Sjoe, ek skep nog asem. ʼn Besige, maar feestelike langnaweek lê agter die rug!
Dit het Saterdagoggend vroeg-vroeg afgeskop met die Kalfiefees se Boekbesprekings waar ek en Karin Brynard heerlik gesels het tussen tartende geure van boeretroos, pannekoek en ʼn magdom ander smulgoed. Ek was verras om soveel mense so op die koel oggend daar te sien en nog ʼn lekkerte was dat mense wat ingekom het om koffie en eetgoed te kom kry, sommer ook kom sit en luister het. Wat ʼn gesellige affêre. Baie dankie aan almal wat daar was en veral aan Karin wat bereid was om douvoordag uit Stellenbosch te ry om daar te wees.
En die dag het net al hoe lekkerder geraak. Die boekbesprekings was gevarieerd en interessant. Ons het baie gelag, soms ʼn traan weggepink en is sommer net op soveel vlakke verryk.
Alle lof aan Marinda Ehlers vir die wondere wat sy in so ʼn kort tydjie verrig het en vir die geleentheid wat sy vir ons geskep het om te praat oor, en te luister na die lekkerste van lekkertes: Boeke en stories! Ek hoop werklik dit word ʼn jaarlikse instelling.
Hier onder ʼn paar foto’s van die hierdie geleentheid, en later meer oor die ander twee geleenthede waar ek en Kristel Loots op Vrouedag opgetree het.
Dit lyk na ‘n fees, Chanette! En sulke interessante mense … wens ek was ‘n vlieg teen die muur.
Dit was inderdaad ‘n fees, Madelie. Daar was so ‘n wye verskeidenheid van skrywers, onder andere ook dié wat self boeke gepubliseer het. My kop het aan die einde van die beprekings behoorlik gesing van al die verskillende indrukke en nuwe insigte.
Dit lyk of julle ook nie eens koud gekry het nie. Dis nie fêr nie! Julle lees en kuier lekker en kry ‘êktilly’ warm, ons staak en werk en vrek van die koue! Ek wens ek was liewers da by julle.
Hi, Bets! Kyk maar hoe warm die ander aangetrek is. Ek kry gou warm wanneer ek benoud is en haat dik klere. Maar dit was inderdaad ‘n mooi dag.Net die volgende dag was dit wind en reën wat skrik vir niks. Maar ons het inderdaad heerlik gekuier en ek wens ook jy was daar!