09
Mar
12

2012 – Die jaar van die draak – Die eerste tien weke.

Die jaar skop af met ʼn stapeltjie manuskripte wat ek moet lees en oor verslag doen. Om my is almal aan die vakansie hou. My char wat twee oggende per week orde skep in my huis, het nog nie weer opgedaag nie. Die lekkerste somerweer in jare, gaan my verby terwyl ek vir twee weke solied agter die rekenaar sit en saans deur ʼn hoop strykwerk probeer ploeg. Maar aan alles (behalwe stryk- en skottelgoed) kom ʼn einde. Teen 14 Januarie is die manuskripte en hulle verslae afgehandel en is dit tyd om weer aandag aan my eie werk te gee.

My sperdatums is naderstormende lokomotief. Ek skryf aan die Maanschijnbaai-tweeluik wat gaan oor vier Calitz-vroue met woeste verledes, ʼn hoop probleme in die hede en baie uitdagings vir die toekoms. Hulle staan op Maanschijnbaai, waar hulle beland, ook bekend as die Calitz-slette.

Nommer 1, Jo & Sue, waaraan ek gedurende Desember geskaaf en geskuur het, moet na die keurder toe gaan. Daarna moet dit weer getimmer en gepoliesj word en teen 20 Februarie by die redigeerder wees.

Nommer 2, Nan & Jeannie is nog net halfpad geskryf en ek is nie tevrede met wat reeds daar is nie, maar moet einde Februarie in wees om na die keurder te gaan.

Die strykwerk kry eerder kleintjies as dat dit klaarkom, die huis lyk oes, die tuin lyk oes. Ek voel oes. Ek moet uit, ek moet weg, besef ek.

Twee e-briewe en ʼn goeie skoot geluk later is Pondokkie bespreek vir die twee weke waarin die Nan & Jeannie sover as wat menslik moontlik is, moet klaarkom.

En daar piekel ek en Rut (die laptop) toe, na ʼn malle gejaag om alles af te handel wat daar af te handel is en nog te pak ook, so in die hittegolf op Sondag 15 Januarie Suiderstrand toe.

My gewete ry my omdat Blom grieperig is, maar hy hou vol hy sal regkom en ek weet darem die helfte van Stanford sal kom help, as hy ʼn probleem het.

Dis laatmiddag en die Spar op Bredasdorp is al toe. Ek tref dit gelukkiger op Agulhas waar ek by die Friendly proviand kan koop voor ek die sewe kilometer slegte grondpad aandurf met my karretjie wat haar behoorlik wip vir slegte paaie.

Verby die suidelikste punt van Afrika begin ek vir die eerste keer effens ontspan. 

Ek het bitter lanklaas aan die manuskrip gewerk. Dis nog net halfpad daar en wemel van probleme, maar ten minste kan ek nou iets daaraan begin doen. En ek kan hopelik vergeet van die eerste manuskrip in die tweeluik wat by die keurder lê. ʼn Nuwe keurder boonop en ek weet dus nie wat om te verwag nie. Hou, senuwees, hou.

Daar is aangebou by Pondokkie, sien ek toe ek daar intrek. Dit is darem ook in September 2010 wat ek laas daar was. Toe het ek nog aan Dryfhout gewerk en nog nie geweet dat vier Calitz-vroue my gaan verlei om hulle storie te skryf nie.

Ek verloor liters vog terwyl ek afpak en nesskop. Dis nie vrek ver onder 40 °C nie en die seebries is te effentjies om te help. Waarskuwings teen pofadders en goggadiertes ten spyt, maak ek deure en vensters oop sover ek kan.

My hospita bel toe ek, ná ʼn koel stort, my sit kry met ʼn glas wyn propvol ys. Ek het Lorraine van Zyl nog nooit ontmoet nie, maar haar vriendelikheid en bereidwilligheid om my teen ʼn ongelooflike billike prys in Pondokkie te laat bly, maak van haar ʼn vriendin. Nadat sy verneem het of ek veilig gery en of alles reg is, stel sy voor dat ek die volgende dag na die woonstel op die boonste verdieping gaan kyk. As ek lus voel, kan ek daarheen trek nadat die skoonmakers daar was. Alles is nuut en die uitsig is mooi, sê sy.

Ek bekyk die spul goed wat reeds uitgepak is en wonder of ek kans sien vir die trek, maar belowe om te gaan kyk.

Die volgende middag kom roep die skoonmakers my. Hulle kan ongelukkig nie help as ek wil trek nie, maar die woonstel is skoon. Ek gaan kyk langtand, maar die uitsig is te asemrowend om te weerstaan en ek piekel al my hebbe en houe met die buitetrap op – steeds in die middel van een van die bloedigste hittegolwe wat die land nog getref het.

Ná die tweede uitpakkery, kom ek volstoom aan die werk. Dag in en dag uit. Soms tot diep in die nag, soms van douvoordag af terwyl die see nog wegkruipertjie met die donker speel. Nou en dan kom my buurman ingewaai om te vra of ek iets van Agulhas af nodig het. Een of twee keer gaan ek self in Agulhas toe al sug karretjie. Ek probeer e-pos afgelaai kry daar, maar dit ontaard in ʼn nagmerrie toe my skootrekenaar vries. Gelukkig kry ek dié weer aan die gang en is vandaar af kommunikasieloos behalwe vir selfoonoproepe wanneer die sein besluit om ʼn toegewing te maak.

My gawe buurman vra my een Sondagmiddag oor vir ʼn hoender op die kole saam met sy dogter – ʼn baie welkome afwisseling van die afskeepkos wat ek inderhaas tussen die skrywery deur aanmekaar slaan. (Dankie tog vir blikkies!) Een Maandagmiddag kom kuier Blom, nou weer gesond, en bring goed wat ek nodig het van die huis af. Verder is dit net ek en die Calitz-meisies.

Teen die middel van die tweede week besef ek die tyd loop uit. Ek bel Lorraine en genadiglik kan ek nog vyf ekstra dae bly. Ek skryf dat dit hik.

En skielik moet ek weer oppak. Ek verstaan nie waar die dae heen is nie. Soos Opperman se kwartels in die gras, het hulle net verdwyn. Maar die storie is uitgeskryf en die eerste draft van my boek is daar. Min of meer.

Terwyl ek terug ry Stanford toe, voel dit asof ek terugroei uit ʼn ander dimensie, uit die vreemde primordiale wêreld van verbeelding, na die werklikheid toe.

Tuis wag die stapeltjie manuskripte wat vir Februarie gelees en geëvalueer moet word. Ek kry skaars tyd vir uitpak voor ek daarmee wegspring. My char het intussen teruggekom en die huis is min of meer leefbaar, maar ek sien haar eers die Maandag, toe sy aankondig sy neem vier maande kraamverlof. Sela.

Die keurverslag vir die eerste boek in die Maanschijnbaai-reeks, Jo & Sue, kom die week daarna. Die keurder is in vervoering met net ʼn paar punte van kritiek. Halleluja! Ek werk weer deur die manuskrip en stuur dit vir redigering. Een sperdatum ten minste gehaal!

Ek sleep Nan & Jeannie weer nader. Werk een keer daardeur op rekenaar en besluit dis die grootste klomp twak wat ek nog geskryf het. Druk die manuskrip (amper 400 bladsye) uit en werk met ʼn pers pen daardeur.  Daar is meer pers as swart op wit. Ek bring die veranderinge op die rekenaardokument aan en rou oor die storie wat nou vir my so anders lyk, wat ek dink nou so afsteek teen die eerste deel van die tweeluik.

Ek bekla my lot by my uitgewer. Sy sê nou maar stuur, dat sy lees en kyk wat skort.

Drie handewringende dae gaan verby waartydens ek Maart se stapeltjie manuskripte aanpak.  Saans stryk ek terwyl ek na Bryan Adams, die Uppity Blues Women en iemand se keuse van die beste kore uit operas luister. Die slawekoor uit Nabucco veral, spreek my diep aan. Slawerny is nie vir sissies nie.

Die e-pos kom op die vierde dag.

Dis ‘n regte egte tranetrekker. Net soos ek daarvan hou. Steel Magnolias en Terms of Endearment kan gaan slaap. Deal met dít: dis beter as Maanbaai 1, lees ek en bars omtrent in trane uit. Ek wil nou eers timmer, maar Uitgewer sê nee, ons stuur netso na die keurder toe, daarna kan ek timmer. Intussen kom Jo & Sue terug van die redigeerder en drie dae kom en gaan ongesiens terwyl ek en die redigeerder ʼn bietjie stry en baie verfyn en afrond.

Daar is nie te veel tyd om oor die keurder se uitspraak oor die tweede boek te bekommer nie. Daar is die Maart-manuskripte wat ek moet evalueer en natuurlik die groot lekkerte: Woordfees.

Ek ry Dinsdagoggend, 6 Maart, Stellenbosch toe, my maag behoorlik op ʼn knop getrek. Ek praat immers saam met groot geeste. Karin Brynard is die gespreksleier en my mede-sprekers is Deborah Steinmair en Francois Bloemhof. Uitgelese is nie die woord nie. En ek is nog ʼn bietjie rou na die harde werk van die afgelope tyd, die wipplankryery tussen paniek en ekstase.

Maar met ʼn bewame gespreksleier soos Karin aan die woord en twee wonderlike gespreksgenote vol kwinkslae aan weerskante van my, vlot alles heerlik en is ek spyt toe die tyd ons inhaal.

Die volgende oggend is daar eers die vergadering met Lapa se bemarker oor onder meer ʼn bekendstellingstoer wat beplan word vir die Maanschijnbaai-tweeluik, en daarna ontmoet ek my goeie vriend Jan van Tonder by Harbour Island in Gordonsbaai. Net vir die lekkerte.

By hom hoor ek die praatjie van die vorige dag het die Burger gehaal. (http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Misdaadromans-winsgewend-20120306). Ek kry ook die nuus dat daar ʼn artikel in Beeld se Pols verskyn het (http://www.beeld.com/Leefstyl/Pols-Hulle-skryf-hulself-soms-bang-20120305).

Ek en Jan bekla ons lot, praat mekaar moed in en lag ons bekommernisse weg tot ek besef die donker gaan my inhaal as ek nie dadelik ry nie. Ek slaan die seildakkie van my sewentien jaar oue karretjie af en met ʼn lied in my hart, en met die wind in my hare, ry ek seelangs terug. Ek sien behoorlik hoe die spinnerakke wegwaai en in die fynbos langs die pad vashaak.

En hier sit ek weer terug agter die rekenaar. Ek wag nog vir die keurverslag van Nan & Jeannie en ek hoor daar is probleme met die omslae. Daar is nog drie manuskripte wat voor die vyftiende gelees moet word en vyf wat verslae moet kry, maar die lied in my hart bly.

2012 het miskien ʼn bietjie rof begin, maar ek sien weer kans vir die res van hierdie jaar – die een wat volgens Sjinese astrologie die jaar van die draak is.


15 Responses to “2012 – Die jaar van die draak – Die eerste tien weke.”


  1. 1 Lelani
    Maart 9, 2012 om 10:52 vm

    Ek het self hierdie eerste 2 maande van die jaar as ‘n warrelwind beleef… Te veel om te doen, te min tyd en natuurlik die lus is nie altyd daar nie – en die beste van dit alles is, dat meeste van die warelwind deur my eie toedoen is, omdat ek nie kan stilsit nie!

    DIe nuwe boeke klink baie belowend! Kan nie wag nie…intussen hou ek maar my oë oop vir jou boeke wat nie meer in druk is nie😉

  2. Maart 9, 2012 om 12:00 nm

    Wat ‘n wonderlike skrywe! Dankie. Dis lekker as ‘n mens kan sien en hoor en voel waar kom al jou wonderlike verhale vandaan.

  3. 5 Wilma Diedericks
    Maart 9, 2012 om 12:10 nm

    Jou lewe klink wild, woes en wonderlik – met wasgoed ook nog iewers ingewerk! Sterkte met die wille vrouens, Chanette – ons kan nie wag dat hulle hulle opwagting op die rakke maak nie.

    • Maart 10, 2012 om 7:48 vm

      Ek werk nou langer as ‘n jaar aan die twee en ek moet sê, ek kan nou ook nie meer wag dat hulle van my hande af en op die rak is nie. Maar bladproewe wag nog vir albei en dan is daar natuurlik nog die res van die prosedure vir die tweede een.
      Terloops, ‘Jo & Sue’ is geskeduleer vir Julie en ‘Nan & Jeannie’ vir September.

  4. 7 Engela
    Maart 9, 2012 om 9:06 nm

    Ai Chanette dis soms goed om te hoor dit gaan in ander huishoudings ook party keer so bietjie rof. My char is voor ou jaar huis toe en het net nooit weer opgedaag nie. Na ‘n week en ‘n draai in haar kamer het ek besef, sy is sak en pak weg! Jy sê wasgoed kry kleintjies, maar ek dink skottelgoed is vinniger! (erger as wit muise).

    Sien baie uit na jou nuwe baba’s. Kan nie wag om hulle onder oë te kry nie. Intussen geniet ek nog die Daveltjies terdee! Het van hulle al gelees, maar nog nie in die reeks van 1-7 nie. Dis darem so lekker om die agtergrond van elke boek te ken, terwyl jy lees. Ek het nou die hele reeks en lees te lekker. Mal oor die geskiedkundige reeks, en soos iemand gesê het, ek leer so baie uit jou navorsing. Jy het klaar die harde werk gedoen en ons sit net agteroor en geniet dit

    Alle heil en slangspoeg! Wag in spanning op die nuwe verskeinings op die winkelrakke!

    • Maart 10, 2012 om 7:56 vm

      Jy’s reg, skottelgoed kry vinniger kleintjies, maar ek het so paar jaar gelede oë toegeknyp en ‘n skottelgoedwasser gekoop. As ek net alles dadelik daarin wegsit, handhaaf ek darem die orde daar. Maar die tyd wat dit neem om te stryk maak my klaar! En ek sal seker iets aan die stof moet doen en ek kan nie onthou wanneer laas ek die vloere gevee het nie. Gelukkig kyk ek vuil vensters maklik mis!
      Dis lekker om te hoor jy geniet die Daveltjies van voor af. My ma het hulle elke jaar so een na die ander gelees.
      Soos ek hierbo ook gesê het, die twee Calitz-boeke is geskeduleer vir Julie en September onderskeidelik.
      Ek hoop regtig julle geniet die vier girls. Die boeke is nou weer heeltemal ander as enige van die ander reekse of enkelstaandes.

  5. Maart 12, 2012 om 11:48 vm

    Sit ek nou lekker en lag suutjies vir jou in die klas (Ek is eintlik veronderstel om te werk). Dankie, jy het my dag gemaak! Ek het nou nog nie ‘n huis nie, maar my kamer lyk al erg genoeg. En ek is bly om te hoor dit is nie net ek wat sommige goed so aspris miskyk nie. Sien baie uit na die verskyning van die boeke. Laat weet maar oor die bekendstellings, ek hoop julle kom weer in Pretoria se rigting.🙂

    • Maart 12, 2012 om 11:54 vm

      Jong, jy sit in Matriek. Jy kan nie sit en ander goed doen in die klas nie! Oukei, nou het ek my preek-plig gedoen.😉
      Die bekendstelling sluit wel Pretoria in. Tot dusver is Waverley se biblioteek aan asook nog een of twee moontlikhede in die Pretoria-omgewing. Daar sal glo ook een in die Kaap wees. Ons hoop so teen einde September, begin Oktober. Ek laat weet sodra ek besonderhede het, maar dit sal eers nader aan die tyd wees.
      Konsentreer nou!

      • 11 Cecilia Barnard
        Maart 13, 2012 om 9:57 nm

        Ooooooooooooooh jay!!!!🙂🙂 Die keer kan jy my boeke en nie weer die biblioteek s’n teken nie! Ek sien baie uit.
        Toemaar toemaar, geen rede tot kommer nie. Ek het vanaand EKSTRA hard gewerk. Of doen steeds. Dit is hoekom ek so lekker op jou blog kan rondspeel.😉 Laat weet groot asseblief gou want ek is al uit my vel uit!

  6. April 19, 2012 om 11:42 vm

    Kan nie wag vir Maanschijnbaai nie!! Julie en September lê nog wyd. Ai, hoekom neem die proses tog so lank?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Maart 2012
M T W T F S S
« Jan   May »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: