23
Sep
10

Dryfhout in proses.

Dryfhout is so twee derdes daar. Dis nou so twee derdes deur die ‘first draft’ in skrywersjargon. ‘Eerste weergawe’ is nie ʼn lekker vertaling daarvoor nie. Ek hou liewer by first draft. Maar selfs dit is misleidend, want dit beteken nie mens het net gaan sit en die storie vir die eerste keer uitgeskryf nie.

Selfs hier waar ek nou is, waar twee derdes van die storie al vorm begin kry het, is ek seker al maklik vyftien, waarskynlik meer, keer deur die manuskrip, het ek al derduisende woorde en sinne verander en honderde ernstige storiefoute raakgesien en probeer regmaak. Ek het al hoeveel keer my hare uit my kop getrek omdat my stories soveel navorsing verg en ek dit nie regkry om net ʼn gewone agtergrond kan gebruik nie. My karakters het my al hoeveel keer geskok, verwar, verras, verneuk en sommer net hulle eie blerrie ding gedoen. Die storie het kronkels bygekry waar ek reguit paaie wou loop en kinkels wat ek beplan het, het verspot geblyk op papier.

Die storie is na hierdie week se redigeersessie so net-net oor die 109 000 woorde, dis 340 getikte bladsye, lank. Daar is 21 hoofstukke. Ten minste twee tonele pla my ernstig. Ek weet hulle moet waai, maar ek weet nie hoe om die gapings te vul nie. Dis nou benewens heelparty ander tonele waaroor daar ook vraagtekens hang. Daar is vyf gapings wat gevul moet word met tonele en 113 voetnotas van goed waarvan ek moet seker maak. Ek het my bedenkinge oor die laaste paar hoofstukke se volgorde, struktuur en die manier waarop tonele inmekaar invloei – of liewers nie invloei nie.

Die laaste derde van ʼn manuskrip is altyd die skrikwekkendste. Dis hier waar ʼn klimaks moet kom en al die drade geknoop moet word. Dis hier waar die ontknoping gebeur en dit moet geloofwaardig en opwindend wees. Dis hier waar ek begin wonder watse soort waansin my laat besluit het ek kan stories skryf. En dis hier waar ek in permanente angs leef dat die storie nie werk nie en dat ek verleer het om te skryf.

Dis nou amper twee maande sedert ek regtig aan die storie geskryf het. Tussen manuskripontwikkeling en omwandelinge heen, het ek twee keer deur die manuskrip gegaan, maar niks nuuts geskryf vandat ek van die kliphuisie af teruggekom het nie. Die paniekfaktor kan mens meet aan die Richterskaal. Ek voel ek het die draad van my storie verloor. Ek voel ek het my storie verloor. Ek voel my storie het my verloor. Miskien het my storie hom in ʼn ander dimensie gaan staan en klaarmaak en bestaan daar sonder my hulp of insette en het my nie meer nodig nie.

Daar is net een oplossing, het ek besef. Ek moet maar weer huis-uit om elders te gaan skryf waar dit net ek en my storie is sonder wasgoed wat gewas moet word, sonder skottelgoed wat moet skoon kom. Weg van ʼn tuin wat soos ʼn oerwoud begin lyk en goeters wat in en om die huis gedoen moet word. Sonder e-posse en blogs wat aandag verg (maar wat ek so geniet), sonder geleenthede wat moet (en wil) bygewoon word. Sonder enigiets wat my aandag aftrek. Ek is dit aan my storie verskuldig.

Maandag vertrek ek dus weer op ʼn uitvaart van twee weke lank. Dit beteken, onder meer, ek gaan te besig wees om veel van die Walvisfees hierdie naweek mee te maak. Ek is ook nie hier vir die jaarlikse Bird Fair op die dorp die naweek daarna nie en ek kan nie Pieter Espe se boekbekendstelling bywoon nie. Veral laasgenoemde sou ek bittergraag wou beleef.

Ek kom 10 Oktober weer terug en sal laat weet of dit toe die moeite en opofferings werd was. Opoffering? vra ek myself af terwyl ek die woord tik. Opoffering? Genade, wat ʼn voorreg! Ek en my storie. Alleen. En boonop gaan ek die keer na die omgewing waar Dryfhout so min of meer afspeel.  Ek en Aengel en Roark en Gys, alleen bymekaar in ons eie klein kierang-wêreldjie.

Miskien sal ek tog reg aan hulle storie kan geskied. Ja, miskien . . .

Verskoon my nou, ek moet begin pak!


6 Responses to “Dryfhout in proses.”


  1. 1 Lelani
    September 23, 2010 om 9:10 vm

    Hi Chanette,
    Al wat ek kan sê is sterkte En geniet die uitstappie!

  2. September 23, 2010 om 9:23 vm

    Dankie, Lelani! Ek sien daarna uit om met die geluid van die see te gaan slaap en wakker te word. Eendag as ek groot is en baaaie boeke verkoop, wil ek vir my my eie skryfhuisie naby die see bou.;-)

  3. 5 Marile Cloete
    September 28, 2010 om 7:42 vm

    Ai, hoe bekend klink al daardie gevoelens! Sterkte – natuurlik sal jy en die storie mekaar weer vind. Maar maklik is dit sowaar nie.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

September 2010
M T W T F S S
« Aug   Oct »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
27282930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: