07
Nov
10

Die Daveltjies kom weer!

Die afgelope week het ek die wonderlike nuus gekry dat die Davel-reeks heruitgegee gaan word – in groter formaat en elkeen gaan ʼn splinternuwe tabberdjie kry. Die konsep-voorstelle vir die nuwe omslae is pragtig. Ek is baie opgewonde daaroor. Hieronder gebruik ek nog die ou omslae.

Sedert die Daveltjies onbekombaar geword het, het ek gemiddeld een keer per maand, maar soms sommer meer as een keer per week navrae gekry oor wanneer hulle weer beskikbaar sal wees. Aanvanklik sou hulle hierdie jaar die lig gesien het, maar dis nou bevestig dat hulle volgende jaar gaan gebeur!

Hulle sal een per maand in volgorde verskyn, naamlik:

Tamara – Mei 2011

Willemien – Junie 2011  

Annabella – Julie 2011

Deborah – Augustus 2011

Isabelle – September 2011

Maryn – Oktober 2011

Fleur – November 2011.

Vir die van julle wat nie bekend is met die Daveltjies nie:

Dis ʼn reeks van sewe liefdesromans wat in verskillende historiese tydperke afspeel vanaf 1899 tot 1938. Elke boek gaan oor een van die formidabele en eiewyse Davel-vroue. Die aanslag is lig en as jy hou van tragiese verhale oor hoe swaar die Afrikaners gekry het, is die reeks nie vir jou nie. Ek dink daar is genoeg stories waarin ons verlede as agterlik uitgebeeld is.

Tamara het die ding aan die gang gesit in 1999 toe die Anglo-Boereoorlog herdenk is en my uitgewer my gevra het vir ʼn liefdesverhaal wat in daardie tydperk afspeel.

My eerste reaksie was o, genade, nee toggie. My matriekgeskiedenis het ver in die verskiet gelê.  Ek kon my ook nie indink dat die vae beelde wat ek gehad het van omies met bandoliers oor hulle boeppense en skeefgetrapte velskoene aan hul voete, vreeslik passievol kon raak oor die uitgedyde tantes wat vroom onder kappies uitgeloer het nie.

Tog het ek na baie gewroeg en bloedsweet oor die opdrag, besef dat dit ʼn heerlike uitdaging is.  Ek het ook besef dat die mense destyds nie net dowwe beelde op sepia foto’s was nie, maar mense wat asemgehaal het soos ons, en liefgekry het soos ons. 

Op ʼn dag het ek Tamara Davel net voor my sien staan met haar lang blonde hare en vurige blou oë, sweep in die een hand en roer in die ander.  Ek het haar op haar perd, Tibbie, oor die aarde sien skeer, en voor haar spieël sien sit waar sy haar hare by kerslig uitborsel. 

Die gevolg was ʼn boek met die naam van Bittersoet Wals wat in 1999 verskyn hetIn 2005, meer as ses jaar nadat Bittersoet Wals die lig gesien het, het Lapa Uitgewers my genader om die boek weer uit te gee.  Ek was natuurlik in my noppies – totdat hulle bygevoeg het hulle wil ook ʼn vervolg hê.

Ek was nie seker of ek lus was om weer van voor af my gebrekkige geskiedeniskennis op te knap en van nuuts af navorsing te doen nie, maar toe dink ek aan Mientjie, Tamara se niggietjie wat saam met haar in die konsentrasiekamp beland het.  En ek wonder.  Sê nou Mientjie word groot met ʼn haat vir die Engelse oor alles wat sy moes deurmaak in die konsentrasiekamp.  En sê nou sy voel baie sterk oor die Tweede Taalstryd wat destyds gewoed het.  En sê nou sy besluit sy wil ʼn betekenisvolle rol speel in die stryd om Afrikaans as taal erken te kry en dit haar lewensroeping maak.  En dan gaan staan sy en raak verlief op ʼn Ier.

Dit was ʼn versoeking wat ek nie kon weerstaan nie. 

Ek was besig om aan Mientjie, wat intussen natuurlik groot en Willemien geword het, se verhaal te werk toe ek weer begin wonder het.  Ek het gewonder wat van Annabella en Deborah, dis nou Tamara se dogters, gaan word.  En van Ryk Ruben Gould se seuns wat deur Willemien opgepas word.  Sou nogal sweet gewees het, dag ek toe, as ʼn Davel en ʼn Gould tog maar uiteindelik trou. 

In ʼn oomblik van waansin noem ek toe vir my uitgewer dat ek so wonder oor die kinders en toe sê sy vir my:  Maar vind uit.

Die gevolg was Annabella en Deborah se stories.  En terwyl ek so aan Deborah sit en skryf, wonder ek oor Willemien daar in die vreemde en wat van haar dogter Isabelle sou geword het.  Intussen het Annabella en Deborah ook ʼn tweelingboetie en -sussie ryker geword en toe wonder ek nog verder oor Maryn en Christiaan ook.

Die uiteinde van die saak is hierdie sewe boeke oor die sewe eiesinnige Davel-vrouens.

Al sewe raak dolverlief op hulle helde en hulle grootste behoefte is om met hulle droomman te trou, maar nêrens gee hulle dit prys wat van hulle Tamara of Willemien of Annabella, Deborah, Isabelle, Maryn of Fleur maak nie.

Die Davel-reeks is allereers bedoel om vrouens in ʼn ligter leesluim te vermaak, te laat ontspan en te help ontvlug.  Maar dis nie heeltemal al nie. Eers nadat ek terugvoer van lesers gekry het, het ek besef die Daveltjies  gaan oor hoe die vroue hulle bemagtig deur hulleself te wees.  My Davel-meisies glo hulle hoef nie prys te gee wie en wat hulle is nie, maak nie saak in watter tydvak hulle leef nie.   En dat hulle mans verdien wat hulle werd is.

Ek het die boeke so probeer skryf dat elkeen op hul eie kan staan en buite volgorde geniet kan word.  Ek dink egter dat dit tog wel meer leesplesier bied as die reeks in volgorde gelees word of ten minste dat Tamara eerste en Fleur laaste.

Maar kom ons kyk waaroor die stories kortliks gaan.

Tamara speel tydens die Anglo-Boereoorlog af (1899 – 1902) en die romantiese vraag in dié boek is: Wat gebeur as twee mense wat grootgemaak is om te glo dat hulle broer en suster is, mekaar liefkry en teen die agtergrond van die chaos van oorlog moet probeer uitvind hoe sake inmekaar steek?  Tamara word in die opeenvolgende boeke die matriarg wat steeds ʼn rol speel in die lewe van elkeen van die Davel nageslag en daarom is dit vir my so belangrik dat Tamara eerste gelees word.  Dit skep die agtergrond, ook op psigologiese en emosionele vlak, vir die res van die reeks.

Willemien speel af in 1909.  Soos ek gesê het, is sy Tamara se broerskind en die taalstryd speel ʼn sterk rol. Die romantiese vraag hier is: Wat gebeur as ’n vrou, wat ’n konsentrasiekampkind was en wie se hele familie feitlik deur die Engelse uitgewis is, verlief raak op ’n Ier? En as sy boonop ’n stryder vir die taal is en haar liefde vir die man verg dat sy moet besluit of sy Ierland toe sal trek?

Annabella is Tamara se oudste dogter en haar verhaal speel af in 1922/1923.  Die boek het die verkryging van vrouestemreg as tema. Die vraag hier is: Wat gebeur as ’n vrou twee groot passies in haar lewe het (stemreg vir vroue en haar musiekstudies) én sy moet boonop kies tussen twee uiteenlopende mans? Die een is in ’n posisie om die saak van vrouestemreg te bevorder en die ander een’n briljante violis wat haar hart in die holte van sy hand hou, maar vrede het met vroueregte.  En dan is hy nog boonop ʼn uitlander van onsekere afkoms.

Deborah speel af in 1923/1924.  Tamara se middelste dogter is buitengewoon intelligent en ietwat van ʼn wildewragtig. Deborah wil met alle geweld ʼn argeoloog word, maar hoe kry ʼn vrou dit in daardie jare reg om haar op dié terrein te begeef wat pertinent vir mans uitgesonder is?  En wat gemaak as sy vermoed dat die man wat sy liefkry, argeologiese skatte steel en verkwansel vir eie gewin?

Isabelle is Willemien se dogter en die verhaal speel af in 1932.  Isabelle is ʼn opstêrs Ierse gravinnetjie met ʼn passie vir skilder. Maar sy die verantwoordelikheid van haar gravinskap rus swaar op haar, veral toe sy besef dat haar titel bepaal met wie sy mag trou. En des te meer toe sy verlief raak op ʼn bywoner, wat klei op hul plaas in Suid-Afrika uithaal.

Maryn, Tamara se jongste dogter, is in 1933 ʼn oujongnooi en nie veel meer as ʼn konfytkokertjie in die oë van die eienaar van die laventelplaas La Lavende nie. Maar in ʼn tydvak waar die Depressie oral voelbaar is, moet sy help om Bergendal vir die Davels te red uit die kloue van die einste laventelman wat agter hulle lemoenboorde se bloeisels aan is – selfs al is hy die man wat haar bedwelm met sy kerslelie oë.

Fleur is nie ʼn Davel nie, maar ʼn Malherbe met suiwer Hugenotebloed in haar are.  In 1938 erf sy ʼn verwaarloosde wynplaas en ʼn groot hoop skuld van haar pa, maar sy weet min van wynmaak en niks van wingerde nie. En dan kom Christiaan Davel (Tamara se seun) in die vallei aan. Hy weet alles van wingerde en wyn af en laat haar hart skoon op galop gaan, maar hy is ʼn Transvaler en boonop lief vir iemand anders. 

In Fleur word al die drade van die karakters in die Davel-reeks bymekaar getrek.  Daarom is dit vir my belangrik dat di¾ boek nou weer vir laaste gehou word.

Die laaste ses boeke het ek oor die tydperk van ʼn jaar geskryf  Van September 2005 – Augustus 2006.  Ek het Davels geëet, gedrink, gedroom, ge-alles.  En begin huil toe ek Fleur, die laaste in die reeks, na my uitgewer toe gestuur het.

Die sewe sakke sout wat ek saam met die Davels van Bergendal opgeëet het, was seker van die lekkerste skryfwerk wat ek tot dusver gedoen het. En daarom is ek so verskriklik bly dat hulle gaan herleef.

Ek hoop die sewe wederstrewige vrouens wat my lewe so verryk het, is vir lesers ʼn plesierige leeservaring.  Maar ek hoop ook die Davel-meisies bied, bo en behalwe vermaak, ontspanning en ontvlugting, ook iets meer vir die leser. Nes dit vir my ook heelwat aspekte van die lewe in beter perspektief geplaas het omdat ek in my navorsing ons vroue se psigologiese geskiedenis hier te lande soveel beter leer ken het.


11 Responses to “Die Daveltjies kom weer!”


  1. 1 Son
    November 7, 2010 om 7:42 nm

    Ek kan nie wag om die reeks onder oë te kry nie!🙂

  2. 2 Laurika
    November 8, 2010 om 12:42 vm

    Sjoe dit is nou darem maar baie goeie nuus! Ek is baie opgewonde en kan nie wag om die hele reeks te besit nie.

  3. 3 Lelani
    November 8, 2010 om 8:38 vm

    Sekondeer! Sal beslis ‘n ogie oophou vir hulle!

  4. 4 Wendy
    November 8, 2010 om 9:14 vm

    Goeie Dag

    Baie bly om dit te hoor!!! Gaan daar ‘n tipe van bekendstelling wees vir die Daveljies? Sal ons dit by Tygerfront se uitgewerswinkel kan kry?

    Groete
    Wendy

    • November 8, 2010 om 9:21 vm

      Hallo, Wendy! Lekker om van jou te hoor. Ek weet jy was nog altyd baie lief vir die Daveltjies. Jy het so mooi briefie destyds vir my geskryf. Ek weet nie van ‘n bekendstelling nie aangesien dit herdrukke is, maar sal julle definitief op hoogte hou as dit sou gebeur. Dit sal beslis by Lapa se Kaapse uitgewerswinkel by Tygerfront beskikbaar wees. Waarskynlik van Mei af.

  5. November 8, 2010 om 9:15 vm

    Ek is so bly julle is saam met my opgewonde!

  6. 7 Madele
    November 11, 2010 om 8:52 vm

    Dis ongelooflike nuus! Ek kan nie wag om die nuwe omslae te sien nie, ook nie om al 7 Davel-boeke uiteindelik te besit nie. Dit was ‘n lang wag, maar die moeite werd. Baie geluk met die herdruk Chanette! Die Davel-reeks sal altyd een van my gunsteling reekse bly!

  7. 8 Heidi
    November 11, 2010 om 1:58 nm

    Ek het seker die reeks al drie keer gelees( en geniet dit elke keer) en sal seker nog drie keer. Dit bly vir my uitsteken. Ek hoop net nie daar word te veel aan die omslag verander nie. Hulle het al een geword met die karakters, van Tamara met haar long blonde hare tot met Maryn met haar pragtige “rooi” hare. Dalk moet die helde na vore kom.

  8. Januarie 3, 2011 om 7:19 vm

    Madele en Heidi, jammer ek antwoord nou eers. Dit jaar het net teen ‘n yslike tempo ten einde gespoed en ek kon nie oral byhou nie. Ek is ook nuuskierig oor die omslae, maar sal maar moet wag en sien wat die uitgewer besluit.
    Ek het juis in Desember deur die eerste vier boeke gegaan. Ek het uiteindelik nie geweldig baie geredigeer nie, hoofsaaklik hier en daar’n bietjie Engels gesny en in Afrikaans oorgeskakel.
    As ek toestemming kry, sal ek hier op die blog kom wys hoe die nuwe Daveltjies lyk sodra die eerste omslag gefinaliseer is.

    • 10 Rina Knoetze
      Februarie 7, 2011 om 11:41 vm

      Chanette,
      Ek het die afgelope week die eerste keer jou werke onder hande en oog gehad, naamlik die nimlike Davels. Vir ‘n week dag en nag gelees terwyl alles om my vergaan! Baie dankie!!! Ek is so bly dit word herdruk sodat ek dit kan aanskaf om weer te lees! Wat van nog ‘n reeksie,veral van die nimlike Christiaan en die Davelnaam se voortbestaan. My fantasie kom nie by jou kinkels en kabels uit! Sien uit daarna on jou ander boeke ook te lees

      • Februarie 13, 2011 om 9:14 vm

        Hallo Rina
        Ja die Daveltjies was vir my baie spesiaal, maar ek weet nie of ek nou nog reg aan hulle sal kan laat geskied nie. Hulle is vir my ‘n lekker afgeslote geheel en as ek verder moet skryf aan hulle wel en wee, sal Joshua moet doodgaan aangesien hy soveel ouer as Tamara is en dit kan ek nie oor my hart kry nie.
        Die ander rede is natuurlik dat ek nou spanningsromans skryf. Lees gerus die Gys-reeks wat begin met Springgety en gevolg word deur Fortuin, Boheem en Meetsnoer. Die vyfde en laaste boek, Dryfhout, kom in Junie uit.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

November 2010
M T W T F S S
« Oct   Dec »
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
2930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: