16
Mar
11

Skrywers en boeke – Woordfees 2011

 Hierdie jaar was die eerste keer dat ek oorgeslaap en werklik die gevoel van die Woordfees beleef het. Wat ʼn voorreg! Ek kon uiteindelik net ʼn paar amptelike praatjies bywoon en het elkeen terdeë geniet, maar die lekkerste was die informele gesprekke wanneer ek skrywers en lesers raakgeloop en sommer net gesels het. 

Toe ek hierdie blog-pos begin skryf het, wou ek net so vinnige oorsig gee oor wat en wie ek beleef het, maar toe ek eers begin kon ek nie ophou nie. Ek het soveel wonderlik mense ontmoet en herontmoet, in soveel lekker gesprekke betrokke geraak en sommer net heerlik gekuier, dat dit ʼn dagboek in die kleine geword het. En hopeloos te lank vir een pos. Ek vat dus een dag op ʼn slag en gaan gruwelik name-drop, bloot omdat mens net soveel ‘names’ op so ʼn fees van woorde en woordmense raakloop. Waar ek boeke se titels noem, is dit gewoonlik net een van vele ander. Die foto’s is meesal wat ek van die Net af kon trek. Ek was te bedrywig om te onthou om self te neem!

Donderdag 10 Maart

Toe ek Donderdagmiddag in my Bantampie sonder lugverkoeling by my gastehuis op die snikhete Stellenbosch aankom, was my eerste instink om net onder ’n stort te kan inklim. Wat ’n heerlike ervaring om in ’n koel spierrewitte kamer in te stap met alles wat ’n mens se hart maak kan begeer tot jou beskikking. Insluitende ’n stort wat behoorlik water gee.

 Skoon en opgekikker durf ek toe die Dorp aan. Ek is nie te vrot met rigting nie, maar ek moet erken Stellenbosch se uitleg is my een oor. Selfs die Google kaart wat ek uitgedruk het, help nie veel nie en die drukte in die lieflike, maar nou strate (dikwels sonder straatname) vererger die saak natuurlik. Bloot per toeval kry ek egter ’n parkeergaatjie en haas my na die boektent vir Nadia en Helene de Kock se Van diep water tot gypsydanse-gesprek met Madri Victor. Dis ʼn heerlike bonus toe ek op pad daarheen skrywersvriendin Alta Cloete (Geur van genade) raakloop wat ook daarheen op pad is.

In teenstelling met die vorige keer, is die boektent hierdie jaar heerlik lugverkoel en kon ek regtig konsentreer. Die drie van hulle praat oor sake wat my baie na aan die hart lê. Onder meer die marginalisering van ontspanningsfiksie en spesifiek romantiese fiksie deur die literêre kontingent. Ongelukkig is die tyd beperk en kon die dreigende debat nie verder gevoer word nie. Hmm, het nét my tande begin slyp. . .

Daarna kuier ek en Alta ’n uurtjie en gesels uitgehonger oor boeke, manuskripte, woorde en skryf. Is daar iets anders om oor te praat? Natuurlik, maar nie op die Woordfees nie. Deborah Steinmair (Marike se laaste dans) vir wie ek laas jaar by die Kalfiefees ontmoet het, stap verby en ons groet, gesels bietjie voor sy moet verder. Alta het vir nog ’n praatjie bespreek en ek alleen stap deur die nou stiller en koeler strate, ontdek ’n restaurantjie waar ek onder ’n lemmetjieboom ’n glas wyn drink en heerlike tuna tartare eet – en oë toeknyp vir die pryse. In die agtergrond hoor ek ’n gelag en gepraat by De Vette Mossel. Ek onthou dat nog ’n skrywersvriendin, Karin Brynard (Plaasmoord) saam met ander skrywers daar optree en toe ek hoor die vertoning is verby, stap ek daarheen in die hoop om Karin te gaan groet.

Karin is nêrens te tussen die geroesemoes en braaivure waar snoeke sis en potjies babbel te vinde nie, maar vir Johan Bakkes (Nou’s ons in ons donner in) kan g’n mens miskyk nie. Ek stap nader om te vra waar Karin is, word herken, in ’n beeromhelsing gegroet en aangesê om ’n glas wyn saam te drink al is Karin pas weg. Weier is nie ’n opsie nie.

Naomi Bruwer, wat ek as LitNet se fotograaf leer ken het, is by en sê sy het ’n foto van my by die Lapa Prysuitdelingfunksie ge-tag. Ek sê ek het gesien en uit ydelheid ge-untag want ek lyk so vreeslik vet en slukkende. Ons lag daaroor en besluit dis omdat ek so lank en sy so kort is. Die hoek waaruit sy neem kan my nie vlei nie. Sy onderneem om in die vervolg te wag dat ek sit voor sy kiek.

’n Glas wyn word in my hand gedruk, ek beland langs Harry Kalmer (Die man met die dertien kinders) en word voorgestel. Vir Dana Snyman (Anderkant die scrap) het ek darem al so paar keer raakgeloop. Opgerui deur Helene de Kock se ontsteltenis omdat ons as ontspanningsfiksie skrywers soos ongewensde, effens dom, stiefkinders behandel word (my interpretasie, nie haar woorde nie – sy is baie meer diplomaties), is ek en Harry sommer gou in gesprek hieroor. Ek erken ek het nog nie van sy boeke gelees nie, maar so nou en dan een van sy rubrieke lees. Hy erken op sy beurt half verskonend hy weet wraggies nie wie ek is of wat ek skryf nie. Soos ’n ware jentilman luister hy na my betoog en vra dan kalm wat is die onlangsste boek wat ek gelees het. Tameletjie vraag, want ek moet erken dis The Elegance of the Hedgehog van Muriel Barbery, wat nou nie heeltemal ontspanningsfiksie is nie. Ons begin oor die boek gesels – kom agter ons het dit albei baie geniet, maar ek is kwaad vir die skrywer oor die aweregse slot. Harry vra waarom, ek verduidelik hoe dit vir my nie storie-sin maak nie. Harry luister, stem nie saam nie en ons kom ooreen om mekaar ons opinies te gun. Harry moet gaan en ons groet met wedersydse respek en nuwe insigte oor dinge wat ons na aan die hart lê: boeke, lees, skryf, medeskrywers. . .

Net toe ek ook op pad is, word die een vrag snoek en mosselpot en calamari en wie weet watter smulgeregte nog, op die tafel uitgepak en ek word aangesê om saam te eet. My ete onder die lemmetjieboom was gelukkig lig, dus peusel ek hier en daar saam aan die kos wat so heerlik hier onder my neus Weskus-geure uitasem.

Johan plak hom langs my neer, die ene armbande, hoed en groot lag.  Hy vertel hoe trots hy is op sy ma, Margaret Bakkes, wat pas vereer is vir haar werk. In die stilligheid onthou ek die wonderlike vrou met wie ek so paar jaar gelede heerlik gesels het by Tafelberg se eeuvieringsfunksie. Met Johan in die omgewing, aangestig deur Dana, werk lagspiere oortyd. Ons kom agter ek is presies een dag ouer as Johan. Maar daar is prettiger dinge as die ouderdom wat mens inhaal.  ’n Klomp maskers word uitgeruk en elkeen moet een oor die kop trek. ’n Spul geraamtegesigte vervang ineens die bekende skrywergesigte om my. Ek ys om te dink hoe wreedaardig my eie kopbeengesig moet lyk veral toe Naomi begin foto’s neem, maar die pret oorskry enige ydelheid.

Uiteindelik begin die dag sy tol eis en ek ry met ’n getekende boek van Johan in my handsak en ’n glimlag wat nie kan of wil ophou nie, terug gastehuis toe. Vir ’n hele laatmiddag en aand, was ek tussen my mense. Het woorde gevloei – soms opruiend, soms ernstig en intellektueel, en dikwels vol terg en lag.

Ek raak aan die slaap met my bril op en my geskenkboek in my hande, word later wakker haal die bril slaperig af, sit die boek op die bedtafeltjie en glimlag steeds toe ek weer in die slaapput wegval.


0 Responses to “Skrywers en boeke – Woordfees 2011”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Maart 2011
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: