23
Oct
10

20-10-2010

 My verjaardag het hierdie jaar  op ʼn baie spesiale datum geval. Van die begin van die jaar af het ek so dan en wan gewonder hoe ek regtig ʼn spesiale dag daarvan kan maak. Ek het ʼn partytjie met ʼn tema oorweeg, ʼn ete saam met vriende en ʼn paar ander opsies ook. Maar die dag het op ʼn Woensdag geval en uiteindelik het ek besef ek sal nie vriende van heinde en verre in die middel van die week hier in Stanford kan kry nie.

Ek en Blom besluit toe om die dag ons eie te maak. En dit was die beste besluit wat ons kón geneem het. Die eerste oproep ter gelukwensing het voor ses die oggend gekom en van daar af was dit net een groot lekkerte.

Blom het my met geskenke bederf en my ook met ʼn verjaardagkoek verras. Dit was die eerste keer in vele dekades dat ek moes kersies blaas. Dis maar goed daar is nie brand-verklikkers op my stoep nie, want glo my, so ʼn groot klomp kersies gee ʼn enorme vlam af!

Daarna moes ek gou in Hermanus iets afhandel en toe begin ons toertjie in die Hemel-en-aarde-vallei.

Eers is ons Sumaridge toe om van hulle wyne te proe. Dis seker die wynplaas met die heel mooiste uitsig. Damme, wingerde en ver in die agtergrond, die see, is ʼn lus vir die oog. En hulle wyne is verruklik.

Daarna is Creation aan die beurt waar Kevin verduidelik van oesjare en koel klimate, van die uitsonderlike terroir van die vallei en die plaas spesifiek. En ons gesels en proe en proe en gesels vir veel, veel langer as wat ons beplan het. Uiteindelik dring hy aan dat ons gou kelder toe gaan waar ons bevoorreg genoeg was hulle nuwe Pinot Noir uit die vat te proe. Heerrrrrlik!

Na hierdie verlengde kuiertjie is daar nie nog tyd vir ander wynplase nie en vat ons die pad Greyton toe. Ek was so twaalf jaar gelede daar en het verlief geraak op die boomryke dorpie in die berge.  Ek was bang ek sou teleurgestel wees na soveel jare, maar die bekoring is nog net so sterk.

Onder lentegroen akkerbome eet ek ʼn Springbok carpaccio slaai reg uit die hemel uit en daarna dwaal ons die hele dorp vol. Ontdek hier ʼn winkeltjie met ʼn duisternis snuisterye, besoek daar ʼn chocolaterie wat die smaakkliere laat snak. Gaan besigtig die kroegie waar die Bells-advertensie van die sleutels wat deur die venster gehengel word, geskiet is. Koop ʼn spesiale botteltjie mosterd vir ʼn vriendin. Loer by ʼn oudhede winkeltjie in. . .

Wat ʼn wonderlike, dromerige, pret middag!

Mens sou dink dat ek op my ouderdom tevrede sou wees om na so ʼn heuglike dag halt te roep en besadig huis toe te gaan, maar moenie glo nie. Ek wou nie hê die dag moet ophou nie.

Ons is terug Hermanus toe en besluit toe op die Tapas restaurant waar daar selfs op die Woensdag ʼn musikant is. Vanweë die middagete kan ons net pik-pik aan die heerlike tapas-geregte en om presies 20h10 kry ek ʼn glas sjampanje terwyl die musikant op Blom se skelm versoek vir my Streets of London – een van my gunsteling liedjies – sing.

20h10 op 20-10-2010 was een van die uitsonderlikste oomblikke van my lewe en die dag so onvergeetlik as wat dit gedenkwaardig is.

 NS

Dankie aan almal wat boodskappe gestuur het op die vele kommunikasie wyses wat ons deesdae beskore is. Dit het sooo baie bygedra tot hierdie merkwaardige verjaarsdag.


6 Responses to “20-10-2010”


  1. Oktober 23, 2010 om 1:43 nm

    Klink of dit lekker was

  2. 2 Soretha Carroll
    Oktober 23, 2010 om 7:22 nm

    Hallo Chanette, jy beskryf die Vallei so wonderlik dat ek sommer lus is en vat die pad hier uit grys Gauteng soontoe … my siel smag na skoonheid, vrede en reen! Ek is bly jy het jou verjaarsdag geniet.

  3. 3 Ek is Anna
    Oktober 24, 2010 om 7:03 vm

    Baie laat, maar baie geluk en ek is bly jy het dit so geniet. Jy woon darem maar in ‘n pragtige deel van ons land – geniet dit, sommer vir my ook.

  4. Oktober 25, 2010 om 7:05 vm

    Dankie, julle!
    Ek is waarlik baie bevoorreg om in hierdie mooi deel van die land te bly. Omtrent elke keer as ek selfs net Hermanus toe ry, moet ek myself knyp om seker te maak ek droom nie.

  5. 5 anngert
    Oktober 29, 2010 om 9:55 vm

    Chanette, hierdie is ‘n baaie laat gelukwensing. Ek was in die Kaap, Durbanville, by my broer wat ook dieselfde dag as jy verjaar het. Kan sommer sien dit was ‘n heuglike dag. Mag daar nog vele jare wees. Annetjie


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Oktober 2010
M T W T F S S
« Sep   Nov »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: