21
Mar
11

Woordfees – laaste aflewering

Saterdag 12 Maart

Die wekker lui my wakker. Dis nie iets wat ek gereeld aan myself doen nie aangesien ek van nature ʼn vroeë opstaner is. Maar vandag kon ek nie bekostig om te verslaap nie.

Met ʼn koppie koffie en sigaret gaan sit ek op die balkon en gaan deur die notas wat ek gister gemaak het toe ek en Valiant gesels het, asook ʼn paar uitdrukstukke wat ek saamgebring het om my geheue oor Meetsnoer te verfris. Dit klink dalk eienaardig dat mens so ʼn bietjie vergeet wat in jou eie boek staan, maar onthou ek het sedert Meetsnoer se publikasie Dryfhout klaargeskryf en is ook al ʼn hele ent in ʼn nuwe boek in.

My maag is hol. Dis goed en wel om ʼn praatjie voor te berei wanneer jy weet dit gaan net jy op die verhoog wees. Dis egter iets heel anders as mens nie weet wat ʼn gesprek met ʼn fasiliteerder gaan oplewer nie. Daarvoor kan jy nie voorberei nie. My hande bewe, my bene is lam. Ek troos my daaraan dat ek Valiant kan vertrou om nie draaiballe na my af te vuur nie. Hoop ek.

Die ander bron van paniek is natuurlik dat niemand gaan opdaag nie. Die Groot Vyf is in dieselfde tydgleuf aan die woord in die boektent, Helena Gunther praat oor haar nuwe boek en daar is ʼn hele paar ander dinge ook aan die gang. Wie gaan nou vir my kom luister, wonder ek. Nee wat, besluit ek, laat ek liewer aan die gang kom.

So verleidelik as wat die geure in die ontbytkamer is, kan ek nietemin nie die gedagte aan kos verduur nie. Ek skep  ʼn bietjie vrugte in en verkies sap bo koffie. Vir kaffeïen so saam met al die adrenalien wat deur my pomp, sien ek nie kans nie. Ek gaan sit buite onder die bome en dan ontferm ʼn engel haar oor my in die liggaam van Wilna Snyman. Sy het ook daar oornag, bring haar ontbyt buite toe en ons sit heerlik rustig en gesels. My senuwees bedaar tot aanvaarbare vlak terwyl ek na hierdie pragtige, wyse vrou luister. Met ʼn belofte dat ek en sy en Petrovna Metelerkamp binnekort gaan saamkuier, gaan maak ek vir oulaas seker ek het alles aan wat mens moet aan het as jy nie soos die keiser wil uitgevang word nie. Ook dat daar nie maskarastrepe onder my oë vatgekry het nie, my lipstiffie nie bloei nie. Ek sprei nog ʼn bietjie LouLou aan en daar gaat ek.

Ek verdwaal nié! Kry parkeerplek agter Protea Boekwinkel soos Louis Esterhuizen voorgestel het en stap na die studentekuierplek skuins oorkant die boekwinkel waar ek en Valiant afgespreek het om mekaar te ontmoet. Die bewerasie kry weer sy houvas. Ek gaan weer deur my aantekeninge en dan is Valiant daar. Ons begin praat oor die sukses van sy vertoning die vorige aand, oor sy boek met lirieke wat ook op die fees bekendgestel is en kortliks oor goed wat ons dalk kan sê. Emily en Calla, twee Stellenbosch-vriendinne, kom verbygestap op pad boekwinkel toe en sluit by ons aan. Waar ons ʼn uur te vroeg was, is dit skielik amper laat. En ek moet ʼn draai loop. Valiant sê hy ook.

Ek loop my draai en hol, nog met waternat hande, oorkant toe. My wonderlike vriend, Jan van Tonder (Roepman) wag my in en gee my die stewige soort drukkie wat mens in omstandighede soos dié so broodnodig het. Hy het vriendin Jenny Pieterse en sy suster Ronel ook saamgebring na aanleiding van my oproep om ʼn rent-a-crowd byeen te bring. Dit was toe nie nodig nie – die boekwinkel sit vol. Soos in regtig vol. En Valiant is nie daar nie. Het natuurlik na sy draai vir my gewag, besef ek. “Waar is Valiant?” frons Louis ook. Ek hardloop weer buitetoe. Geen spoor nie. Stap weer binnetoe, nee, geen Valiant nie. Weer buitetoe. Daar kom hy aangestap. Wedersydse sug van verligting.

Foto: Jan van Tonder

Louis lei ons verby mense wat skouer-aan-skouer in die gangetjie sit. Ek herken so in die verbygaan vir Elsa, ʼn Stanford-vriendin. Sien vir Engemi Ferreira, herken ook  ʼn paar ander gesigte aan wie ek in my angs nie dadelik kan naam gee nie, maar dan moet ons sit en word die mikrofone in ons hande gedruk. Louis stel ons voor en waarsku, ons het net veertig minute ter wille van die volgende spreker.

Valiant begin effens huiwerig, sê hy is nie gewoond daaraan om fasiliteerder te speel nie, maar kry sommer gou koers. En ons praat. En ons gesels. Valiant voldoen aan al die vereistes van ʼn scholar and a gentleman. En dis heerlik.

Foto: Jan van Tonder

Ons kom uiteindelik nie by helfte van die goed uit waaroor ons alles wou praat nie, maar die tyd is om. Ek sit terug en verwonder my aan die lekkerte dat so ʼn spul mense tyd afgestaan het om na ons  te kom luister – heelwat sekerlik agter die Valiant-trekpleister aan!

Foto: Jan van Tonder

 

Louis lei my deur ʼn gangetjie na ʼn tafel waar ek kan boeke teken en ʼn paar foto’s later, verkas Valiant nadat ons afgespreek het om mekaar weer ‘daar oorkant’ te kry voor hy Hasenvlakte toe moet ry.

Ek word ʼn interessante vraag gevra oor die verband tussen een van my ouer boeke en ʼn kortverhaal – en ek kan nie antwoord nie. Ek kan sowaar nie onthou nie. Ek word gelukkig vergewe en Nadia de Kock en René van der Merwe staan nader. Ons lag en gesels tot ek besef die volgende spreker is reeds aan die woord.  Ek sluip daar uit en gaan ‘oorkant’ toe waar Emily en Calla wag. Valiant daag ook op en ons sit die gesprek oor Meetsnoer se tema voort oor ʼn heerlike yskoue bier – net wat die droë stembande vra.

Nadat die drie daar weg is, skep ek asem en stap na De Vette Mossel toe waar Jan en Jenny-hulle reeds aan hulle middagete gesmul het. My vingerlek lekkerte is snoek en patats en my sielelekkerte is geborgenheid tussen vriende – al sê ek en Jan soos ons gewoonte mekaar kort-kort die stryd aan. Hy het my immers nie verniet aangeneem as sy sesde suster nie. Ons kan mekaar lekker in die hare vlieg. Maar daar is belangriker dinge ook om oor te praat. Soos die fliek van Roepman wat in Mei begin draai en ʼn vriend van hom wat glo die Oordeelsdag vind die dag ná die premiere plaas. . .

Op pad terug huis toe, kom ek skaars agter hoe die kilometers verbyvlieg. My kop is vol van die wonderlikhede wat ek beleef het. In Hermanus ontmoet ek en Blom mekaar vir ete en drinke en ek begin vertel. Ek praat sy ore van sy kop af en hy kry nie ʼn enkele woord in nie. Wil mos gaan gholf speel terwyl ek die fees van woorde behoorlik gevier het!

Later die aand, terug op Stanford, klim ek in die bed wat my lyf so goed verstaan. Ek sug ʼn diep sug van voldaanheid, sit my bril op, tel Johan se boek op en reis verder saam met hom die vreemde in. Êrens in die nagtelike ure moes ek seker my bril afgehaal, die boek weggesit en die bedlampie afgeskakel het. Maar my woordereis het my dermate ingehaal, dat ek wraggies nie kan onthou wanneer nie.

Vir nog foto’s en ʼn kort opsomming van my en Valiant se praatjie, besoek http://lapa.book.co.za/blog/2011/03/14/valiant-swart-gesels-met-chanette-paul-oor-meetsnoer-by-us-woordfees/


2 Responses to “Woordfees – laaste aflewering”


  1. April 9, 2011 om 5:17 nm

    Liewe Chanette – Ek is SO jammer ek kon jou Woordfees-praat nie maak nie. Het vriendin Engemi in my plek gestuur! Mal oor jou blog, veral omdat hy opgedateer is. Daar is NIKS meer verlate as ‘n blog met ‘n laaste inskrywing gedateter 05-05-05 nie! En lekker dat ons met Wilna sal kuier – sy het klaar gebel, ek sien baie uit daarna. Gaan net eers ‘n week toer. Geluk met jou wonderlike sukses!!! XX

  2. April 9, 2011 om 5:38 nm

    Jammer jy kon dit nie maak nie, Petrov, maar dit was great om Engemi daar te sien. Laat weet my wanneer jy terug is, dan doen ek en jy en Wilna daai dêng. Sien ook uit daarna. Is nou net terug van die KKNK en flou na ‘n hittige rit deur die Klein Karoo. Maar dis darem so mooi. Bly jy hou van die blog. Dit têre bietjie die afgelope tyd, maar ek probeer so een keer per week byhou.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Maart 2011
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: