09
Aug
11

Moordende Noorde

Red nou ʼn nasie met ʼn skrywer wat siek raak op ʼn boeketoer.

Vrydag het goedgegaan. Bloem het sy sy koue skouer gewys wat die weer betref, maar daar was steeds ʼn heeltemal skaflike aantal mense by die praatjie. Dit sê baie vir halfses op ʼn wintersaand in die diep Vrystaat. Dankie aan almal wat daar was, aan Danila wat dit gereël het asook Otto van NALN wat klaarblyklik die geleentheid verewig het vir die nageslagte. ʼn Lekker verrassing was Dewald Louw wat daar opgedaag het en ʼn paar interessante vrae gevra het. Rykie Roux en Arien Lubbe, medeskrywers, het ook hulle opwagting gemaak asook ʼn paar deurwinterde ondersteuners met hulle boeke onder die arm. Dit was wonderlik om julle te almal daar te sien.

Saterdag was daar êrens ʼn kommunikasiegaping. Ek en Rykie en Arien is verseker dat 150 kaartjies uitverkoop het vir die ontbyt by De Vette Mossel. Iemand het ook tye deurmekaar gehad. Staan van agtuur die oggend af in ʼn soort koue wat ʼn nuwe definisie verdien. Van halfnege af kom die mense aan, maar iets voel nie reg nie. As daar veertig is, is dit baie. Nee, word ons ingelig, mens kom enige tyd van nege tot halfelf aan. Ons begin negeuur praat, onderbreek die gesprek sodat die mense kan ontbyt kry en gaan dan voort terwyl almal eet. Dit voel half ongeskik, maar dis glo hoe dit werk. Presies hoe dit gebeur ek weet ek nie, maar toe ek my oë uitvee, is daar net mooi twee mense in die tent oor. Ons praat ons praat gou-gou klaar en gesels met die twee bittereinders wat amper nie daar was nie omdat hulle aanvanklik nie kon kaartjies kry nie aangesien die geleentheid uitverkoop was. Ons twee bittereinders maak egter alles die moeite werd en na ʼn lekker geselsie skuif ons almal aan. In my geval lughawe toe om in Pretoria uit te kom.

Die motor wat op O.R. Tambo my wag ná ʼn misverstand oor die bespreking, is soos ʼn ruimtetuig. Ek is gewoond aan my 1997 Bantambakkie wat nog met ʼn choke werk. Hierdie Corsatjie met skaars tienduisend kilometer op haar sexy lyfie, het ʼn swart dingerigheidjie wat klaarblyklik diens doen as  ʼn sleutel.  ʼn Blink knoppie lewer uiteindelik ʼn pennetjie op wat min of meer soos ʼn sleutel lyk. Amper soos ʼn switchblade dink ek en hou dan liewer op dink.  ʼn Knoppie maak die deure oop maar nie die bagasiebak nie. Ek laai maar alles op die agterste sitplek en haal diep asem voor ek wegtrek. Pretoria, hier kom ek en dis al skemer.

Ek weet wat voorlê, is meer as waaraan ek gewoond is. Op Stanford is daar nie ʼn verkeerslig van ʼn dag oud nie – dis nou behalwe die een by Hennie se Pub wat aandui of die kroeg oop is of nie. (Oranje beteken hulle is besig om toe te maak.)

Vele afdraaie, verkeersligte en bloedsweet later, besef ek ek is darem nog nie heeltemal seniel nie en eindig by die gastehuis in Colbyn. Ek word vriendelik ontvang en ʼn parkeerplek aangewys. ʼn Baie nou een met ʼn fyndraai wat skrik vir niks. Uiteindelik is ek in, maar het bietjie wyd parkeer. Kan ek nie net ʼn bietjie diekant toe nie, is die versoek. Ek kan, maar kan die karretjie? Ek soek verbete na trurat. Met elke probeerslag is die Corsa se neus net nader aan die muur voor my. Tot ek agterkom tru verg ʼn ander soort knopding wat gelig moet word voor die rat inglip. Uiteindelik is ek geparkeer en kan my inburger met al my hebbe en houe.

Nadat ek die broodnodigste vir die volgende dag uitgepak het, sit ek buite op die stoepie met ʼn glas wyn, ʼn sigaret en ʼn gevoel dat ek nie te vrotsleg gedoen het vir ʼn plattelander en vyftigplusser nie.

Sondag is familiedag en ek word heerlik bederf met ʼn restaurantete en gesels sonder ophou. Sondagnag word ek wakker van ʼn kuggie, maar ek drink water en slaap verder.

Maandag berei ek voor vir die praatjies wat voorlê. Ek voel bietjie oes, maar skryf dit toe aan die besige dae wat dit vooraf gegaan het. Ek ry in Hatfield toe, koop ʼn paar knibbels en suiglekkers vir ʼn irritasie in my keel en gaan terug. Maandagnag sweet ek myself wakker.

Dinsdagoggend kan ek skaars my kop lig. Suzann, die bemarkingsbestuurder wat eintlik ʼn engel in disguise is, kom haal my en lyk bekommerd. Nee, ek is oukei, sê ek, ek sal oorleef. Ek suig Halls, spuit mondspoelmiddel in my keel en drink ʼn sinustablet. Dit kan mos nie gebeur nie. Ek is dan op ʼn boeketoer.

By Alkantrantbiblioteek is almal vriendelik en verwelkomend. Ek vra om verskoning omdat ek so heserig is, hulle kry gou ʼn klanksisteem aan die gang en ek praat met ʼn wonderlike groep mense. Suzann kom na die tyd na my toe aangestap, lyk bekommerd. Sy het die dokter gebel sê sy en my afspraak is kwart oor twaalf. Ek wil nog sê ek is oukei, maar teen daardie tyd is ek nie meer dapper nie. Ek laat my meevoer.

Die dokter wil my afboek vir twee weke. Ergere brongitis sê hy en dit wag net om om te sit in longontsteking. Ek sê: boeketoer. Hy skud sy kop en skryf antibiotika voor wat sterk genoeg is om drie mense gesond te maak.

Ek kanselleer ʼn middagete wat ek saam met my uitgewer sou gehad het en gaan klim in die bed. Ses en twintig uur later kom ek weer min of meer by. Iemand het vir my kos gebring en ek het my medikasie gedrink en vragte water gedrink. Verder onthou ek weinig. Ek kan nie glo dat stort en aantrek my so moeg kan maak nie, maar ek is gereed toe Cecilia, my uitgewer my kom haal vir die aand by Waverley biblioteek.

Sam en Rianda, die wonderwerke van alle bibliotekarisse, het weer wondere verrig. Daar is die oggend ʼn moord gepleeg in die biblioteek en die skuldige was agter ʼn Dryfhout aan. Die boek lê nog net daar met ʼn bebloede handafdruk, reg langs die omlyning van waar die lyk gevind is. Charlene van Lapa omskryf die omstandighede van die moord en kort voor lank het een van die gaste die leidrade ontrafel en word die skuldige aan die kaak gestel.

Tussen die heerlike eetgoed lê stukke dryfhout. Visnet steek hier en daar uit en polisieband wat die misdaadtoneel afskort, is oral sigbaar.

Ek en Cecilia gesels heerlik oor die Gys-boeke. Terwyl ek agterna boeke teken, begin die medikasie effens afwerk. Ek onthou, maar ek onthou nie alles nie. Ek weet daar was ʼn hele klompie skrywers, maar ek kan nie onthou of ek almal herken het nie. Ek onthou van die name wat ek voor in boeke geskryf het, maar nie almal sʼn nie. Ek onthou nie mooi hoe ek by die huis gekom het nie, net dat Charlene my veilig daar besorg het.

Donderdag voel ek effens beter. Ek sien selfs kans vir my vergadering met Cecilia.

Vrydag pak ek met ʼn dik kop in, maar ek is betyds vir Suzann wat my kom haal om Nylstroom toe te gaan. Eers die feitlik ongebruikte Corsatjie afgelaai kry en dan vat ons die N1. Die pille hou.

In Nylstroom eet ons ʼn heerlike middagete by Pepe’s. Daarna gaan ons na die ongelooflike mooi Kroko Creek waar ons gaan oornag. Ai, die bosveld. Ek het al vergeet hoekom ek so mal is oor die bosveld, maar word baie gou herinner.

Saans lyk dit my raak medisyne moeg om te werk, maar ons kom by heerlike boekwinkel Painted Words aan en ontmoet die baie gasvrye Celeste en die gaste wat daar wag. Ek en Suzann gesels weer oor die Gyse en dit val my op dat ek wraggies nie moeg raak om oor die boeke of oor ou Gys te praat nie. Die gaste is wonderlik meelewend en ons geselse neem ons diep die aand in.

Saterdagoggend is daar tyd vir ʼn ontbyt met die oggendsonnetjie wat op ons rûe bak voor ons weer die pad moet vat O.R. Tambo toe. My bagasie is oorgewig en ek moet omtrent vier stukke handbagasie heen en weer sleep. Die moeg wil-wil my vat, maar ek kan dit nie toelaat nie. Ek weet as ek eers collapse is dit die einde en ek moet nog in Stanford kom.

Op die vliegtuig lees ek, maar die vlug is so ʼn bietjie van ʼn hersenskim. In die Kaap herken ek omtrent nie die ontvangssaal nie. Laas het dit heel ander gelyk. Ek kry danksy ʼn man wat klaarblyklik bleekheid herken vir wat dit is, die Spur en wag daar vir Blom om my te kom haal. Ek weet hy sal ʼn rukkie laat wees aangesien hy ʼn ander verpligting ook gehad het.

Ek lees en probeer wakker bly, maar iets het êrens meegegee. Toe Blom voor my staan, voel dit asof ek in ʼn lugleegte is. Op pad huis toe stop ons by Houwhoek waar hy my ʼn brandewyn met gemmerlim injaag terwyl ons voor die kaggel sit. Daarna gaan dit beter. In Hermanus eet ons vinnig ietsie. In Stanford … Ek kan nie onthou nie. Ek dink ek het net in my eie wonderlike bed, ʼn bed wat my lyf verstaan, geklim en weggeraak.

En dit was my boeketoer. Sekere goed staan uit, maar meeste is in ʼn wasigehid omhul. Dis nou byna drie weke later. Vir die eerste keer begin ek weer krag kry om meer te doen as net te probeer oorleef. Vergewe my dus die stilswye.


5 Responses to “Moordende Noorde”


  1. Augustus 9, 2011 om 2:25 nm

    Ag siestog man, dis eintlik vreeslik! Hierdie jaar se kieme laat nie met hulle speel nie, en ek is oortuig almal was baie dankbaar dat jy wel gedoen het wat jy het!

  2. 2 Bets Smith
    Augustus 9, 2011 om 2:51 nm

    Ai, dit moet vreeslik gewees het, maar jy laat dit klink na ‘n misdaad wat ‘n plek soek om te gebeur. Eks bly jy is weer reg. Dis miskien beter jy moes nie nog Laeveld toe ook nie!

  3. 3 Lelani
    Augustus 10, 2011 om 8:19 vm

    Ai toggie. Die griep en brongitis het redelik almal plat geduik hier in Bloemfontein die winter en in die 10 jaar wat ek nou al hier in Bloemfontein bly, was hierdie jaar loshande die koudste!
    Dis nogal jammer dat niemand opgedaag het by die De Vette Mossel nie. Ek wou nog gaan, maar ek was teen daardie tyd al halfpad oppad Elliot toe!
    Beslis ‘n volgende keer, as jy dit weer in Bloemfontein sou waag😉
    Sterkte met die gesond word!

  4. Augustus 10, 2011 om 9:27 vm

    Dankie vir die medelye! Die een wonderlike ding van siek wees is dat dit so hemels is wanneer mens weer gesond is. Mens waardeer jou gesondheid sommer weer van voor af. Miskien is siekte maar die natuur se manier om jou te forseer om te rus. Die kers was hoeka aan albei kante gebrand voor ek hier weg is.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Augustus 2011
M T W T F S S
« Jun   Sep »
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: