24
Oct
10

Bubble en squeak

Toe ek die artikel oor my pophuisie in vandag se Rapport lees, onthou ek ook weer van ‘n Agterstoep-bydrae wat ek in 2005 vir Rooirose geskryf het.

Ek deel dit graag met julle:

 

“Bou die dêm ding,” sê ‘n wyse vriendin vir my laas jaar op 3 Januarie 2004. Dit was ‘n ontspanne aand met pasta en wyn onder die vyeboom van my gehuurde kothuis. Ontspanne, behalwe vir my nimmereindigende geteem oor die huis wat ek op my grondjie wil bou, maar waarvoor ek nie genoeg middele (en moed) had nie.

Die volgende dag maak ek vir die hoeveelste keer somme en neem vir die soveelste keer my huisplanne onder die loep en vir die duisendste keer besef ek: Berus of bite the bullet – al weet jy die kanse is uitstekend dat jy in die proses ook in die stof kan byt. Ek klem toe die koeël stewig tussen my effe stomp tande vas en bel vir Nicholas, die plaaslike bouer. “Wanneer kan jy afsteek?” vra ek en skrik my oor ‘n mik toe hy sê: “Môre.”

My besluit om eienaar-bouer te speel, was nie ligtelik geneem nie. Dit het êrens langs die pad van planne laat optrek en pryse uitwerk, gebeur. “Ek het regtig potlood skerpgemaak, mevroutjie,” moes ek van die een boukontrakteur na die ander verneem terwyl hulle (volgens my) astronomiese bedrae voorlê.

Maar die potlode se skerpte en die omvang van my beurs was net nooit wiskundig versoenbaar nie. Die puntjie het waarskynlik by paaltjie gekom toe die laaste boukontrakteur, heelwat dieper in sy middeljare as ek, vir my sê hy sal maar weer (sug) aan sy pryse gaan werk – hy kan nie toesien dat ‘n ‘blondedingetjie’ so op haar eie sukkel nie. Die blondedingetjie het net daar en dan by die sogenaamde bakkiebouers aangeklop vir pryse – en bietjie respekte.

Ek het nie die vaagste benul gehad dat ek my so vir die senutergendste, angswekkendste en bevredigendste vyf maande van my lewe inlaat nie. ‘Vrou-alleen’ met agt sub-kontrakteurs en ‘n kruik wat teen ‘n ontstellende tempo leegloop. En ‘n hele dorp wat my vordering dophou met verskillende grade van ongeloof, verkneukeling en skeptisisme. Maar veral belangstelling en ondersteuning.

Die leerskool van die eienaar-bouer se sillabus strek wyd. Sommer vroeg-vroeg besef ek byvoorbeeld dat om ‘n deur te koop, ook nie perdekoop is nie. As jy ‘n deur bestel moet jy weet of hy binnetoe of buitetoe oopmaak, ‘n drumpel moet hê of nie, ‘n raam óók koop en handvatsels, skarniere en skuifslotte is nie ingesluit nie. Ek vind uit ‘cavity walls’ word met staalvlindertjies aanmekaar gewroeg, wat ‘weepholes’ en ‘n ‘purlin’ is. Waar om Spaansriet te kry en die droogste bakstene – waarvan daar altyd ‘n skaarste is. Ek worstel deur ten minste sewe verfmengsels voor die kleur my min of meer aanstaan, lê self glasklippies tussen teëls en neem die verfkwas op.

En dan is ek nog puntenerig en eiewys boonop. Dit alles begin sy tol vroeg-vroeg al eis. “Jý, is deesdae soos bubble’nsqueak,” laat hoor ‘n hulpvaardige vriend een oggend toe hy pale waarvoor ek al drie weke wag, kom aflewer. “As jy nie bubble oor wat reg gaan nie, dan squeak jy oor wat verkeerd gaan.”

Die laaste twee maande is een lang uitgerekte squeak. ‘n Dak wat oorgedoen moet word omdat dit dwarsdeur die kwesbare houtvloer van my loft tot op die ewe kwesbare onderste vloer inreën, jaag die desibels van die ge-squeak op tot angswekkende hoogtes. Dit ontaard in ‘n ysingwekkende gil toe my kaapenter verdwyn en raak feitlik onhoorbaar toe ek, nadat die deure gehang is, agterkom twee van my pragtige Happy-doors se kosyne is verkeerdom ingebou en moet uitgekap word. My ge-squeak val egter verstommend dikwels op simpatieke ore. Die bestuurder van die boumateriaalwinkel sal ek persoonlik nomineer vir sainthood as ek ooit die geleentheid kry. Nicholas verdien ‘n medalje. Die plommer en die lektrisjen en die taailer ook.

Vriende en vreemdelinge bied ondersteuning en troos, raad en bystand. En natuurlik goedbedoelde kritiek. Die gaping vir die trap lyk darem baie klein? Is jy seker jy wil jou huis daardie kleur verf? Is die skoorsteen nie bietjie té skeef nie? Lyk bietjie soos ‘n krematorium (met verwysing na my braaiplekkie). Hoekom het jy nie eerder dit gedoen of dat, of so beplan of sus nie?

Op 11 Junie 2004 trek ek toe uiteindelik in my eie pophuisie wat met soveel bloedsweet, maar ook baie hulp en hope genade, op die oewer van die Kleine rivier tot stand gekom het. En ja, my huis is krom en skeef en besonder geel. En die braaiplek prikkel nou nie juis mens se sin vir komposisie nie. Die tydelike trap moes reggetimmer word om permanent te word omdat die geld opgeraak het (en die spasie te knap was). Daar is nou nog nie deure voor my klerekaste nie en die nat hout wat een van die vele kaapenters vir my kombuiskaste gebruik het, trek los. En … en … en …, maar ék het uiteindelik tuisgekom. Ten spyte van. As gevolg van.

Baie van die bou-verwante insidente het intussen vergete geraak, maar ek sal altyd onthou wat die vreemdeling in ons plaaslike kuierplek gesê het toe hy hoor ek gaan eienaar-bouer speel. Hy het my op en af gekyk. “You, girl,” seg hy, “might not have a lot in the way of t*ts, but you’ve got b*lls.”

Sela.


4 Responses to “Bubble en squeak”


  1. 1 Ek is Anna
    Oktober 24, 2010 om 5:13 nm

    Ek is geneig om saam met die vreemdeling in die kuierplek te stem. Huisbou sit beslis nie in enige man se broek nie, wat nog ‘n vrou s’n. Tog klink dit vir my asof jy die stryd gewen het en ek hoop jy woon vir baie jare, baie gelukkig en gemaklik in jou pophuis.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Oktober 2010
M T W T F S S
« Sep   Nov »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: