07
Sep
10

Al skrywende leer mens. 2010 ATKV Lenteskryfskool

Vyf jaar gelede toe die Lenteskryfskool vir die eerste keer spesifiek op romantiese fiksie toegespits is, was ʼn hele paar van die kursusgangers veral aanvanklik baie verontwaardig oor die klemverskuiwing. Hulle wou kom leer om ‘regte’ boeke te skryf, en hier kom ʼn ou romanse skrywertjie om vir hulle iets te probeer leer.

Daardie eerste dag was ʼn nagmerrie en dit was eers teen die aand toe van die deelnemers my met vrae begin bestook het, dat dit so ietwat beter begin gaan het. Ek het verduidelik dat die skryfprinsiepe vir die romanse grotendeels net so geld vir ontspanningsfiksie, behalwe dat sekere aspekte net baie strenger toegepas word in die romanse.

Ek is egter ʼn paar dae later met ʼn groot sug van verligting daar weg en het later eers uitgevind dat daar benewens ʼn paar ontstokenes darem ook ʼn bekeerling of twee was.

Alhoewel daar by die daaropvolgende skole telkens weer ʼn paar mense opgedaag het wat weerstand teen die romantiese genres koester, het dit beter begin gaan en was daar ten minste meer van hulle wat regtig romanses wou skryf. Daardie eerste ondervinding het my egter bygebly en elke jaar as ek gevra word om as een van die aanbieders op te tree, sug ek heimlik. Ek is nie lus om mense tot romantiese fiksie te probeer bekeer nie en boonop vreet dit my eie skryftyd. Dis nie net die vier dae daar bo nie, dis ook dae se voorbereiding. Elke keer sien ek van vooraf op daarteen. En elke keer kom ek daar weg en kan eerlik sê ek is tog bly ek het gegaan.

Vanjaar was geen uitsondering nie, maar ek het lanklaas ʼn groepie mense gesien wat hulle so in die kursus verlustig het. Gedurende die kursus self is ons as aanbieders behoorlik gepeper met vrae en as daar ʼn speletjie was, het almal ywerig meegedoen. Hulle het boonop eie inisiatief geneem en mekaar se eerste hoofstukke gelees en bespreek en glo baie gelag en baie geleer. Wat ʼn plesier en voorreg om saam met sulke mense te werk, het ek kort-kort gedink.

Maar noudat ek terugkyk, wonder ek of die kursusgangers besef ek leer netsoveel as hulle. Prof Hans du Plessis se sessies maak vir my telkens die dinge wat ek op die harde, trial and error manier moes leer, glashelder. Sophia Kapp het hierdie jaar romantiese fiksie weer so duidelik in perspektief gesit, my van vooraf laat besef met wat ʼn waardevolle genre ons werk en van nuuts af respek vir ons lesers en skrywers laat kry. Charlene Hougaard, die uitgewer van Lapa se Romanza-reeks, het my weer laat besef deur hoeveel prosesse ʼn manuskrip gaan voor dit uiteindelik ʼn boek word. Hoe toegewyd ʼn uitgewer moet wees om by ʼn suksesvolle eindproduk te kom.

Die beloning van al die harde werk van skrywers- en uitgewerskant, het Vrydagaand na vore gekom in die bekendstelling van Alta Cloete se eerste verhoudingsroman, Geur van genade*. Alta wat haar vele romanses onder die skrywersnaam Marile Cloete skryf, was self ʼn paar jaar gelede ʼn kursusganger by die Lenteskryfskool en dit was glo juis danksy daardie kursus dat sy besluit het om haar skryfvermoëns eers met romanses te slyp.

Alta het ʼn lang pad met Geur… se manuskrip gekom en ek was bevoorreg genoeg om as manuskripontwikkelaar ʼn gedeelte van die pad saam met haar te stap. Ek het skoon trane in my oë gekry terwyl Alta daar met die resultaat van al haar harde werk en deursettingsvermoë in haar hande sit en so lekker praat oor haar storie.

Saterdagoggend net voor ons moes terugvlieg Kaap toe, praat Alta weer, dié keer oor die onsekerhede en probleme waardeur sy as skrywer geworstel het en steeds worstel. Dit voel behoorlik asof sy van my en my skryfpaadjie ook praat. En ek besef weer eens, as ek ʼn verslag oor ʼn manuskrip skryf, moet ek versigtig trap sodat ek nie iemand se drome plattrap nie.

Kort voor ons moes vertrek, stap ek na die enigste manlike kursusganger. Die stil man wat reeds aanstap in jare, het minstens twee vorige kursusse ook bygewoon. Ek vra hom of hy nie verveeld raak om telkens dieselfde goed te hoor nie. Nee, sê hy, hy leer elke keer iets nuuts, selfs by die aanbieders wat gereeld optree. Ek vra of hy volgende jaar weer sal kom. Hy knik en glimlag sy skaam glimlag. “Ek sal kom tot ek ook my boek gepubliseer kry,” sê hy en kry so ver kyk in sy oë.

Op pad lughawe toe dink ek weer aan hom. Ek sien ek hom voor my geestesoog sit waar Alta die vorige aand gesit het. Ek sien sy oë blink soos Alta sʼn geblink het, sy glimlag skamer, sy spraak effens aarselend. Ek sien die boek in sy hande effens beef. Ek sien sy naam op die omslag.

Daar en dan besluit ek: nooit weer kla ek oor die skryftyd wat ek moet afstaan om Lenteskool toe te gaan nie. Nooit weer sien ek op teen daardie paar met weerstand nie. Ek doen dit nie vir dié wat ‘bekeer’ moet word, dié wat ‘regte’ boeke wil skryf nie. Hulle is belangrik genoeg in hulle eie oë, hulle hoef nie vir my ook belangrik te wees nie.

Dis vir die stil man met ouderdomsvlekke op sy hande wat ek dit doen en vir mense soos hy. As dit enigsins binne my vermoë is, sal ek my bydrae lewer, hoe beskeie dit ook al is, om hulle te probeer help om eendag ook hulle eie naam op daardie omslag te sien. Hulle droom te verwesenlik.

* Geur van genade is beskikbaar by alle toonaangewende boekhandelaars asook by Lapa.

Geur van genade – Lapa


4 Responses to “Al skrywende leer mens. 2010 ATKV Lenteskryfskool”


  1. 1 Reinette Groenewald
    September 7, 2010 om 11:56 vm

    Terwyl ek jou vertelling lees gaan my gedagtes terug na wat ons as voornemende skrywers ervaar het, en ek kan dit net in een woord opsom…..ongelooflik! Ek het dit al vir jou gesê, maar die detail waarmee jy ‘n gebeurtenis beskryf so werklik! So treffend asof ek in persoon self daar teenwoordig was. By die spesifieke skool was ek wel self teenwoordig en vir my het ‘n nuwe wêreld oopgegaan! Ek het ook die passie om te leer in die oë van ons manlike leerder raakgesien en ervaar, want dis ook iets wat al baie lank in my sluimerend was.Baie dankie vir al die kennis en ervaring wat julle aan ons oorgedra het. Ek is nog steeds op ‘n high na die skool, maar soos Prof Hans en julle almal ons deeglik meegedeel het, is al wat die storie op die ou end op die rakke kry , sit op die bas en begin skryf! Baie dankie vir die entoesiasme waarmee jy, Alta,Prof Hans, Sophia en Charlene die skool aangebied het. Baie sterkte vir jou volgende boek.Ons sien uit daarna. Groete Reinette

  2. September 7, 2010 om 12:07 nm

    Lekker om van jou te hoor, Reinette, en ook om jou terugvoering oor hoe jy die lenteskool ervaar het, te kry. Dis regtig vir my ‘n voorreg om met mense soos jy en die res van die groep saam te werk en ek is seker die ander aanbieders voel ook so.
    Sterkte met die BOS! (Bas Op Stoel – vir die van julle wat nog nie die akroniem ken nie);-)

  3. 3 Marile Cloete
    September 11, 2010 om 5:35 vm

    En nou sit ek met die trane in die oe … 05:30 op ‘n Saterdagmore …

  4. September 11, 2010 om 7:38 vm

    Ek hoop dis trane van vreugde, Alta! Veral met so ‘n heerlike nuwe boek op jou kerfstok en een wat sommer vanuit die staanspoor so goed doen.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

September 2010
M T W T F S S
« Aug   Oct »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
27282930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: