15
Apr
14

Oor Raaiselspieël

1948212_721759314521624_1909662637_n

 

The arts then act like a reflecting mirror. The artist is like the hand that holds and moves the mir­ror… (Ngugi)

Bogenoemde aanhaling is ’n gedeelte van die motto voor in Chanette Paul se nege-en-dertigste boek. Kuns en spieëls vorm inderdaad belangrike simbole in hierdie verweefde spanningsroman. Paulus se Bybelse versugting dat ding aan hierdie kant van die dood bloot ’n dowwe spieël is in vergelyking met die lewe ná die dood, moet ook nie geïgnoreer word nie.

Nils van der Sluijs, die befoeterde Belg wat ryk en beroemd geraak het danksy sy vetvrouskilderye, is dood. Daar is reeds ’n man agter tralies, maar Nils is skynbaar nie tevrede dat dit die regte persoon is nie en nou praat hy met sy dogter, Frieda, deur vir haar beelde en flitse te wys. Uiteindelik is daar ook die kwessie dat ’n aantal van sy skilderye skynbaar meer openbaar as kaal lywe; mense is selfs bereid om te moor sodat hulle daardie skilderye in die hande kan kry.

In die gemoed van sommige Afrikaners word Siener van Rensburg en Johanna Brand se heldersiendheid as belangrik beskou. Raaiselspieël tree in gesprek met hierdie twee sieners en vra die leser om die talle simbole, wat stuk-stuk nagespeur word, uit te pluis saam met Nils se dogter, Frieda, en sy biograaf, Stas Stassen – ’n toenmalige uitgewer.

Volgens Chanette Paul is dit vir die leser, soos vir die fiktiewe biograaf, nodig om bewustelik ’n “suspension of disbelief” te openbaar tydens die lees van hierdie teks. Dit is iets wat gewoonlik onbewustelik gebeur tydens die lees van ’n goeie storie, maar hier moet alle partye harder werk om Frieda se gawe te probeer verstaan. Selfs Frieda sukkel om vrede te maak hiermee – sy weet ook nie of die beelde wat sy van kleins af sien en die stemme wat sy hoor, beteken sy is psigies of psigoties nie.

Deur dit alles heen word die draak gesteek met akademici wat hulle beter ag as gewone mense, dink aan ’n Seder val in Waterkloof as interteks. Die leser moet maar self in die raaisel kyk om al hierdie kloutjies by die nodige oortjies te kry.

Tydens ’n onderhoud op die US Woordfees, waar die boek amptelik geloods is, het Chanette Paul gesê sy is baie opgewonde dat lesers van haar ligter romans nou ook die meer komplekse, verwikkelde werke geniet. 1503854_10152910802743797_740616029_n

Paul se vorige roman, Siende Blind, wat ook ’n komplekse spanningsroman was, het ontsettend goed verkoop en moes binne weke herdruk word. Vir Raaiselspieël word daar van die begin af ’n groot oplaag gedruk.

Paul het gewild geraak met haar twee reekse, die sewe historiese romans genaamd die Davelvroue, en die vyf spanningsromans wat in die volksmond bekend staan as die Gys Niemand-reeks.

Ná die Gys Niemand-reeks volg die Maanschijnbaai-tweeluik oor die wel en wee van vier vroue wat die samelewing se wenkbroue laat lig. Die tweeluik is finalis vir die 2012 ATKV Woordveertjie  in die liefdesromankategorie en die eerste boek in die tweeluik, Jo & Sue,  word deur lesers aangewys as LAPA se 2012 Lekkerlit-boek van die jaar. In 2013 verower Siende blind hierdie selfde prys. In haar jonger dae het Paul ook ’n Perskorprys gewen. Sy was al twee maal ’n finalis vir die ATKV-Prosaprys en eenmaal ʼn finalis vir ’n ATKV-Woordveertjie in die spanningskategorie.

Tans skryf Paul skaamteloos vir die ontspanningsmark, maar vir die leser met insig, wemel haar tekste van simboliek en literêre verwysings. Sy skryf opsetlik só dat lesers van romanses én van letterkunde haar kan lees. Hoewel ’n intelligente leser heelwat letterkundige truuks in haar werk sal raaksien, is Paul skaamteloos dat sy haar boeke só skryf dat gewone mens dit moet geniet. In ’n onderhoud tydens die SASNEV-krimifees het sy gesê: “Boeke is soos vye of turksvye, ek skryf vye.”

 

Lees ook ‘n resensie oor Raaiselspieël by http://www.beeld.com/bylae/2014-04-11-boeiende-naelskou-in-afrikaans

Raaiselspieël by Graffiti

 


2 Responses to “Oor Raaiselspieël”


  1. 1 Son
    April 18, 2014 om 1:21 nm

    Ek het uiteindelik my Raaiselspieël gister gekry *happy dance*!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

April 2014
M T W T F S S
« Feb   Jul »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
282930  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: