18
Jan
13

Gesoek:die bevrore hoender.

frozen chickenEk droom in die vroeë oggendure S daag by my op. Om my is dit verskriklik deurmekaar. Ek weet nie presies waar ek my bevind nie. Dis nie by my huis nie, maar die omgewing is bekenderig.

S herinner my dat ek haar uitgenooi het om by my te kom eet. Dit het my skoon ontgaan. Ek soek iets in die yskas, maar vergeet half wat dit is toe ek agterkom daar is ʼn klomp goed ver verby hulle sell by date wat weggegooi moet word. Toe sy sien ek ruim nou eers die yskas op, herinner S my sy het nie baie tyd nie.

Ek besef ek soek eintlik ʼn bevrore hoender, maar ek kry dit om die dood nie. Ek gaan na ʼn tweede yskas in ʼn vervalle woonwa. Daar is dit nog ʼn groter gemors. Ek begin weer opruim tot S my herinner sy het régtig nie baie tyd nie. Ek kry steeds nie die hoender nie. Is daar ooit een? Ek kan nie onthou nie.

In nog ʼn woonwa se yskas spoor ek en S ʼn bevrore brood op. Nou nie dat S eintlik help nie, sy loer net oor my skouer en gril vir die gemors. Die brood was ʼn heerlike tuisgebakte ciabatta wat sy by ʼn vorige geleentheid vir my gebring het – maande, dalk jare gelede. Nou lyk dit droog en verkrimp in sy yskorsie. Sy sug en sê dit was juis so ʼn lekker brood en nou is dit vermors.

Ek sien daar is nog goed wat sy al vir my gebring het wat nou onbruikbaar is. Ek probeer dit ongemerk agter ander goed inskuif.

S raak ongeduldig. Sy herinner my ek moet die hoender nog ontdooi en gaarmaak en sy het regtig-egtig nie baie tyd nie. Ek besef ineens ek het waaragtig nie ʼn bevrore hoender nie.

Net voor ek by S kan bieg, gaan my selfoonwekker af.

Ek staan traag op. Die wind het gaan lê. Buite is dit ʼn pragtige dag, hier net anderkant die suidste punt. Blou lug, die see soos ʼn spieël.Anderkant suidste punt

Ek borsel tande en wonder oor die droom. Ek maak koffie en probeer uitpluis. Ek gaan sit voor my skootrekenaar en loer na die uitgedrukte kopie van my nuwe manuskrip wat langsaan lê en waarop ek ernstig geredigeer het. Die boonste bladsy is vrot van aantekeninge in pers ink. ʼn Groot deel is doodgetrek. Meeste van die 165 bladsye lyk so, weet ek. Hierdie korreksies moet op die rekenaardokument aangebring word. Ek moes eintlik eergister al daarmee klaar gewees het, maar ek is nie net hier om te kom skryf nie.

Ek is ook aan die bou. ʼn Skryfhuisie vir die wegskryfslag en hopelik eendag as die nood druk en ek moet  verkoop, my pensioentjie. Dinge het die afgelope dae skeef geloop met die bouery. My finansies klop nie so lekker nie. Baie ekstra uitgawes soos dit maar met bouery gaan – selfs meer as wat mens voorsien. En misverstande tussen my en die bouer. Goed wat nie uitwerk soos ek gedink het dit gaan nie. Ek bring daagliks  ure op die bouterrein deur in wind en weer, kom telkens natgesweet en vaal van sementstof tuis by die kothuis wat ek huur. Maak lys na lys van goed wat nog gedoen moet word, kwotasies wat aangevra moet word, probleme wat opgelos moet word.

Hoekom laat dit my skielik dink aan deurmekaar yskaste en tuistes wat nie tuistes is nie ? Ineens begin ek my droom verstaan.

S is dikwels die keurder van my manuskripte. Sy is ʼn streng keurder, selfs kwaai – soos ek daarvan hou. Sy het my al van vele blapse en slordige skryfwerk gered. Sonder haar skerp oog sou die laaste drie boeke in die Gys Niemand-reeks baie armer gewees het.

Die deurmekaarspul en gebrek aan konsentrasie in die droom, besef ek toe, simboliseer die bouery in die werklike lewe.

In my droom vergeet ek kort-kort dat ek eintlik die hoender soek, want my aandag word aftrek. Waardeur in die werklike lewe? Deur die bouery. En wat simboliseer die hoender? My nuwe storie. Ek vermoed dis êrens, maar omdat ek nie my aandag daarby bepaal nie, kan ek die hoender/my storie nie kry nie. Is ek nie eens seker dis nog daar nie. Boonop weet ek dis ʼn bevrore hoender en moet nie net nog gaar gemaak word nie, dit moet eers nog ontdooi word.

Die ou, bevrore ciabatta en vermorste geskenke van lank gelede? Dalk vorige hulp, raad en bystand op grond waarvan ek so streng op die uitgedrukte kopie geredigeer het, maar wat ek nou nog nie op die rekenaardokument ingewerk het nie.

S het my dus kom herinner dis hoogtyd dat ek nou moet begin konsentreer op my skryfwerk. Ek moet ontrafel wat my storie nou eintlik is (ontvries die hoender), ek moet die storie geskryf kry (kry die hoender gaar) en die manuskrip betyds indien (die mense wil eet!). En ek het gewis nie baie tyd nie. My keerdatum is einde Februarie.

Is die onderbewussyn nie ʼn wonderlike ding nie?

WrakNaskrif:

Ek het bostaande vanoggend vinnig neergeskryf toe die droom nog redelik vars in my geheue was.

Vanaand gaan sit ek op die gietysterbankie buite die kothuis. Dis steeds windloos en genadiglik koeler. Aan die hemeltrans hang ʼn halwe suurlemoenskyf. Sterre lyk soos blink gaatjies, groter en kleiner, in ʼn tent se dak. Die see se geruis is hipnoties. Ek kry ‘n aha-oomblik oor ‘n sekere aspek van my storie. En ek weet die wiele het begin draai.

Natuurlik was ek vandag by die bouterrein, maar net ʼn kort rukkie. Ek had ʼn hoender om te ontdooi en ek dink dis binnekort reg om gesout en gepeper en dan in die oond gesteek te word.

My mense gaan nie môre al kan eet nie, maar die hoender is gevind en die dis is aan die word.


11 Responses to “Gesoek:die bevrore hoender.”


  1. 1 Bets Smith
    Januarie 19, 2013 om 5:34 vm

    Ek’s bly dis ‘n hoender en nie ‘n stuk steak nie: ek’s mal oor die geveerdes. Sterkte met die storie en met die bouery. Altwee ewe opwindend, en ewe frustrerend. Ek’s bevrees myne (storie) is nog net ‘n eier en die bouery ‘n onderhouery.

    • Januarie 19, 2013 om 7:57 vm

      Dankie, Bets! Wanneer daardie eier uitbroei en hoender geword het, kry hom maar liewer gaar terwyl dit vars is. Dis omdat ek so lank terug aan die storie gewerk het dat dit bevrore en soek geraak het.😉
      Die bouery is nou op die naelkou en toys uit die cot stadium. Alles wat verkeerd geloop het, wys nou tande en heelwat dinge is nie meer omkeerbaar nie. Hou senuwees, hou!

  2. Januarie 19, 2013 om 7:39 vm

    Spice daai hoennertjie-tjie lekker!

  3. Januarie 30, 2013 om 4:11 nm

    Ek het jou bevrore hoender-storie baie geniet en so lekker gelag dat jou uitgewer my gevra het wat is so snaaks. Ek het haar kortliks van jou predikament vertel en sy hou nou haar hart vas. Einde Februarie is 29 dae weg … Is bly jy het ‘n a-ha oomblik gehad en dat die hoender nou gevind en gaargemaak word. Sterkte!

    • Januarie 30, 2013 om 8:59 nm

      Charlene, genoemde uitgewer verstaan drome, daarom neem ek haar nie kwalik dat sy haar hart so vashou nie. Hoenerkie het ontdooi, maar gaar is hy/sy nog lank nie. Kom darem mooi aan, maar moet asb nie hoeveelheid dae so aftel nie, maak my baie benoud!😉 En daar’s nog die stapel manuskripte…


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Januarie 2013
M T W T F S S
« Dec   Apr »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: