26
Apr
11

Wanneer skrywers begin praat pleks van skryf

Die twee dae by die KKNK saam met Kristel Loots en Alta Cloete was ‘n belewenis.

Die optrede by Arbeidsgenot het al drie van ons op ons senuwees gehad, maar Samantha, ons fasiliteerder, het ons soos ‘n ware pro deur die anderhalfuur gelei. Die heel lekkerste was egter dat die drie van ons soveel tyd saam gehad het om net te gesels.

Daar is seker gelukkige skrywers wat ‘n wederhelfte of ‘n gesinslid het wat werklik intens belangstel in mens se werk, maar my ondervinding is dat mens se naastes later so glaserige kyk in die oë kry wanneer jy oor jou skryfwerk praat. Dit het niks te doen met ‘n gebrek aan liefde of ondersteuning nie. Skrywers kan baie vervelig raak. Dis waarskynlik hoekom hulle skryf.

Maar sit drie skrywers bymekaar wat deur dieselfde ellendes en vreugdes van skryf worstel en boonop losweg in
dieselfde genres skryf en ‘n marathon praatsessie ontwikkel.

Die eerste aand is ons Swiss Bistro toe om saam met twee van ons bemarkers, Samantha en Mariëtte,  ietsie te gaan drink voor hulle ‘n ander verpligting moes nakom. Ek dink dit was so sesuur se kant. Ons sit buite waar daar die minste mense is sodat ons kan gesels en bly sit nadat Mariëtte-hulle weg is.

Die kil aandluggie en kosgeure wat die mond laat water jaag ons heelwat later binnetoe. Die gesels is nog ver van klaar. Daar is skaars tyd vir bestel en eet. Het ons gepraat oor politiek, sosiale omstandighede of die gat in die osoonlaag? Dalk, maar net as dit iets met skryf te doen gehad het. Het ons
probeer om wêreldvrede te bewerkstellig en die aarde se hulpbronne probeer red? Net as dit deel van een van ons se stories was. Jammer, ons het geen blywende effek op die res van die wêreld gehad nie, net ons verbeelde werklikhede uitgepluis. En aanhou uipluis. Die drie van ons was van die eerstes wat by die restaurant aangekom het en is die laastes om te loop en ook maar net omdat die kelner ons begin kyke gee het.

Die volgende oggend met ontbyt is ons maar ‘n senuweeagtige klompie, maar die gesels en heelwat gelag bly gewis nie uit nie. Daarna, Arbeidsgenot. Dis natuurlik ‘n heeltemal ander soort gesels. As mens weet ‘n uur en ‘n half lê voor waarin jy moet praat en dit voor mense wat vir hulle tee en eetgoed moet betaal, raak mens benoud. Maar toe ons weer ons oë uitvee, word ons gewaarsku dat ons moet klaarmaak. Die tyd, en woorde, het behoorlik gevlieg.

Teen die tyd dat ons klaar boeke geteken en ons geselse met die gaste gesels het, is ons effens bedees. Ek stap weg om ‘n sigaretjie te gaan rook, my binneste tot bedaring te
bring en die adrenalien weer op normale vlakke te probeer kry. Alta en Kristel sluit ‘n rukkie later by my aan om te hoor wat ons planne is.

Alta het bespreek vir ‘n vertoning laatmiddag, maar verder het ons nie verpligtinge nie. Ons besluit om vinnig iets lanks en kouds te gaan drink op pad terug gastehuis toe vir ‘n welverdiende ruskans na ons laataand. Alta en Kristel het gevlieg, maar ek is daar met my bakkie. Alta is bereid om agter in te sit en ons suiker daar weg.

Swiss Bistro is die naaste aan die gastehuis dus sak ons weer daar in. Die keer gaan sit ons in die agtertuin waar ‘n watertjie murmel, blare wieg en voëls kwetter en kweel.

Ons drink ietsie lank en kouds. En ons gesels. Ons drink nog enetjie. En ons gesels. Maagsappe begin protesteer omdat daar weinig is om te versap en ons eet ietsie. En ons praat.

Kristel is die verantwoordelike een. “Het jy nie gesê jy het ‘n show nie, Alta?” Ons betaal inderhaas en ek slaag daarin om Alta net betyds by die Burgersentrum te kry. Die vinnige kouetjie het toe langer as vier ure geduur.

Daardie aand word ons gruwelik bederf. Samantha en Mariëtte neem ons uit vir ete. En nie sommer net nie, hulle neem ons Paljas toe. In die soel aandlug sit ons op die voorstoep met kerse wat flikker en ‘n musiekkunstenaar se stem en klavierspel in die agtergrond.

Drie skrywers en twee bemarkers. Waaroor praat ons? Shop, natuurlik. En skryf. En planne. En boeke. Wat was en wat gaan kom. Die disse is verruklik, maar ek wonder hoeveel ons werklik daarvan geproe het.

Die volgende oggend pak ek my bakkie vir die warm pad terug, maar oor ontbyt word daar vir oulaas planne beraam, geskerts, gelag.

Toe ek vyf ure later in Stanford aankom, voel dit asof daar nie meer ‘n druppel vog in my lyf oor is nie.  Twee dinge staan voorop in my gedagtes toe ek in my sitkamer neersak. Eendag as ek groot is wil ek ‘n ryding met ‘n lugversorger hê en… Wow, wat ‘n ongelooflike voorreg het ek nie die afgelope paar dae beleef nie. En toe begaan Blom die flater om te vra hoe dit toe gegaan het. En ek begin praat…


4 Responses to “Wanneer skrywers begin praat pleks van skryf”


  1. 2 Theresa Feierabend
    April 26, 2011 om 4:32 nm

    Dankie dat ek in julle ervaring kon deel!
    Lekker skryf!

  2. 3 Marile Cloete
    Mei 5, 2011 om 3:05 nm

    Ai, Chanette, hoe lekker lag ek nou by al die herinneringe! En jy het nie eens vertel van die laataand kuiertjies met elk op haar eie gastehuisstoepie nie. Of van die boks choc chrunchies wat my so verlei het nie … (sjokolade krakies?? :))


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

April 2011
M T W T F S S
« Mar   May »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
252627282930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: