21
May
11

Oordeelsdae, profete en Meetsnoer.

Verbeel ek my of is dit al die 22e in Nieu-Seeland? Nes Profeet Sias in Meetsnoer, lyk dit dus asof Harold Camping, sy Amerikaanse eweknie, ook die bal misgeslaan het. Wat ʼn verligting.

Ek sou darem baie teleurgesteld gewees het as ek nie ten minste Dryfhout en die herdrukke van die eerste drie Gyse sou kon vashou voor die oordeelsdag nie. En as die aarde en die heelal vyf maande vorentoe, op 21 Oktober, sou vergaan soos Camping ook voorspel het, maak ek gelukkig net-net my verjaardag, maar sal ek waarskynlik nie weet hoe die tweeluik waaraan ek tans skryf eindig nie.

Van verjaardae gepraat. Camping word in Julie vandeesjaar  90. Sou dit dalk die rede wees waarom hy voel die oordeelsdag en die einde van die aarde – en boonop die heelal – is naby? En ek wonder wat nou met die miljoene dollars in Family Radio se spaarvarkie gaan gebeur.

Toe ek aan Meetsnoer begin skryf het, het ek niks van Camping en sy Family Radio geweet nie. Ek het ook nie besef daar is soveel oordeelsdag voorspellings vir die afsienbare toekoms nie. Ek het natuurlik geweet van die Majas se kalender wat op 2012 eindig, maar dit is nie ʼn religieuse oordeelsdagsvoorpelling nie.

So met die navorsing saam het ek egter kennis geneem van ʼn hele aantal van hierdie soort oordeelsdag-geloofsgroepe. Sommige is skokkend, ander grens aan verspot en ander laat mens net jou kop in ongeloof skud. Hier en daar laat een jou nadink. Baie dinge oor die verskille tussen die einde van die aarde, die oordeelsdag, die apokalips, Armageddon, die wegraping  en ʼn spul ander goed het ook vir my duideliker geword. Ek gebruik spesifiek die woord duideliker, want klinkklaar kan niks wees waar daar religie of voorspellings betrokke is nie. Maar daar is twee goed wat wel duidelik van mekaar geskei kan word: Wetenskaplike teorieë oor hoe die aarde sal vergaan en religieuse oordeelsdag teorieë.

Dis ʼn veilige aanname dat die aarde een of ander tyd gaan vergaan of heeltemal gaan verander. Dit het reeds in my leeftyd verander – in ʼn groot mate danksy onsself. En dit het herhaaldelik in die verlede gebeur.

Volgens my aantekeninge uit ʼn magdom bronne, het ʼn enorme asteroïde die aarde vyf en sestig miljoen jaar gelede het by die Yacatan Peninsula getref en gesorg vir die uitwissing van dinosourusse. Hier in Suid-Afrika self het ʼn stuk rots, 10km in deursnee, die Vredefort koepel veroorsaak – oor die 200 miljoen jaar gelede. Ystydperke kom en gaan om verskillende meteorologiese redes. En daar is alle rede om te glo dat die son al groter word en wanneer dit te groot word, sal alles op die aarde verskroei en uiteindelik sal die planeet self ook deur sy eie son vernietig word. Gelukkig lê dit glo ʼn paar miljard jaar in die toekoms.

Oordeelsdagvoorspellings met religieuse konnotasies, is egter ʼn perd van ʼn heel ander kleur. Een van die groot komponente hiervan is straf en oordeel aan die een kant en beloning aan die ander kant. Dit moet noodwendig vrees meebring. En dis op vrees dat profete soos Sias van Meetsnoer teer. Hou op sondig, is die boodskap … or else!

Ongelukkig is ʼn profeet soos Sias, se persoonlike definisies van sonde en die weg na saligheid nie heeltemal so duidelik omskryf of so begryplik as wat mens dit graag sou wou hê nie – selfs al gebruik sodanige profete dieselfde bron soos byvoorbeeld die Bybel. En vir mense soos onse Sias, is dit dikwels ook ʼn selfverrykende en – dalk veral – selfverheerlikende affêre.

Die tragiek van die hele saak lê by die magdom mense wat deur hierdie magsug en hebsug ingetrek word. Kyk maar wat het by Waco gebeur, by Jones Town. Maar dit gaan nie net oor die groot tragedies nie. In hoeveel vrees moet ʼn kind nie leef as hy hoor hy en die mensdom word môre geoordeel en moontlik veroordeel nie? Dat daar vyf maande van verskriklikhede voorlê as hy nie die paal haal nie? Of vir sy ouers as hulle nie die paal haal nie. Hoe verduidelik mens vir jou kind as die oordeelsdag toe tog nie plaasgevind het nie. Hoe kan daardie kind vorentoe glo wat sy godsdiensleier vir hom uit die Bybel preek? Hoe kan ʼn mens sulke dinge aan ʼn kind doen?

Dit sal vir my interessant wees om te weet of lesers wat Meetsnoer nou vir die eerste keer lees, dit anders sal ervaar as voor die bohaai wat Family Radio veroorsaak het.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Mei 2011
M T W T F S S
« Apr   Jun »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: