21
Nov
10

Snoere wat nie gemeet kan word nie.

Toe ons oor die berg kom, jaag die wind stormsterk teen ons vas. Valsbaai is die ene skopwater en jobbelsee. Voor my geestesoog sien ek sambrele soos seilskippies sonder roer die lug in vlie, mense wat teen die wind in beur om skuiling te soek en eetgoed wat klein projektiele word in die natuur se greep.

Ek weet hoeveel moeite Marieta Nel van Lapa gedoen het vir die bekendstelling van Meetsnoer op die kaai by die Tyger Waterfront en nou dit.

“Dis beskut daar,” probeer Blom troos.

Ag, toggie, laat dit net beskut genoeg wees, stuur ek ʼn skietgebedjie Boontoe.

Dis die ding van skietgebedjies. Jy moet weet waarvoor jy vra. Toe ons in Bellville kom, is daar skaars ʼn bries. Op die kaai voor Lapa se Kaapse kantoor, besef ek ons gaan uitbraai op hierdie sonnige bloulug somerdag.

Aangekom, is dinge sommer onmiddellik aan die roer. In die winkel, langs ʼn toring Meetsnoere, wag twee lesers elkeen met ʼn boek in die hand. Hulle gaan bietjie vroeër moet loop en wil graag hê ek moet solank teken. Die joernalis van die Tygerberger staan kamera in die hand en aantekeningboekie gereed.

Ons is ʼn goeie twintig minute vroeg, maar mense kom reeds aan. Ek voel ʼn bietjie oorweldig en dan sien ek hulle. Eers vir Alta Cloete (Geur van genade), dan Kristel Loots (Sjokoladesoene).

My skryfsusters het my kom ondersteun! Nog kom groet. Wilna Adriaanse ( Vier seisoene kind), Nanette van Rooyen (Chinchilla), Dirna Ackermann (Die ander erfgenaam). Martie Muller kom stel haar voor. Die manuskrip wat ek help ontwikkel het, het pas boek geword, As die eland struikel.

Dan is daar die nog susters saam met wie ek al aan manuskripte gewerk het en nog werk. Karin Combrinck, Jeanette Stals en al die pad van Heidelberg af Ronelle Uys. Onthou die name. Een van die dae pryk dié ook op boeke!

Die Lapa-mense kom ook groet: Maritha Snyman en Suzann Prinsloo wat van Pretoria gekom het, Rachelle Greeff wat pas by die Kaapse kantoor aangesluit het.

Tussendeur probeer ek die pragtige meisiekind van die Tygerberger se vrae antwoord, maar telkens is daar nog ʼn bekende gesig, nog ʼn leser wat haar kom voorstel. Onder meer ʼn vriendin van Stellenbosch met wie ek per geleentheid in ʼn interessante gesprek beland het. Een waar die saadjie vir Meetsnoer se storie geplant is.

Dis oorweldigend om soveel bekendes en (voorlopig) onbekendes daar te sien, maar heerlik.

My glas vonkelwyn met lemoensap is skaars halfpad gedrink toe ek na my sitplek wat onder ʼn sambreel hoog bo die feestelike tafels en ander sambrele uittroon. Die ou bene moet rek om oor ʼn blombak te klim tot by my gemakstoel waar die mikrofoon opgestel is. Ek kry my sit en kyk af na al die lieflike mense wat vir ʼn oggend lank iets tersyde gestel het om te kom luister. Vir ʼn baie kort oomblik voel ek soos ʼn koningin wat afkyk op haar onderdane, tot ek besef, nee, ek is die onderdaan. Hierdie mense is my koninginne. Dis vir hulle wat ek skryf.

Nou eers sien ek ook ʼn paar mans in die geledere. Sou hulle vrouens hulle saamgesleep het of is hulle ook lesers, wonder ek.

Marieta roep ons almal tot orde. ʼn Gelukstrekking word gedoen. Sy stel Maritha aan die woord en Maritha stel Suzann aan die woord. En dan is ek . . . ja. . . . aan die woord.

Aanvanklik voel ek te ver van my mense af, maar dan neem ʼn ander krag oor. Die een gebore uit my liefde vir wat ek doen. Stories maak. Ek kom skaars agter toe die Lapa-banier in ʼn plukkie wind omwaai, besef net vaagweg ek moet nou en dan wag vir ʼn vliegtuig om sy rigting oor ons koppe te kry. Ek praat oor my boek en oor my ma wat my nie die deur dié een kon bid nie. Ek praat oor my navorsing, oor my karakters. Oor Profeet Sias, oor Flint Fletcher en Raine Quinn. Oor Mart. Oor Gys en Gertjie. Ek lees ʼn stukkie voor. En dan is dit verby. Dag ek.

Ek word terug oor die blombak gehelp. In die winkel gekom, het die toring Meetsnoere ʼn goeie knou gekry. Ek gaan sit agter ʼn tafel en sien daar staan ʼn stewige ry mense, elkeen met ʼn heldergroen boek in die hand. Die vertrek druis van die gesels.

Elke naam wat ek voor in ʼn boek skryf is ʼn kleinnood. Hierdie Carien, Caroline, Catherine en al die ander, gaan wraggies my boek lees. Een van die mans staan ook nader. “Vir Gerald en Jeanette, asseblief. Ons gaan hom albei lees,” sê hy.

Ek teken tot my hand lam word, gesels tussendeur. Hoor onder meer van die leeskringe wat teenwoordig is, ook die oudste in die land.

Die tou dun effens uit en ek en Wilna kry kans om bietjie te gesels. Dan kom groet nog ʼn skryfsuster. “Ek is te laat, maar ek moes darem net ʼn draai maak,” sê Karin Brynard (Plaasmoord) en gee my ʼn stywe druk.

Ek teken verder boeke terwyl ek my verwonder oor die wonder van vriendskap, van susterskap. Na die laaste handtekening kom gesels Madri Victor by my. Sy het Meetsnoer die vorige aand klaar gelees. Ons gesels oor Sias, oor Mart. Veral oor Mart. En dan oor Fransien wat vir Flint Fletcher so op sy plek gesit het. . .

Marieta kom vra dat ek die res van die Meetsnoere teken vir die winkel.

Uiteindelik groet ons die laaste groet en kry padkos saam omdat ek nie kans gehad het om die heerlike versnaperings te geniet nie.

Blom besluit om oor Franschhoek terug te ry Stanford toe. Op pad, hou ons by die bessieplaas stil en gaan sit op die veranda. Ek bestel vir my ʼn glasie vonkelwyn met bevrore frambose in. Die Icebergs is in volle blom. Die berge blou. Die wingerde smarag getooi. Ek ruik iets soets en blommerigs, en dan ʼn ondertoon. Iets groen, mosserig en geheimsinnig.

Ek lig my glasie en klink dit teen Blom sʼn.

“Op Meetsnoer,” sê hy.

“Nee,” sê ek, “op my lesers. En my ander susters in al hulle gedaantes.”


7 Responses to “Snoere wat nie gemeet kan word nie.”


  1. 1 Marile Cloete
    November 22, 2010 om 7:26 vm

    Chanette, dit was heerlik om die oggend met jou te deel! En mense, julle moes darem daai koel houding gesien het toe die advertensiebord hier vlak langs haar meegee onder die wind se aanslag: “Oepsie.” Net dit. En praat rustig voort.

  2. November 24, 2010 om 6:29 vm

    Sal seker nie die einde van daai oepsie hoor nie! Maar dit was wonderlik om jou daar te hê, Marile. Dankie vir die moeite wat jy gedoen het om te kom. En ek hoop jy het darem al weer jou Meetsnoer wat jy daar vergeet het, teruggekry?

  3. 3 Marile Cloete
    November 30, 2010 om 9:37 vm

    Ek moes die storie van die Oepsie hier plaas op algemene aandrang van die publiek! :)Hy verdien om legendaries te word …
    Ek het my Meetsnoer baie gou gekry (danksy fb-kontakte en Elzebet se vriendelike hulp)en die gesin in ‘n naweekkrisis gedompel met my kan-nie-ophou lesery!

  4. 4 Ronelle
    Desember 2, 2010 om 7:46 nm

    Chanette
    Ek wil vir jou dankie sê vir die noem van my naam saam met julle grootes! Dis net nog meer inspirasie vir my om werklik te wikkel met my boek! Ek is amper klaar met Meetsnoer, maar is klaar hartseer, want ek kan nie dink daar is nie eintlik nog ten minste 300 bladsye van lekkerte oor om te lees nie, alhoewel ek brand om al die raaisels opgelos te hê! Dit is ‘n storie met soveel fyn beplanning en soveel diep kwessies dat ek kan glo dit neem jou maklik ‘n jaar om so ‘n boek gereed te hê. Baie dankie vir die onvergeeflike reise waarop jy ons as jou lesers neem. Dis gewoonlik ‘n verhaal wat lank by jou bly en jou nie gou los nie!
    Geniet die feestyd!

    • Januarie 3, 2011 om 7:00 vm

      Jammer ek antwoord nou eers. Die feestyd was nogal ‘n besige ene.
      Ek het dit so waardeer dat julle so ver gekom het vir Meetsnoer se bekendstelling! Ek is baie bly jy het die boek geniet. Ek hoop dit was enduit die geval.
      Dis lesers soos jy wat al die harde werk die moeite werd maak.
      Baie sterkte met jou skryfwerk in die nuwe jaar.

  5. 6 Lelani
    Januarie 24, 2011 om 8:24 vm

    Ek het Meetsnoer verskriklik geniet en die kykie wat jy mens gee binne die harte van mense wat deel is van sulke kulte is, ek dink, so akuraat dat dit my sommer die rillings gegee het. Uitstekende boek!

  6. Januarie 25, 2011 om 9:54 vm

    Ek is bly jy het Meetsnoer ook geniet, Lelani. Dis nogal ‘n gewaagde tema, maar veral noudat die bom daar naby Sutherland gebars het oor moorde wat gepleeg is deur twee mense wat lede is van ‘n oordeelsdagkultus, besef ek van voor af dat dit baie relevant is. Feite is natuurlik veel vreemder as fiksie en toe ek Meetsnoer geskryf het was daar ‘n hele paar goed wat ek in my navorsing raakgelees het waaroor ek my hande werklik saamgeslaan het. Dis die soort goed wat in fiksie as vergesog en onrealisties afgemaak sal word!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

November 2010
M T W T F S S
« Oct   Dec »
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
2930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: