Vooraf

Woensdag 29 Februarie

Woorde wat toiletgraffiti na kinderkuns laat lyk, drup in rooi, skewe letters teen die woonkamermuur.

Op die mat lê ʼn blik PVA in ‘n poel verf die kleur van bloed. Die blik kom uit haar eie motorhuis. Sy wou ʼn tafeltjie daarmee verf. Die kleur bots met sommige van die kelim se aardse kleure en versmelt in ander. Sitkamermeubels is op hulle sye gekantel, die bank- en stoelkussings oor die vloer verstrooi. Dik derms stoffeersel peul oral uit. Boeke is uit die boekrakke gepluk. Die skemerlamp leun skuins in sy eie skerwe.

Vasti draai stadig in die rondte, lees die ontstellende woorde teen die mure. Asof sy haarself wil straf omdat sy hierdie nagmerrie raak gedroom het in ʼn dimensie waarvan sy nie eens bewus was nie. Slet, is die makste daarvan

Bekers, pierings en borde lê aan stukke op die vloer van die oopplankombuis. ʼn Blou en wit skerf krul langs ʼn porselein sirkeltjie – die tuit en oor van ouma Marien se Delftse teepot wat nog saam met oupa Kees uit Holland gekom het.

Die deure na albei slaapkamers staan oop. In die eerste is die beddegoed afgeruk. Die matras hang halfmas oor die bed – donkergrys blertse deur die glansmateriaal geabsorbeer. Die bed, die vloer besaai met haar klere.

In die tweede slaapkamer, haar ateljee, lê verflenterde skilderye hot en haar. In ʼn dwaal stap sy daarheen. Die sterk reuk van terpentyn oorheers hier die reuk van verf. Die hele besending wat na Runa toe moes gaan, is daarmee heen. Net die laaste oorblywende deel van haar Paas-triptiek en haar eerste engel skildery is nie verwoes nie.

Vasti gaan terug sitkamer toe, hurk by ‘n boek wat oopgevlerk op die vloer lê. The unbearable lightness of being. Die blaaie het van die stinkerige water uit die omgekeerde blompot geabsorbeer en die hoed op die omslag staan bol van die vog.

Sy skud die ergste water van die deurdrenkte blaaie af, lees in ʼn dwaal ʼn gedeelte wat sy jare gelede onderstreep het. The idea of eternal return is a mysterious one, and Nietzsche has often perplexed other philosophers with it: to think that everything recurs as we once experienced it, and that the recurrence itself recurs ad infinitum!

‘n Geluid by die venster laat haar verskrik regop kom. ʼn Geknars van glas wat breek. Sy koes, struikel, oorkompenseer, trap iets in die chaos om haar voete raak. Die laaste beeld voor haar oë is die hoek van die koffietafel wat teen verbysterende spoed naderkom.


5 Responses to “Labirint – Proloog”


  1. Oktober 14, 2012 om 9:11 vm

    Sjoe! Nou is ek eers nuuskierig!!

  2. Junie 28, 2015 om 9:51 vm

    Het so pas Labirint klaar gelees. Kon dit nie neersit toe ek eers begin het nie. My huismense het my eers snaaks aangekyk en toe maar verlief geneem daarmee dat ek die naweek vir hulle verlore is. Ek dink dis moontlik dalk die eerste keer dat ek een van jou boeke lees, alhoewel ek van jou weet uit die ou Hartbeespoort dae toe Harties nog ‘n village was en die Standard Bank nog in die Dreiers sentrum was en ons as Standard Bank personeel almal in die village geken het en al die skinderstories en almal se doen en late as te ware uit die perd se bek gehoor het.

    Dankie vir die ek het dit werklik geniet. Soms self geassosieer met Vasti. Eendag as ek groot is sal ek dalk ook ‘n boek kan skryf. Ongelukkig vorder ek nooit verder as bladsy twaalf dalk glo ek nog nie in myself nie. Miskien eendag.

    • Junie 28, 2015 om 10:05 vm

      Hoe laat jy my nou terug dink aan die ou Harties! Toe ek so twee jaar gelede daar naby was nadat ek vir ‘n dekade al daar weg is, het ek die plek nie herken nie. In my kop, bly dit nog die ou harties soos ek dit onthou.
      Ek is so bly jy het Labirint geniet.
      Skryf is nie maklik nie, maar waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Dit het my twintig jaar geneem om die moed bymekaar te skraap om te begin skryf. Nou skryf ek al twintig jaar – en wonder steeds of ek regtig kan skryf!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Desember 2016
M T W T F S S
« Oct    
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: