Offerlam_cover_high

(Klik op foto om agterbladteks te lees)

Proloog

17 Januarie 1961 – Katanga

Die naglug stink na savannestof en sweet en vrees. Na verraad, gierigheid en magsug. Koloniale Afrika se vrot asem. ’n Asem wat sy goed ken.

Sy linkerhand klem om haar arm. Die regterhand is ’n knellende vuis om haar kaak.

“Kyk, slet,” sis hy in haar oor. “Kyk!”

Dis donkermaan. Voor hulle staan Elia onder ’n akasia asof vasgevang deur die ligkol wat die voertuie se koplampe werp. Buite hierdie bleek vlek tussen niewers en nêrens nie, doem die vae gedaantes van nog bome op. Iets ritsel in die lang gras ’n ent links van hulle. In die verte huil ’n jakkals, ’n maat treur saam.

’n Bevel word gegee. Vier gewere word hoorbaar gereedgemaak.

Sy wil haar oë toemaak, maar dié bly star staar asof haar ooglede gestysel is.

Elia hoes en spoeg bloederige slym eenkant toe. Die eens wit frokkie is nou gevlek met grond, sweet, speeksel, bloed. Een skoen het verlore geraak. Sy blik is nie op die polisieoffisiere met die gewere nie. Van agter die bril wat skeef sit op sy vernielde gesig, kyk hy direk na haar. Die weerkaatsing op sy brillense maak die uitdrukking in sy oë onleesbaar.

Nog ’n bevel. Gewere word na die skouers gelig.

Sweet rol teen Elia se slape af. Hy beur aan die toue waarmee sy hande agter sy rug vasgemaak is, probeer speling vir sy enkels bewerkstellig, maar gee moed op. Sy kniekoppe ruk op en af. Sy kuite tril. Die mond is stroef geplooi.

Alles voel onwerklik. Dit wat hier voor haar oë afspeel en ook wat vroeër vanaand gebeur het.

Sy het die rooksuil van ver af gesien toe sy na Elia se huis op pad was om hom te waarsku. Wat sy huis was. Niks het die brand ontkom nie. Nie sy lessenaar, waar al sy dokumente was, of die boekrakke met die boeke wat hy so kosbaar geag het nie. Nie die foto uit beter dae waar hy en Patrice Lumumba handskud nie. Natuurlik ook nie sy Immatriculation-bewys nie. Die een stukkie papier wat ’n jaar gelede nog meer as goud werd was vir elke évolué. Die paspoort na bevoorregting.

Die volgende oomblik het ’n voertuig langs haar stilgehou en is sy ingeboender. Die nuuskieriges wat na die verwoesting staan en kyk het, het nie een ’n vinger gelig om te keer nie.

In hierdie oomblikke voor die onvermydelike gebeur, is Elia nie meer die ewige student, die leermeester of die man wat so filosofies kon raak nie. Nie meer Patrice Lumumba se vriend, mentor en kritikus nie. Of die man wat soveel weesgelate kinders help voed en klee en opvoed het nie. Nie meer die optimis wat net uithou en aanhou nie.

Hy is net ’n man in ’n besmeerde frokkie met ’n bril wat skeef op sy neus sit. Een wat te veel weet. Wat ’n te groot invloed op Patrice gehad het. ’n Struikelblok geword het.

Maar hy is veral die man wat haar liefgekry het.

Nog ’n bevel. Die woorde dring nie tot haar deur nie, die intensie wel.

Die klampe om haar arm en kaak verstyf.

Glo Elia in hierdie oomblik nog aan God se wil? Die wil van ’n God wat uitkoms gebring het vir Abraham toe hy sy seun wou offer, maar vir sy eie Seun nie dieselfde genade gehad het nie? Ook nie vandag vir Elia nie.

Sy gil toe die salvo skote klap. Asof dit onverwags was. En dalk was dit. Dalk wou sy nie glo dat hierdie wit barbare, dat César, werklik so laag kan daal nie.

Elia se lyf ruk en tol effens na regs, sak teen die boomstam af en bly op ’n hoop lê in die vlak graf wat hy vermoedelik vroeër self moes grawe. Vlees, pees en been wat geen doel meer dien nie. Bloed wat vir oulaas deur die hart gepomp het, vlek die frokkie karmosyn – kamoefleer die smeersels stof en speeksel.

César stamp haar met geweld eenkant toe. Sy val hard op die klipperige grond. Pyn skiet deur haar knie en elmboog, die savannegras krap haar arms. César vryf sy hande teen sy broekspype af asof hy besmet voel. Sy bleekblou oë ontmoet hare net voor ’n spoegstraal uit sy mond skiet en teen haar wang klerts.

In die agtergrond hoor sy hoe Elia se liggaam met kluit en klip en grint toegegooi word.

Die wêreld kantel kortstondig.

“Elia!” Dis meer ’n oersteun as ’n uitroep. ’n Rou geluid uit dieptes van ’n plek in haar wat sy nie geweet het bestaan voor sy besef het waartoe die mens in staat is nie.

Die eerste stewel tref haar in die sy. Die tweede teen die skouer.

“Hoer!”

Êrens roep ’n uil na sy maat.

Nog ’n skop ontplof teen haar slaap.

Die ligkol vervaag, los op in die naggeluide van donker Afrika.


4 Responses to “Offerlam: Proloog”


  1. 1 Elize
    November 2, 2015 om 2:05 nm

    Ek het die naweek begin lees en kan nie die boek neersit! Reg in Chanette se styl. Jou taalgebruik is perfek ek kan die hele storie ‘sien’ oopvou! Dankie en hou aan skryf…

  2. 3 Erika
    November 23, 2015 om 2:31 nm

    Canette op De Boekenbeurs in Antwerpen, België
    http://boekenkast.jimdo.com/zuid-afrikaanse-auteur-chanette-paul-te-gast-op-de-boekenbeurs/
    Leuk je daar te hebben ontmoet
    Erika en Arnold


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Desember 2016
M T W T F S S
« Oct    
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: