21
Jun
10

Moorde en Meerminne

tumblr_lf3myjOrnt1qczb2ko1_1280Of dit nou die watermeid van Meiringskloof is,  ʼn seal maiden van Skotland, die Corniese morveren, Anderson se Little Mermaid, of Atargatis van antieke Sirië; die verhale van visvroue oor die eeue heen boei my vandat ek kan onthou.
Meerminne het al vroeg in my werk begin opduik, maar dit was sedert ek in 2001 vir drie maande op Nieu Bethesda gaan woon het om navorsing vir Leila word lig te doen, dat die meermin as simbool en mitiese figuur waarlik ʼn vashouplek op my en in my werk gekry het.

Helen Martins van Uilhuis-faam het iets soos 29 meerminne gemaak, dis nou bo en behalwe ander vroulike waterwesens – en natuurlik vroue met vlerke. As daar nou ʼn vrou opsoek na haar primordiale herkoms was, wat na erkenning van haar siel gesmag het, dan was dit onse Helen! Dis terwyl ek male sonder tal daar in haar Camel Yard rondgedwaal het, dat visvroue finaal vastrapplek ook in my siel gekry het. En dit lyk my die visvrou wat haar so tuis gemaak het in my onderbewuste, wil sorg dat sy kort-kort ʼn eier te lê kry in my stories.

Die meermin-legende in die Gys-boeke was hoegenaamd nie beplan nie. Netso min as wat ek ʼn reeks beplan het. Soos Gys, het Annie Niemand, die bron van die visvrou-legende van Kruisbaai, sommer net op ʼn dag in my storie uitgedop. Hierdie magiese deel van die skryfproses verwonder my altyd, maar nog te meer noudat ek aan Dryfhout skryf.Waar Annie Niemand in die ander vier boeke ʼn skaduagtige figuur was oor wie teenstrydige stories vertel word, moet ek haar en haar storie nou deurgrond. Dis vir my ʼn fassinerende ontdekkingsreis.

vintage-mermaids1

As dit so is dat mites die DNA van die siel is, is die meermin-mite die DNA van die vrouesiel. Die meermin as argetipe is by uitstek die uitbeelding van die vrou in haar oer-vorm.

Die meermin is mens, maar ook nie heeltemal mens nie.  Vis, maar nie volkome vis nie.  Sy is ’n oerwese vasgevang tussen die waters van die onbewuste en die land van die bewuste wat ʼn onderlyf en die vermoë om te kan asemhaal, verg.  Sy het immer die hunkering na ’n maat – ’n maat wat haar dikwels nie verstaan nie, maar sonder wie sy nie heel voel nie.  Die meermin weet sy verloor haar siel as sy die waters van haar herkoms vaarwel toeroep, as sy ’n sterweling se vrou word, en tog kan sy haarself nie keer om telkens ’n sterweling uit te sonder as die objek van haar liefde nie.

Wat ek tot dusver in met die Gys-boeke probeer sê het, is dat ʼn visvrou nie noodwendig haar siel hoef te verloor nie, maar juis kan vind, as sy by ’n man uitkom wat haar volle vrou-wees, insluitende haar vis-wees, verstaan en respekteer.  Dat ʼn vrou haar eie meerminskap moet ontdek en leer verstaan.  Dat sy haar viswees nie moet ontken nie.  Dat sy daaruit kan leer en so haarself beter kan verstaan.

Die Gys-boeke gaan nie oor mitologie en legendes en simboliek nie, hulle is by uitstek ligte en hopelik lekkerlees stories.  Dis egter vir my lekker om op ligte wyse met redelike ernstige vraagstukke om te gaan. Die onderbou kan die boek vir sekere lesers verryk, maar as simboliek en mitologie nie jou ding is nie, gaan dit geen verskil maak aan die storie nie.  Uiteindelik is die storie die belangrikste en word hierdie onderbou net ʼn baie klein deeltjie van die storie wat op die kollektiewe geheue in werk, met of sonder kennis van dinge soos meerminne en dies meer.

Ook Dryfhout gaan meer oor moorde as meerminne, maar die visvrou-simboliek neem my weer op nuwe paaie en ek besef van vooraf in hoe groot mate vroue oerwesens is, en deur die mite van die meermin gesimboliseer word. Ons is die sirenes wat skepe na die dieptes toe kan lok, of – as ons wil – kan red. Ons is wesens van die moederwater, van instink en aanvoeling, maar ook van praktyk en pragmatisme. Hoe ons hierdie misterieuse eienskappe balanseer, maak van ons vervulde of onvervulde vrou-mense.JF001~Purple-Mermaid-Posters


2 Responses to “Moorde en Meerminne”


  1. 1 Marile Cloete
    Junie 27, 2010 om 6:45 nm

    Afgesien van die interessantheid daarvan vir skrywers en lesers, is hierdie stuk self ‘n pragtige voorbeeld van ‘n uitstekende stuk skryfwerk. Dankie!

  2. Junie 28, 2010 om 5:51 vm

    Marile, komende van ‘n gesoute skrywer soos jy, is dit ‘n ekstra groot kompliment.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Junie 2010
M T W T F S S
« May   Jul »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
282930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: