05
Jun
10

‘n Moordende genre

Wat is die grootste uitdaging wat die spanningsgenre vir ‘n skrywer inhou? 

Sophia Kapp het hierdie vraag ʼn hele rukkie terug aan my gestel en intussen het ons al lekker gesels oor hoe die uitdagings van die romantiese spanningsroman, en die liefdesroman wat sy so meesterlik skryf, verskil en ooreenkom.

Oor hierdie verskille en ooreenkomste kan ek dalk later ʼn stukkie skryf, maar glo my, die een is nie makliker om te skryf as die ander nie. Elkeen het sy trieks en sy trane.  Vandag het ek dit oor die trieks en trane van my Gys-boeke.

Terwyl ek nou volstoom aan die skryf is aan my nuutste manuskrip, het dit my opgeval dat die uitdagings nie minder word namate mens meer boeke in ʼn genre skryf nie.

Ek is besig met Dryfhout, die vyfde en laaste Gys-boek. Mens sou dink ʼn vyfde boek behoort darem aansienlik makliker te wees as die eerste. Moenie glo nie. Ek trek by die sesde hoofstuk – dis so een vyfde in die eerste draft in – en onthou nou weer van vooraf, hoe moeilik dit werklik is.

En wat maak dis so moeilik?

  • Slim lesers.

Die tipiese leser van die spanningsverhaal,  lees besonder slim. En dit maak dit natuurlik besonder moeilik om haar aan die raai te hou oor wie die skuldige is, sonder om haar te kul.  (Daar is natuurlik ‘homme’ ook, maar ek hou maar by die vroulike verwysing).

Die spanningsverhaal is eintlik ʼn spel tussen leser en skrywer.  Die een probeer die ander uitvang en uitoorlê.

Die spel is gebaseer op  ʼn soort kontrak tussen skrywer en leser.  Die leser verwag van die skrywer om haar  genoeg leidrade te gee om agter te kom wie die skuldige is, maar dit so goed as moontlik te versteek sodat sy eers teen die einde doodseker kan wees wie dit is.

As die skrywer nie genoeg leidrade gee nie of inligting van die leser weerhou en eers teen die einde uitblaker, kul sy die leser omdat die leser dan nie ʼn regverdige kans gegun is nie. Die skrywer kan ook nie sommer  ʼn onbekende karakter by die hare nadersleep vir sy/haar rol as moordenaar nie.

As die skrywer egter te veel leidrade of ʼn te duidelike spoor laat, bederf sy ook die leser se pret omdat dié dan te gou agterkom wie die misdaad gepleeg het.  En dit kan ʼn bitter klein dingetjie wees wat die game weggee.

Boonop lees party lesers slimmer as ander.  Daar is lesers vir wie jy nie kan uitoorlê nie, die geheim is dan om haar tot die einde toe genoegsaam te kan vermaak met ander storielyne, al weet sy wie bloed aan die hande het.

  • Slim lesers is die grootste uitdaging, maar daar is ander ook. Nog ʼn uitdaging is om ook manlike lesers te kan vermaak in ʼn romantiese spanningsroman. 

Ek skryf by uitstek boeke vir vroue omdat ek vroue beter verstaan as mans.  Maar vandat ek agtergekom het dat Springgety  ʼn hele paar manlike lesers ook aangestaan het, wou ek graag die net ʼn bietjie wyer span in die res van my Gys-boeke om meer manlike lesers ook te vermaak.  Daarom het Gys se rol aansienlik uitgebrei van Fortuin af.

Dit was aanvanklik vir my baie moeilik om my in te dink in ʼn man van in sy vyftigs se gedagtewêreld en boonop ʼn speurder sʼn. En toe op ʼn dag het ek besluit ek probeer dalk te hard en moet Gys vertrou om sy eie potjie in my verhale te krap – hy wou mos my stories kaap! Ek het Gys net eenvoudig sy gang laat gaan en van toe af werk ons lekker saam. Dis hoekom dit vir my so wonderlik is as iemand soos Tinus Viviers, self ʼn skrywer van heerlike spanningsverhale, sê hy ‘like’ Gys (sien comments onder Waar de hel is Niemandsdorp?). En ook as Dawie vir my sê hy voel asof hy Gys ken en Marius Jonker laat weet hy kan nou nie meer wag vir Meetsnoer nie.

Uit terugvoer wat ek gekry het, is daar weliswaar mans wat nie dood gesien wil word met ʼn Chanette Paul-boek in hulle hande nie, maar daar is, benewens die wat ek hierbo genoem het, ook ʼn goeie – en groeiende – klompie wat die afgelope tyd laat weet het dat hulle die Gys-boeke baie geniet. Julle is mans na my hart!

  •  ʼn Derde uitdaging is om nie my liefdesverhaal lesers heeltemal te vervreem nie. 

Ek moes met Springgety al die moeilike besluit neem of ek romantiese liefde in my spanningsromans wil betrek en of ek nader aan die werklikheid wou beweeg waar liefdesverhoudings dikwels van romanse ontdaan is.

Ek het aanvanklik probeer om die gulde middeweg te probeer volg, maar dit was nie heeltemal moontlik nie.  Eerstens kon ek die lesers wat oor die jare my romanses geniet het, nie in die steek laat nie. Hulle het my ondersteun vandat ek as groentjie begin skryf het en saam met my en my helde en heldinne deur die struikelblokke van die liefde geworstel. As dit nie vir hulle was nie, sou ek nooit by die Gys-boeke uitgekom het nie. Tweedens het ek as mens ook te veel van ʼn romantiese klap van die liefdeswindmeul weg om nou skielik ʼn ommekeer te maak.

Die liefdestonele hel dus meer na die romantiese oor, maar omdat die hoofkarakters nie jou tipiese romantiese held of heldin is nie, sien die liefde tog heelwat anders daar uit as in ʼn tipiese liefdesverhaal.  Die ontwikkelende liefdesverhoudings in die Gys-boeke is verwikkelder as in ʼn romanse omdat genre verwikkelder is. Die misdaad, die effek daarvan, die gevaarsituasie en die speurproses veral verdig die liefdeskonflik.

  •  Daar is in hierdie genre ook ʼn klomp tegniese uitdagings waarmee wil ek julle nie wil verveel nie, maar ek wil tog een noem.

Toe ek Springgety begin skryf het, het ek aanvanklik net Lily se perspektief gebruik. Met die dat Gys se neus in my storie kom indruk het, moes ek later die hele manuskrip oorskryf om ook sy perspektief te akkommodeer. Daarna het ek besef dat selfs twee perspektiefkarakters nie noodwendig ʼn spesifieke storie in al sy fasette kan weergee nie. Daarom het ek in Fortuin heelwat meer karakters se perspektiewe gebruik. Dit het die proses egter geweldig gekompliseer. Hoe meer perspektiefkarakters daar is, hoe verwikkelder raak die storie.

In Boheem het ek op drie besluit, alhoewel mens Rose-Anne se gesprekke op haar bandjies moontlik kan bytel. Dit het die saak aansienlik vergemaklik en ek glo tussen Kayla, Mitch en Gys het die storie suksesvol uit die verf gekom.

Toe ek aan Meetsnoer begin skryf het, was die plan om weer by drie te hou, maar ek het kort voor lank besef ek sal nog ʼn karakter se perspektief moet betrek omdat Raine, Flint en Gys vir die grootste deel van die storie nie kon wees waar ek iemand se insig nodig gehad het nie. Daarom moes ek ʼn vierde perspektief ook inbring. Mart was ʼn uitdaging op haar eie. Ek moes in die kop kom van ʼn veel ouer vrou met wie ek feitlik niks in gemeen het nie. Maar ek verklap liewer nie te veel voor dit op die rak is nie.

In Dryfhout, waaraan ek nou skryf, lyk dit my drie sal weer genoeg wees vir die storie wat in die hede afspeel, maar ek moes ʼn manier kry om Annie Niemand – ja, onse meermin – ook ʼn spreekbeurt te gee. En dit het aanleiding gegee tot… Nou-ja, julle sal nog ʼn bietjie moet wag om uit te vind.😉.

Soos julle kan sien, is skryf nie sommer net vir gaan sit en begin tik nie. Maar al hierdie uitdagings is juis wat die spanningsroman vir my so ʼn wonderlike genre maak. Dis die soort uitdagings wat heerlik in my storie-kraal pas.


4 Responses to “‘n Moordende genre”


  1. 1 Jolandé
    Junie 7, 2010 om 2:45 nm

    Ek stem saam met Marius, ek kan nie meer wag vir Meetsnoer nie!

    Hoe weet mens of jy sal kan stories skryf?

    Dit klink vir my om suksesvol in die spanningsgenre te skryf moet mens ‘n goeie skaakspeler of strateeg wees🙂 Bravo aan jou! Ek dink jy kry dit baie goed reg.

  2. Junie 7, 2010 om 3:40 nm

    Ek sien self uit daarna om Meetsnoer in my hande te hou. Ek hoop om binnekort die omslag vir julle te wys. Dit word nog gefinaliseer, maar die voorlopige een is vir my pragtig.

    Die enigste manier om te weet of jy stories kan skryf is om te gaan sit en skryf. ‘n Goeie aanduiding sal wees as jy op skool lief was vir opstelle, maar dis ook nie te sê nie. ‘n Opstel is darem iets heel anders as ‘n storie. Ek dink as mens ‘n allesoorweldigende behoefte het om te skryf, is dit ‘n teken dat jy maar gerus kan probeer.

    Ek hou van jou skaakspel-vergelyking. Ek is ‘n vrot skaakspeler omdat ek my skuiwe altyd te ver vooruit wil beplan, maar gelukkig speel mens in ‘n storie grotendeels teen jouself skaak – al gooi die karakters soms speke in die wiel van die spel.😉

  3. 3 Anzel Gerber
    Junie 9, 2010 om 7:12 nm

    Dit vat nogal ‘n merkwaardie talent om ‘n spanningsroman so goed te kan skryf soos net jy kan. Nie net bly die spanningslyn deurgaans in die storie behoue nie, maar is daar ook n unieke emosionele aanvoeling vir die hoofkarakters in die boek. Dis waarvan ek hou – om nie net die raai werk te doen nie, maar om ook saam met die held en heldin te voel. En Gys, ons dierbare Gys… daar sal nooit weer iemand so uniek soos hy geskryf kan word nie. Ek het sommer lief geword vir die omie. Hy voel vir my so werklik, asof ek in my kar kan klim en na hom te kan ry vir n geselsie… Regtig baie goed geskryf. Ek het al baie van jou boeke gelees, Chanette, en almal van hulle is briljant geskryf. My gunsteling bly natuurlik jou Gys reeks, soos ek dit noem. Ek kan beslis nie wag vir Meetsnoer nie… Net soos met jou nuutste omnibus, gaan ek dit ook vinnig vinnig opraap.

  4. Junie 10, 2010 om 7:51 vm

    Ek is so bly jy geniet ou Gys, Anzel. As ‘n jong meisiekind soos jy van hom kan hou, behoort sy sake by Gertjie reg te kan kom.
    Ek dink ek het dit êrens anders ook genoem, maar ek het die voorlopige omslag vir Meetsnoer gesien en dis vir my pragtig. Ek hoop om hier op die blog te kan klik hoe dit lyk sodra dit gefinaliseer is. Dalk maak dit die wag beter.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Junie 2010
M T W T F S S
« May   Jul »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
282930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: