03
Mar
11

Ek en Valiant en die Woordfees – 12 Maart

Ek kan nie mooi onthou presies wanneer dit was nie, maar dit moes vroeërig verlede jaar gewees het. Nog somer. Ek en Blom sit op rivierkant se stoep en probeer oor ’n glas wyn besluit wat ons gaan maak om te eet. Blom bly stil en ek kan sien hy luister na iets. Ek hoor ook.

“Iemand speel by die Stanford Arms,” sê ek.

Hy frons. Nou Blom is ʼn boffin op veral twee goed. Musiek en die voëllewe op die rivier. Eersgenoemde kom al van hoërskool dae en daar is min mense wat hom kan vasvra oor veral Rock- en Afrikaanse musiek. Die riviervoëls is onlangser, vandat hy die rivierboot, die River Rat bedryf.

Toe hy dus sê “Dis Valiant”, wil ek hom dadelik glo, maar Valiant? Op Stanford?

Dan onthou ek vaagweg die gerug dat Valiant en sy gesin Stanford toe getrek het.

Ons gee mekaar net een kyk voor ons opspring. Ek trek net ʼn kam deur my hare, sit lipstiffie aan en daar trek ons.

En sowaar as vet. Op die stoep van die Stanford Arms staan Valiant sielsalig alleen en speel en sing.

Ons was nie die eerstes daar nie, maar teen die tyd dat ons iets te drinke het, loop die plek vol. Mariana van ons befaamde restaurant Mariana’s kom sit by ons.

“Ek kon nie glo ek hoor reg nie,” sê sy. “Loop nog so met die honde en daar hoor ek hom!”

Dit was die begin van ʼn aand om te onthou. Blom moes terug huis toe omdat hy die volgende oggend vroeg mense op die boot moes uitneem, maar ek en Mariana sit. Ook nie waar nie, by die tafel reg langs Valiant se mikrofoon.

Gedurende ʼn ruskans kom sit hy by ons. Ons hoor dat hy en Lanelle inderdaad Stanford toe getrek het. Ek en Mariana vertel hom waar ons in die dorp inpas.

Valiant begin weer speel.

Die res van die mense begin uitdun. Ek en Mariana sit. En Valiant speel.

Dis nog net die eienaar en personeel. Ek en Mariana sit. En Valiant speel.

Hy vra ons wat ons nog wil hoor. Blue’s, uit een mond.

ʼn Heerlike aand word ʼn onvergeetlike ervaring.

Daarna het ek nog baie keer die voorreg gehad om hier op Stanford na Valiant te luister en met hom te gesels. Oor Stanford, oor musiek, oor boeke, oor skryf.

Toe Melt Myburgh my dus nooi om by die Woordfees op te tree en ʼn interessante fasiliteerder te kies, wonder ek dadelik of ek vir Valiant kan vra. Maar só goed ken ek hom ook nie. Ek wik en weeg, stuur vir hom ʼn boodskap op Facebook en is dan dadelik spyt. Die man is besig en hier kom lol ek met my dinge.

Maar Valiant stem in en, gentleman wat hy is, sê boonop dit sal vir hom ʼn eer wees. Wel, as dit vir hom ʼn eer is, is dit vir my ʼn wonderwerk dat ʼn lewende legende met my oor my boek wil gesels.

Die uiteinde is dat ons Saterdag 12 Maart in Stellenbosch se Protea Boekwinkel gaan gesels oor Meetsnoer. Oor profete en die oordeelsdag, oor die liefde en oor moorde. En waarskynlik oor ʼn hele klomp ander goed ook.

Ek hoop ek sien van julle daar!

MOORD, LIEFDE EN PROFETE Met Chanette Paul en Valiant Swart Valiant Swart gesels met Chanette Paul oor haar romantiese spanningsroman Meetsnoer. In hierdie nuutste toevoeging tot die Gys Niemand-reeks val meetsnoere soms in afgryslike plekke – veral in die skadu van die Oordeelsdag. Twee bekende en gewilde skrywers en kunstenaars met baie op die hart. 12 Maart 11:00 | Protea Boekwinkel | 50min | Gratis

www.woordfees.co.za


0 Responses to “Ek en Valiant en die Woordfees – 12 Maart”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Maart 2011
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: