11
Jan
12

Fleur – ʼn tweede afskeid

Ek onthou nog baie goed die dag toe ek die rekenaar se stuur-knoppie gedruk het en so vir Fleur die wye wêreld ingestuur het. Dit was einde September 2006. Ek was flou. Ek het die ses Daveltjies wat op Tamara gevolg het in elf maande klaargeskryf (hoe, weet ek nou nog nie) en tussen in nog manuskripontwikkeling en ʼn hele paar ander dinge ook gedoen.

Ek het by my venster uitgekyk, oor die prieel oortrek van pienk bougainvilleas, na die Kleinerivier wat onder my erf verbyvloei. En in trane uitgebars. My laaste Daveltjies het ʼn man gevind wat haar waardig is en is vort na die land van vir-altyd-en-ewig-gelukkig. Dit het gevoel asof ek wees agtergelaat is. In daardie jaar het ek immers Daveltjies geëet, gedrink, geslaap, ge-alles. Hulle was my girls. Op ʼn manier my prosteses om enigiets van ʼn taalstryder tot ʼn argeoloog tot ʼn skilder te word.

In daardie stadium het twee dinge voorgelê: In die onmiddellike toekoms was my 50e verjaarsdag in Oktober. Dis nogal iets wat mens oor jou mortaliteit laat nadink. Wat jou laat wonder: hoeveel stories sal ek nog ingepas kry? En dan was daar angswekkende vooruitsig dat ek nie meer kon uitstel om aan daardie storie wat so lank al aan my deur klop aandag te gee nie. Lily Reynecke se getorring aan my kom toe al van ʼn jaar of twee vantevore af.

Gelukkig het ek nie geweet van die enorme leerkurwe wat voorlê met die verandering van genre nie. Gelukkig het ek nie geweet nog ʼn reeks lê in my onmiddellike toekoms nie. Of dat Gys Niemand hom toe al reggemaak het om my grys hare te vermenigvuldig nie.

Ook nie dat ek vier jaar later, in November 2010, sou hoor die Daveltjies gaan herleef nie.

Dis nog ʼn dag wat ek onthou. Ek was ek in die sewende hemel. Sedert die Daveltjies uit druk geraak het, het ek amper weekliks briewe gekry waarin lesers my gevra het waar hulle beskikbaar is. Aanvanklik kon ek help, daarna was daar net mooi nie een Daveltjie meer beskikbaar nie.

Dit was dus met groot vreugde en opwinding dat ek hier kon aankondig dat die Daveltjies herdruk word. Die reaksie was oorweldigend. My beker het oorgeloop.

Dis nou voor die benoudheid my geslaan het. My uitgewers het ʼn enorme mosie van vertroue in my meisiekinders gestel om al sewe boeke te herdruk en het groot onkoste aangegaan om dit in ʼn nuwe formaat met nuwe omslae te doen. Sê nou hulle verkoop nie?

Selfs in my benoudheid het ek nie besef hoeveel harde werk voorgelê het nie en ek het ook nie kon raai dat my stoutste verwagtinge vir die omslae so ver oortref sou word nie.

Die Daveltjies in nuwe gedaante slaan my asem nou nog weg. Ek pak hulle elke maand wanneer ek die nuutste een kry in ʼn ry langs mekaar uit en verwonder my aan hulle. Elkeen is spesiaal. Elkeen net reg. En saam is hulle vir my ʼn eenheid, ʼn familietjie so pragtig soos die meisiekinders self.

Al die harde werk was die moeite werd. Sover ek weet was elkeen van hulle tot dusver ten minste een keer op Graffiti se Topverkoper lys. Die reaksie van lesers was wonderlik. Per e-pos, op die blog, op Facebook, handgeskrewe briewe wat aan Lapa gepos of gefaks is. Sommige lesers het selfs laat weet dat hulle die ou reeks het, maar die nuwe een ook koop. Omdat hulle so mooi is en omdat hulle herhaaldelik gelees word. En dis lesers van alle ouderdomme. Van skoolmeisiekinders op Facebook tot ʼn bejaarde man wat die allermooiste briefie vir my gestuur het.

En nou is Fleur op die rak. Ek moet weer afskeid neem. Ek is weer eens half bewoë. Maar ek is ook trots op my meisiekinders. Hulle het mooi gemaak.

Dankie, Tamara, dat jy vir my die derde keer gewals het. Geleer het van oorlog en vrede, van die mense agter die sepia foto’s.

Dankie, Willemien, dat ek deur jou oë die Tweede Taalstryd beter kon leer begryp en in Ierland ʼn draai kon maak.

Dankie, Annabella dat ek kon leer tjello speel en saam stry vir vrouestemreg.

Wildewragtig Deborah, dankie veral vir jou. Deur jou kon ek die argeoloog word wat ek nog altyd wou wees.

 

 

 

Isabelle, dankie dat ek Pierneef van nader kon leer ken en jou hande kon gebruik om die skilderye wat ek graag sou wou maak, te skilder.

Maryntjie, ek is ʼn vrot kok, maar dankie dat jy my die geleentheid gegun het om desondanks wonderlike dinge met lemoene en laventel aan te vang.

En Fleur, danksy jou verstaan ek wyn en die fluisteringe in die vat soveel beter. Dankie.

En dankie aan julle, die lesers, wat dit vir my moontlik maak om te skryf.

Loer gerus hier vir ʼn proestukkie van Fleur:

http://romanzalesers.wordpress.com/2012/01/10/proestukkie-chanette-paul-fleur/

Fleur is onder meer beskikbaar by:

Fleur by graffitiboeke

Fleur by Lapa

Sien ook:

http://lapa.bookslive.co.za/blog/2012/01/10/heruitgawe-van-fleur-die-laaste-boek-in-chanette-paul-se-reeks-oor-die-davel-vroue/


4 Responses to “Fleur – ʼn tweede afskeid”


  1. Januarie 11, 2012 om 1:03 nm

    ek is mal oor jou metafoor van die ‘prostese’. Dalk is dit die geval met ander kunsvorme ook. My pogings tot kuns laat my selfs by tye voel ek kan die buitenste uithoeke van die heelal ‘self’ besoek…

    • Januarie 11, 2012 om 1:16 nm

      Dit is vir my een van die lekkerste aspekte van skryf – om iemand te word wat ek nie kan wees of ‘n loopbaan te volg wat my nie beskore is nie of goed te doen waarvoor ek te veel van ‘n sissie is. Ek kan my indink dat jy dieselfde plesier put uit jou spaced out sketse! Ek het ‘n groot voorliefde vir fantasie-kuns. Dit neem mens na plekke in iemand anders se verbeelding. Dis so ‘n voorreg.

  2. 3 Stefanie du Preez
    Junie 17, 2013 om 7:04 vm

    Haai Chanette,

    Ek is mal oor ‘n lekker boek, een wat jou hart warm maak as jy net daaraan dink, een wat jy nie kan los nie, al skreeu die kinders al om jou en al is daar nie ‘n draad skoon wasgoed of ‘n krieseltjie kos op die tafel nie. Daardie soort boek wat jou teësinnig maak om ‘n ander een te lees, want jy is bang geen storie gaan ooit weer so mooi wees nie Nou, so voel ek oor jou boeke!
    Soos ek voorheen genoem het, het ek begin met Springgety en nooit het ek kon droom dat ek so verknog sou raak nie! Ek het Fortuin en Boheem onder die knie en gaan nou Meetsnoer lees terwyl ek vir Dryfhout in die pos wag.
    Maar o, weë, toe begin ek mos lees aan die Davels en daar vang Tamara my, dat ek tot in die nag van haar droom!! Wat ‘n lieflike storie! Ek het so gesit en huil toe hulle plaas afgebrand is, mens sou sweer ek het doodstyding van familie gekry!
    Dit laat ‘n mens weereens besef watse dapper en sterk mense ons voorouers, die Boere was en dat ons ‘n nasie is met so ‘n ryk erfenis waaroor mens opreg trots kan wees.
    Ek het Willemien ook klaar gelees en weer net so lekker gesit en skreeu! Ek is so lief vir my taal, veral as mens besef hoe hard daar gestry is om dit erken te kry. Ek probeer baie hard om die kinders Afrikaans te hou, wat nie altyd maklik is so tussen die klomp Kiwi’s nie, maar mens kan nie net handdoek ingooi en hulle laat verengels nie. Wat baie Suid-Afrikaners (Afrikaners, nogal!) natuurlik doen, “want”, sê hulle, “wat gaan die kinders inelkgeval met Afrikaans maak?” En so sterf ‘n taal dan uit. Wat kan meer tragies wees? So selfs al sukkel my kinders bietjie met die twee tale gelyk, en al meng hulle dit soms, sal ek tot die dag dat ek my laaste asem uitblaas, nie ophou Afrikaans praat nie, want die taal sal bly voortleef in die harte van mense wat hom praat!
    Baie dankie vir al jou lieflike karakters en stories wat ‘n mens so na aan die hart lê! Ek hoop jy skryf nog hope stories wat ons oor en oor kan lees!

    Kiwi-groete,
    Stefanie.

    • Junie 17, 2013 om 9:57 vm

      Ai, Stefanie, jy is ‘n vrou en mens na my hart. Baie dankie vir jou pragtige brief. Jy skryf self sulke pragtige Afrikaans en dit daar uit die verre land! Ek haal my hoed af vir jou dat jy Afrikaans daar lewendig hou vir jou kinders. Daar is min mense wat dit regkry.

      Dis natuurlik ook heerlik om te hoor jy geniet my boeke. Elkeen van my boeke is vir my baie spesiaal, Maar die Gys Niemand-reeks en die Daveltjies sal altyd ekstra spesiaal wees omdat ek met daardie twee reekse uiteindelik my skryfpad beter leer ken en verstaan het – in die mate wat so iets moontlik is.
      As lesers kan lag en huil oor my boeke, as julle vermaak en geraak word, slaag ek in my doel.
      Dis lesers soos jy wat al die harde werk en opofferings die moeite werd maak.

      Ek hoop jy geniet die res van die twee reekse netso en dié wat daarop volg ook.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Januarie 2012
M T W T F S S
« Dec   Mar »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: