19
Aug
10

Woorde, vroue, kos en kuns in Durbanville

Chanette Paul en Kristel Loots by Kos en Kuns (Foto: Tygerberger)

Na die verrykende WOW-oggend waaroor ek in my voorlaaste pos geskryf het, wil Blom opsluit gaan skoene koop. Ek het vrede met wat aan sy voete is en wil net van myne afkom. Ek het toe nooit by die sop wat so lekker geruik het of ʼn broodjie uitgekom nie en wil iets eet, ʼn glas wyn drink en nabetragting hou oor die oggend. Ons kom tot ʼn kompromie, eers my behoeftes en dan syne. Dis immers Vrouedag!

Ek gevoed en hy geskoen, sit ons en planne beraam oor hoe ek darem voor die aand se geleentheid in Durbanville gestort gaan kom. Kristel was so gasvry om my uit te nooi om by hulle die nodige te kom doen, en ook sommer om by hulle oor te slaap, maar ek en Blom het albei doenighede vir Dinsdag en kon nie die aanbod aanvaar nie. Sal ons Goodwood toe ry net vir ʼn stort? Nee, besluit ons, Blom het baie gholfvriende en ons sal sommer by ʼn gholfklub insak en vra of ek die fasiliteit mag gebruik.

Hy misbruik een van sy vriende se name by die hek, vas oortuig hy sal iemand binne raakloop wat vir ons ʼn woordjie by die bestuur kan doen. Maar dit het later geword as wat ons gedink het en die paar bittereinders in die klub is vreemdes. Kry ook nie ʼn bestuurslid van ʼn dag oud opgespoor nie. Soos ʼn dief in die dag sluip ek die ruskamers binne. O jimmel! dink ek, as ek hier uitgegooi word, oorleef ek dit sweerlik nie.

Sonder voorval kom ek egter skoon en aangetrek. Net die senuwees is effens rou. Ek spreek ʼn stil seën oor die klub uit en weg is ons.

Ons ry restaurant toe. Die gerestoureerde huis verklap sommer dadelik ons gaan lekker kuier. Dis boonop ʼn allerheerlikse verrassing om my skrywersvriendin Wilna Adriaanse met Madri Victor aan haar sy, op die stoep raak te loop. 

Niks berei my egter voor vir die lieflike dekor en knus atmosfeer binne nie. As ek ʼn bestelling kon plaas vir die perfekte plek, gasheer en gasvrou, kon ek nie beter gevaar het nie. Santie en Gerhard ontvang ons gul en die ou huis met sy kunswerke, kaggeltjies en houttafels verwelkom my soos net ʼn plek wat met liefde getooi en ingeleef is, dit kan doen. Met ʼn sjerrie in die hand, drink ek die atmosfeer in terwyl die gaste begin inkom.

Een van die bekommernisse van so ʼn geleentheid, naamlik dat niemand gaan opdaag nie, word gelukkig te ruste gelê. Die twee groot tafels is gou-gou vol. Die senuwees kry egter  ʼn nuwe soort knaag. Hierdie keer trotseer die gaste die koue op die laaste aand van ʼn langnaweek en betaal boonop daarvoor. Wat verwag hulle van my en Kristel? Sal ons iets vir hulle kan gee om huis toe te neem? Al is dit net ʼn gedagte of ʼn lekker herinnering.

Ons kry uiteindelik ons sit vir die voorgereg: crostini met tamatie en roket. Wyn word in pragtige blaardun glase bedien. Om my is daar die gesellige geroesemoes van mense wat gesels en lag en in die kaggel knetter ʼn vuur. Die beligting is sag, die mense gelukkig. Na die voorgereg word ek en Kristel voorgestel. Die keer kry ek die eerste beurt toe Kristel instem om ‘poeding’ te wees.

Weer eens verontagsaam ek Disraeli en gesels oor my ‘kinders’, die keer minder gejaagd omdat ons meer tyd gegun word. Asembenemende geure kom uit die kombuis aangesweef. Die gaste lag waar hulle veronderstel is om te lag en ek ontspan so wrintiewaar.

Ek is nietemin verlig toe ek afsluit en vir die hoofdis gaan aansit. Osso Bucco met oondgeroosterde groente. Nee, Osso Bucco is toe nie ʼn os wat rondspring nie, dis ʼn smaaklike beesvleis en murg gereg net reg vir so ʼn koue aand. Dis die soort kos en dampkring wat mens laat voel asof selfs die mense wat jy nie ken nie,  jarelange vriende is. Hoe beskryf mens die gevoel van hoort, van bly wees jy is daar, die lekkerte van gedeelde belangstellings, die saligheid van net weet: ek is vir hierdie paar uur presies waar ek veronderstel is om te wees? Dis een van daardie ‘ek is’ oomblikke.

Met die geurige nadraai van keurige kos nog op die tong, kom Kristel aan die beurt en is soos gewoonlik op haar stukke. Teen die tyd dat sy weer by die tafel aansluit,  lag ons dat die trane loop.

Dekadente pere in rooiwyn, bedien met vars room, verskyn uit die niet op die tafels, en dan word ons onverwags met vrae gepeper. Ons gesels oor die soort boeke wat ons skryf, antwoord vrae soos waarom mans nie die hoofkarakters in ons boeke kan wees nie. Kwinkslae vlieg heen en weer, Gerhard beskuldig ons dat ons seksisties is. Ons verweer. . . dis Vrouedag.

Skuins oor tien begin ek en Blom aanstaltes maak. Stanford lê nog twee ure ver. Ek gaan groet die gaste by die ander tafel, sê dankie dat hulle kom luister het so in die koue en in die laaste doodsnikke van die langnaweek. “Jy vergeet, ons wil hier wees,” word ek tereg gewys en daarin word alles toe kort en kragtig opgesom.  Ek ook, weet ek. Ek wil hier wees. Presies hier, presies nou op hierdie lieflike aand van gemeensaamheid.

My Vrouedag-naweek saam met Karin Brynard en Kristel Loots en die mense wat kom luister, kom gesels en dié wat ons genooi, gul ontvang en trakteer het, was so gevarieerd, so besig, so wonderlik. Ek sou dit vir niks ter wêreld wou misloop nie; hierdie naweek wat, weet ek,  ʼn soet herinnering in my kissie van onthou-jy-nogs sal word.


2 Responses to “Woorde, vroue, kos en kuns in Durbanville”


  1. 1 Marile Cloete
    Augustus 26, 2010 om 10:24 nm

    Dankie vir ‘n lekker vertelling vir die van ons wat dit noodgedwonge misgeloop het!

  2. Augustus 27, 2010 om 10:12 vm

    Welkom terug uit Noorweë, Alta! Ek wil alles hoor op pad na en by die Lenteskryfskool. Om te dink laas was jy ‘n groentjie en nou is jy ‘n aanbieder.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Augustus 2010
M T W T F S S
« Jul   Sep »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: