Daveltjie #1

TAMARA

Hoofstuk 1 

1899

“Die moeder is mos dood met haar geboorte. En dit ná elf knewels, almal seunskinders. Skoon verwillerd grootgewôre, die meisiekind.”

Hymie sien hoe Tamara omswaai. Haar dik, blonde vlegsel wat verby haar stuitjie hang, beweeg swiepend saam. Haar blou oë pen die ouer vrou vas wat agter haar hand na die jong meisie loer. “Ek het dit gehoor, ta’ Hanna. As ek reg onthou, noem die Bybel dit kwaadpraat. Is daar nie ’n gebod daarteen nie?”

Tamara kyk na die ander ouer vrou wat onmiddellik haar oë neerslaan en met die sakdoek in haar hand vroetel. “En die deler is net so goed soos die steler, of hoe, ta’ Lena?”

Tamara draai weer na die toonbank sonder om op ’n antwoord te wag. “Skryf op, Hymie. Ek vat dié solank wa toe.” Tamara stoot haar skouer onder die honderdpondmeelsak in en stap met gemak na die winkeldeur. Op die drumpel draai sy om.

“En tante kan maar vergeet van Vader, ta’ Hanna. Hy is nou wel al agttien jaar lank ’n wewenaar, maar hy hou van vroue wat hul vat aan ’n roer verstaan en hul sit in die saal ken. Weduvroue wat staan en skinder in ’n negosiewinkel sal nie hul sit by sy tafel aansit of hul kruip in sy kooi inkruip nie, glo my.”

Sy skud die sak op haar skouer reg en stap na die wa oorkant die stowwerige straat toe.

Hanna se hand soek na haar hart.

“Wat seg ek vir jou, nig Lena?” Sy skud haar kop. “Om darem so sonder moeder daar in die berge groot te wôre met net die klomp broers en ’n willewragtag vir ’n vader … en dan nog so humeurig ook. Asof ’n ordintlike vrou soos ek na daardie man met sy vreeslike blou oë en sy elf belhamels sal sta’ en kyk. En dan nog hierdie kind wat geen respekte het nie … Dis daardie heidense naam waarmee haar vader haar toebedeel het.” Teen die einde van die sin stik Hanna byna van verontwaardiging.

Hymie steur hom nie aan die twee vroue in die winkel nie. Hulle klets in elk geval meer as wat hulle koop. Hy kyk die lang Boerenooi met haar skraal, maar sterk lyf agterna. Nie die kuis rokke wat tot by die nek toeknoop en tot by die polse styf span nie. Die wye romp hang van die breekdun middel af tot op haar velskoene. Daarby dra sy ’n wit manshemp met die boonste knope oopgelaat en die moue tot bokant die elmboë opgerol. Dit laat haar allermins mannetjiesagtig lyk, daarvoor sorg die volronde, hoë boesem onder die sagte voue van die lap maar alte goed.

Nee, Tamara is vrou op ’n manier wat g’n ander nooi in hierdie omgewing vrou is nie.

Sy kan glo so goed soos enigeen van haar broers skiet, en beter perdry as die meeste van hulle. En in daardie blou oë, wat so ’n barshou kan kyk, is daar buiten die intelligensie, die wakkerheid, ook ’n ongetemdheid. Die Davels is welbekend hier in die Magaliesberg-omgewing. Vir hul hardwerkendheid, hul eerlikheid sowel as vir hul humeure. En Tamara is deur en deur ’n Davel.

’n Beweging lei sy aandag van die uitsonderlike Boeremeisie af. Hy herken die deftige landauer onmiddellik as dié van Ruben Gould. Hymie vryf sy hande behaaglik teen mekaar en sit sy vriendelikste gesig op. As die rykste man in die kontrei vir ’n verandering hier aankom en nie deurgaan Pretoria toe vir sy aankope nie, gaan hy hom sekerlik die beste diens gee waartoe hy, Hymie, die Boerejood, in staat is.

Ryk Ruben, geklee in die beste beskikbare tweed, is reeds op pad na die negosiewinkel toe hy omdraai en na die wa oorkant die straat kyk. Hymie volg sy oë en kyk hoe Tamara die sak meel van haar skouers af op die agterkant van die wa lig.

Sy stoot die sak haaks en vryf die meel met ’n tevrede beweging van haar hande af. Sy skud die digte vlegsel terug en kom weer aangestap om die res van haar aankope te kom haal.

Sommer so in die doelgerigte stap, kyk sy na die blinkswart landauer met die swierige, goue krulle op die sykante geverf. Van die deftige voertuig af gaan haar oë na Ryk Ruben. Sy kyk die lang man met sy breë skouers terloops op en af en stap onbeïndruk verby.

Hymie kan nie help om lag te kry nie. Tamara Davel voel klaarblyklik nie soos elke hubare meisie van hier tot Marico tot in Pretoria en selfs so ver as Johannesburg nie. Hy sou wat wou gee om nou te kon weet wat in Ryk Ruben se gedagtes omgaan terwyl hy so sy hoed vir Tamara se stokstywe rug lig.

“Kyk nou hoe astrant hou die klein merrie haar met Ryk Ruben. Net ’n ander manier van uitlok as jy my vra …” fluister Hanna hoorbaar, maar sy swyg toe Tamara weer die winkel binnekom.

“Klaar opgeskryf, Hymie?”

Hymie skuif die boek oor na Tamara dat sy kan sien.

Sy kyk vlugtig deur die lys. “Vader kom maak einde van die maand reg, dan sal hy sommer die verf vir die voertuie ook by jou kry. Jy sê dit sal hier wees?”

Tamara skuif die negosieware in die kis rond en pak die koerante, wat Hymie altyd spesiaal vir Gabriël laat kom, stewiger tussen die ander goed in. Sy kyk nie eens om toe Ryk Ruben se binnekoms deur die ligte klap van die deur verraai word nie.

“Dis goed so, Tamara, en ja, die verf sal hier wees. Ons kry ook volgende week mooi rokgoed in. Behalwe die tyk en sis, kry ek ook nog satyn en fluweel. Miskien wil jy kom kyk?”

Tamara lag bekoorlik . “Wat op aarde wil ek met sulke mooi rokgoed maak, Hymie? Waarheen sal ek tog satynrokke dra?”

“Na die bal op Orange Hall dalk? Ons wy die nuwe aanbouings van my huis Saterdag oor twee weke in.” Ruben sit sy hoed op die toonbank neer en begin sy handskoene van die punte van sy vingers afwikkel. Hy kyk Tamara met ’n skewe glimlag aan.

Tamara draai langsaam om na die man met sy gitswart hare, sy donker oë en sy netjiese baardjie. ’n Tweede keer daardie dag kyk sy hom op en af, dié keer deegliker. Haar blouselblou oë neem die snit van die pak klere in, en die ryk tekstuur van die tweed. Sy bekyk ook die varsheid van die hemp, die spoggerigheid van die boordjie, die dikte van die horlosieketting en die glans van die stewels. Sy draai terug na Hymie.

“Hymie, sal jy asseblief vir die deftige meneer sê hy is nog nooit aan my voorgestel nie en dat ek nie met vreemde mans praat nie.”

Hanna en Lena trek gelyktydig hul asem in.

Hymie haal sy skouers op. “U het gehoor, mister Gould.”

Ruben buig effens in Tamara se rigting. “Sal onkel Hymie my die eer aandoen om my aan die skone mejuffrou voor te stel?”

Hymie vee oor die grys ring hare om sy pankop, voel-voel aan sy knypbrilletjie en knik plegtig. “Tamara, kan ek jou voorstel aan mister Ruben Gould, voorheen van Kimberley, maar nou ’n geëerde inwoner van ons kontrei? Mister Gould, ontmoet miss Tamara Davel, die jongste en enigste dogter van Groot Dawid Davel van Bergendal.”

“Dis ’n eer, mejuffrou Davel.” Ruben hou sy hand na haar toe uit.

Tamara ignoreer dit. “Hymie, sal jy asseblief vir meneer Gould sê dat, voorgestel of nie, ek ook nie met uitlanders praat nie, selfs al praat hulle my taal asof dit hul eie is.”

Tamara tel die kis vol negosieware op haar skouer. Met die een hand hou sy die kis vas, met die ander vat sy ’n vuis vol van haar romp.

“Tot siens, Hymie.” Sy draai haar kop. “En hou op vlieë vang, ta’ Hanna, ta’ Lena. Netnoumaar lê hulle eiers teen die binnewang.”

Hymie kyk behoedsaam na Ryk Ruben toe die deur agter haar toeklap.

Die lang man laat sak sy hand en kyk Tamara se parmantige heupswaai agterna. Hy lag saggies. “Vir haar, onkel Hymie,” sê hy sonder om sy oë van haar weg te neem, “vir daardie Tamara Davel maak ek nog mak.”

Jy sal nie die eerste een wees wat probeer nie, Ryk Ruben, en waarskynlik ook nie die laaste nie, dink Hymie stilletjies, maar: “Waarmee help ek vandag, mister Gould?” is al wat oor sy lippe kom.

*****

Daveltjie #2  

WILLEMIEN

Bergendal 1903

“Die kind is te tingerig vir die plaas, Joshua, maar sy’s slim. ’n Dromertjie, maar nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.”

Mientjie hou haar asem op waar sy in haar nagklere agter die deur wat na die kombuis toe lei, staan en bibber van die koue. Sy wou kom water haal toe sy oom Joshua en tante Tamara hoor praat. Gaan hulle haar wegjaag? Vandat sy hierheen weggeloop het om te ontsnap van haar pa se treurmares en tante Trynie se skril stem, was oom Joshua en tante Tamara nog net vir haar goed. Elke keer as sy naar word omdat die kos nie met haar konsentrasiekampmaag wil akkordeer nie, word sy met liefde en sorgsaamheid versorg, al neem die boerdery en klein Annabella omtrent al hul tyd in beslag.

“Wat praat jy nou, Tamara?” Oom Joshua se diep stem is ernstig.

“Ek het vanoggend op Mientjie afgekom, besig om te lees aan een van Gabriël se boeke – een van dié wat ek in die grot weggesteek het. Huckleberry Finn nogal. Sy kon al my vrae daaroor beantwoord, al sê sy sy het gesukkel om die Amerikaanse dialek te lees.” Sy bly ’n oomblik stil. “Ons kan nie toelaat dat sy haar verstand vermors deur Annabella op te pas nie. Bettie kan haar heeltemal goed alleen behartig wanneer ons doenig is. Mientjie moet gaan leer.”

Mientjie sluk. Gaan leer?

“En geld, Tamara? Jy weet ek glo aan geleerdheid waar die verstand daarom vra, maar ons trek swaar.” Oom Joshua se stem dra iets hartseers. “Hierdie droogte ná die verwoesting van die oorlog slaan ons swaar. As dit nie was vir die geldsak wat jy begrawe het en my erfgeld van my moeder nie, sou ons Bergendal verloor het soos so baie boere hul plase verloor het.”

Mientjie hoor ’n koppie teen sy piering klingel. “Ek sal aan ’n plan dink,” sê tante Tamara sag.

Die houtstoel kraak hard en dan die plankvloer. Sy hoor oom Joshua se swaar voetstappe, vlieg om en gaan spring in die bed. Sy lê lank en wag voor sy hulle kamer toe hoor gaan. Sy ruik toe die kers gesnuit word en dan hoor sy soos so dikwels saans hoe tante Tamara sag lag.

 

Joanna Gould is allermins ingenome met hul besoek, dit kan Mientjie duidelik sien. Tamara het haar vroeg-vroeg uit die bed gejaag en ingelig dat hulle Orange Hall toe gaan. Soos ’n paleis is die plek. Mientjie kan haar verkyk. Maar Joanna laat haar skrikkerig voel. Sy lyk formeel en statig en hou tante Tamara en oom Ruben soos ’n valk dop terwyl hulle tee drink.

“Ek kom besigheid praat, Ruben,” voor Tamara aan nog voor die koppies koud is.

Ruben knik. “Ek het so afgelei, Tamara. Sal jy ons verskoon, Joanna?” Hy wag nie vir sy vrou se toestemming nie, beduie net vir Tamara om voor te stap.

“Kom saam, Mientjie,” gebied sy.

Mientjie volg haar tante en die lang man met die spitsbaardjie nuuskierig, maar tog lugtig. In die studeerkamer gaan sit Ruben agter die lessenaar en Tamara oorkant hom. Mientjie kyk verwonderd om haar rond. Nog nooit het sy soveel boeke bymekaar gesien nie. Die vertrek ruik na leer en papier, na hout, verslaande sigaarrook en ink.

“Waarmee kan ek help, Tamara? Het Joshua uiteindelik tog besluit om van my aanbod om finansiële hulp gebruik te maak?” Ruben haal ’n sigaar uit ’n houtkassie en hou dit vraend in die lug.

“Rook gerus, Ruben.” Sy kyk vlugtig na Mientjie. “Nee, Ruben, as Joshua ooit geldelike hulp van jou sou aanvaar, sal hy nie vir my stuur nie, hy sal dit self vir jou kom sê. Dit behoort jy te weet. Ek is hier ter wille van Mientjie.”

Op die agtergrond begin ’n baba huil. Ruben skud sy kop. “Klein Simon is al heeldag knieserig. Joanna het haar hande vol met die twee seuns net meer as ’n jaar uitmekaar.”

Tamara knik. “Ja, Annabella alleen is al ’n hand vol so klein as wat sy is.”

“Om te dink dat my tweede seun en jou dogter net ’n paar weke uitmekaar gebore is.” Ruben kyk Tamara ’n oomblik ingedagte aan. “Jy lyk goed, Tamara. ’n Mens sal nooit sê dis maar ’n paar maande sedert Annabella se geboorte nie. Joanna sukkel maar om haar figuur weer terug te kry en sy is juis so gesteld op haar voorkoms.”

“Dis omdat dit haar tweede is. Myne is moontlik ook op pad … ons praat weer as dit so is.” Tamara bloos effens.

“Geluk, Tamara.” Ruben se gesig lyk nie baie gelukkig nie.

“Dankie, Ruben, maar ek is nie hier om oor figure of ons kinders te praat nie. Ek is hier oor Mientjie.” Tamara leun nader en laat rus haar gevoude hande op die lessenaar. “Sy is ’n regte boekwurm en hoogs intelligent. Op die plaas kan sy nie veel uitrig met haar gestel wat so ’n knou gekry het in die konsentrasiekamp nie. Sy is baie handig met Annabella, maar ek wil nie hê sy moet bloot kinderoppasser vir my speel nie. Sy word binnekort dertien. Sy moet iets van haarself maak met al die talente wat sy gekry het.”

“Wat vra jy van my, Tamara?”

Tamara buk en haal iets uit die leersak wat sy saamgebring het. Mientjie staan nuuskierig nader toe sy ’n plat kissie te voorskyn bring en voor Ruben op die lessenaar neersit.

Ruben kyk na die kissie en toe weer na Tamara. Hy teug aan sy sigaar en laat die rook rustig by sy mond uitborrel. “Is dit wat ek dink dit is, Tamara?”

Tamara knik en slaan die kissie oop. Teen die agtergrond van room fluweel skitter die mooiste goed waarop Mientjie nog ooit haar oë gelê het. ’n Halssnoer, oorkrabbetjies en ’n armband met diamante en diep blou stene geset in goud.

Ruben klap die kissie met ’n ongeduldige beweging toe.

“Jy het hierdie juweliersware vir my gegee toe ons albei nog onder die indruk was dat ons sou trou, Ruben. Selfs toe ek kop uitgetrek het, het jy gesê dis myne om daarmee te maak wat ek wil omdat dit ’n verjaardaggeskenk was. In die oorlog het ek dit weggesteek vir die Kakies en ná die oorlog het ek dit gaan haal. Joshua wil nie hê dat ons dit verkoop en die geld gebruik vir die opbou van die plaas nie. Hy sê ek sal dit eendag kan dra wanneer dit weer goed gaan op Bergendal en ons ons eie bal in ons nuwe herehuis hou.”

Tamara glimlag. Dis ’n hartseer glimlaggie. “Miskien word ons drome eendag waar, maar op die oomblik is dit vir my belangriker dat Mientjie haar geleerdheid kry. As ek die juwele nou gaan probeer verkoop, sal ek nie die hélfte van die waarde kry nie, selfs al gaan ek Pretoria toe.”

Sy sit agteroor in haar stoel. “Wat ek van jou vra, Ruben, is dat jy sal betaal vir Mientjie om in Pretoria skool te gaan by ’n ordentlike skool en, as dit goed gaan, haar daarna verder te bekwaam. Verblyf, klere en haar studie. In ruil gee ek jou geskenk aan jou terug.”

Ruben kyk Tamara lank in stilte aan voor hy na Mientjie draai en haar op en af bekyk, asof dit die eerste keer is dat hy haar sien. “Dertien, sê jy? Sy lyk dan so klein?”

Tamara knik. “Die konsentrasiekamplewe het haar gestel sleg aangetas. Maar sy is taai op haar eie manier, anders sou sy dit nie oorleef het nie.” Tamara kyk effens verskonend na Willemien en vervolg dan: “Behalwe ek wat ontsnap het, was sy die enigste oorlewende van ons klomp wat gevange geneem is.”

Ruben Gould kyk Mientjie ’n oomblik aandagtig op en af. “Wil jy graag gaan leer, Mientjie?” vra hy deur ’n wolk sigaarrook.

“Ja, oom, baie graag.” Haar stem verdwyn amper in die groot vertrek.

“Hoekom?” Die vraag klink bot en Mientjie se moed sak in haar skoene.

“Ek wil eendag ’n onderwyseres word, oom.” Haar stem bewe, maar sy kyk hom vierkant in die oë.

Ruben draai sy kop na Tamara. “Al die onderwys is nou in Engels. Hoe sal sy daarmee regkom?”

“Sy lees reeds Engels en praat dit redelik. Ek sal haar in die paar maande van die jaar wat oor is, gereed kry om aanstaande jaar te begin. Sy is baie vlug van begrip.”

Ruben rol sy sigaar tussen sy vingers rond en skuif dan die kissie met sy inhoud oor die lessenaar na Tamara terug. “Ek sal haar help, Tamara, maar nie in ruil vir die juweliersware wat ek vir jou gegee het nie.”

Hy hou sy hand op toe Tamara begin protesteer. “Wag nou, dis nie barmhartigheid wat ek hier uitdeel nie. Dis ’n lening. Ek sal aan die einde van elke jaar kyk hoe sy vaar, en as dit nie goed gaan nie, staak ek die lening en moet sy die geld terugwerk as kinderoppasser. As sy wel as onderwyseres kwalifiseer, moet sy vir twee jaar hier op Orange Hall kom inwoon as goewernante vir klein Ruben en Simon. Daarom sal sy na die instansies gaan wat ék kies, nie sommer enige lieplapperleerplek nie. Jan Smuts sal ’n behoorlike kontrak optrek.” Hy skuif die kissie nog nader aan Tamara. “Dié bly joune, en dis ’n voorwaarde.”

Tamara wil iets sê, maar bly dan stil en kyk ’n lang ruk na Mientjie voordat sy weer na Ruben draai. “Dan is dit goed so. Solank Mientjie geleerdheid bekom.” Tamara kom orent, haar wange rooi, asof sy skaam kry vir iets. “Mientjie, sê dankie vir oom Ruben.”

Mientjie kyk skugter na die lang man. “Baie dankie, oom Ruben. Ek sal nie vir u of tante Tamara teleurstel nie. Dit belowe ek.”

Ruben knik net en staan ook op.

“Dankie, Ruben.” Tamara se stem is hees. “Dit beteken vir my oneindig baie. My broer Mattheus, die kind se pa … Hy is mos ná skoonsus Martha se dood in die kamp met Trynie getroud en …” Sy kyk weer vlugtig na Mientjie en bly stil.

Ruben stap om die lessenaar en laat rus sy hande op Tamara se skraal skouers. “Ek weet hoeveel moed en trots dit jou gekos het, Tamara, maar ek waardeer dit dat dit na my is wat jy gekom het.”

Tamara knik en roer haar skouers effens, maar Ruben laat haar nie gaan nie. Hy staar diep in haar oë af, asof hy agter een of ander geheimenis wil kom.

Mientjie se kop ruk om toe die studeerkamerdeur oopswaai. Joanna staan geraam in die kosyn, haar gesig spierwit. Dan draai sy net so weer om en hardloop byna uit.

Tamara begin agter haar aanstap asof sy Joanna wil inhaal, maar Ruben keer haar met ’n hand op die arm. “Laat staan, Tamara. Ek sal met haar praat.” Hy trek ’n koord met ’n tossel aan en in die verte klingel ’n klok. “Neeltje sal julle voordeur toe vergesel.” Hy soen Tamara vlugtig op die voorkop en verdwyn dan sonder ’n verdere woord agter Joanna aan.

 


0 Responses to “Die Daveltjies – eerste tonele”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Desember 2016
M T W T F S S
« Oct    
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: