SPRINGGETY

Proloog

Een

Vrydag – 25 November 2005

Byna gehipnotiseer staar Maja na die gekolk van water so diep onder haar, skaars bewus van die wind, die punterige rotse onder haar voete.

Springklip is ʼn plek waar die dood tasbaar vra na siele.  Daarvan getuig die vier kruise hier agter haar.  En daar diep onder aan die voet van die krans, spoel siele nie los nie.  Daar word hulle in rotse vasgewroet, in wier verstrik en sit saam met seesterre soos lewende graffiti teen onderwater riwwe.  Dit weet sy.

Die kolking van die water tart haar.  Rotssplete word wegwysers na seebamboes wat met donker arms wink: kom speel saam.  Die branding bots sinsteurend met die standvastigheid van rots.  Ondermyn haar sin vir diepte en balans.  Maak haar spiere onseker van hulle taak: spring of bly staan.

Maja haal diep asem toe ʼn seemeeu bo haar krys, drink die reuk van mossels en sout en vermolmde fynbos in.

Vyf en twintig jaar gelede het sy gedink haar ontmoeting op Springklip gaan haar in ʼn nuwe toekoms in lanseer.  En nou staan sy vir die eerste keer weer hier.  Nee, natuurlik wil sy nie spring nie.  Nie noudat sy dinge uiteindelik met Lily kan regmaak nie.  Dis net die hoë bloeddruk wat haar duiselig gemaak het.  Dalk ook ouderdom en die herinneringe wat daarmee saamgaan.

Sy dwing haar blik weg van die see so ver onder haar.  Kyk af na die baaitjie.  Die klip- en houthuis met sy spits grasdak staan alleen en half komieklik tussen die fynbos.  Die huis wat Abel vir haar veertig jaar gelede gekoop het toe ander pyne aan haar geknaag het.  Die huis wat iemand lank gelede die Visvrou gedoop het.  Een kant toe strand en see, anderkant toe die blertse wit van ander huise.  En skuins agter haar huis, die karavaanpark.

Saam word die blertse en reghoeke Kruisbaai.  ʼn Plek wat so swaar dra aan sy verlede dat die geskiedenis hom telkens verword herhaal.

Durf sy Lily hierheen stuur?  Sal Lily begryp hoe ʼn plek soos Kruisbaai mens kan verlei om te dink dat die werklikheid hier anders daar uitsien as op ander plekke?  Sal Lily kan insien dat hoop soveel makliker hier gebore word.  En soveel vinniger beskaam?

“Gaan jy spring, Maja?”

Maja swaai om, verloor vir ʼn oomblik amper haar balans, maar herwin dit.  Die uitdrukking in die oë voor haar ontlok ʼn onmiddellike en intuïtiewe angs.  Duiseligheid versteur haar fokus, verwring die wenkbroue wat nou vreemd naby aan wangbene sit.  Maja se ore druis.  Verwronge lippe beweeg van mekaar af, maar dis asof die woorde van ver af agter die beweging van die mond aangetou kom.  “Moet … ek … jou … help?”

“Nee,” kry Maja dit moeisaam uit.  Nêrens om te gaan nie.  Net die laaste tree agter haar en dan die afgrond.

Maja sak op haar knieë neer.  Vinniger en vinniger tol beelde, reuke, geluide …  Lily …  Haar wang kom op ʼn klip te ruste.  Die klip ruik na iets.  Na klip.

“Maja?”

Het Braam se siel uiteindelik losgespoel?  Is hy hier by haar?

“Moet my nie stamp nie.  Nie nou nie.  Ek moet eers vir Lily …”  Sy vergeet wat sy wou sê toe die donkerte oorneem.

 

FORTUIN

Proloog

19 September 2005

Die vyf kerse se vlamme lyk asof hulle in glas gegiet is.  Deur die ronde venster agter die kerse hang die maan nog amper net so dragtig soos gisteraand se volmaan.  Buite beweeg nie ’n blaar nie. Naggeluide bind tot ʼn hoorbare stilte.

Heléne skuif ongemaklik rond waar sy kruisbeen op die kussing voor die kerse sit, haar kneukels lossies op haar knieë, en probeer haar gedagtes leegmaak.  Die aromabrander laat haar oë vanaand traan, laat haar lugweë effens saamtrek.  Sy ruik nie eens die aromatiese olie waarmee sy die soutkristalle in die bakkie bo die teeliggie bedrup het nie.  Sy voel aan die spesiale sakkie wat in die synaat van haar rok ingestik is of die asmapompie daar is.  Natuurlik is dit.  Sy gaan nêrens heen sonder haar lewenslyn nie.

Maar dis nie net die benoudheid wat haar gedagtes oorheers nie.  Vanoggend se gesprek met Eva bly in haar kop rondmaal.

“Om ons weë te volg, verg baie dinge, Heléne, maar veral durf.  Hoe hoër mens in die hiërargie vorder, hoe moeiliker raak dit,” het Eva gesê.  Die deernis in haar stem het nie afbreuk gedoen aan die erns in haar oë nie.  “Jy moet baie seker maak dis wat jy wil doen.”

Vyf maande gelede was daar by Heléne geen twyfel dat sy in Eva se voetspore wou volg nie, maar nou …

“As jy besluit om opgelei te word, moet dit wees omdat jy glo dat jy daartoe geroepe is.  Ondanks alles, nie terwille van iets nie.”  Eva het vooroor geleun en haar hande oor Heléne s’n gevou.  Eva praat dikwels met haar hande.  “Gaan eer die ondergaan van die son van die duine af.  Soms gee barheid meer helderheid as ʼn welige tuin.  Mediteer vanaand met nuwe erns en dan kom sê jy vir my môre wat jou finale besluit is.  Daar is voorbereidings wat getref moet word voor ons jou kan inlyf en die drie en twintigste is om die draai.”

ʼn Ritseling buite laat haar verstyf, maar dan is dit weer stil.  Dis asof haar sintuie rou geskaaf en hiperontvanklik is.

Heléne sit haar handpalms teen mekaar en maak haar branderige oë toe.  Sy haal diep asem.  In, een … twee … drie … vier … vyf …  En uit.  S … T … E … V … E, weier haar gedagtes om op hok geslaan te word.  Sy het Steve liefgekry toe sy haar oë die eerste keer op hom gelê het.  Al was sy net tien jaar oud en hy negentien.  Dit was ʼn paar maande voor haar ma met sy pa getroud is.

Nee, gedagtes leegmaak.  Diep inasem, en in, en in.  En uit.  As sy Eva opvolg sal sy die res van haar lewe hier op Paradyskloof moet deurbring.  Mense help soos Eva mense help.  Dit klink so edel, maar dit beteken ook dat sy Steve nooit weer sal sien nie.  Hy sal hierdie lewenswyse nooit aanvaar nie.  Hy sal eendag weer trou en hy sal haar vergeet.

Maar al gaan sy terug … al besef hy uiteindelik dat hulle saamhoort … hy sal haar nooit vergewe nie.  Dit was baie duidelik uit hulle laaste gesprek.  Ontspan, maan sy haarself, toe die benoudheid haar bors inmekaar begin trek.  Diep inasem en diep uit.  In. Uit.

Haar gedagtes raak wollerig, die benoudheid neem toe.  Sy maak haar oë oop en gryp na haar asmapompie.  Nie nou nie, nie hier nie, bid sy woordeloos.  Die pompie bring min verligting.  Die vyf kersvlamme het tot tien aangewas, ʼn dubbelmaan hang agter die venster.  Haar gekruisde bene begin kramp, haar hande ook.

Heléne steier met moeite orent.  Gedisoriënteer struikelloop sy slaapkamer toe.  Die bed dans voor haar oë rond, maar sy vind dit net voor haar bene te rubberig raak.  Sy val daarop neer en draai op haar rug.  Asem.  Sy het asem nodig.  Die asmapompie kom te stadig na haar mond toe, verdwaal op pad daarheen.  Haar arm wil nie na haar verstand luister nie. Sy begryp dit nie.  Hierdie asma aanval is so anders as enige ander wat sy in haar lewe gehad het.

ʼn Beweging in die deur.  Iemand.  Hulp.

“Help my.”  Die woorde sukkel uit, haar oë kry nie gefokus nie.

“Natuurlik.”  Sy herken die stem.

“Pompie,” kry sy dit uit.

Die dubbelbeeld van die gesig wat oor haar buig word ʼn driedubbele beeld.

Iets koud teen haar wang.  ʼn Krieweling.  Meer druk teen haar wang, ʼn koue kringetjie.  Nog meer van ʼn krieweling.  ʼn Effense brandpyn.

“Eina,” prewel sy.

“Daar’s hy.  Dit sal nou-nou beter wees.”

Heléne kreun en maak haar oë toe.  Asem.  As sy net kan asem kry.

 

BOHEEM

Proloog

Paasvakansie

 

Alles verby. Netso, woeps. Geskei. Drie ure lank al. Kobus is waarskynlik al terug van Bloemfontein af.

“Dis jammer dat u so haastig was om alles af te handel, mevrou Bresselaar. Ek kon vir u ʼn baie beter skikking beding het. Die kwessie van die aanranding…”

“Dis oukei,” kry Katrien dit uitgekwaak. Sy weet die prokureur vermoed, heeltemal tereg, dat Kobus haar afgepers het. Gedreig het dat hy ʼn klag van aanranding teen haar sal lê as sy meer vra as wat hy wou afstaan. En veel wou hy gewis nie afstaan nie. “Ek is net bly dis verby. Dankie vir u moeite.” Sy het reeds die rooi knoppie gedruk voor sy besef dat sy seker kortaf was.

Sy druk die selfoon so styf teen haar bolip dat haar voortande pynlik in die sagte vlees insny. Sy weet nie wat sy probeer keer om uit te kom nie. ʼn Vreugdelag? ʼn Sug van verligting? Of dalk ʼn beangste gil.

Want nee, alles is nie woeps! verby nie. Wildfontein is ʼn dorp met ʼn lang geheue. Nes dit ʼn dorp is met streng onderskeide. Swart, wit. Vrou, man. Onderdorper, bodorper. Slet, heilige. Skuldig, onskuldig.

En onskuldig is Katrien nie. Sy hét Kobus ʼn blouoog gegee. ʼn Heilige is sy ook nie. Haar redes om met Kobus te trou was seker nie veel beter as prostitusie nie. Iets wat mens sal verwag van iemand uit die onderste deel van die onderdorp.

Katrien kyk op na die spinnerakke in die rondawel se grasdak, heeltemal te hoog om met ʼn verestowwer by te kom. Kobus sou aapstuipe gekry het. Miskien daarom dat dit haar nie te veel pla om haar nuwe tuiste al vir twee maande met ʼn spinnekopkolonie hier in die huurrondawel op San Badenhorst se werf te deel nie. Dis die enigste woonplek wat sy kon kry. En ook maar net omdat San ʼn weduwee is wat die minimale huur nodiger het as die goedkeuring van die res van die dorp.

Die afgelope twee maande se hel, is ʼn vulletjie in vergelyking met die ses jaar van leuens en verraad en emosionele uitmergeling wat dit vooraf gegaan het, maar wat voorlê…

“Juffrou?”

Katrien draai na die skraal figuurtjie wat van niewers af in die kosyn geraam staan. In haar katoen sonrok lyk sy so netjies soos altyd, maar nog weerloser as in haar skooldrag. Die blonde wegvlie hare is deurmekaarder as gewoonlik, haar bruin oë ernstiger. Die skamerige glimlag waarmee sy altyd haar boeke oor die skoolbiblioteek se toonbank na Katrien oorskuif om gestempel te word, ontbreek.

“Ek is op pad om my ma-hulle te vertel, juffrou, maar ek wou eers vir juffrou kom sê. En kom sê dat ek jammer is.” Daar is ʼn vasberade uitdrukking in die kind se oë, maar haar onderlip bewe effens.

“Marjolein?”

“Ek verwag, juffrou, en die kind is meneer s’n,” kondig sy met droë oë en ʼn stywe kaak aan, draai net daar om en stap weg.

Katrien bly staan asof sy aan die rondawel se vloer vasgemessel is. Verwag? Marjolein? Ryk Piet van Vuuren se dogter wat soos ʼn vlakhaas kan hardloop, maar beskeie bly oor haar atletiekprestasies? Leesgierige Marjolein wat haar biblioteekjuffrou se verjaarsdag onthou en af en toe ʼn geskenkie bring omdat Katrien soms toelaat dat sy ekstra boeke uitneem?

Meneer s’n, dring die laaste sinsnede uiteindelik deur toe ʼn verdedigingsmeganisme meegee.

Sy weet nie hoe lank sy so gestaan het voordat sy uiteindelik sover kom om Kobus se snelbelnommer te druk nie. ʼn Veroordelende stem lig haar kil in dat haar lugtyd gedaan is. Met dom vingers vroetel sy haar telefoonkaart uit haar beursie voor haar voete vanself die pad poskantoor toe vind.

“…net ʼn oomblik?” kom dit dof na die derde lui en dan duideliker: “Bresselaar?”

“Sy verwag. Sy is op pad na haar ma toe. Gaan staan haar ten minste by,” is al wat Katrien kan uitkry voor haar keel so dig trek dat sy dink sy gaan versmoor.

“Hou jou neus uit my sake, Katrien. Ons is niks meer van mekaar nie. Buitendien, wie ‘sy’ ook al is, sy lieg.”

“Marjolein sal nie lieg nie.”

“Alle vroumense lieg. Marjolein is geen uitsondering nie. Sy lieg.” Die lyn gaan dood.

Die Vrystaatse herfsson bak met elke blok wat sy stap feller op haar neer, maar binne in Katrien is dit yskoud. In haar kop ook. Yskoud en donker en amper gedagteloos behalwe vir Marjolein se woorde. Ek verwag, juffrou… kind is meneer s’n… meneer s’n. En dan Kobus:… sy lieg… lieg… lieg.

Êrens hoor sy ʼn klapper afgaan. Die kinders raak verveeld gedurende vakansies. Die gedagte kom en gaan sonder vastrapplek.

Die blou Corsa staan onder die koelteboom voor die beskeie baksteenhuis. ʼn Huis wat sy hare genoem het, maar nooit ʼn tuiste was nie. Baksteenmure wat sou kon getuig van eensame ure, dae, maande, jare. Van geslingerde verwyte en verswygde beskuldigings, van gestorte en ongestorte trane.

Nog ʼn klapper, ʼn baie groter een. Of dalk nader.

Toegetrekte gordyne voor die huise weerskant Kobus s’n verraai dat die bure waarskynlik by die kerkgronde is waar daar ʼn familiedag gehou word. Die metaalknip is stram en sy sukkel daarmee voor die hekkie oopswaai aan skarniere wat luid piep. Die gruis van die tuinpaadjie wat lineaalreguit tussen verlepte afrikaners deur beur, knars onder haar sandale.

Die rooi stoeptrappies se verf dop af, die stoepvloer is vol droë blare. Daar is nie meer ʼn Katrien wat geskel kan word oor elke stoffie in die huis of ʼn gewaande kreukel in meneer se hemp nie. Die voordeur met sy geriffelde glasruit gaap op ʼn kier oop soos dit altyd maak as dit nie gesluit is nie.

In die voorportaal gaan staan Katrien sonblind. Die riffelglas se patrone speel teen die wit mure, gee ʼn onderwatereffek aan die piepklein ruimte. Is meneer sʼn… Sy lieg…

ʼn Deur klap êrens toe. Die geluid ruk haar uit haar dwaal. Wat op aarde maak sy in Kobus se huis? Sy het hom gaan bel, nie besluit om hierheen te kom nie. Hoe lank staan sy al hier? Die swart kolle dans effens minder voor haar oë. Sy moet hier uit voor Kobus agterkom sy is hier. Voor sy hom weer toetakel.

Dis met die regsom terugdraai voordeur toe dat sy die skoen raaksien. Die sokkie. Die broekspyp daarbo. Katrien hoef net twee treë te gee om in die skemer sitkamer tot stilstand te kom. Nog twee om tot by hom te kom en op haar hande en knieë langs hom neer te sak.

Op die mat met sy verslete herfsblaarpatrone, blom donker kolle al om Kobus se kop. Dan eers sien sy die verflenterde onderlyf. Met die middaglig daaragter, trek die halftoe venesiese blinders parallelle tussen sy bloederige kop en sy deurdrenkte skrotum. ʼn Ligstreep glim op die pistool in sy regterhand.

Haar eie hande registreer iets vreemds. Nat. Sy lig hulle en staar na die bloedvlekke. Die reuk van rou vleis en ekskresie dring tot haar deur. Dan sien sy eers regtig wat sy sien asof haar brein sy tyd geneem het om te interpreteer wat haar oë waarneem.

Katrien vlieg op, hardloop na die agterdeur, pluk dit oop. Al wat haar begroet is hitte en sonbesies en verskrompelde malvas.

Sy het geweet Kobus sal haar sesjaarlange poging tot tuinmaak in hierdie sonverskroeide dorp laat verwaarloos. Nes sy weet dat Kobus Bresselaar te arrogant was om selfmoord te pleeg en heeltemal te ydel om dit op dié manier te doen. Nes sy weet dat die hele dorp dit ook sal besef.

En dis hoe sy in ʼn oomblik van profetiese insig, ook weet dat Kobus se dood voor háár deur gelê gaan word.

 

MEETSNOER

Proloog

Maandagaand 31 Augustus

 

Dit gebeur in ’n oogwink. Die een oomblik probeer sy nog die kronkelings van die grondpad in die Jeep se ligbaan uitmaak en die volgende vlieg iets van regs na links voor haar in die pad verby.

Raine trap die rempedaal plat teen die vloer. Die Jeep sidder en dan skuif die bande nog ’n ent verder oor die sanderige bolaag voor dit tot stilstand kom. Die siddering … was dit net die slegte pad, of het sy iets getref? Skok slaan in sweet oor haar lyf uit. Sy skakel die verwarmer af en tru stadig. Hou na regs, na die middel van die pad toe. Was dit ʼn verskrikte paar oë wat sy in daardie breukdeel van ʼn sekonde tussen die yl misdwarrels gesien het? ’n Bokkie s’n? ’n Uil?

Sy hou weer stil. As sy iets getref het, behoort sy dit van hier af te kan sien. Niks voor haar in die pad nie. Raine draai die venster oop. Links van haar raas die reuseboomvarings in ʼn windvlaag, regs suis die denneplantasie. Sterre skuil agter wolke. Waar daar onlangs nog ʼn driekwartmaan was, is daar nou nie ʼn enkele maanligstraal wat deurskif nie. Net die kopligte sprei welkome lig voor haar uit en selfs dit word getemper deur sliertjies mis.

Sy draai die stuurwiel na links en laat die Jeep ʼn tree of wat vorentoe knars. Wapperende varingblare tussen dik boomlywe. Sy stuur die Jeep na regs. Die lig verdwyn tussen die regop stamme van die denneplantasie agter ’n doringdraadheining. Weer na links.

Skuins agter haar ritsel iets groterigs tussen die denne. Sy ruk haar kop in die rigting, maar dis te donker om enigiets te sien.

Sy maak haar bestuurvoos oë toe en probeer die toneel weer oproep, probeer ʼn bokkie in vlug visualiseer, maar kry dit nie reg nie. ʼn Uil? ’n Kind, dalk? O, jimmel, nee.

Raine skakel die kajuitliggie aan, maar dit bly donker. Dêmmit! Sy het vergeet dit werk nie meer sedert die kettingbotsing waarin sy vanoggend betrokke was nie. Sy voel-voel onder haar sitplek totdat sy die langsteelflits raak vat en klim huiwerig uit.

Die wisselvallige bries verkil die sweet op haar voorkop. Sy ril. Met een voet op die deuropening se rand, hou sy die flits bo haar kop en laat die lig aan die ander kant van die motor speel. “Hallo-ou? Iemand daar?” Net ʼn uil antwoord, die res van die bos word stil. Nog ʼn windvlaag ruk deur ragfyn varingreuse wat weerstandig fladder.

Die woud lyk heeltemal te onheilspellend na haar smaak, maar sê nou dit wás ʼn kind? Selfs al was dit ʼn uil of ʼn bokkie, kan dit êrens beseer lê en miskien sal sy kan help. Sy los die enjin aan, laat die deur oopstaan en stap voor die kopligte verby. Haar eie skadu lyk lank en verwronge toe sy in die pad af kyk. Sy stap ʼn entjie langs die soom van die bos, stuur die skraal ligstraal tussen die lower in, maar dit steek vas teen skakerings van groen, haak hier en daar aan ʼn yl misspiraaltjie.

“Hallo?” Dié keer antwoord die uil nie. Sy draai om. Die uitlaatpyp maak sy eie mistige wolk en laat dit lyk asof die Jeep in die lug hang.

Sy probeer skat waar sy die siddering gevoel het, loop tot daar en gaan staan. Die smal ligstraal wip steeds vrugteloos tussen die ruie plantegroei rond. Iets ritsel ʼn entjie anderkant ʼn boomvaring wat bo haar uittroon.

“Anybody there?” Sy beur deur die laer plantegroei en laat speel die lig rondom en agter die ruwe stam.

“Halló!” Dié keer klink sy amper ergerlik, maar wat sy voel, is ongemak. Met haar oë op die plek waar sy die geritsel gehoor het, waag sy dit nog ʼn paar tree nader en dan verdwyn die grond onder haar voete. Sy gil, probeer haar val stuit, verloor haar greep op die flits.

Met ʼn hik gly sy teen iets solieds vas. ’n Boom. Sy hys haar orent en gaan staan met haar rug teen die stam, probeer haar oriënteer. Probeer haar asemhaling in bedwang kry. Dis so verdomp donker.

ʼn Ent teen die skuinste af sien sy die dowwe kol wat haar flits maak. Dit kan net mooitjies daar bly lê. Sy vee die hare wat uit haar poniestert losgekom het uit haar oë en kyk op na waar die Wrangler sy ligbane teen die groen tonnel gooi. Die stuk van hier tot daar is vrek donker en steil, maar sy het nie ver geval nie. Sy vryf haar boud waar ʼn blou kol seker reeds aan die blom is.

Hande-viervoet en voel-voel klim sy teen die wal op, gly ’n paar maal, maar bereik tog die rand. Sy kyk behoedsaam rond voor sy opstaan. Om haar haal die bos diep asem; betrag haar met onsigbare oë. Vrees druk haar longe vas, steel haar suurstof.

Met ʼn spoed wat sy nie geweet het sy in haar het nie, bereik sy die steeds luierende Wrangler, spring in, slaan die deur langs haar toe en sluit dit. ʼn Oomblik bly sy so sit. Sy vee haar hande aan haar jeans af. Haar palms brand effens.

Polisie. Sy sal die polisie moet bel. En hier sit en wag tot hulle eendag opdaag? Haar oë flits heen en weer terwyl haar vingers in haar handsak rondgrawe. Die leesbril se huisie kry sy relatief gou, die selfoon neem langer. Uiteindelik klap sy dit oop en sit haar bril op.

Geen sein nie. Sy is in ’n effense laagte. As sy op ʼn bult kan kom, behoort sy ’n sein te kry. Sy sit die Jeep in eerste rat, huiwer dan. As sy iemand raak gery het, mag sy nie wegry nie. Stap tot sy ’n sein kry? Alleen? In die donker? Hier tussen die bosse?

Nie tensy iemand haar met ’n AK47 dwing nie.

Buitendien, dit kon nie ’n kind gewees het nie. Van waar af sal hy in hierdie godverlate omgewing kom? Dié tyd van die aand? Volgens die horlosie op die instrumentpaneel is dit al amper halftien. Haar oë flits ’n laaste keer na weerskante van die pad, maar wat sy ook al raak gery het, roer nie. Angs en ’n onheilige voorgevoel trek tou teen haar pligsbesef en wen. Sy trek stadig weg.

 

Noëlene lê doodstil. Ver teen die wal af maak die vrou se flits ʼn flou ligblerts teen die groen van die plantegroei. Hier bo is dit ruig, maar is dit ruig genoeg? Sy hoor hoe die gesnor van die motorenjin stiller en stiller raak. Dis beter so. Die donker is haar enigste bondgenoot.

Sy het so amper geantwoord. So amper om hulp geroep. Maar sy kon nie nog iemand in gevaar stel nie. Dis erg genoeg dat tannie Mart-hulle in die moeilikheid sal kom.

Haar heup en been pyn dofweg waar die motor haar getref het, al was dit baie skrams. Haar elmboog brand van die glyval teen die wal af. Sy voel hoe ʼn druppeltjie teen haar wang afloop.

Moet bloed wees, want sy huil nie. Sy is verby trane. Verby soveel dinge. Net die wete dat sy om haar lewe veg in hierdie kat-en-muis-spel, is belangrik. Dis al waarop sy kan en moet konsentreer. Sy bly doodstil lê en luister of sy iets kan hoor. As die bos net nie so geraas het nie. Vannag is dit nie ʼn fluisterbos nie, dis ʼn koggelbos.

Hoe lank sy so dood-doodstil gelê het, weet sy nie, maar toe die flits se ligkol skielik begin bokspring en sy die sagte lag hoor, weet sy wie die spel verloor het.

 

DRYFHOUT

Proloog

1 Desember – vroegoggend

Getybedinges. Dis wat algar hier op Kierangbaai is. Was dit nou regtig nodig dat Ma Nella haar vanoggend al voor vyf al uit die kooi gejaag het? Kon sy nie maar hierdie een keer oorgeslaan het nie?

Die water is nou wel lekker laag, soos altyd met volmaan. En dis net met springlaag dat mens na Rykmansklip toe kan stap, hier waar die vetste oeste lê. Selfs vetter as die mossels by Springklip en hier is natuurlik arikruik ook, weggesteek agter die rand van die rotse en tussen die seebamboes.  Maar sy wou nog geslaap het. Nog ‘n bietjie vergeet het van alles wat onlangs gebeur het. Veral wat gisteraand gebeur het.

Miempie druk haar hand teen haar laerug en skep ‘n oomblik asem. Nou, met die water so laag, kan mens duidelik sien Rykmansklip is eintlik glad nie ‘n klip wat sommer net op sy eie staan nie, maar die grootste en die eindpunt van ‘n spul rotse wat ‘n ent die see in lê en deel uitmaak van ‘n skiereilandjie wat gewoonlik onder water is. G’n wonder dis hier waar Strandloper meesal duik om perlemoen en arikruik uit te haal nie. Maar vandag lê hulle in vlak water, net reg vir die vat.

Sy buk weer en gaffel ‘n vet arikruik met haar mes los. Perlemoen is natuurlik taboe vandat meneer Roark hier gekoop het en Ma Nella het haar eintlik gestuur om mossels te pluk, maar sy gaan baie bly wees oor die arikruik. Net vyf per dag, het meneer Roark gesê, maar dit maak al ‘n skaflike proeseltjie saam met rys.

Miempie moet weer regop kom toe sy dink aan die uitkook van die arikruik. Aan daardie reuk wat uit die stoom opslaan. Haar maag draai. Die soetpap wat Ma Nella haar flussies ingejaag het, sit hoeka al weer soos ‘n klont in haar gedermtes, net reg om by haar keel uit te spring.

Sy vryf oor haar maag, maar nie om die klont te probeer wegvryf nie. Sy verbeel haar sy vryf oor ‘n koppie.

Die kommer wat veral van gister af al hoe meer aan haar vreet, oorval haar weer in volle sterkte. Nooit het sy gedink hy sal vir haar sê om daarvan ontslae te raak nie. Trou, ja. Sy het gedink hy sal sê hulle moet trou. Nie sê Strandloper sal haar kan help met die regte kruie en konkoksies nie.

Miempie ril as sy aan Strandloper dink. Aan sy lang knokkelvingers. Die vuil naels. Ma Nella sê hy is onskadelik, maar sy weet darem nie. Almal het gedink Baksjisj was ook onskadelik en kyk wat het hy destyds daar op Paradyskloof aangevang. En Strandloper het party van sy dinge hoeka met Baksjisj saam geleer.

Hier op Kierangbaai het hulle as kinders nie ‘n Antjie Somers nodig gehad nie. Strandloper was genoeg om hulle te laat luister of spaander na gelang die bevel van die grootmens wat kom raas. En nou wil die pa van haar kind hê …

Miempie vat weer die hef van die mes stewig vas en druk dit onder die vet arikruik se pens in toe die opstootwater terugtrek. Haar sesde een. Meneer Roark sal baklei as hy dit agterkom, maar hier sit hulle dan oop en bloot vir die uithaal asof die Liewenheer vandag spesiaal die waters laag gemaak het vir die oes. En meneer Roark kan maklik praat. Daar sit hy in sy kliphuis. Nooit ‘n dag se honger geken nie. Wat weet hy van suikerwater soggens vir ontbyt, soms vir middagete ook?

Dit gaan weliswaar beter as ooit met hulle vandat hy Kierangbaai kom koop het, maar al gaan die honger weg, gaan die bangwees vir honger nêrens heen nie. Dit bly sit in ‘n mens se gebeentes, bly knaag, selfs al is die maag vol.

Sy beweeg agter ‘n strook rotse in waar sy weet meneer Roark haar nie van sy balkon af sal kan sien nie, werk die mes onder nog ‘n skulp in en laat loop haar gedagtes weer in ‘n ander koers. Na die man wat op ‘n ander volmaannag vir haar geleer het wat sy miskien nog nie heeltemal reg was om te leer nie. Seedrolle noem hy arikruik, onthou sy weer. Versteende seedrolle. Sy moet lag. Die arikruikskulpe het nog nooit weer vir haar anders gelyk nie. Dit was laas winter. Nog voor daardie ander volmaannag en die nagte wat daarop gevolg het.

Hy sal van plan verander. Hulle sal trou en hulle kind saam grootmaak. Sy moet dit net aanhou glo. Net aanhou bid. Ma Nella sê mos bid en glo maak mens se wêreld anders. Kyk maar wat het met hulle gebeur vandat meneer Roark hier gekom het. Glads hulle huis opgeknap. En hoe! Spoeltoilet pleks van die kleinhuisie, krane binne en sowaar elektrisiteit ook. Ma Nella sê sy sweer hy gaan vir hulle die jaar ‘n TV vir Krismis gee. Laas jaar was dit ‘n twin-tub. Sy dink nie sy het Ma Nella ooit sien huil nie, maar daardie Krismisboks het dit reggekry.

Eers wou Ma Nella niks weet van die welsynerigheid nie, maar toe sê meneer Roark sy kan vir hom in die huis kom werk in ruil. Ma Nella was nog steeds nie lekker daaroor nie. Kon nie ophou glo dis pure omkopery nie. Veral omdat dit toe nie ruil was nie, want hy betaal haar vir die werk ook. Maar deesdae is dit net meneer Roark voor en meneer Roark agter. Veral nadat hy ‘n ou yskassie ook aan hulle bewillig het. Bietjie geroes, maar dit werk.

In Ma Nella se oë kan hy net mooi niks verkeerd doen nie. En dit nadat sy hom so die stryd aangesê het toe hy hier kom koop het. Gesê het sy trek g’n weg van die plek waar sy en haar voormense gebly het van net ná die Skepping af nie. Vir hom in sy gesig gesê het hy kan op sy kop staan met ‘n volstruispluim in sy hol, maar sy versit nie ‘n voet nie.

Miempie verskuif die band wat tussen haar borste deur sny en kyk in die oranje oessak wat op haar heup hang. Tien arikruik. As meneer Roark haar voorkeer en tel, sal sy maar net sê dis vyf vir haar en vyf vir Ma Nella. Sy moet sluk toe die ryp seereuk uit die slakke opslaan.

Miskien moet sy maar haar vyf vir antie Delphine gaan gee. Faantjie het hoeka eergister van die Kaap af huis toe gekom. Maar sy gaan nie meer graag soontoe nie. Deesdae kan antie Delphine mos so iets allerverskrikliks spog met haar maergat seun. Was al erg genoeg toe Faantjie Fortuin konstabel geword het en later boonop speurder, maar noudat hy gaan studeer het, is dit kastig Faan en nie meer Faantjie nie. Sowat van opstêrs.

Maar eintlik weet Miempie sy is net jaloers omdat antie Delphine vier jaar terug al die jackpot geslaan het toe sy die werk en die woonstel op Kruisbaai gekry het en uiteindelik uit Kieranghut weggetrek het om nooit weer terug te kom nie. Uit haar eie. Meneer Roark het nie eens nodig gehad om hulle te vergoed nie, maar hy het. Betaal al Faantjie se universiteitsgelde en dis glo ’n hoop geld.

Miempie weet sy het geen rede om lelike dinge te dink van antie Delphine nie. Sy is dalk ‘n bietjie kwaai en sy snoef nou wel met Faantjie, maar sy het ‘n hart van goud. As dit nie vir antie Delphine was toe dinge so sleg gegaan het met Ma Nella nie, sou sy wat Miempie is sweerlik verhonger het.

Miempie sug. Nee, antie Delphine is die laaste mens vir wie sy kwaad behoort te voel. Maar party keer voel dit vir haar al asof die baba haar kwaad vir die lewe en vir mense maak. Kwater as voorheen maak, omdat party mense dit so maklik het en ander nie. Dis asof sy pa se bloed wat deur die piepklein aartjies loop, partymaals aan die baklei raak met hare. Sy pa is hoeka …

Sy gee ‘n gil en die mes spat uit haar hand toe iets oor haar vlieg en dan swaar en nat oor haar kop en bolyf afsak. Skrik amper die baba uit haar lyf uit, tot sy sien dis net ‘n stuk visnet. Terwyl sy stoei om dit van haar gesig af te kry, probeer sy omkyk om te sien wie so verspot is, maar die see spoel in om haar enkels en sy verloor haar balans. Met haar hande verstrik, kan sy haar val nie behoorlik keer nie. ‘n Pyn skiet in haar knie op toe dié teen ‘n skerp rotspunt kap net voor haar bolyf ook die rotse tref. Sy probeer haar nek draai, maar binne oomblikke is die net te styf om haar vasgetrek. Haar hande worstel op borshoogte, maar daar is net meer druk.

Sy voel hoe haar gesig in diamantjies opgedeel word en deur die net begin peul. ‘n Hand flits verby. ‘n Punt van die net word om haar nek gedraai en nog stywer getrek. Sy word aan die hare gegryp, plat gedruk. Voor haar sien sy klipvissies in die vlak rotspoeletjie rondswem voor haar gesig die water tref. Dis so vlak, sy voel skulpies in haar voorkop sny.

Die drukking om haar nek, die gebrek aan asem, die skrik, alles laat dit voel asof tyd stadig geword het. Soos in die flieks. Haar gedagtes is soos seepbelle en ver verwyderd van haar spartelende lyf. Belletjie een: Sy ken daardie hand. Belletjie twee: Al was daar dié keer nie note in nie. Belletjie drie: Dis verby … my baba …


3 Responses to “Proloë – Gys Niemand-reeks”


  1. 1 Son
    September 13, 2012 om 5:09 nm

    Ek het Boheem nou eers in die hande gekry. Het Meetsnoer gelees en Dryfhout wag hier in my boekrak, maar vanaand begin ek met Boheem.

    • September 13, 2012 om 5:16 nm

      Ek hoop jy geniet Kayla se storie, Son. Lekker lees! En onthou maar om Dryfhout vir laaste te hou. Mens kan die ander buite volgorde lees, maar ek dink dit bederf dalk die pret as jy die laaste boek voor die res lees.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 148 other followers

Desember 2016
M T W T F S S
« Oct    
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Chanette op Facebook


%d bloggers like this: