omdat ek maar net ʼn sucker for punishment is.

Nietemin, Dryfhout (voorlopige titel) speel op Kierangbaai af – net ʼn stywe ent se stap van Kruisbaai af. Kierangbaai is nie ʼn dorp nie. Dis ʼn plek. ʼn Baai in die vorm van ʼn omega-teken waarvan die oopkant see toe wys.  Aan die eenkant is Rykmansklip, aan die anderkant die kierangklippe. En die kieranggrot. Naby die sandsoom is daar sewe vissershuisies. Daaragter ʼn klipkasteel wat uit 1882 dateer…

Lesers het my al gevra waarom ek nie regte plekke gebruik nie. Waarom die denkbeeldige Niemandsdorp-distrik?

Eintlik weet ek nie, maar ek dink dit het iets te doen daarmee dat ek in een van my liefdesverhale, Perlemoenmaan, probeer het om my eie dorp, Stanford, as ruimte te gebruik.  Alles het goed gegaan tot ek agtergekom het ek sal ʼn paar hoeke en draaie en winkels moet verander om by die storie te pas.  Ek kon (destyds) ook nie net Hennie se Pub & Grill gebruik nie, want doen voel Oom Steyn se Pub afgeskeep.  Toe verander ek maar so hier en daar aan die dorp en besef uiteindelik ek sal in elk geval die naam moet verander.  Ek noem dit toe Birkenshire (ja, die einste Birkenshire wat ook in die Gys-boeke opduik) na aanleiding van die Birkenhead brouery net buite die dorp, wat weer vernoem is na die skip wat naby Gansbaai gesink het.  Ek het heel slim gevoel nadat ek die probleme so netjies opgelos het, maar toe, ʼn hele ruk nadat ek die boek geskryf het, stap ek eendag poskantoor toe en so in die stap dink ek, sjoe, ek het darem lanklaas vir Loekie gesien.  Eers ʼn paar treë verder het ek besef dat Loekie ʼn karakter in die storie was.

Dit was nogal scary. Ek dink dis omdat ek ʼn bekende ruimte gebruik het dat werklikheid en verbeelding mekaar begin oorvleuel het en ek dink dis daarom dat ek nou eerderverbeelde ruimtes gebruik.

Of miskien is dit maar eintlik omdat ek, wanneer ek my sit voor die rekenaar kry, dit geniet om deur my nek te lieg.😉


6 Responses to “Waar de hel is Niemandsdorp?”


  1. Mei 31, 2010 om 1:28 nm

    Lieg of nie lieg nie. O wee, wat ‘n probleem vir ‘n skrywer. Dis soos om vir jouself te vra “waar eindig realisme en waar begin verbeelding”? As mens met rekenaar en finansiële agtergrond is ek natuurlik een van die wat wit of swart sien en nie grys nie. Tog besef ek dat elke storie geheel en al ‘n lieg is. Wel, moontlik nie elke storie nie. Tog moet mens jou verbeelding kans gee om in sy eie rigting te gaan en die verloop van selfs ‘n welbekende se doen en late te maak pas in die verhaal en as jy weer sien, lieg jy. En solank as wat my liegery moontlik kan wees, sien ek dit nie as lieg nie. Eerder kreatiwiteit.

    Hou asseblief so lank as wat jy kans sien aan om ou Gys (of soortgelyke karakters) te gebruik. Ek like hom.

  2. Mei 31, 2010 om 1:43 nm

    Welkom, Tinus! Ek is so bly jy like ou Gys. Dis vir my heerlik dat al hoe meer mans ook van my spanningsromans begin hou.
    Wat die liegtery betref, ek hou van die onderskeid wat jy tref tussen lieg en kreatiwiteit. En daar is mos die gesegde: Storievertellers laat nie toe dat feite in die pad van ‘n goeie storie staan nie.

  3. 3 Soretha Carroll
    Junie 18, 2010 om 5:47 nm

    As ek dit nie mis het nie, is daar ‘n ou gesegde wat se: “as ‘n boom in die woud val en daar is niemand om dit te hoor nie, maak dit ‘n geluid?” … of so iets … en ek wil nou net vra: “as ‘n skrywer ‘n denkbeeldige wereld skep en dit is so meesterlik gedoen dat die lesers dit in hul geestes oog kan sien en ervaar, bestaan dit dan nie regtig nie?”

    Chanette, vir my is Niemandsdorp en omgewing so werklik soos die N1 waarop ek elke dag vasgevang sit oppad na my soutmyn. En, dit is ook hier waar ek my eie Niemandsdorp en interessante karakters skep wat ek ook eeeeeeeeeendag op my getroue ou laptoppie gaan vasvang! Kannie wag vir jou volgende Gys boek nie!

    Groete
    Soretha

  4. Junie 18, 2010 om 6:00 nm

    Wee’ jy, Soretha, ek dink jy is reg! In ‘n ander dimensie moet die plekke bestaan. Na ‘n onderbreking van ‘n bietjie meer as ‘n week, skryf ek nou weer aan Dryfhout en ek het weer op Kierangbaai in geval asof ek nie weg was nie. Ek moes weer al die drade van die storie optel, maar die plek onthou ek asof ek daar grootgeword het. Vir my is daar nou inderdaad ‘n Rykmansklip en kierangklippe al is dit in ‘n paralelle dimensie. En hoe wonderlik dat lesers soos jy ook die ingang daarheen kan vind.

  5. Julie 6, 2016 om 11:42 vm

    Dit was nou gaaf om ‘n tyd nadat ek die reeks gelees het, weer op ‘n verkenningstog te gaan deur jou geliegde wêreld, wat myns insiens, heeltemal oortuig het. Kan byna sê, jy mag maar lieg …


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2010
M T W T F S S
    Jun »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: