LABIRINT

labirint-high-resSy gaan ophou vlug van haar eksman en haar verlede en sy gaan dit doen op Leeuwendrift waar sy as verworpeling grootgeword het. Dít besluit Vasti de Leeuw toe haar meenthuis gevandaliseer en ’n besending van haar skilderye vernietig word.

Om die verlede te trotseer, is egter nie so maklik nie. Daar is die onlangse verlede waarin sy haar vermoë om ernstige kuns voort te bring, verloor het. Haar nagmerrie-huwelik en die verwoestende gevolge daarvan. Daar is haar kinderdae toe sy in die skaduwee van sowel ryk, dominerende Leon de Leeuw as haar Hollander-oupa gestaan het. Ook die verre verlede waaruit die legende van die leeuman gespruit het; die begin van die twis tussen die Bredells en die De Leeuws.

In die hede vaar sy nie veel beter nie. Sommer die eerste dag in die oewerhuis op Leeuwendrift begin haar eksman haar weer treiter. Sy is ook skaars ’n week daar toe een van die inwoners van De Koppe, ’n rykmansbuurt waar die uitruil van seksmaats die reël eerder as die uitsondering is, in verdagte omstandighede sterf. Vasti kom gou agter sy is baie meer betrokke as wat sy kon vermoed. Veral toe die ontbinde lyk van ’n man naby haar huis ontdek word. Dan sterf nog ’n vrou op agterdogwekkende wyse. En dié is nie die laaste slagoffer nie.

Die net trek ál nouer om Vasti, want elkeen van die sterftes hou op die een of ander manier verband met haar, haar kuns en die mans in haar lewe.

Die sleutel om die geheimenisse van die hede te ontsluit, besef Vasti, lê in die verlede. Sy sal die minotaurus moet aandurf, met of sonder ’n tolletjie gare, om die doolhof te kan vereenvoudig tot ’n labirint.

Dit is natuurlik die laaste ding wat die moordenaar kan toelaat. Vasti se vlammetjie moet om meer as een rede gesnuit word.

Labirint is ’n spanningsroman wat boosheid blootlê waar dit nie vermoed is nie en goedheid waar dit diep verborge is.

Labirint is onlangs herdruk in nuwe gedaante en is onder meer beskikbaar by:

http://www.graffitiboeke.co.za/index.php?page-id=book&book-id=14342&title=Labirint

Labirint is ook beskikbaar as e-boek by

http://www.amazon.com/Labirint-Afrikaans-Chanette-Paul-ebook/dp/B00BW7F2CG/ref=asap_bc?ie=UTF8


11 Responses to “Labirint”


  1. 1 Jolandé Scheepers
    Oktober 26, 2012 om 10:48 vm

    Wat ‘n heerlike leesgenot! Ek het dit vreeslik baie geniet, Chanette! Hier op die einde het ek dit probeer uitrek want ek wou nie hê dit moet klaar raak nie, maar terselfdertyd is ek vrek nuuskierig oor wat gaan gebeur! Ek gaan regtig vir Vasti en almal mis! Ek dink die spanningslyn wat jy bou is baie goed en dit sal wonderlik wees as iemand ‘n fliek hiervan kan maak🙂 Al die goed oor kuns en mitologie is baie interessant! Ek leer altyd baie uit jou boeke omdat jy so goed navorsing doen!

    Ai man, dis lekker! Die 3 boeke die jaar was ‘n heerlike bederf! Ek sien sommer klaar uit na die volgende 1🙂

    • Oktober 26, 2012 om 11:08 vm

      So bly jy het dit geniet Jolandé! Sal heerlik wees as iemand dalk eendag ‘n fliek wil maak, sjoe.
      Bly jy vind die mitologie en dies meer interessant. Die goed wat my fassineer, vind maar altyd neerslag in my boeke!
      Ek probeer my bes om aan die volgende manuskrip te werk, maar dis so besig die tyd van die jaar dat dit maar swaartrek. As alles egter goed gaan en ek haal my keerdatum, behoort daar darem weer iets teen Julie of Augustus op die rak te wees. Mooi bly!

  2. 3 Chantelle Vogel
    Januarie 7, 2013 om 9:07 vm

    Hi Chanette,

    So pas Labirint klaar gelees! Absoluut STUNNING! Ek kon nie ophou lees nie! Ek het ook natuurlik al die Gys Niemand boeke gelees en moet se hy is my gunsteling speurder! Dankie dat jy jou talent gebruik om sulke fantastiese boeke te skryf. Ek is gaga oor al jou speurverhale! Dis opwindend en boeiend!

    Een van jou grootste fansB
    Liefde
    Chantelle Vogel

    • Januarie 7, 2013 om 11:29 vm

      Dis so lekker om te hoor jy het Labirint geniet, Chantelle, en ook dat ou Gys jou gunsteling is! Ek mis die ou nogal, maar hy en Gertjie gaan glo lekker aan daar op Kruisbaai😉. Ek werk tans aan nog ‘n spanningsroman wat hopelik hier teen Augustus sal verskyn as alles goed gaan. Hou maar die blog dop vir nuus daaroor. Mooi bly!

  3. 5 Leoni Jacobs
    Januarie 21, 2013 om 2:09 nm

    Liewe Chanette,
    In jou stories is daar ietsie vir en van my eie siel – of partykeer waarin ek meer wou geweet het of waarin ek belang stel in. Dit voel anyway of ek jou ken jou deur jou boeke maar ook op ‘n ander vlak. Ek vier natuurlik fees in die onbekende en fabelagte goette.

    Elke keer, in elke boek is ek aangenaam verras oor die manier wat jou verhale my laat lag, skrik, verwonder en tjank…

    Ek het my verlekker my aan jou fotos en jou paradysie want voor ek jou op jou web gesoek het het ek darem min of meer geraai waar jy bly.

    Dankie (baie) vir my heerlike ontdekking’s togte deur jou skrywe en vir ‘n prinses wat in toring skryf. Dis nogal fantasmagories!

    Ps.As jy ooit toeslaan oor ‘n idee vir ‘n nuwe boek, i maybe got one for u.
    Lekker skryf!

    • November 18, 2013 om 7:57 vm

      Ek kan nie glo ek sien nou eers jou kommentaar nie, Leoni. Amper ‘n jaar later! Erens het iets sleg verkeerd geloop. Dalk met dié dat ek die jaar baie weg van die huis af was en soms sukkel om by te bly met al die e-posse.
      Nietemin, baie dankie vir jou pragtige kommentaar. Dis heerlik om te hoor jy geniet my boeke en dat dit jou op reise stuur! Veral verbeeldingsreise. Mense sonder verbeelding moet ‘n baie saai lewe hê😉

  4. 7 Malanie Viljoen
    Maart 4, 2013 om 8:14 vm

    Goeie dag, het so pas Labirint klaar gelees, was ‘n baie goeie lees, net soos al jou ander boeke.

    Die gevloek kan mens nog by verby kyk, want dit is hoe die meerderheid Afrikaners vandag praat, maar ek het ‘n probleem met die ydelike gebruik van Jirre, Jissis en dan ook Here.

    • November 18, 2013 om 8:06 vm

      Soos ek hierbo vir Leoni gesê het, kan ek nie glo ek sien nou eers jou kommentaar nie, Malanie. Dit het dalk gebeur omdat ek hierdie jaar baie weg van die huis af was en soms sukkel om by te bly met al die e-posse.

      Ek is jammer as sekere woorde aanstoot gee. Die bedoeling is nie om die Here se naam ydelik te gebruik nie. Ek probeer my karakters net so eg as moontlik laat klink en soms is die situasie van so ‘n aard dat ‘n spesifieke karakter wel so sou praat. Jy sal oplet dat dit nie alle karakters is nie en gewoonlik net in ‘n krisis.

      Ek is bly dat jy nietemin Labirint geniet het!

  5. 9 Latetia Oelofse
    April 4, 2013 om 10:40 vm

    Goeie more Chanette,
    Mensig maar het ek nou hierdie boek geniet! Op n staduim het ek die boek staan en toeklap want eks te bang om te weet wat gaan gebeur. Het skoon hardop vir my sit en lag dat ek so simpel kan staan en wees.
    Weereens baie dankie vir ‘n wonderlike boek.
    Lekker dag

    • November 18, 2013 om 8:08 vm

      Ook vir jou moet ek om verskoning vra, Latetia (soos hierbo) dat ek nou eers jou kommentaar sien! Dis wonderlik om te hoor dat jy jou so in die storie en die karakters kan inleef!
      Dankie dat jy laat weet het en ek hoop jy geniet my boeke vorentoe net soveel!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Desember 2016
M T W T F S S
« Oct    
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: