18
Mar
11

Skrywers en boeke – Woordfees 2011 vervolg

Vrydag 11 Maart

Vrydagoggend begin met ’n heerlike ontbyt – ’n luukse vir my. Gewoonlik bestaan my ontbyt uit eindelose koppies koffie en ’n beskuit (of, moet ek erken, ’n paar Romany Creams – een van my vele swaktes).

Ek durf Stellenbosch se labirint dapper aan en verdwaal weer, maar na ’n paar koerslose draaie vind ek darem weer ’n parkeergaatjie. Daar is tyd vir ’n drinkding by die watergat tussen die Sasol Kunsmuseum en die boektent waar ek Kerneels Breytenbach en André le Roux raakloop net voor hulle moet aanmeld vir ’n televisie onderhoud. Melt Myburg kom sê gou hallo en verder drink ek net die wemeling van mense en gesprekke in.

Skuins voor tien klok ek by die Erfurthuis in vir die praatjie Misdaad Betaal waar Karin Brynard, Piet Steyn en Piet (PJ) Haasbroek optree. Daar is tyd vir ’n kort geselsie met Alida Potgieter van Human en Rousseau asook Etienne Bloemhof van Tafelberg en sy vreeslike mooi vrou, Susan.

Koos Kombuis, die fasiliteerder en die drie skrywers stap op die verhoog. Geweld, misdaad, die land, misdaadfiksie, politiek en wat nog kom onder die loep.

Piet Haasbroek is kwaad, dit kan mens nie misluister nie. Hy onderskei tussen geweld en misdaad, vertel hoe SA se misdaad ’n vulletjie is in vergelyking met plekke soos Brasilië. Spekuleer egter waarom misdaad in SA so gewelddadig is in vergelyking met die res van die wêreld. Hoekom, vra hy, het ’n misdadiger in SA ’n sestienpondhamer nodig om ’n tenger vroutjie van oor die tagtig te vermoor?

Piet Steyn verduidelik hoe sy jeugjare in Odendaalsrus vir hom die ideale bron was om misdaadfiksie skrywer te word. Hy vertel van die dorp se goudstormloop en die armoede, die geweld, die ruheid van die mense wat hulle fortuin kom soek het. Hy vertel nié dat sy vrou al sy handgeskrewe werk oortik nie😉.

Karin Brynard verduidelik hoe joernalistiek haar op die pad van Plaasmoord gehelp het, hoe sy doodsveragtend navorsing vir haar volgende boek doen. Hoe sy selfs saam met sekuriteitsmense na gesteelde motors in Soweto gaan soek het, hoe dit voel om ’n koeëlvaste baadjie van oor die 60kg te dra.

Na die praatjie is daar net tyd vir ’n vinnige hallo aan Karin voor sy toegesak word en ek moet kleedkamers toe draf. Toe ek daar uitkom, is die skrywers reeds weg. En ek wou nog vir Piet Steyn gaan hallo sê. Hom in lewende lywe ontmoet, pleks van net per e-pos toe ek ’n onderhoud vir Crime Beat met hom gedoen het oor Bottelnek. Maar nou-ja. . .

Volgende op die lys is Dis my storie dié waar Amanda Botha gesels met Irma Steyn, Mariël le Roux, Anzil Kulsen, Christine Barkhuizen-Le Roux en Karin Brynard. Die tent is gepak van die leeskringlede en natuurlik almal wat net wil luister as skrywers praat. En wat ’n voorreg om te hoor oor hulle boeke en hoe hulle skryf. Die een interessanter as die ander.

Ek het skaars tyd vir die eetdingetjies waarmee die gesprek afgesluit word voor ek my Paarl toe moet haas om te gaan boeke teken by Bargain Books. Die aanwysings klink redelik maklik. N1 Paarl toe, tweede afrit en jy is by die Paarl Mall. Hmm. Dis nou as mens die N1 kan raakgery kry. Wat ek toe nie by magte is om te doen nie. Ek beland op die R101, kry die Paarl, maar kom heel aan die verkeerde kant van die dorp in. Gelukkig is ek nie ’n man nie, trek in by ’n vulstasie en vra ’n vriendelike man hoe om by die Mall uit te kom. Hy beduie en al swetende vind ek my weg daarheen. Eers kleedkamers toe om die ergste skade wat hitte en paniek te herstel.

Na ’n vinnige sigaret by die Spur is ek net betyds om deur die gawe mense van Bargain Books in hulle heerlike boekwinkel ontvang te word. Daar wag Johan Bakkes wat vroeër ook daar boeke geteken het my in en dring aan dat ek hom ’n Meetsnoer moet gee in ruil vir Nou’s ons in ons donner in wat hy die vorige aand vir my gegee het. Het nie een by my nie, jy sal moet koop, lig ek hom in.  Waarsku hom dis nie sy soort leesstof nie, maar hy vat nietemin ’n kopie en betaal selfs daarvoor – onder protes natuurlik.

Alta Cloete klok in en kom sit by my en gesels. Wat nie net soos altyd lekker is nie, maar ook in die geval baie welkom. Smiddae is klaarblyklik nie juis boek koop tyd in die Paarl nie. Ons gesels so lekker dat ons skoon van die tyd vergeet en ek skielik daar moet wegjaag om betyds te wees vir my afspraak met Valiant by die Dorpstraatteater sodat ons kan gesels oor Saterdag se boekpraatjie by Protea Boekwinkel.

Die keer kry ek die N1 en word my weë gelyk gemaak tot by die teater. Ek is ’n kwartier laat, maar Valiant is heel rustig. Hy en Les Jevan het darem al hulle jam ingekry en hy het tyd voor hulle die sound-check doen.

Tot my enorme verligting moet ek hoor hy het Meetsnoer baie geniet. Dis nie sy normale leesstof nie, maar hy kon die boek nie neersit nie. Dis altyd die beste kompliment wat ’n skrywer kan kry. Ek skep moed en ons begin gesels oor waaroor ons Saterdagoggend kan praat. Die yskoue bier en die hitteverligtende bries, bring weer my liggaamstemperatuur tot op sy gewone vlak. In die agtergrond speel Les en toets hier en daar sy lirieke.  Die klanke is beswymelend. Valiant se ma en suster woeker binnekant om die teater gereed te kry. Sy susterskind in haar Bloemhof-skooldrag kom sê hallo. 

Ons praat oor die ruimte in my boeke, oor my speurder Gys Niemand wat eintlik nie ’n briljante speurder is nie, maar so ’n mensch. Valiant sê vir die soveelste keer, Meetsnoer moet ’n fliek word. “Ek kan dit voor my sien,” sê hy, “vir Fluisterbos, vir Houthaalbos.” Valiant sê Gys de Villiers moet Gys se rol speel, ek sê ek het weer gedink Marius Weyers. Ons besluit dis ’n toss up tussen die twee – so asof die fliek reeds ’n uitgemaakte saak is. Valiant sê hy kan dalk Flint doen, maar sal in die gym moet boer. Ons lag en droom en praat oor die krag van woorde. Hoe dit beelde oproep wat so werklik is dat jy voel jy is daar. Hoe die boek die leser die geleentheid gun om sy eie fliek in sy kop op te maak.

Valiant moet met sy sound-check begin en ek moet by ’n stort uitkom. Ek ry na die gastehuis aan die buitewyke van die dorp, met ’n hart wat sing. Valiant hou van my boek. Ek verdwaal weer, maar spoor uiteindelik tog my woonplek op.

Na ’n verfrissende stort besluit ek om sommer by Jimmy the Fish te gaan eet. Dis net drie bblokke van die gastehuis af en ek wil vroeg in die bed kom voor Saterdag se praatjie. Ek moet uitgerus wees om die gewone mate van paniek te kan hanteer en die vorige aand het laat geword.

By Jimmy the Fish en La Romantica heers chaos. Daar is nie parkeerplek vir ’n kinderwaentjie nie. Ek skiet maar weer Stellenbosch toe. En, sug, verdwaal weer. Ek parkeer by die Braak en stap van restaurant na restaurant. Hierdie een is te lawaaierig, daardie een se tafelbesetters is bietjie te jonk, nog een lyk lekker, maar is vol. Al wandelende, begin ek ’n beter begrip van die dorpsuitleg kry. Ek eindig op by Decameron en hoor ’n soet meisiestem wat hoë note gaan haal asof hulle net hier agter die bult lê. Ek sien die tafels is vol, maar vra nietemin. ’n Tafel vir een, buite waar ek mag rook. Dit wil-wil onmoontlik lyk tot ’n bedrywige vrou met ’n bekoorlike aksent tussenbeide kom en sorg dat ek ’n tafeltjie kry.

Heerlikheid op note. Lieflike musiek, soel aandlug, flikkerende kerse en ’n spyskaart wat veel belowe. Aan die duur kant, maar wat, ek bederf myself.

Ek kom darem teen ʼn billike tyd by die gastehuis en onderdruk die paniek oor die volgende dag deur verder “in ons donner in” te reis. Raak weer aan die slaap met die boek op my neus – nie in my donner in nie en allermins die donner in. Net heerlike sielsalige slaap.


4 Responses to “Skrywers en boeke – Woordfees 2011 vervolg”


  1. 1 Marile Cloete
    Maart 18, 2011 om 7:43 vm

    Ek stem vir Gys de Villiers … Maar moet Gertjie se Gys nie ‘n lekker boepie hê nie?🙂

  2. Maart 18, 2011 om 8:04 vm

    Gertjie se Gys word darem deur die loop van die boeke maerder, maar ja, hy sal nooit maer wees nie. Maar ek dink dis makliker om ‘m ‘n akteur vetter te laat lyk as maerder. Darem lekker om te kan droom en terwyl ons nou droom hou ek maar steeds by Marius Weyers.😉


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Maart 2011
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: