26
Jan
14

Izak de Vries oor o.m. die blivet in Siende Blind

Siende Blind - volledige omslag (2)

Ek het bloot toevallig op hierdie lekker bespreking van Izak de Vries oor Siende Blind, onder meer oor die blivet-motief, raakgeloop.

Ek plaas dit hier met Izak se toestemming.

Siende blind, deur Chanette Paul

Bespreking – Izak de Vries

Moet nooit jou oë glo nie, want tot op die laaste bladsy is jy siende blind!

Siende blind is ’n spel van gesteelde identiteite en verskuilde agendas. Reg aan die begin van die teks is daar ’n outeursnota oor ’n blivet, ook bekend as ’n duiwelsvurk. Die kunstenaar M.C. Escher het die blivet beroemd gemaak met sy realistiese uitbeeldings van onmoontlike situasies. Chanette Paul doen dit hier in woorde. Blivet 1

Wie is werklik en wie nie?

Cara van Dijk het om den brode begin romanses skryf – dink aan Mills & Boons. Sy is baie goed betaal hiervoor, maar haar skatryk pa, Karel van der Linde, en snobistiese man, die beeldhouer Paul van Dijk, dwing haar om ’n skuilnaam, Mignon Maydon, te gebruik. Cara bewaak haar skuilnaam baie goed, want toe sy besluit om ’n volle roman, When we belong, te skryf, is daar talle raakpunte met haar eie gesin se doen en late.

When we belong word ’n internasionale treffer en Cara word ryk. Toe plof haar wêreld egter in duie. Haar man skei haar, haar rekenaars word gesteel, haar skootrekenaar word lamgelê deur ’n virus en ’n baie slim kuberkraker neem haar identiteit in die kuberwolk oor. Skielik is iemand anders Mignon Maydon. Nie net Cara se geld nie, maar haar hele skrywersbestaan word bedreig. Toe ’n aantal mense ná aan haar boonop genadeloos vermoor word, besef Cara dat sy nou vir veel meer as haar loopbaan sal moet veg – haar lewe is op die spel.

Wie kan sy vertrou? Soos met ’n blivet bestaan nie een van die mense om haar skynbaar in net een werklikheid nie.

Die leser weet later ook nie wie te vertrou is en wie nie. Jy moet tot die einde lees om te weet.

Blivet 2Monique Bisschoff het hierdie prentjie gedeel op Facebook en Chanette het laat weet: “Dis nes Cara gevoel het!” Ek wil byvoeg: “Die leser ook!”

’n Metaroman

Siende blind is ’n roman oor die skryfproses. Dit is ’n metateks wat nooit verval in hoogdrawendheid nie. Op bladsy 186 staan:

When we belong is dalk nie onsterflike kuns nie, maar die resensente het haar geloof vir onder meer die egtheid van haar karakters – die deernis met individue in die besonder – maar ook haar begrip vir die wyer opset van menswees.

Bogenoemde kan ook ’n opsomming van Siende blind wees.

Ons mag egter nooit die blivet vergeet nie. Selfs die romantiese aspekte in hierdie teks kom onder die loep. Daar is een “tipiese” romantiese held in hierdie verhaal, hy vee letterlik Cara se voete onder haar uit. Maar kyk maar self hoe hy dit regkry – die duiwelsvurk is ook hier aan die werk!

Dan is daar ook die spel oor wat moontlik is, al dan nie, in ’n roman. Kevin Ryan, ’n medeskrywer, sien haar een dag langs die pad. Op daardie stadium ken hy en Cara mekaar nie. ’n Aantal dae later ontmoet hulle weer, dié keer by ’n konferensie. Dan volg die volgende stukkie dialoog tussen die twee skrywers (bladsy 105):

“Sal nooit in ’n boek werk nie.” Sy handdruk is sterk, maar bedagsaam. “Te toevallig.”

“Nooit nie, heeltemal te toevallig,” beaam sy en lag vir die eerste keer in meer as ’n week.

’n Genrekraker

Siende blind is in die eerste plek ’n heerlike storie. Dit was vir weke lank in die top 40 van Suid-Afrikaanse verkope (gemeet teen internasionale boeke soos Fifty Shades of Grey) en was vir twee weke ná mekaar selfs nommer vyf.

Dit is ’n gewilde, populêre roman sonder aanstellerigheid. Net soos Cara, die hoofkarakter, probeer Chanette nie hogere literatuur te pleeg nie, maar daar is pitkos in hierdie teks en heelwat wat leeskringe sal kan uitmekaartrek as hulle sou wou.

’n Aantal skrywers en akteurs tree as karakters op in Siende Blind. Talle van die skrywers verbreek die streng genre-indelings. Let byvoorbeeld op hoe Kevin Ryan se boeke beskryf word – hulle pas ook nie mooi in boksies nie.

Siende blind is ’n misdaadroman, dit bevat romantiese elemente en dit ondersoek sigself op ’n metavlak sonder om te probeer “hoë literatuur” wees.

Die karakters

Ek het aan Chanette genoem dat ek mal was oor haar manlike held; dit het ek gesê juis omdat ek dikwels krities wees oor haar vorige manlike helde.

Selfs die skurke het baie positiewe eienskappe.

Sophia Kapp het die volgende gesê oor Siende blind:

Wat ’n heerlike storie. Ek het teen die einde daardie tipiese paniek -lees ervaar wat ’n mens kry wanneer ’n storie jou so meegesleur het dat dit letterlik voel asof jy oor ʼn waterval getrek word: daar is net nie keer nie. Ek was geïrriteerd met onderbrekin gs en wou tot elke prys klaar lees. Dit het behoorlik konsentrasie en selfdissipline gekos om nie my taak as keurder te vergeet nie – ek wou eintlik net lees vir die lekker. Ek het lank laas so volledig met ʼn vroulike hoofkarakter geïdentifiseer, en dis nie baie stories wat my so lank aan die wonder gehou het nie. Die karakters is sterk, realisties, geloofwaardig en interessant, die dialoog is uiters geslaag, die plot is meesterlik beheer en die spanning nie vir ʼn oomblik toegelaat om te verslap nie.

***

Lees ook die stukkie in Die Burger wat nog ʼn De Vries, dié keer Willem, geskryf het na aanleiding van ‘n e-pos onderhoud met my oor die Lekkerlit-prys:

http://www.dieburger.com/vermaak/2014-01-25-paul-se-roman-weer-lesers-se-gunsteling

Siende Blind is onder meer beskikbaar by Kalahari.com,  Graffiti Boeke en

http://www.loot.co.za/product/chanette-paul-siende-blind/ytlv-2640-g770

En as e-boek by 

http://www.amazon.com/Siende-blind-Chanette-Paul-ebook/dp/B00DXM1TS4

 

 


3 Responses to “Izak de Vries oor o.m. die blivet in Siende Blind”


  1. Januarie 26, 2014 om 6:20 nm

    Dit klink na ‘n storie der stories! Hopelik kry ek die vakansie kans om hom te lees, want in skooltyd is dit ‘n onbegonne taak – net te veel onderbrekings. Jy skryf net te vinnig vir my – vinniger as wat ek kan lees.😉

  2. Januarie 27, 2014 om 8:56 vm

    Veels geluk met jou prys! Dit was welverdiend.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Januarie 2014
M T W T F S S
« Dec   Feb »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: