27
Aug
10

Rivierplaas, maar nie Alba Bouwer s’n nie.

Volgende Woensdag is ek op pad na die ATKV-Lenteskryfskool vir die res van die week. Ek hoop julle geniet almal die eerste dag van die Lente. Vir my is dit altyd ʼn spesiale dag. Alhoewel ek hou van aande voor die kaggelvuur, en die winter vir my sy eie wonderlikhede inhou, sien ek maar altyd weer uit na die somer.

Maar van kaggelvure gepraat… Ek het belowe om te vertel van die twee weke toe ek in ʼn kliphuisie by die Breederivier gaan skryf het. Mens kan seker nie veel dieper in die winter in wees as die laaste twee weke van Julie nie.

Ek het dus my voorbehoude toe ek hoor die plekkie waar ek wil gaan skryf is ʼn kliphuis en boonop naby die rivier. Bring warm goed saam, het Annamarie, my hospita, dan ook gewaarsku. Maandagoggend, die negentiende, lyk my dertienjaaroue Bantampie asof ek vir maande pleks van twee weke weggaan. ʼn Boksie kos, ʼn kissie wyn, ʼn tas met klere, stapels boeke, my skootrekenaar en baie warmgoed maak die bak van hoek tot kant vol. Dit is ʼn koel, maar pragtige dag toe ek in Stanford wegry. Die berge is persblou en die canolas wil net-net begin blom. Ek besluit om Bredasdorp om te ry, hoofsaaklik sodat ek beskuit op Napier kan gaan koop. Dit bly natuurlik nie by beskuitkoop nie.

Met ʼn sak vol lekkernye, drink ek eers ʼn cappuccino voor ek weer die pad vat. Net anderkant Swellendam, draai ek af, kry die sleutels by Annamarie en ʼn kaart om by die Riverplaas Cottages uit te kom. Ek kan sien Annamarie het haar bedenkinge daaroor dat ek stoksielalleen wil gaan bly vir die twee weke en sy nooi my uit om by hulle op die plaas te kom slaap as ek dalk sou bang voel of eensaam raak. Ek kry ʼn warm gevoel vir die gasvrye mense van ons land, maar verseker haar ek sal oukei wees. Die pad kronkel tussen plase deur, verby ʼn vergane, maar steeds pragtige klipbrug vol opdrifsels wat ʼn waarskuwing opigself is oor die drif wat nou so begaanbaar is. Ek ry deur vrugteboorde wat net-net begin bot. Die pad is verspoel en die Bamtampie hinkepink. Ek ry verby die bordjie wat die paadjie na die houthuisie aandui en dan, ʼn paar honderd meter verder, is ek daar. Stone Cottage. Ek parkeer en klim uit.

Voor my lê ʼn strook lemoenboorde en daaragter vloei die rivier onstuitbaar aan oseaan toe. Die lug is vars en ek verbeel my ek ruik ʼn sitrus nadraling. Dis ʼn steil afdraandetjie na die kliphuis wat onder die melkhout wegkruip. Foto’s laat plekke gewoonlik baie mooier lyk as wat hulle is. Nie die keer nie. Ek is verlief met die eerste oogopslag. Met ʼn lied in my hart begin ek afdra en inrig, seer kuite wat my toenemend daaraan herinner hoe onfiks ek is, ten spyt.

ʼn Uur of twee later kry ek een van die pasteitjies wat ek in Napier gekoop het uit, haal ʼn koue biertjie uit die koelsak en plak my neer by die stoeptafel om my nuwe omgewing in te drink. Ek het skaars my sit gekry of ʼn gas daag op in die vorm van ʼn spierwitte kat.

Ons kliek dadelik en voor ek my kom kry, is my skoot warm en kan ek nie voorbly met kopkrap en maag kielie nie. Ons gesels land en sand. Ek vertel van my kat by die huis, hy spin al harder. Ek lê die reëls van ons verhouding neer. Hy kyk my verwytend aan nadat ek ʼn bosluis tussen die wit pels opspoor, dit versigtig aftrek en sê: nie in die huis nie.

Toe die skadu’s te kil begin word, dra ek hout binnetoe uit die sakke wat by die braaiplek regstaan. Ek stap af rivier toe, pluk ʼn lemoen en raap en skraap ʼn vraggie fynhout bymekaar. Voëls kwetter en kweel, êrens hoor ek ʼn trekker of ʼn ding. ʼn Visarend roep. Nie ʼn mens in sig nie. Die kaggel is rokerig, maar ek kry dit aan die brand. Buite word dit donker en saam met die donker al stiller. Binne knetter die vuur al hoe meer entoesiasties.

 Ek is alleen, maar ek is nie eensaam nie. Ook nie bang nie. My skootrekenaar word met ʼn cd gelaai, ek kry ʼn boek uit, skink ʼn glas wyn. Iets ritsel in die melkhout.

Ek skakel die stoeplig aan en loer by die bodeur uit. Witkat het twee geword. Eers dink ek ek sien verkeerd. Is die wyn na my kop? Het die kaggel se rook my oë aangetas? Maar nee. Die wit tweeling staar my grootoog aan. Ek verduidelik van bosluiskoors en dat mens nie ander mense se katte voer nie. Dit staan hulle nie aan nie en ek maak die deur toe teen die verwytende kyke.

Ek slaan iets te ete aanmekaar met net ʼn gasring as kookplek. Geen mikrogolf, geen stoof, geen oond. Ook geen TV, geen internet en net swak selfoonopvangs. Ek is in die sewende hemel.

Die hemel kry ʼn nuwe dimensie in die dae daarna. Ek staan op wanneer dit lig word, en gaan slaap teen middernag. Ek skryf twaalf, soms meer, ure per dag, maar selfs wanneer ek nie voor die rekenaar sit nie, is my kop by my storie, op Kierangbaai waar Dryfhout afspeel.

 Die dae vloei ineen, word ʼn stroom met twee vlakke. Op die oppervlak is daar koffiemaak, met katte gesels, ʼn lemoen gaan pluk, fynhout haal, stort. . . Onder die oppervlak vloei die skryf- en storiestroom so diep dat werklikheid en verbeelding afskaduwings van mekaar word. Vir net ʼn klein gedeelte van die dag is ek Chanette in ʼn kliphuis in die middel van die winter, meestal is ek Aengel of Roark of Gys op Kierangbaai in die middel van die somer. Soms vergeet ek heeltemal waar ek is en skrik as die yskas sy sporadiese bibbergeluid maak en my herinner.

Buitestort. Om begryplike redes het ek die binne een gebruik.

Blom bring ʼn bietjie normaliteit saam toe hy Saterdag laatmiddag kom kuier. Hy braai vir ons vleis, wat ʼn welkome afwisseling is van die haastig gebroude kos wat ek saans net maak omdat ek besef mens moet eet. Toe hy Sondagmiddag wegry, is my proviand aangevul, die katte bederf en ek weer effens helderder van kop. Maandag is ek vroegdag terug agter die rekenaar en kortvoorlank weer op Kierangbaai.

En toe ek weer my oë uitvee is die Saterdagaand. Ek begin inderhaas pak terwyl my kop nog eintlik nie reg is om my storie te laat staan nie. Maar ek moet terug. Ander werk wag en ook die Vrouedagnaweek.

Sondagoggend ry ek stadig terug nadat ek die sleutels afgegee het. Ek neem die N2 wat ‘n korter roete is as Bredasdorp om. Net verby Riviersonderend, draai ek af Stanford toe. Toe ek oor die laaste bult kom, sien ek Stanford voor my lê: die lieflike holte vir my voet, ʼn voet wat die grootste deel van my lewe so onrustig was.

My bontkat wag my voor die huis in, ruik agterdogtig aan my klere, gee ʼn verwytende miaau. Blom kom uitgestap. Sy breë glimlag sê alles. My hart word warm. Ek is tuis.


10 Responses to “Rivierplaas, maar nie Alba Bouwer s’n nie.”


  1. 1 Wilna Adriaanse
    Augustus 27, 2010 om 1:57 nm

    En net jy kan dit so kleurvol en geurvol beskryf dat almal wat dit lees voel hulle was saam daar of groen is van jaloesie omdat hulle nie saam daar was nie.

  2. Augustus 27, 2010 om 2:06 nm

    Ai Chanette! Is my uitroep van waardering genoeg? Maar as ek geweet het hoe alleen jy daar was, sou ek geWORRY het.

  3. Augustus 27, 2010 om 2:11 nm

    Dan is dit maar goed jy’t nie geweet nie! Dis regtig veilig daar. Daar was net een aand snaakse geluide wat die hare in my nek so bietjie laat orentstaan het, maar ek neem aan dit was die katgoed op die badkamer se dak.

  4. 5 Tinus
    Augustus 27, 2010 om 5:01 nm

    Hallo. Eke het letterlik jou woorde opgeslurp. In my mond gerol afof dit rooiwyn is en vreeslik jaloers gevoel. Whau! Moes ‘n inspirerende ondervinding gewees het. Kan nie wag vir daai boek nie!

  5. Augustus 27, 2010 om 9:33 nm

    Sê die man wat ewe avontuurlik Laurence of Arabia speel (wel, naby genoeg!). Maar dit was inderdaad inspirerend, Tinus. Ek wens ek kan ‘n borg kry om elke skrywer so ‘n kans te gun. En jy kan nie glo hoe billik ek daarvan afgekom het wat verblyfkoste betref nie. Nou hoop ek maar net the proof lies in the pudding. Ek het nog nie weer kans gehad om na my skryfwerk te kyk wat ek daar gedoen het nie. Na die Lenteskool, wanneer ek vir die eerste keer weer kan terug gaan manuskrip toe, sal ek hopelik kan sê of dit goeie woorde was.

  6. 7 christa Jonker-Jordaan
    Augustus 28, 2010 om 6:05 nm

    Chanette
    Dit klink na ‘n vertelling van ‘n droom! Die foto’s lyk pragtig! Ek wens dit was ek wat ‘n tydjie in die natuur met woorde kon omgaan! Ons wag ongeduldig op die resultaat van jou tyd daar!

    Seënwense op die boek!

    Christa

  7. Augustus 29, 2010 om 8:35 vm

    Dankie, Christa. Ek moet sê Dryfhout kom tot dusver vir my makliker as wat dit met Meetsnoer die geval was. Ek hoop maar dit hou so aan.

  8. 9 Marile Cloete
    September 6, 2010 om 9:19 nm

    Dit klink te heerlik vir woorde!

  9. September 7, 2010 om 6:50 vm

    Met alles wat tussenin gebeur het, Vrouedag en die Lenteskool, voel dit nou half soos ‘n droom, Marile. Ek beplan om die laaste week in September/eerste week Oktober weer te gaan ernstig skryf, maar die keer aan die kus aangesien Dryfhout by die see afspeel. Ek hoop net dit werk weer so goed!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Augustus 2010
M T W T F S S
« Jul   Sep »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: