19
Oct
10

Storie gesoek, meermin betrap

Êrens op ʼn rots sit ʼn meermin wat moeg geraak het vir wit pêrels. Toe kom sy agter tyd is blou. Van toe af steel sy elke uur op die uur 1 sekonde en bêre dit in ʼn perlemoenskulp. Elke 150 dae haal sy ʼn helderblou uur-pêrel uit sy skulp. Elke twee jaar oes sy dus  vyf uur-pêrels. Hierdie pêrels snoer sy en dra dit om haar nek en in haar hare. Sy het stringe en stringe daarvan.

En dis hoekom ons dink tyd gaan vinniger verby as in die ou dae. Dis nie so nie, daar is net jaarliks minder sekondes in ʼn uur en dis die tyd-raper van ʼn meermin se skuld. As Einstein langer geleef en hom meer aan meerminne gesteur het, sou hy haar uitgevang het.

Dis dus haar skuld (en Einstein sʼn) dat ek nou eers weer by die blog uitkom. In ʼn mindere mate het dit dalk daarmee te doen dat ek redelik baie opvangwerk gehad het nadat ek teruggekom het van die twee weke waarin ek my storie wat weggeraak het, gaan soek het.😉

So ʼn storie wat begin kwyn, is ʼn ontwykende ding. Dis daar, maar weggesteek agter seesproei en misslierte, soms is dit net ʼn maanligstraal se flirtasie met ʼn nat rots.

In die huisie nie te ver van die suidste punt van Afrika af nie, sit ek en fynkam wat reeds geskryf is om te probeer agterkom wat nog geskryf wil word. ʼn Paar keer moet ek terugstap op spore, verdwaal soms, ander kere vind ek nuwe roetes, maar na die voel-voel aan die begin, begin my karakters teruggekeer en kry die storie opnuut ‘n momentum van sy eie.

En toe ek weer my oë uitvee, die Donderdag voor ek die Sondag sou terugkom, besef ek die storie, die eerste draft in elk geval, is uitgeskryf. Die aanvanklike blinkigheid van die maanligstraal op ʼn flertsie seeskuim, het die oog na die naglug toe gelei, na die amper volmaan verstrik tussen sterresnoere. Dis nie klaar nie, maar dis daar – die ruwe skulp om die pêrel.

Die harde werk begin nou om by die pêrel uit te kom. En die nuwe vertwyfelinge ontwaak. Werk daardie deel? Is hierdie toneel geloofwaardig? Sal Aengel regtig so optree? Het ek my datums reg? Was Bredasdorp ʼn dorp in 1815 (nee, dit was nie – snippermandjie toe met ʼn paragraaf of twee). Ensovoorts en dies meer.

Ek hoop om die manuskrip binne die volgende maand of so afgerond en gereed te hê vir die keurders. Dan kom die wag en die volgende stel vrese. Gaan die keurders daarvan hou? Wat gaan hulle raaksien wat ek misgekyk het? Gaan hulle dalk iets miskyk wat die leser gaan raaksien? Sê nou. . . Daar is honderde sê nou’s.

Maar op die oomblik sien ek uit om van Maandag af in alle erns die voor-finale storie met my beiteltjie uit die klip te probeer kry.

Dryfhout het baie vreugdes gebring. Daar was die besoek aan die Strandveld Museum in Franskraal en die wonderlike S.D. Fourie wat ʼn hele uur aan my afgestaan het om my te vertel van die skatte wat in die huisie waar die hoofman van die Dyer-eiland gwano-rapers destyds oorgebly het, versamel is.

Die twee besoeke aan die Skeepswrak Museum in Bredasdorp was ʼn tog die verlede en onder water in, na ʼn wêreld waar die stormsee verwoesting saai en sporadies uitspoeg wat hy ingesluk het.

Daar was die verblyf in die kliphuisie langs die Breede rivier waar lemoengeure draal. Die twee weke op ʼn verlate kusdorpie waar die Khoikhoi se visvywers nog uitgepak lê na hoeveel eeue. ʼn Vroegoggend wandeling langs die klipbesaaide kus onder swaar wolke toe die wind gaan lê en die waters plat geraak het. Gesprekke met interessante mense. Nagvoëlgeluide wat ek nou nog nie kon identifiseer nie. . .

Elke boek is vir die skrywer spesiaal. Elkeen dra sy eie herinneringe met hom saam. Dis asof daar ʼn waas van geheuebeelde daaraan kleef, asof dit sy eie geur en kleur en reuk het. Dryfhout is my seemis en seeskat boek.

Wanneer die manuskrip oor ʼn maand of wat keurders toe gaan, begin ek skeppingsregte afstaan. Dan volg ek raad van buite en skaaf en poets vir die uitgewers. As die uitgewer tevrede is, het ek nie meer aanspraak nie en word dit uiteindelik julle sʼn.

Maar op die oomblik is dit nog net myne en koester ek die besitterskap jaloers, dwaal ek nog in die misterie daarvan rond. Ek groet Gys vir oulaas en neem swaar afskeid, maar iets aan hierdie vyf boeke sal altyd baie spesiaal vir my bly. Dit voel soms asof ek nou eers regtig ʼn skrywer geword het.

Strandveld museum


10 Responses to “Storie gesoek, meermin betrap”


  1. 1 Reinette Groenewald
    Oktober 20, 2010 om 7:34 vm

    Ai Channette, jy weet darem maar net hoe om iets so te beskryf dat ek voel ek was ook daar. Dankie daarvoor. Ek was maar nog altyd n’n dromer en die verhaaltjie van die Meernin was pragtig! Hoop jy het n heerlike daggie en ek kan nie wag vir die nuwe boek nie. Sterkte en groete. Reinette

  2. Oktober 20, 2010 om 7:44 vm

    Feeste!Nou kan ek regtig nie wag om met Meetsnoer te begin nie…sal my maanligstraal iewers langs die kus daar by Pearly Beach moet gaan opsoek om te lees want ek verdwaal tans self tussen my eie skryfwoorde…en dalk, net dalk, moet ek meer aandag aan my blog begin gee…♥

  3. 3 Carien
    Oktober 20, 2010 om 10:05 vm

    kan nie wag vir jou boek nie!!

  4. Oktober 21, 2010 om 1:55 nm

    Dankie, julle! Dit voel nogal eienaardig om een boek klaar te maak en die ander een het pas verskyn. Gewoonlik is daar ‘n groter gaping. Laat weet gerus wat julle van Meetsnoer dink.
    My uitgewer praat van Julie of Augustus as publikasie datum vir Dryfhout, maar ons sal natuurlik eers moet sien hoeveel fout is daarmee wanneer dit klaar is.

    • 5 Leandra Stander
      November 8, 2010 om 2:56 nm

      Ai, ek glo nie ek sal kan uithou tot Julie/Augustus vir Dryfhout nie!!!!
      Wat maak ek met myself intussentyd.
      Wou ook al graag die skryfkursusse bywoon maar dit val altyd aan die begin van ‘n maand wanneer ek nie verlof kan insit nie want is dan besig met maandeinde by die werk.

  5. November 8, 2010 om 3:13 nm

    Hi, Leandra! Ek sien jy het toe die antwoord gekry. Ek is bevrees dis die vroegste wat dit moontlik kan verskyn. Maar ek vreeslik bly om te hoor jy het Meetsnoer geniet. Dankie dat jy laat weet het.
    Dis jammer dat die skryfkursusse se datums jou nie pas nie. Ek dink jy sal dit baie geniet. Miskien eendag!

  6. 7 Roelien
    Desember 1, 2010 om 2:26 nm

    Hi Chanette,
    …..Julie/Augustus is nie die probleem nie; die ding wat my hartsnare raak, is dat Gys, Gertjie, Fortuintjie nou begrawe moet word ! ! Hulle was al amper “familie”… en net daarom is ek heeltemal bereid om te wag tot Julie/Augustus vir Dryfhout want dan kan hulle nog bietjie lewe vir n paar maande ….. Ek wonder ook soms wat jy gaan doen as jy omdraai by hul “grafte” ? Gaan jy nuwe “reeks” vir ons begin ? Nuwe karakters ? Gelukkig staan daar alreeds 4 van hierdie boeke op my boekrak en sal ek maar weer van vooraf daaraan lees as die “verlange” te erg raak. Verder wag ek in spanning op Dryfhout …….
    Voorspoed met die publikasie

  7. Januarie 3, 2011 om 7:05 vm

    Hallo Roelien. Ek is so jammer ek antwoord nou eers. 2010 het met ‘n verskriklike spoed afgesluit omdat ek nog voor die uitgewers gesluit het die eerste paar boeke Davel-reeks wat hierdie jaar heruitgegee word, moes redigeer.
    Vir my voel dit nie regtig of ek vir Gys, Gertjie en Fortuintjie begrawe nie. Vir bly hulle voortbestaan en gaan aan met hulle lewens al doen ek nie verslag daaroor nie.
    Die goeie nuus is dat ek Dryfhout vinniger klaargekry het as wat ek gedink het. Ek gaan hierdie week vir oulaas daardeur en as alles goed gaan lyk dit asof die boek reeds in Junie gaan verskyn. Sal julle op hoogte hou.
    Mooi bly en ‘n heerlike 2011 vir jou.

  8. 9 sd fourie
    Februarie 5, 2011 om 8:39 nm

    Baie dankie vir die Strandvel Museum wat toe in die kalklig beland. Kom kuier gerus weer. Meetsnoer geniet. Wag vir die nuwe boek – Voorspoed SD

    • Februarie 13, 2011 om 9:03 vm

      Ek wou jou nog laat weet van die blogstukkie, maar toe nooit so ver gekom nie. Daardie dag by die Strandveldmuseum saam met jou was vir my regtig baie spesiaal. Ek weet nie of ek iets spesifiek in Dryfhout gebruik het nie, maar dit het vir my ‘n wonderlike agtergrond geskep om uit te put. Baie dankie, SD en vir Jan ook. Julle doen wonderlike werk daar op Franskraal. Sal beslis weer eendag ‘n draai maak. En o ja, julle lekkerlees boek is in die bibliografie van Dryfhout en ek bedank julle in die outeursnota.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Oktober 2010
M T W T F S S
« Sep   Nov »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: